Archive for September, 2008

Ek het een keer doodgegaan, of seker amper doodgegaan, want as ek regtig dood gegaan het, sou ek nie vandag hier gewees het nie.

Die was in die somer van 1979.

Ek het die dag by my maatjie gaan swem, maar eintlik kon ek nog nie regtig swem nie. Ek het maar hier in die vlakkant rondgeplas. My maatjie en haar sussie, wat baie ouer as ons was, was soos visse in die water.

Toe ewe skielik, is ek te ver van die vlakkant af, ek voel nie meer die grond onder my voete nie. Verward gryp ek na die kant van die swembad, maar dit is te ver vir my. Ek trap en spartel, maar my kop sink onder die water.

Ek kry nie asem nie. Niks.

Ek spartel en probeer skree, maar ek kan nie. En toe skielik is ek net heeltemal onder die water.

Ek kyk op na die lug daar buite. Dit is wasig blou, soos deur ‘n vuil venster. Ek kan die son sien. Dit lyk of hy beweeg. Ek onthou dit baie goed.

En skielik was alles net swart. Om dood te gaan is net swart. Daar is niks meer of niks minder nie.

Ek het bygekom met my maatjie se sussie se mond op myne, waar ek langs die swembad le. Sy het my soos ‘n hondjie uigevis, het ek later gehoor en “my lewe gered”, met een of ander kinderlike lewensreddings-tegniek. Sy was 13, ek was ses.

Ek was tegnies nie dood nie, maar dit het soos doodgaan gevoel. Gevoel.

“Ons mag nie vir ons ma’s hiervan se nie. Want dan sal ons nie weer mag swem nie. Okay? Belowe jy?”, se hulle.

Ja, het ek half kotsend gese.

Ja, knik die lewensredder-sussie ook haar kop.

En van daai dag af het ek anders  begin gedink oor die dood (en die lewe). Ook maar goed want in 2001 was ek amper weer dood, en toe ken ek daai swartword reeds.

Ek het nog nooit vir my ma gese ek het al een keer (amper)verdink nie.

Susan Sontag, sowat 6 weke voor haar dood

Foto: Deur Annie Leibovitz, uit die boek: “A Photographer’s Life 1990-2005.” , NY Times, 6 Oct, 2006

Advertisements

Time Out

Ek het ‘n vinnige kwaad-word en ‘n staaaaadige kwaad-word. Die laaste een is die moeilike een want sy draad dink ek, is nou effe geknip. Hy sal weer regkom.

Ek aanvaar ook dit is deel van blogging – maar nouja, elkeen se tekkies kan ook net soveel loop, voor dit begin skaaf, al het jy dit self aangetrek. Verstaan?

Eerlikwaar? Ek het dit al was dit geduldig, sien kom, van ver af soos ‘n stoffie in die pad, tot hy nou eensklaps ‘n storm geword het. Boef! het ek my SO verfokkenvies ….

… is beter dat ek bietjie Time Out neem. Baai.

Foto van die fantastiese Susan Sontag deur die ewe briljante Annie Leibovitz

http://www.nytimes.com/library/photos/leibovitz/sontag.html

(Drank)kabinet en paniek

Ai tog, sê ek vir Liefie gisteraand, dis sowaar net Tannie Zuma en Tannie Manto oor in die kabinet. Sug.

En tannie Manto sit seker weer en geniet ‘n knertsie (of twee) whiskey, en dan sit sy die pyn op iemand anders se lewer.

Ja, iemand sê nou die dag dalk word sy president en dan maak sy haar adjunkte Johnny Walker en Jack Daniels. En niemand hoef dan meer pille te koop nie, ons gaan sommer almal Fruit & Veg toe.

Moet net nie weier om langs haar in ‘n vliegtuig te sit nie, sy flippen sal jou dalk net vloek en sommer jou nier/lewer uitpluk, of sorg dat jou nier vir jou uitgehaal het. Ek sal maar te bly wees as niemand langs my wil sit in ‘n vliegtuig nie. Dan kan ek my knoffel, beet en suurlemoen in vrede geniet.

En hoeka sit Tannie Zuma ook met ‘n glasie innerlike versterking, seker op ‘n vliegtuig iewers heen oppad. Ek onthou nog lank terug toe sy nog kommunikasie-minister was het sy een keer Australië toe gevlieg, Sydney toe.

Maar hulle het eers in Perth geland en toe klim sy daar af. Ai, dit was ‘n lelike storie gewees.

