Archive for Augustus, 2008

Geluk

Geluk is vir my ‘n vae begrip, FlippieFanus  dit is dus nie so eenvoudig om aan jou versoek te voldoen oor wat my gelukkig maak nie. Ek kan aan baie dinge dink, wat ek glo my dalk sou gelukkig maak, maar is dit omdat ek dit nie het nie, dat ek dit koppel aan geluk?

Maak iets, iemand, gebeure of dinge ‘n mens gelukkig? Doen jy dit self, of is dit die afskeiding van bepaalde chemiese elemente in jou brein? Kan ‘n mens dit meet en vasvang? Kan ek my vlak of peil van gelukkigheid of ervaring van geluk meet aan die van ‘n ander?

Geluk is ‘n gevoel. Maar hoe weet ons dit, net uit die beskrywing deur middel van taal aan mekaar. Tog weet ons diere ervaar ook geluk.

Maar soos hulle sê in geen volgorde nie, hier is van die dinge:

Boeke: Ek kan nie ‘n oomblik in my lewe onthou dat ek nie genot uit goeie boeke geput het nie. As ek nie kan lees nie, sien ek nie die nut in die lewe nie. Regtig.

Ons 3 honde: Ek het maar altyd wanneer ek by die huis is ‘n hand op ‘n hond. Ek het my eerste hond op 4 gekry en sal een hê tot die dag van my dood.

My lief: Is net daar vir my, verstaan my kompleksiteite en behoeftes. Aanvaar my vir wie ek is.

Stilte: As ek nie stil, alleen kan wees nie, word ek siek.

Ruimte: Die ruimte om anders te wees, omdat dit is wie ek is. Die ruimte om net te wees.

Museums: Ek wil alles weet en ervaar. Ek wil sien, ruik, droom, voel, proe en sensasies indrink. Ek wil wees waar ander eens was, sodat ek weet waar ek vandaan kom.

Reis: Nuwe plekke is heerlik, ek het net nie altyd soveel geld nie. Ek hou die meeste van treinry, die ritmiese gesus van die wiele maak my rustig. Dit wieg my soos in die baarmoeder.

Ek dink dis al

Advertisements

Haas en Olifant

Sien jy die Haas?

 

Sien jy die Olifant?

 

Haas en Olifant is ewe groot.

Haai, regtig?

Ja, regtig?

Watter een sal jy skiet om te eet? Watter een het die meeste vleis?

Ag, dit maak nie regtig saak nie, want jy kan mos vir jouself sien. Hulle is byna ewe groot. Die verskil is nie noemenswaardig nie.

                                                                                ****

Dus huppel jy, in goeder trou weg, en skiet die Haas wat hier naby ons sit. Toe jy by hom kom sien jy hy het minder vleis, selfs minder as ‘n hoender, as die Olifant wat verder weg gestaan het. Jy is geskok. Want jou oordeel was totaal en al verkeerd.

Ek lag lekker vir jou, want weet jy wat? Ek het een allerbelangrike ding uitgelos: Konteks.

Maar hoe kon jy dit tog gehelp het, want ek het nie die betrokke konteks aan jou geskets nie.

Nou moet ek net besluit wat kort, die verbale konteks, die sosiale konteks – of sal ek dit pragmaties beskou?

Miss Helen

Jy moet die ver pad aanpak en vir Miss Helen gaan kuier. Jy moet na haar blyplek gaan om te drink uit haar sement-tuin en siel vol boodskappe en eenvoud.

Want Miss Helen, soos die kinders haar genoem het, het iets om te sê vir elke liewe een van ons, maar jy moet jou oe en ore baie fyn oophou. Sy praat sag en haar hande wys skugter. Weet dat hierdie is ‘n reis wat met haar en jouself sal wees.

Ons was al twee keer, in die koudste kou van die winter op Nieu-Bethesda, om vir haar te kuier. So dat my hande skurf gebly het. Maar hoor vir my, as jy na Miss Helen se huis en tuin van beelde gaan, doen dit as die son vroegoggend nog skaduwees gooi, of as hy water begin trek, sodat jy die skaduwees van die beelde kan sien. Daar is boodskappe van lig en donker in.

Die laaste keer wat ons daar was vir ‘n week lank, was ek elke dag by Miss Helen se Uilhuis (The Owl House), want mens sal nooit ooit kan ophou leef saam met haar nie. Haar armoedige huisie is donker, maar die glas-skerwe bring lig.

Dis asof sy sopas verby gestap het na die koolstoof toe.

