Archive for Junie, 2008

In die nag het ek sy naam uitgeskreeu! Geronimo! Net een keer het ek na hom geroep.

Diep en verlangend, het sy naam oor my lippe gestroom, asof ek hom lank reeds ken. Asof ek na hom wou gaan.

“Jy gaan na sy land toe gaan. Sy land wat van hom geneem is”, het die vrou gesê. “Dit is ‘n teken, jy sal sien.”

Nooit, ooit. Ek wil Geronimo graag vind, met hom praat, maar ek hou nie van sy land nie, of eintlik hou ek nie, van wat van sy land geword het nie, het ek gesê.

Later, veel later, het die ryk wit man se brief gekom en ek is oor die groot oseaan na Geronimo se land. Daar ek het na hom gesoek, maar hy was nie daar nie. Hy is uitgewis. Kry ‘n mens nog geld as jy hom doodmaak, het ek gewonder.

Net eendag het ek skielik een van sy diere, ‘n bison sien staan met haar kalf. Natgereen en bedroë in die middel van San Fransisco. in ‘n parkie. Ek het so jammer vir hulle gevoel.

Ek het die land deurkruis en Geronimo gesoek, in museums, in die Rocky-gebergtes in die stede. Maar sy stem was stil. Doodgeskiet en verdruk. Hy lewe glo net een keer per jaar op ‘n fees in Santa Fe. Hulle is ook amper uitgewis deur die witman se skitterende vermoe om te verwoes, sover hy gaan.

Jou mense se mense se mense is dood van die honger omdat die bisons doodgeskiet is, omdat almal na die goud gestorm het, omdat ons siektes julle doodgemaak het. Omdat, omdat, omdat…

“Do you have a reservation madam? No, do I look like an Indian”, lees ek raak. Lekker lag ons? Jou mense is in die “reservation” geplaas, omdat hulle grond gesteel is. Julle wat 14 000 jaar gelede al na jul grond getrek het.

Ek gaan soek jou in die reuse CD-winkel in New York, maar ek kry jou weggedruk onder “world musiek”. Was hierdie wereld nie eenmaal joune en al die ander stamme s’n nie. Het julle nie in harmonie geleef met die omgewing nie? Net gejag vir die honger nie? Nie vir die lekker of vir geld nie. Ook jou geloof het die omgewing in ag geneem en ingesluit. Ek koop jou dreunsang CD, want dit is so mooi.

Ek loop my voete stomp om meer van jou te leer en spoor ‘n fraksie uiteindelik van jou op in Denver in ‘n museum. Ek luister na jou dreunsang en die wonderlike, maar pynlike gedigte oor die witman se verdoemende koms. Jou wyse woorde oor die ekologie en biologie.

Hoe die aarde om jou verkrag is, hoe die vergrype na goud alles verander het. Ek wil aan jou kleed vat.

Ek wou jou, of net iets van jou, saam met my terugneem Geronimo, maar ek kon nie. Uiteindelik vind ek die winkel aan die voet van die Rockies waar jou kuns te koop is. En ‘n klein ikoon wat baba’s by hul geboorte kry, om geeste weg te hou, word myne.

Net dit en ‘n handvol poskaarte. Net dit.

Karre

‘n Paar dinge oor hoe mense in die land bestuur pik aan my en dan is daar twee spesieke goed wat flippen Kapenaars nie kan doen as hulle bestuur nie: hulle weet nie hoe om, om ‘n sirkel te ry nie, en indien ‘n verkeerslig nie werk nie, stroom hulle teen 120km oor die kruising.

Vanoggend weer, in die blerrie reent by Groenpunt: Niemand gebruik flikkerligte by die sirkel nie en niemand verstaan hoe ry mens in die bane nie.

Nou kyk, ek het op ‘n dorp grootgeword met klomp sirkels. As jy gaan vir jou liksensie, dan moet jy minstens vier sirkels reg ry voordat jy slaag. So ek ken van sirkels reg ry. Van die binnebaan ry hulle woeps voor jou neus in om uit te kom.

Bewaar jou siel as die Kaap se elektrisiteit af is, want dan sit die bliksems voet in die hoek oor ‘n robot. Robot = groen lig.