Maar Tannie Zuma het gereeld loop eet by een van Rosalind se gunsteling-eetplekke. So suiker sy daar in, haar vriendelike self en besluit toe nee, die rookwet word hier nie reg toegepas nie. Ek kom daar verby: Gesluit. Die plek is beboet, verkoop en weer oop, maar die goeie kos is weg.

Dankie hoor, Tannie.

So ja, ons sit vandag met die drankkabinet wat oor is, sê Liefie.

Wat om te doen as jy panic

Vlug met jou gesin en troeteldiere die berge/vlaktes  in, maar onthou wees parraat, soos daai groep verregses sê wie se naam ek nie wil noem nie, netnou spoor hulle my op.

– Naarpille, maagwerkpille, kopseerpille, baie, baie pille

– Baie skoon water

– Baie blikkieskos (maar moet nie die eet wat opgeswel het nie, ek weet. Die mense wat in die padkamp gewoon het naby my ouma-hulle toe sy klein was, het so doodgegaan).

– Wat is ‘n blikke sonder ‘n blikoopmaker

– . . .stortkappie (‘n moet as jy wil verstaan waaroor vigs gaan)

Oe jinne nou klink dit vir my na te veel moeite, ek is gans en al te lui om te vlug terwyl almal aan anargie dink. Ek bly sommer net in die bed, eintlik maak dit nie soveel saak nie.

‘n Mens se bloed (of elders) waar jy DNS kan onttrek is, soos ‘n geskiedenisboek, jy kan deesdae antieke spore daaruit onttrek. Jy kan in die voetspore van die oer-oumas en oupas loop.

Dit was die krysman Genghis Khan wat vandag meer as ‘n miljoen Mongoolse nasate het. Hy het nie noodwendig duisende kinders gehad nie, maar dit was sy kinders se kinders wat geneties suksesvol is.

En indien jy hierdie genetiese merkers besit: 16519C, 152C, 194T, 263G, 315.1C is jy dalkies familie van Marie Antoinette in die haplogroep H.

Francesco Petrarca, se genetiese mutasies van herkoms plaas hom in die haplogroep J2.

Tzar Nicholas Romanov  is in groep T met sy merkers (16126C, 16169Y*, 16294T, 16296T, 73G, 263G, 315.1C)

en Prins Phillip van Engeland wat getroud is met Elizabeth II is natuurlik familie van Nicolas se vrou:

 Alexandra (haplogroep H  met merkers 16111T, 16357C, 263G, 315.1C)

Dit is nogal pret om ‘n mens se eie merkers te laat toets en op reis te gaan.

Die toetse wys waar ’n mens se oer-genetiese stamlyn vandaan kom – waar die eerste gemeenskaplike voorsaat derduisende jare gelede vandaan gekom het. Dit is nie ‘n aanduiding van jou nabye familie geskiedenis of familiename die afgelope paar honderde jaar nie, dit is derduisende jare terug.
‘n Mens kan in die Genographic Project van National Geographic jou HVR1-variasie laat doen en jou haplogroep kry, dit is soos die oerstam waaruit jy spruit, by Wits kan jy jou HVRII ook laat doen en jou subgroep kry, dit is veel meer spesifiek en lekker interessanet.

Let wel dat die haplogroep en subgroep sowat 16 500 genetiese basispare van jou totale genetiese samestelling vir jou gee uit die 3 miljard basispare wat jy is. Dit is dus min en bepaal nie jou identiteit nie en niks word gese oor siektes nie. (Ek het myne – my mDNS – laat doen dit was hoogs interessant).
Só werk dit
’n Mens se totale genetiese samestelling is jou genoom, wat jou DNS insluit. ’n Mens kry die helfte van jou genoom van jou ma en die ander helfte van jou pa. Die genoom word geskommel.
Daar is twee genetiese komponente (mitochondriese DNS en die Y-chromosoom) wat redelik stabiel bly in hierdie proses en net nou en dan kom mutasies daarop voor (soos ’n spelfout in die genetiese kode), wat merkers genoem word. Dít word merkers van herkoms genoem.
Wanneer ’n groep mense dieselfde genetiese merker deel, word hulle in ’n haplogroep ingedeel. Dit dui op mutasies wat plaasgevind het in ’n spesifieke tyd en plek in die geskiedenis en dui ook op oeroue patrone van migrasie.