Van haar beelde, geinsprireer deur onder meer die Midde-Ooste, kyk na die Ooste. hande uitgestrek na bo. Daar is ook sommiges wat lyk soos tipiese wyse manne, kamele skape en ander wesens. Oor een, Vader Tyd, kan mens ure lank tob, ook die meermin wat sit en vra vir geld. Dan is daar natuurlik orals uile en beelde wat ontstellend diep na jou roep.

Die huis is vol interessanthede – alles presies nog soos sy dit gelos het. Selfs die velle is nog op die vloer en kerse in die blakers. Stukke gekleurde glas bedek al die mure waarop die lig flikker.

En dan skielik le daar ‘n sementbeeld op die vloer in die hoek toegedraai in ‘n doek- met een gehoefde klou en een voet.

Op ‘n ander bed le twee poppe, een wit die ander swart in ‘n ewige omhelsing.

Daar is ondertone van spiritualiteit, moederskap/gebrek daaraan?, vryheid, ontspanning, uitreik en/of ontvang, ‘n onkante betrapping van ‘n moontlike seksualiteit of dalk ‘n tipe abuse, vrede maar ook vrees.

Die dorp se mense het haar natuurlik verstoot, onder meer omdat sy nie kerk toe wou gaan nie. En omdat sy net die soos die hoofstroom was nie. So tipies van hoe onverdraagsaam mense is, onseker en bang. Net die kinders het vir haar die glas en leë bottels, stukke metaal en draad aangedra wat sy nodig gehad het. Ons weet vandag dat sy van tee en brood geleef het, en die res van haar pensione gegaan het om sement vir haar werke te koop. Enkele mense het by haar gekom.

Sy het haarself afgesonder, ook omdat sy skaam was. Maar dit was eers op ‘n latere ouderdom (laat veertigs of vroe vyftigs) dat sy met kuns begin het. Sy het glas en sement gemeng en uiteindelik het dit haar oë beskadig (die gemaal van die glas).

Haar uile met hul reuse oë en byna mitiese dier-figure was seker ook vir die dorpsmense onaanvaarbaar. Seker gedink sy skep demoniese monsters en wat lol die ou vrou dan nou met die bruin man om beelde te maak wat niemand tog koop nie?

Haar helper Koos Malgas het haar werk voortgesit na haar selfmoord in 1976 (sy het seepsoda gedrink) en dit probeer onderhou. Die dorp sukkel vandag om die huis en werke behoorlik te onderhou.

Vreemd genoeg is dit die Uilhuis wat juis die dorp aan die gang hou, die dorp wat haar eens verstoot het. Daar is net een Uilhuis en daar was net een Miss Helen.

Iets diep binne ‘n mens roer in jou as jy deur haar huis, erf en lewe stap. Plaaslike mense maak van die figure na en verkoop dit buite die huis.

Die dorp is enig in sy soort, daar is angora-bokke in die hoofstraat, daar is geen verkeerstekens nie en geen teerstrate nie.

Ons uile en ‘n meermin sit op ons stoep – tydloos met blou oë en groen oë. Want ek dink ek verstaan Miss Helen.

Helen Martins

(Die drama en ook flim The Road to Mecca handel oor haar lewe en werk. Daar is verskeie boeke oor haar lewe en werk te koop.)

Foto’s Arnold Erasmus en Tracy Gander http://www.owlhouse.co.za/index.html

(Vir die reisiger wat gewoond is aan 24/7-geriewe. Bespreek vir blyplek by Nieu-Bethesda, mens kan nie net opdaag nie, blyplek is beperk. Soms is die kafee net toe sonder rede – daar is nie ‘n Spar nie, regtig. Daar is nie petrol op die dorp nie. Neem maar eie kos. Soms kan mens uiteet soms nie, hang af hoe die mense wat “eetplekke” het voel).

Ademloos

stilte, =s. Stilheid, kalmte, stilswyendheid. in die stilte in die geheim, stilletjies; in stilte terwyl almal stil is; in eensaamheid; die stilte voor die storm, kalmte voor met krag opgetree word.

Seg die woordeboek oor ademloos wees. Stilte kan positief of negatief opgeneem word. Ek wonder hoekom? Seker maar omdat jy kan swyg in ‘n argument.

 Om stil te raak in jouself, blyk al skaarser te word. Ek soek ‘n vakansieplek waar niemand eintlik praat nie (amper soos ‘n ouwêreldse klooster) en kan dit nie kry nie, oral moet jy gil, skree en soveel gestimuleer word dat die verstand en lyf mekaar verloor. Orals moet jy soveel doen, in branders spring en saam met massas mense koop en kyk.