Niemand verminder spoed nie, behalwe: Rosalind Franklin, wat gedag het mens hanteer die kruising dan soos ‘n viertigtingstop met toegee aan die wat eerste gestop het. Nee, almal jaag net oor asof die lig vir ewig groen is. My lewe het al ‘n paar keer voor my oe geflits.

K*K karre: Hoekom ry die mense in die k*k ou karre die vinnigste en die swakste?? Tiekkekkekekkk, grrrrreemm boeef verby jou. Kom die stuk drek teen 180km, net-net verby my kantspieeltjie verby. Sonder remligte, kopligte en met bakwerk wat dreig om af te val. En as hy rem dan trek die hele spul sommer so skeef.

Of nog erger hy ry op jou stert en flits vir jou, in jou 100% padwaardige kar om pad te gee. Nogal, asof ek dit sal doen.

En meneer sit sommer so laag in die sitplek en loer onder sy pet uit, een hand op die stuur en ander hand op die sel en/of sy goose langs hom. Hy het nog nooit in sy hele lewe ‘n flikkerlig gebruik nie.

Of mens kry daai stupid lot wie se kleuters en babas die hele kar vol hop, speel en staan. Of baba sit op die skoot, want ek is so helse dom ek dink ek gaan die kind kan vashou as ons bots. En dan kom die ongeluk en dan huil, hardloop en hallusineer hulle by die oop graf? Lekker dom.

Maar een dag het ‘n huurbus vol skoolkinders so op my  en Liefie afgejaag. Ons kon dit nie glo nie, en toe ons hom ingehaal: 150 km! Die kinders het sommer so binne in die bus geskommel, so onstabiel was hy. En toe bel die maatskappy se bestuurder met die tyd, plek en registrasie van die bus.

Plaafer: Dit is ons naam vir die karoppassers, omdat hulle mens eintlik net PLA. Eendag op Stellenbosch wys een vir ons om te: Kom, kom, kom! Ek luister nooit vir hulle nie, omdat ek dink nie een van hulle kan bestuur nie. Maar Liefie luister die betrokke dag.

Ons kom, kom, kom nog so….toe DOEF ons. Jeez….! Daar pak Liefie die Plaafer in Dorpstraat. Maar dit het nie lank geduur nie, toe besluit hy om maar ‘n toon in te sit en eerder weg te hol. Is maar beter gewees.

 

(Die prentjies is sommer net lukraak gevat by Google images om my doel met die possie te versterk)

Op Voyager se rug

Een van my gunsteling instansies, Nasa, is vanjaar 50 jaar oud. Nasa het natuurlik ontstaan direk danksy die lansering van Spoetnik 51 jaar gelede.

Die Amerikaners was so onthuts omdat die Russe hulle voorgespring het, dat hulle Nasa in die lewe geroep het en met alle mag, en erns hulself toegespits het op die ruimte -veral om ‘n man op die Maan te kry. Daar is niks soos kompetisie om ‘n mens te laat floreer nie.

Wat Nasa onder groot druk (geldelike inperkings) in die afgelope 50 jaar bereik het, is verstommend. Die aantal missies is ontelbaar en om alles wat ons intussen geleer en ontdek het te noem, sou ‘n dik boek verg.

Ek wonder of mense ook 600 jaar gelede gevra het, nou hoekom reis ons om die wereld? (behalwe weens die gierige soeke na goud). Soek ons nuwe plekke? Want baie mense vra vandag hoekom sukkel ons buite ons eie atmosfeer?

Omdat ons nooit moet ophou ontdek nie! Dit is in die aard van die mens om te explore, om antwoorde te soek op vrae. Die feit dat ons dit nou in ons sonnestelsel en ook daarbuite doen is irrelevant, vir my. ‘n Mens moet ‘n agie wees.

En dit is ook die basiese begrip van die wetenskap. Jy bou ‘n ewige legkaart, stuk vir stuk. As ‘n blokkie nie pas nie, haal jy hom uit en soek ‘n ander een. Maar dit is nooit stagnant nie. Jou legkaart raak groter en beter soos jou kennis toeneem.