Die man se Y-chromosoom
Die DNS op die Y-chromosoom word slegs van pa na seun oorgedra. Omdat die Y-chromosoom nie ’n ooreenstemmende chromosoom het nie, ontsnap dit die genetiese skommeling soos hierbo vermeld.
Dít veroorsaak dat die Y-chromosoom oor generasies heen van een man na die volgende oorgedra word met min verskille, behalwe wanneer daar lukrake mutasies is. Die mutasies gee aanleiding tot die genetiese merkers wat genetici gebruik. (Die merkers van herkoms.) Die mutasies is nie negatief nie, daar is niks met die gene “verkeerd’ nie.
Die betrokke genetiese merkers kom in bepaalde bevolkingsgroepe voor en deel mense in haplogroepe in.
Genetiese Adam, soos na hom verwys word, beteken nie dat daar net een “Adam” was nie, dit beteken net sy genetiese lyn was uiteindelik suksesvol – daar was ander mans saam met hom.

Die vrou se mDNS
Mitochondriese DNS (mDNS) word net van ’n ma na al haar kinders oorgedra. Die mitochondriese genoom muteer teen ’n hoër koers as die res van DNS. Dit het dus baie variasie in die wêreldbevolking se DNS gelaat. Vroue se herkoms word ook deur merkers van herkoms nagespoor.
Die gemeenskaplike vroulike voorsaat wat deur almal op die aarde gedeel word, kan teruggespoor word na ’n vrou wat 150 000 jaar gelede in Afrika geleef het. Sy was ook, soos die genetiese Adam, nie destyds die enigste vrou nie; sy was net gelukkig. Haar genetiese lyn het nie uitgesterf nie. Dit wil se al haar nasate het kinders gehad.
Elke haplogroep het van die gemeenskaplike voorsaat af vertak. Daar kan tans vir die meeste haplogroepe ook terug­gestap word op die genetiese merkerspoor om te bepaal wanneer elke haplogroep se bepaalde vertakking plaasgevind het.

Soos die mensdom uit Afrika gemigreer het – die eerste migrasie was sowat 100 000 jaar gelede en daar was 60 000 jaar gelede weer ’n migrasie – het hulle die sub-mDNS-groep saam met hulle geneem. Dit het weer gemuteer om ander haplogroepe te vorm.
Diegene wat in Afrika gebly het, het weer nuwer haplogroepe gevorm. Miljoene mense op aarde sal dieselfde mutasies hê, wat hulle in dieselfde haplogroepe sal plaas. Almal is nog net nie getoets nie.

Soos broodjies: Ek verstaan die genetiese merkers van herkoms soos Hansie en Grietjie se broodjies wat hulle in die paadjie gelos het, die voels het dit net nie geeet nie. Die einde van die pad is vandag, die huise is die oer-stamgroep (haplogroep). Die broodjies is die merkers wat uniek is aan jou groep en dit kan in jou DNS gesien word.

 

Antieke migrasie-patrone van die haplogroepe vanuit Afrika

Grafika: Texas universiteit/genographic project

Genetiese merkers verkry van Wikipedia

https://www3.nationalgeographic.com/genographic/

Was ek maar ‘n Valkyrie

. . . dan sou ek jou lyf vol bloed en sweet optel van die slagveld, en jou was in water waar dit blou is.

Ek sou jou laaste rit volmaak maak op my perd en jou sag deurlaat by die poorte van Valhalla. Ek sou jou vir laas teen my bors druk en soen.

Dan sou ek omdraai en nog ‘n held gaan kies, een wat waardig is om sy lyf te laat gly by die poorte van die Noorderlig.

En op die Aarde rig jou mense vir jou ‘n rune (ou Germaanse skrifteken) op, met al jou heldedade, sodat die nageslag jou kan onthou.

Foto: www.runewebvitki.com/poetry.html

Die Valkyries (Choosers of the Slain) was volgens die Noorse lande of Vikings, die godinne wat hulle opgeneem het na Valhalla. Wanneer ‘n krysman braaf op die slagveld gesterf het, is hy deur een van die Valkyries opgeneem na die paradys waar hy dan soos ‘n koning geleef het.

Baie is al geskryf oor die beskawing se ongelooflike moed en heldhaftig optrede, is dit juis die belofte aan so ‘n wonderlike ewige lewe in hulle kultuur wat hulle gedryf het? Moontlik. Diegene wat gekies is, sal dan ook saam met die gode in oorlog (einherjar) tree, ‘n groot eer.

Die beskawing is nou dood en hul gode ook.

Die Valkyries se vlerke was gemaak van swaanvere en daarom kon hulle ook vlieg. En daar is ‘n hele paar bekendes wie se name in ou gedigte en vertellings voorkom.

Hulle het ook bepaal wie is die oorwinnaars in die oorlog en wie sal sterf, in diens van die oppergod Odin.