Ek wil gaan na ‘n plek waar ek net my kop kan  knik vir die kos om dankie te sê, sodat ek net stil kan wees in die kokon wat ek is. Waar ek net ‘n gewone mens kan wees, en dalk sal wees. Waar ek kan bestaan/exist.

Daar is niks met my verkeerd nie, allermins. Ek het nêrens seer nie, ek is nie siek nie, worstel met niks nie en het niks om uit te pluis nie. Maar geraas maak my siek. Dis al. Ek soek stilte. Ek wil ook nie na bokke en voels gaan kyk in die natuur nie. Dit is doen, dit is nie wees nie.

In ‘n ander tyd het sommige mense stilte op hulself tot gedring. Een keer per dag, het hulle hulself met ” a rod of silence” geslaan. Homself tot stilte gedwing. Dit sal ek ook nie doen nie, dit is bloot ‘n refleksie op die belang van die eenwees met jouself.

Vader Angelo (Klooster van San Marco, Florance)

Dit is nie soseer die stilte van woorde nie, maar die stilte van bestaan, van menswees waarvoor ek vra. Die stilte van geraas-maak.

Geraas-maak op verskeie vlakke, dit wat mens kan hoor en/of nie hoor nie. Dus, is dit nie soseer die stilte van veral geskrewe woorde nie, want sekere mense se woorde kan ongelooflik ryk en wys wees.

Sommige mense meen langdurige stilte kan sleg wees, dit kan dalk. Geen stilte is erger. Dalk is daar nie iets is soos stilte nie, dit is dalk net stillerig. Dalk is dit net ‘n gebrek aan ‘n vreeslike geraas.

“Do not too hastily conclude that silence is indifference. Indifference is not to care, not to act, not even to think or breathe. Indifference is inhuman and inhumane. Silence, on the other hand, is almost always premeditated, a willful act. Without silence there would be no sound.”  – Justin B. Snider 

Want my stilte verduidelik ook soms my woorde. Mag my oomblik van stilte, vir ewig duur.

Addendum of is dit errata? Onberreikbaar, onbeskikbaar vir eers. Wederom.

Kentucky tjou honêr

Leepoog deursoek die sekuriteitswag my toe ek vandeesweek by die hofgebou instap. Ek is nogal seker ek sal een af ander wapen hier inkry as ek sou wou . . . want die mense is nie vreeslik wakker nie, en hulle praat so baie!

Hierdie keer sê sy darem nie weer vir my “sir” nie. Ek dra nouwel nie rokke nie, maar die vet weet, ek dra onmiskenbaar bra ect.ect…My stem is soet en ek swaai my heupe. Anyway

Aan die begin van die jaar het mnr. A mos in my vasgery (2 keer, ja-ja, 2 keer in een botsing). Die ongeluk wat ‘n baba gekry het  En die verhoor het uiteindelik aangebreek. Lekker lang dag wat voor my lê.

Op pad na die hof toe, op die sypaadjie sien ek ‘n vreemde ding raak: Daar lê: Een opgerolde baaikostuum (swart), ‘n reuse kol olie, ‘n vuil plastieksak en  . . . ‘n afstandbeheerde wit motorbootjie! Hê? Ek stap maar verby.

Heen en heer op soek na die regte hof. Eintlik is ek bietjie vroeer hier sodat ek vir die aanklaer kan inlig ek soek nie net ‘n skuldigbevinding vandag nie. Nee Rosalind vra die hof vir ‘n skadevergoedingsbevel ook. Mens moet vra om te kry vir die honêr, anders maak hulle nie die bevel nie.

Ek gaan sit voor die hof, aanklaer drink nog koffie. “Bly jy nie in ons straat nie,” vra die tannie langs my. “Nee” sê ek.

Oorkant my sit twee groot skollies en Kentucky eet. Op die hofrol is: diefstal, inbraak, aanranding en sulke goeters. Twee wagte van korrektiewe dienste kom verby het ene: hande en voete in kettings. Kentucky nr. 1 sê: “Ha! Lekker gevang!” hy lag en ek sien en spasie waar daar tande vas.

Daar is ou snye oor hulle koppe. Messteke.

Die ene in kettings sê niks. Ek kan nie glo hulle loop so met die ou nie. Hulle moet in die maag van die gebou, onder ons voete met hom loop.