Die wonderlike missies van Voyager 1 en 2 laat my dink aan ons ewige reis. Hulle is weggestuur in 1977 en is natuurlik steeds weg. Hulle het soos  baie Nasa-missie meer geword as oorspronklik beplan  is (reis in ons sonnestelsel).

Op 14 Februarie 1990 is die laaste fotos van Voyager 1 ontvang toe hy na die Aarde teruggekyk het van ‘n verstommende 5,9 miljard km om ‘n foto van 7 van die 9 planete te neem. Dit het die blou kolletjie (pale blue dot), die Aarde, ingesluit.

Om in die verre ruimte (interstellelere ruimte) te kom, moes die twee deur ‘n aaklige stormagtige invloedsarea van die Son reis. Waar winde en elektries gelaaide gas teen hulle werk.

Daar is mos ook die goue-plaat aan boord met boodskappe in verskeie tale van die Aarde. Ook die geluide van Aarde, grafiese voorstellings en dies meer.  Musiek, foto’s van die aarde, en ‘n kaart van die sonnestelsel – ons klein plekkie.

Dan is daar klanke van ‘n ma wat haar kind soen, dieregeluide en vele interessante dinge. Dit lyk vir my ons het uitgelaat dat ons ook oorlog maak en mekaar vermoor en verkrag.

Die goue plaat. Foto: Nasa

Voyager 1 is nou: 15,7 miljard km van die Son.

Voyager 2 is nou: 12,7 miljard km van die Son. Die son is rofweg 150 miljoen km weg van ons.

 Die klanke hier onder is koel!

Engelse boodskap: http://www.nasa.gov/186544main_english.au

Vulkaan, aardbewing, donderweer:http://www.nasa.gov/wav/186554main_volcanoes.wav

Wilde hond: http://www.nasa.gov/wav/186555main_wildog.wav

Ma soen kind: http://www.nasa.gov/wav/186549main_kiss.wav

Verbyvlug van f-111 en lift-off!! http://www.nasa.gov/wav/186545main_f-111.wav

Perd en karretjie: http://www.nasa.gov/wav/186548main_horse.wav

 

Ek wonder soms hoe sou dit wees om op die rug van Voyager te ry, deur die heelal, waar alles net is, omdat dit is.

Die bron: Nasa

ongetiteld (2)

jou oë’s genoeg herinnering

aan die onvermydelike

jou kerende hande genoeg

om die spykerspore

van jou kruis’ging

te verraai

 

kon’k maar jou

dooi lyf opeis

sou ek jou

sag ontwaak

Eviva il coltello! (Lank lewe die mes!)

Dit was die reine, skoon en absolute fantastiese klanke van die Castrati se stemme wat die Barok-gehore veral in die 18de eeu vir die mes laat skreeu het. Die supernatuurlike stemme van die Castrati het saamgesmelt, met wat destyds ‘n fusie van poësie, musiek en ‘n visuele spektakel was – die Gesamentkunstwerk.

Vandag is dit die bekende werke van die Castrati wat vir my bekoor. Ons het natuurlik weens menslikheidsredes nie meer die fantastiese stemme nie en die enkele mans wat vandag die musiek sing, is maar tientalle. Om dit vandag te sing, moet die man oor ‘n falsetto-stemvermoë (kontra-tenoor) of selfs sopraan beskik.

Die werke is besonders en pragtig om te hoor. ‘n Mens kan nie glo dit is ‘n man wat sing nie -tog dit kan nie dieselfde wees as die Castrati nie. Daar is talle bekendes vandag en ek is gek na hulle musiek.

Gaan luister hier!! Dit is ‘n kontra-tenoor wat van die falsetto-stemtegniek gebruik maak. Ek belowe dit is ‘n moderne man Jörg Waschinski wat hier sing (Invan minacci e credi vincer)

 Listen here

Maar as mens na die musiek luister is daar iets tragies aan, dit is vir my besonders mooi! Dit neem mens ver weg.

Die Mes

‘n Seun wat mooi kan sing word voor puberteit gekastreer. Dit is natuurlik wreed en talle (sowat 4000) seuns van arm families het die proses ondergaan sonder veel keuse, in die hoop van die familie dat dit hulle uit armoede sal red. Die wat die top bereik het, het besonders ryk en bekend geword. 