Then gleamed a ray

from Logafiöll,
and from that ray
lightnings issued;
then appeared,
in the field of air,
a helmed band
of Valkyriur:
their corslets were
with blood besprinkled,
and from their spears
shone beams of light
– Bulfinch’s Mythology (1855)

 

Baie van ons is natuurlik afstammelinge van die Vikings (Skandanawiese/Noore) wat wyd Brittanje en Europa beset het, van die 8ste tot die 11de eeu.  Omdat hulle so wyd gereis het, met hulle langbote het hulle gene ook wyd gereis.

(O ja en die Vikings was nie ‘n klomp wilde vuil mense nie, in hulle leeftyd en konteks was hulle nie minder of meer as die ander mense van die tyd nie. Hulle was wel besondere ontdekkers.)

Later bietjie meer oor bekende mense se DNS en waar hul vandaan kom. En raai wie het vandag meer as een miljoen afstammelinge?

Hans met die skerp tande

Dit was op ‘n Sondagmiddag wat ek ‘n regte, egte, lewende “monster” by my Ouma-hulle se huis gesien het. En hy het gekom vir my.

Agter my Ouma-hulle se huis was ‘n braai-area, buite-toilet en druiwe prieel. En as ek my besige speelroetine moes onderbreek om gou toilet toe te gaan, het ek knyp-knyp na die toilet toe gehol.

Die betrokke middag het ek weer daar gaan piepie. Net toe ek by die toilet uitkom, staan hy daar.

Regop rooi hare. Oë wat die kant toe trek. Skewe hande wat na my uitreik. En toe hy sy mond oopmaak, het hy sulke spits, skerp tande.

Ek het nog nooit sulke tande gesien nie! En hy sê: Aaaarrrghhh. Eeeeuuuuu!

Die volgende oomblik trippel hy, nie loop nie, trippel hy, op die punte van sy tone na my toe. Sy arms is na my uitgestrek.

Ek het geweet die dag gaan kom. Ek het geweet daar is spoke en monsters. Maar ek het nie gedink een sal my kry in die dag nie. Ek het gedink dit sal in die nag wees.

Die tuinpaadjie is te nou en besluit om regdeur my Ouma se petunias koers te kies. Ek ruk daai tuinhekkie oop dat hy so klap teen die muur se verf. Ek hoor hoe trippel hy agter my aan.

Nee! Hy kom in die paadjie agter my aan na ons huis toe. Neeeeeeeeeee!

Ek hardloop vir my lewe en hol teen ons deur vas, kan nie die onderdeur gou genoeg oopkry nie. Skreeuend in die gang af, vertel ek my ma daar kom ‘n “monster-man”.

Sy gaan kyk vieserig. Intussen het hy homself gehelp aan ‘n piesing in ons kombuis. Ek loer agter my ma uit en sien weer die vreemde skerp tandjies.

“O, dis net Hans, van tannie Marie-hulle. Hulle kuier seker by Ouma-hulle.”

“Dis okay Hans, eet maar die piesing, wil jy koeldrank hê,” sê my ma.

Aaargh-Aaargh knik Hans sy kop.

Later stap my ma terug saam met Hans om hom na sy ouers terug te neem.  Hy is al ouerig.

Sy verduidelik vir my hy is erg gestremd, hy kan nie praat nie en hy kan nie help sy arms, bene en tande lyk so nie. Hy is so gebore, sê my ma. En hy is nie ‘n monster nie.

Ek was seker 6 toe toe gebeur het. Ek verstaan, knik ek.

Daarna het ek vir Hans nog baie gesien. Ek het my gedra en nie weggehol nie. Hy het my nog so bietjie bang gemaak met sy skerp tande en vreemde geluide.

Maar hoe groter ek geword het, hoe minder bang was ek vir hom. En hoe meer het ek verstaan. En meer en meer, met deernis. Vandag verstaan ek heeltemal.

Vandag sal ek opstaan, en het ek ookal, vir iemand soos Hans, as hy in onkunde deur ‘n volwassene ‘n monster (of wat ook al) genoem word.

Net meer genade.

Ruimte en tyd is soos ‘n twee kante van ‘n lemoen, jy kan dit nie skei nie. En dit is hoekom die drome om terug of vorentoe in tyd te reis, so moeilik is.

Vandag besluit Rosalind sy gaan ons naaste ster Proxima Centauri besoek (4 ligjaar weg). Volgens Einstein is die vinnigste manier wat ek daar kan kom teen die spoed van lig – as ek so rit kan oorleef. Dit sal my 8 jaar neem, heen en weer.