Ek vertel die aanklaer mooi van my pyn en lyding en dat ek my R1000 wat ek aan die versekering moes betaal (access), want mnr. A het mos weggejaag, terugsoek. Ek het veel meer verloor, maar nouja.

En toe kom ‘n man verby, sy broek sit so styf ek skrik my vrek vir die gedoente.

“Sug!” hoor ek langs my, sowaar dit is mnr. A. Ek dink by myself: En jy sug? Nou te laat, ek was tien dae sonder ‘n kar.

Uiteindelik is dit ons. Ek skrik my vrek toe ek sien die ou met die stywe broek is die landdros! Nou is ek bly ek het nie vir hom gelag nie.

Mnr. A pleit skuldig. Hoekom hy nie voorheen skuldig gepleit het nie, laat my dink. Want toe was ek nie by die hof nie, maar toe hy my sien, besef hy mos nou is hy vas. En sê sommer hy sal die R1000 betaal, want Rosalind het opgedaag met die papierwerk. Lus vir baklei.

Maar sowaar ons moet oor 3 weke teruggaan hof toe, want eers dan kan die bevel gemaak word.

Ons stap by die hof uit. Mnr A kom nader en sê vir my: “Ek wil net vir jou sê, ek was eintlik baie ontsteld dat jy so geskree het daai dag.”

Met een of ander krag, skud ek net my kop en stap weg, weg, weg.

Want hy neem steeds nie verantwoordelikheid dat hy 2 keer in my vasgery het, in ‘n eenrigting opgejaag en van ‘n ongeluk weggery en my met alles gelos het om van my versekering te eis nie. Geen sin vir verantwoordelikheid nie. Niks. Ek wat geskree het, die eerste keer toe hy my tref – dit was my skuld.

Ek stap verby die groot olie-kol. Haai, iemand het vir hom die wit bootjie gevat.

Sommer ‘n paar los wenke oor depressie en die mites wat daar bestaan oor die siekte.

Anti-depressante is nie verslawend nie. (Kalmeermiddels kan verslawend wees, as jy jou daaraan vergryp en onverantwoordelik is. Maar soms is dit nodig vir angs en stabilisasie. Anti-depressante en kalmeermiddels het verskillende aktiewe bestanddele in.)

Ekself, sal nie sogenaamde natuurlike middels vir depressie drink nie, omdat daar nie wetenskaplike bewyse is dat dit werk nie. Al sê die mense wat geldmaak daaruit (natuurlik!) dit werk.

Maar as jy dit dan nou wil drink moet nie St. John’s Wort (St Janskruid) drink saam met anti-depressante nie, want dit kan inwerk teen ander medikasie, wat gevaarlik kan wees. Moet dit veral nie drink saam met anti-depressante nie. More is not more. Dit werk ook teen die voorbehoedingspil in (St. John’s Wort)

As jy anti-depressante drink kan jy lomering voel vir die eerste paar dae, of tien, die simptome verdwyn. Hou net uit. Die pille is nie wonderpille soos wat baie foefie-aanvullers, wat nie medikasie is nie, altyd beweer, die meeste van die tyd werk dit eers behoorlik na sowat drie weke. Hou net uit. Ek kies dit eerder as om soos die donker nag te voel!

Drink dit vir ten minste drie maande om na behore beter te voel. Na gelang van die tipe depressie, en bespreek dit met jou dokter, het jy dit dalk langer, of vir altyd nodig. Vra vir generies, dit is regtig nie so duur nie. Dit is nie die einde van die wereld nie en jy is nie ‘n verslaafde nie. Mense met diabetes, hartprobleme, asma, cholesterol en baie ander siektes drink ook pille vir hulle hele lewe en is nie verslaafdes nie.

As jy beter voel, moenie ophou met die pille nie. Dit beteken die pille werk! Hou aan en praat met die dokter.

Daar is niks met jou “kop of gees” verkeerd nie. Dit is in die meeste gevalle ‘n chemiese siekte van die brein. Jy is ook nie dom nie. Dit het te doen met die afskeiding van neurotransmitters (chemiese stowwe) wat jou laat sleg voel.

Moenie luister na mense wat se jy kan jouself  ‘regruk’ nie. Kry hulp. En onthou dit is nie jou skuld nie.

Lees asb meer hier, bg is net enkele punte.

http://www.nimh.nih.gov/health/topics/depression/index.shtml

Survivor 101

Daar sit die vrou gister aand toe met die oom se bril. Met ‘n paar stokkies, fyngoed (hallo, gloeilampie het iewers aangegaan) en iets wat lyk na ‘n vrot lappie.

