Archive for the ‘wonder’ Category

Daardie eenkeermense

Ek wonder baie keer wat het geword van die mense wat jy net vinnig in jou lewe ontmoet, soms weet jy nie eens wat hulle name is nie. Ander kere vergeet jy dit. Soms is dit net ‘n gesig, soms iets kleins, ander keer iets groots – daardie eenkeermense.

Ek wonder nog baie oor die vrou wat 10 jaar gelede my van ‘n gewisse ernstige, as dit dan nie vieslike besering gered het nie. Dit was ‘n nagdonkeroggend in Khayelitsha waar ek in die reën rondgeloop het op soek na iemand (dit het met my werk te doen gehad).

Skielik het iemand my hard van agter af teruggeruk – so erg dat ek byna in die modder beland het. Ek het verbaas omgekyk. Die vrou agter my het die reuse oop rioolgat seker twee tree van waar ek sou trap vir my uitgewys.

Ek sou daardie oggend in die rou riool beland het. Ek wonder waar is daardie vrou vandag.

Waar is die dronk meisie wat my amper doodgery het voor die Engen in Oranjestraat?

Waar is die vrou wie se kind weggeraak het en met my daaroor gepraat het in haar shack in Delft terwyl sy vir ons soet tee maak? Waar is haar kind?

Wie is daardie ontbinde lyk in die veldjie gewees wat die mense sandhopie vir sandhopie uitgegrawe het – die dag toe dit so warm was en die kinders langsaan in die veldjie gespeel het?

Wie se voet was dit wat daai dag by Blouberg uitgespoel het?

Lewe die tannie nog wat laas jaar saam met my in die hospitaal was?

Het daai vrou ooit haar boarding pass gekry wat ek in die toilet op die lughawe gevind het?

Wie wie wie is al die mense?

Advertisements

Drie lewensgeselle

Kos: KFC, of enige voël, pizza, Big Mac, roomys, yogurt, vrugte (maar nie appel), neute, chips.

Habitat: Op en in die bed – natuurlik

Gewoontes: Spring op 3 bene, blaf vir kos, dagdroom in die Zen-posisie, bewe soms baie, piepie as dit reën net op die stoep.

Kos: Alle vrugte en groente, is eintlik ‘n vegetariër, chips en neute.

Habitat: Op eie bed langs bedkassie, onder bed, in eie tent, bo-op handsak, bo-op koerant.

Gewoontes: Knor as sy eers op handsak gaan lê, skrop net soos ‘n hoender, versamel sokkies, lê en blaf, huil in die kar, vra soggens ‘n koekie

Kos: Alles, veral katte

Habitat: Op kussing langs eie bedkassie, teen enige muur met pote wat muur “ophou”

Gewoontes: Kyk TV, draf net soos ‘n ponie, kom haal Rosalind saans by die motor.

Klein rooi broekie

Ek dink nie ek kan vir een oomblik meer in Izak Davel se klein-klein rooi swembroekie vaskyk in Survivor nie.

Daai broekie is so groot soos my hand, en ek het nie groot hande nie. Ek kan sien dat hy vir hom die kleinste klein swembroekie gaan soek het om sy bates (LOL) mee af te show. Hy het mos geweet hy gaan op die eiland wees.

Izak, verstaan nou mooi, gewoonlik wys vroue hulle boobs in ‘n klein bikini’s, maar dit wat ‘n man besit is nie juis iets wat ek ingeprop wil sien in ‘n te klein broekie nie. Ek sien as jy wel ‘n kortbroek aan het dan rol hy die pype tot kiertsbo op? En selfs die middelband af?

Sies o jinne. En van wat jy dink jy besit, sien ons te veel. En nou weet die hele wereld ook dat Izak dink hy het ‘n mooi lyf.

En ProVerb, nee fokkit, jy kan nie die hele tyd onder die boom le en slaap nie. Ek moet nog sien hoe jy ‘n vinger lig – behalwe om elke keer te kom aansit vir ete. Dat jy nog so lank daar is verstom my.

Ashley ek dink jy moet politiek toe, want so van manipuleer het regeer het ek nog nie gesien nie. Nou moet jy nog net kroek en steel dan is dit ‘n kabinetspos vir jou.

So sit ek en aktrise X en eet by daardie kuierplek in die Kompanjie se Tuine hier in Kaapstad. Dit was al lank terug.

Nie dat ons vriende is nie, allermins. Sy het my uitgeneem vir ete, omdat ek navorsingsmateriaal en agtergrond aan haar verskaf het vir TV-programme waaraan sy gewerk het.

Sy was destyds met die ete, toe onlangs oorsee gewees om met ‘n bekende skrywer (A) te gaan praat nadat werke gepubliseer is.

Intussen tjrip ‘n plaaslike skrywer (B) in die openbaar tussen-in en spreek lelike woorde oor A se werk uit, veral dat laasgenoemde “touch” verloor het met alles en almal en soort van oor die muur is. Beide ek en die aktrise (en soort van die res van die wêreld dink egter A se werk is fenominaal).

Die aktrise vra toe vir A, het jy gehoor wat sê B oor jou en jou werk?

En A se respons was: “As ek ‘n opinie oor my werk en oor myself wil hê, dan sal ek nie B se mening vra nie”.

Maar hiermee het sy wel ‘n opinie oor ‘n bepaalde issue uitgespreek. My vorige blog-inskrywing het nie soseer met myself as persoon te doen nie, maar met ‘n universele kwessie, ‘n issue of brandpunt wat baie mense oor praat en waaroor daar debat is. Ook op van die blogs, selfs al is dit net ‘n moffie-grappie.