Sou ek besluit om na die middel van die Melkweg te reis, sal dit my 100 000 jaar neem. Vir julle wat sit en wag mag dit lank voel, maar indien ek terugkom hier, is ek dalk net ‘n paar jaar ouer. (Dit is danksy die tweeling-paradoks, wat beteken dat daar nie so iets soos absolute tyd is nie. Elke individu het volgens die teorie van relatiwiteit sy eie maatstaf van tyd afhangend van waar hy is en hoe hy beweeg.)

So om die reis nou lewensvatbaar te maak volgens fiksie moet ek vinniger as die spoed van lig reis. Dit sou beteken dat ek ook terug in tyd sal kan gaan. Die probleem is: Die krag wat benodig word om my skippie so te versnel word meer en meer hoe nader ek aan die spoed van lig kom.

Ons weet dit nou juis uit die eksperiment wat tans aan die gang is by Cern in die Groot Hadron Versneller. Die protonbundels gaan al hoe vinniger en vinniger in hulle sirkelbaan. En maak nie saak wat die wetenskaplikes daar doen nie, hulle kan die deeltjies nie vinniger as 99,99% van die spoed van lig versnel nie.

‘n Reis deur tyd is net moontlik indien jy die sogenaamde ligspoed-grens kan breek. Die enigste manier is om van punt A na punt B te gaan – nie om die lemoen nie – maar deur die lemoen. In die denkbeeldige wurmtonnel. Die dun tonnel in ruimte-tyd wat twee plat areas wat ver van mekaar is kan konnekteer. Daarvoor het mens ook ‘n area van ruimte nodig met negative ruimtekromming.

As dit dan moontlik is om na die verlede te reis, hoekom het niemand nog teruggekom om ons te vertel hoe om dit te doen nie? Hier is nie mense van die toekoms of verlede met ons nie.

Of natuurlik jy reis “verkeerd” tot so ‘n mate dat jy na ‘n plek reis wat nog nie daar is nie, soos dat jy 5 miljard jaar gelede na die Aarde reis en hy was toe nog nie hier nie.

Al is ruimte-tyd so gekrom sodat ons kon teruggaan, is dit so dat wat in ruimte-tyd gebeur ooreen moet kom met die wette van fisika. Mens kan nie teruggaan in tyd as die geskiedenis nie in die hier en nou wys dat jy reeds daar was nie! Byvoorbeeld, jy kan nie teruggaan en jou oupa doodmaak voordat jou pa gebore was nie, want dan kon jy nie hier gewees het nie.

Of nog erger iemand anders maak jou ouers dood. Waar plaas dit jou dan?

En sou jy teruggaan kan jy nie die reeds opgetekende geskiedenis verander nie, jy kan dit slegs volg. Dus ‘n tydreisiger het nie vrye wil nie.

Of gaan ‘n tydreisiger en teken alternatiewe geskiedenis aan? Soos wat Richard Feynman sy kwantumteorie uitdruk.

Of werk die wette van fisika so dat dit keer dat makroskopiese liggame inligting na die verlede dra?

Dalk wil ek eerder onsigbaar wees . . .

Bron: A Briefer History of Time; Stephen Hawking

Sensoriese sensualiteit

Hy het die fynste neus in die vuil strate van die 18de eeuse Parys, maar self geen reuk van sy eie nie. Die betrokke man in die verhaal.

Hy kan alles ruik, letterlik alles. En dit afbreek in die fynste dele.

En die mooiste reuk op aarde, ‘n vrou natuurlik, of die kombinasie van ‘n klomp vroue. Elkeen, wat iets bepaald verteenwoordig. Maar hoe op aarde vang ‘n mens die reuk van ‘n vrou, haar essence op?

Die boek Perfume van die skrywer Patrick Süskind het ek in 1995 vir die eerste keer gelees, later weer gelees en ek sal hom in my lewe weer lees. Hy sal op my boekrak bly.

Die emosie en sensualiteit van ruik, regtig ruik word in hierdie klassieke boek wat vir die eerste keer in 1985 uitgekom het, onbeskryflik beskryf. Die neem jou op ‘n sensoriese reis soos mens jou net nie kan voorstel nie.

Die boek ontstig natuurlik ook so bietjie, seker omdat manipulasie ‘n rol speel en moraliteit. Maar ek sal nie te veel weggee nie.

Die fliek Perfume het ‘n jaar of wat gelede uitgekom en die het ek ook geniet. Alhoewel ek altyd die boeke verkies. Maar dit was een van die min flieks wat goed uitgebeeld is.

Elke nou en dan sal ek skryf oor van my gunsteling boeke – in hulle eie kategorie.

Onrustig het so rukkie gelede geskryf oor die idee om oor boeke te skryf, so die inspirasie is ook aan hom te danke.

Foto: http://www.elegant-lifestyle.com