Hulle het ook gekliek dat jy moet wag vir die son om lekker hoog te sit. Maar eers sak my moed tot in my voete. Want ek sien sy hou die bril net so slap oor die vuurmaak-goed.

Ek gil! Ag tog. Soos ons as kinders gese het: Jy moet hom “trek”. Daai ligkolletjie, so fyn-fyn tot hy ‘n kern maak en hom dan doodstil hou. As die rokie kom moet jy hom eers stil hou. Anders kom die vlam nooit. Ek weet, ek het baie maatjies so geklits…:)

Maar met die genade het die vrou haar vuur gemaak. En weet julle wat, hulle gaan haar uitstem. Al het sy vuur, wat in die geval lewe beteken, want nou kan hulle water kook om te drink, gebring.

Want in Suvivor, ons is al seker in reeks 12, het die mense nog nooit die gender-Rubicon oorgesteek nie. Hulle glo/dink. Man=sterk en die beste. Vrou en ouer persoon = swak en verloorder.

Wat hulle nie besef nie is dat survivor nie gaan oor hoe sterk nie, maar oor hoe TAAI, jy is. Fisisies en emosioneel.

Al het sy vuurgemaak, beteken dit vir haar niks. Sy is nou of ‘n bedreiging, of ‘n steeds ‘n swak vrou.

‘n Vorige keer het hulle ‘n vrou wat visgevang het uitgestem, oor sy nie “sterk” was nie.

Was dit ‘n man wat vuurgemaak het, was hy weer die “big provider”.

Nog meer verstommend vir my: 6 vroue en 3 mans. En die vroue luister na die mans en stem die ander vroue af! Hallo? Hulle laat hul vertel die ander vroue, dus met implikasie hulself! is swak. Hierdie gaan nie oor feminisme nie, dit gaan oor jou eie waarde.

Neem byvoorbeeld die bebrilde “Sjinese” man gisteraand. Hy kan nie ‘n flippen bal gooi om sy verdomde lewe te red nie. Dit lyk of hy nog nooit ‘n bal gesien het nie. Maar wie stem hulle af? ‘n Vrou! Die ene wat die hele luukse skuiling in 2 dae die lig laat sien het, omdat sy ‘n argitek is.

Vir ‘n vrou om hier te wen moet sy na die mans luister en teen ander vroue draai. Onder die radar vlieg, soos die swart vrou in SA Survivor. Anders is dit baai-baai met haar. Want as sy sterk na vore tree, is sy ‘n “bossy bitch”.

En die ou met die leep-oe, Rocky, rook iets daar. Die teeblare of iets. Hy survive, hy is ‘n man. Hy is so min taai soos ‘n konyn.

En die man wat nie die varksnoet kon eet nie, hy het opgehou eet nog voor hy begin het. Maar kyk sy spiere, hy word as sterk gesien??

En die ouer man wat seergekry het. Hulle was maar te verlig om dalk een minder te raak.

Hierdie is voorwaar ‘n studie in moderne antropologie en ons nie veel verder nie…

Wanneer sal ons opvatting oor wie wat kan doen verander? Nie alle mans is taai en sterk nie, ook nie alle vroue nie. Die individu, die persoon moet op meriete beoordeel word, nie op grond van hulle geslagsorgane nie. Ek bly verstom. Ek sal altyd verstom bly.

Dingetjie

Ek het ‘n dingetjie. Dis my dingetjie. Dis ‘n oulike dingetjie – ek dink so, en my ma dink so.

Ek vryf sy koppie. Tot sy haartjies blink. Oor en oor.

Hy blaf vir my, as ek sy koppie vryf. Ek dink hy blaf, omdat ek oulik is, maar wat ek nie weet nie, is dat dingetjies uit gewoonte blaf. Dis maar wat hulle doen.

Mense sê vir my hoekom my dingetjie blaf. Ek sê vir hulle, hulle is ongelowige ketters. Gaan weg! Hulle is my vyande. Hulle is vieslike mense.

Ek vryf my dingetjie se koppie so baie – eendag, toe is hy net dood. Stokstyf.

Maar ek weet dit nie. Ek dink by blaf nog, al kan ek dit nie meer hoor nie.

(Die stukkie was suiwer simbolies, my opregte verskoning vir die wonderlike bloggers wat soveel omgee, lees asb my verskoning in die kommentare.)