Die kastrasie verhoed dat die larinks groei en die suiwer seun-sopraanstem word behou, maar die borskas ontwikkel met die sterkte, die longe en akoestiese vermoe van ‘n man.

Seker die bekenste Castrato was Carlo Broschi (1705-82), bekend as Farinelli. Sy beendere is in 2006 opgegrawe sodat wetenskaplike toetse daarop gedoen kan word. Een van die redes was om sy bene (veral die langbene) te meet, daar is ook gekyk na die ontwikkeling van sy larinks en die effek van jare se oefening of sy liggaam. Daar is ‘n pragtige fliek genaamd Farinelli oor hom gemaak.

Farinelli

Vir 300 jaar was die Castrati deel van die opera in Italie, hoewel dit amptelik onwettig was, om die betrokke operasie uit te voer, het almal hul oë weggedraai. Daar was natuurlik ook Castrati was gesing het in die pouslike kapelle in Rome sedert 1600 en in ander kerkkore.

Die laaste Castrato was Alessandro Moreschi (1858-1922). Hy is die enigste een van wie se stem ‘n opname gemaak is,  vroeg in 1900. Ek het Berlyn platgeloop agter die betrokke CD aan, maar helaas niks gevind nie. Ek het wel ‘n hedendaagse opname gevind van werke uitgevoer van die Castrati se bekendste werke en dit is ‘n briljante troosprys. 

Moreschi was al ouer toe die opname in 1902 gemaak is en baie senuwee-agtig, omdat hy natuurlik nie die grammafoon geken het nie. Later is nog ‘n grammafoon-opname gemaak wat beter is, maar kliek hier om na ‘n stukkie van Ave Maria te luister. So ‘n mooi lied (ek weet nie hoe om dit direk op te laai…frustrasie)

http://www.usrf.org/news/010308-castrato_recording.html

En hier is nog ‘n lied – in beide sing hy effe huiwerig. Ek glo nie hy was die beste Castrati nie, maar sy waks-opname is al wat ons het! Ek wens so ek kon die ander hoor.

http://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/7/7b/Alessandro_Moreschi.ogg

Moreschi

Een van die hoofredes is natuurlik dat vroue nie in kerkkore en op die verhoog toegelaat is nie, maar iemand moes, soos in die teater hulle rolle vertolk.

Die laaste plek wat Castrati nog gehoor kon word teen die einde van die 1800’s was waar dit begin het, in die kerk, en ook in die imposante Sistynse Kapel. Ek kan my net indink hoe pragtig die unieke musiek daar moes klink. En die einde het gekom in 1903 toe die pous verklaar het hulle rolle moet deur seuns oorgeneem word.

Seks?

Om een van ander vreemde rede dink mense vandag die mans was gay, net omdat hulle gekastreer is. Dit spreek natuurlik boekdele van ons enorme vooroordele oor gay mense. En is eintlik lagwekkend as mens daaraan dink. Wat die fisiese gebrek aan testes met die aantrekkingskrag tot dieselfde geslag te doen?

Destyds is hulle egter deur die gemeenskap as reuse sekssimbole gesien, omdat dit die opinie van die dag was. Hulle is aantreklik gevind deur mans en vroue, en is amper soos gode aangehang.

Of die betrokke Castrati tot seks instaat was het heeltemal berus op wanneer die operasie in elke geval uitgevoer is.

Bronne: BBC, Die Welt der Kastraten; Wiki

Die Dokter

Die hout in ou geboue lewe, dit het alles wat daar gebeur het gehoor en gesien. So wanneer jy die volgende keer by ‘n baie, baie ou gebou kom, laat gly jou hand saggies oor die dik hout.

Dan sal jy geheime voel, daar onder jou hand. Jy sal die trillings van toendertyd se mense se emosies voel rimpel oor jou vel. Jy sal hul parfuum ruik en hulle stemme hoor bons oor die vertrek.

Dalk net kry jy die geur van perdesweet van die mans se broekspype. Of dalk die vroue se poeier?

Gaan kyk ‘n bietjie diep in die oë van die portrette? Wie was die mense? En watter lewens het hulle gelei/gely?

Daar by Alphen hier in die Kaap hang so ‘n portret in die eerkamer. Hy is nie baie impossant nie, net gewoonweg. Dit is van dr. James Barry, die chirurg-generaal hier aan die Kaap (1795-1865), in Engelse uniform.

Alphen het baie belangrike besoekers ontvang en Barry was ‘n vriend van die eienaars. Barry het selfs met iemand daar op die landgoed ‘n swaardgeveg gehad – glo een van vele. 

Barry was die eerste persoon wat op Suid-Afrikaanse bodem ‘n keisersnee gedoen het, en dit was boonop suksesvol! Dit was natuurlik ook die eerste keisersnit in Afrika.

(Die Cloete-famile waaraan die plek sedert 1850 behoort was tydens die Anglo-Boere oorlog verdeeld, vandaar die pub se naam: Boer & Brit, baie lekker plek om te eet tussen al die geskiedenis, want dit als is ‘n nasionale monument).

Terug by Barry: Toe James Barry op 25 Julie 1865 sterf, vind hulle twee dinge uit: Hy is eintlik ‘n sy; en was dus Brittanje se eerste vroulike dokter ooit!

Sy was glo eintlik Margaret Ann Bulkley wat nie net dokter was nie, maar met onderskeiding in die weermag diens gedoen het.

Daar is gese sy is as vrou gebore maar het gekies om as man te lewe, ek neem haar nie kwalik nie, want vroue kon nie studeer en ‘n loopbaan volg nie. Die ander moontlike rede, waaroor later navorsing gedoen is, is dat sy inter-seksueel was: eienskappe van beide manlike en vrouelike seksualiteit, maar ‘n mens kan nie die persoon as spesifiek aan een van die genders toeken nie. Dit is ‘n chromosoom-afwyking. Of dan ‘n hermafrodiet. Die kennis het ons natuurlik eers in later jare verstaan.

Die weermag was so geskok hieroor dat hulle die rekords hieroor vir ‘n 100 jaar verseël het!

Maar hoe dit ookal sy, hierdie was ‘n fenominale lewe onder moeilike omstandighede. Iemand wat inspireer en wat soveel bereik het. Barry het regoor die wereld heen gereis en in hoë poste gedien. En was bekend as iemand wat geveg het vir die regte en beter kondisies vir melaatses en die armes, en die pogings het ander dokters glo net vies gemaak.

Sy was glo ‘n moeilike mens, en het op ‘n keer vasgesit met Florence Nightingale. Daar is natuurlik ook ‘n rits stories oor die goeie Florence, maar dit laat ek vir ‘n ander dag.

Foto: Find a grave

Bronne: www.alphen.co.za. wiki en myself

Om bang te wees

Die mens, glo ek, is bang vir die dood. En tereg ook so, die brein is van so aard dat hy alles in sy vermoë sal doen om jou aan die lewe te hou, maar die brein van ander diere is ook so bedraad.

Die reaksies om ten alle koste te oorleef is in die hippokampus en amigdala. Ek elke een van ons werk daagliks baie hard daaraan om nie bang te wees vir die dood nie – dit is nogal stresvol. Ons troos onsself op baie, baie maniere. Ons troos ook mekaar.

Dan is daar die limbiese sisteem wat verantwoordelik is vir ons emosies wat wipplank en wat maklik opgesweep kan word.

En glo dit of nie, die mens is ‘n groepsdier en dit het baie te doen met die manier waarop ons dink en doen…(sommige individue is egter nie)

Dit is eenvoudig nie lekker om gekonfronteer te word met ons eie mortaliteit nie. Een voorbeeld is wanneer ons besef hoe gou tyd verloop. “Dit voel soos nou die dag toe ek in matriek was, en dit is 20 jaar gelede, dit is scary hoe vinnig die tyd loop.” Dis ‘n goeie voorbeeld, en wees eerlik, dit is nie ‘n lekker besef nie.

Halloween (wat ons nie so baie hier vier nie) maar eintlik kinders bang – dit bring hulle in kontak met die dood op ‘n sogenaamde speelse manier, maar navorsers het in ‘n studie in 2005 bevind veral kinders onder 10 is eintlik bang in die tyd. Ironies genoeg beskerm ons hulle in ander tye teen die dood, maar maak hul skrik tydens Halloween. Boonop sien kinders die tyd as werklike mag wat aan hulle gegee word, terwyl volwassenes dit net as ‘n spel sien. Lekker verwronge.

En navorsing wat in 2001 gedoen is (Universiteit van Florida)  toon dat mense wat nie wegskram om oor die dood te praat nie, juis die is wat minder bang is daarvoor. Maar godiens per se maak jou ook nie meer gelukkig en minder bang nie, is bevind, dit is diegene wat ‘n doel in die lewe het wat gelukkig en minder bang/nie bang is.

Dit het ook geblyk dat ouer mense wat gevoel het, het lewe was sinvol nie bang is vir die dood nie. Punt is: jy moet lewe!

Maar wat is die dood?

Hoe voel daai laaste oomblikke?

En hoe is dit?

Is daar ‘n bewussyn (sonder ‘n neokorteks, suurstof en die res)?

 

A man’s ethical behavior should be based effectually on sympathy, education, and social ties and needs; no religious basis is necessary. Man would indeed be in a poor way if he had to be restrained by fear of punishment and hope of reward after death – Albert Einstein

Parce pater patrum papissae edere partum

Vader van ons vaders, vergewe die pousin wat geboorte gegee het

Dit is na bewering die grafskrif van die een en enigste vroulike pous/pousin wat nog ooit gelewe het. Johanna VIII (Joan VIII). Het sy tussen Leo IV en Benedict III  die magtige Katolieke kerk se staf in die hand gehad? 

Soos alle heerlike verhale het sy voor ‘n groep mense glo in die openbaar geboorte geskenk aan ‘n kind. Die woedende skade het dus ontdek sy is ‘n vrou, haar gegryp en soos goeie paternaliste dit betaam, haar gestenig.  (Wat is die kans dat ‘n pous in daardie tyd in die openbaar tussen die gepeupel rondgeloop het, hy doen dit nie eens vandag nie.)

Die verhaal is, soos baie ander stories, net ‘n spul nonsens. ‘n Mite. Maar met rede, volgens Women’s History: Om vroue mooi te leer: Ken julle plek, probeer ‘n posisie van mag beklee en jy en jou baba (dit wat jy hoog ag) sal wreed sterf.

Net soos wat geletterde vroue as hekse gebrandmerk is… 

Dit is ‘n ultimate no-no. Die deur sal vir julle geslote wees. Mooi stukkie politieke propaganda.

2033

En daar sien ek toe die magtige Pous Johanna (Jana Cilliers) in die Afrikaanse verwerking van The American Popess (Der Amerikanischen Papstin, Esther Vilar,1974) by die KKNK in 2004. Dit was losweg die mees fantastiese drama wat ek in my dag des lewens gesien het.

Ek moet ook byse dat niemand anders as Jana dit so goed sal kan speel nie. Sy het net daardie magiese, pouslikheid omtrent haar. Mens wil glad die ring loop soen en dan besef jy, die kerk is nie meer die staat nie. Wie en wat is die kerk? En wat is geloof?

Pous Johanna kom terug na die basiese, na dinge soos omgee en liefde. Soos in regtig. En sy draai nie mooi doekies om nie, sy praat. Sy oreer!

Daar is net Jana op die verhoog, vir meer as ‘n uur, bitter min dekor en die teks. En sy slag die heilige koeie en veral bulle, een vir een. Sy vertolk die rol van die demokraties verkose vroulike Pous Johanna in die jaar 2033. In in 2033 (onthou die drama is in 1974 geskryf) is die kerk se invloed omtrent niks.

Die pous is nie net ‘n vrou nie, maar ook ‘n mens. Dit gaan ook nie juis spesifiek oor die pous, die katolieke kerk, of geloof nie, maar tog in ‘n mate ook. Dit handel oor die mensdom en sy instansies.

Dit is die een produksie, wat as ek kan kies, ek weer sal wil sien. En welliswaar ek was al in New York.

Die stuk gryp jou voor die bors – soos dit hoort.

Pous Johanna Foto: Universiteit van Stellenbosch