Net soos wat baie wit mense hulself as B sien en pres. Zuma en Malema glo hulle is A. Luister en hoor ons mekaar? Wat beteken diversiteit en verskille, maak nie saak op watter vlak dit is nie.

Ja ek weet jy is waarskynlik heteroseksueel, gelowig en wit, maar beteken dit, dat die feit dat ek gay en nie-gelowig is, ek dit maar “vir myself moet hou”, “my issue hou” en in die hoekie sit en stilbly? Of wat?

Want almal om my is “very in my face” oor wie hulle is. En ek is okay daarmee, maar hoe voel jy oor diversiteit? Hmm?

Wel dit se basies alles.

‘n Bondeltjie energie

So sit ek en ‘n vriendin by die werk en koffie drink – bekyk die ander mense op en af. Beide van ons is moeg, sat, gedreineer van alle energie, lam – die fut is uit.

Wat kan ‘n mens daarvoor drink vra sy?

Brandewyn, sê ek. Want ek weet eintlik, niks help nie.

En toe begin ons praat oor die mense in Men’s Health, Women’s Health en op die TV – daai mense wat so maksimaal lewe dat jy daarvan kan kots!

Dit gaan basies so:

Hulle staan 05:00 soggens op om 10km ver na die gym toe fiets te ry waar hul op balle rol, op matjies spring en swem. Dan roei hulle terug huis toe waar hulle 07:00 vir almal ‘n buffet brekfis voorsit en 08:00 is hulle voor almal by die werk.

Teen die tyd wat die baas by die werk is, het hy hulle al klaar gekomplimenteer oor die dag se werk . . . Lunchtyd maak hulle ‘n kosblik oop wat die fok weet wie ingepak het vol kos wat nie net lekker is nie, maar sommer ook siektes kan genees.

Na werk gaan stap hulle met die honde, speel met die kinders, doen huiswerk, en slaan ‘n ete aan mekaar – net binne 45 minute – wat lyk of dit op ‘n internasionale skou ‘n prys sal kan wen. Dan fliek hulle, drink skemerkelkies in cool plekke, abseil teen Tafelberg af en lees Newsweek.

Intussen bou hulle huise gratis vir arm mense, hulle het karate-lesse, neem joga en het leer brei.

Naweke ry hulle trein, kamp uit, werk self in die tuin, was die hokke by die DBV en het 27 keer per week seks. En hulle sit dit huiswerker se kind deur varsity.

Hoe fokken doen die mense dit?

Ek is te moeg om op die staan, en die koffie wat ons sit en drink proe vreemd in die mond.

Ja se die vriendin, die rol aan haar maag is nou so groot sy roer die bad soggens voor sy inklim dat dit nie so erg lyk nie. Ek voel aan haar maag – flip – my rol is groter.

Ai die bad van Getsemane, as my rol maar net wil verdwyn en die moegheid maar net wil wyk.

Kersfees wat gly

Ek kan christene se frustrasie met die verval van kersfees verstaan, werklik ek kan. Ek verstaan die bedoeling van die fees en wat die geestelike waarde vir daarvan vir christene moet wees, ek is allermins in ‘n christelike huis grootgemaak.

Jaar na jaar kan ek sien hoe hulle fees eintlik vertrap word deur ander simbole seker onder meer deur  ‘n reuse mag van kapitalisme, hoewel ek ‘n voorstander van kapitalisme is. Tog voel ek dat religie en alle vorme van theisme in ‘n groot mate apart gehou behoort te word van die ekonomie en ander skole van denke.

 Gee stop nie net by die naastes van my gesin of familie nie.

Om te gee en liefde te ervaar, is deel van kersfees, tog word dit tot die uiterste bedryf. Om te gee beteken vir my om ook kan ander te gee, soos aan diegene wat minder as jy het, wat ook diere in nood en die natuur in geheel insluit. ‘n Donasie aan die WWF of nader aan die huis, soos die DBV beteken ook vir my ‘n kersgeskenk, omdat ek as mens ‘n verantwoordelikheid het jeens ander organismes. Ook jeens armes, ouer mense wat swaarkry, kinders en diegene wat uitgeworpe is deur die samelewing. Diegene wat jesus hom oor ontferm het  – minderes.

Ek het nie die antwoorde oor wat met kersfees gebeur het nie, waarom ander simbole dit vervang het wat vir christene belangrik is nie, sowaar ek weet nie. Maar ek kan sien dit die rituele wat eens sentraal was stoei vir plek, en ek kan die frustasie verstaan.

Net soos ek soms frustreed kan voel as my skool van denkwyse en dit wat sentraal vir my staan verkeerd vertolk word omdat mense dit nie probeer leer of kennis daarvan bekom nie en net aanvallend raak.

Mag daar altyd ‘n plek wees vir almal se denkwyses in ‘n nuwe wereld waarin ons almal bereid is om na mekaar te luister. En mag alles bewaar en behoue bly, sonder fundamentalisme en sensuur want dit stol kennis. Mag elkeen toegelaat word om voort te bou en te ontwikkel wat hy belangrik ag, omdat elkeen van ons die vrye wil in sy lewe mag behoort uit te oefen.

Bubble gum

Dit is seker ook apartheid se skuld 🙂 dat daar net Chappies en Wicks was toe ek klein was. Miskien het ander mense in ander lande lekker bubbles geblaas en gekou aan ander bubble gum.

Eintlik toe ek klein was, het ons ma’s nie so baie daarvan gehou dat jy Chappies kou nie. My ma het nooit ‘n rede gegee nie, maar het altyd gese, hoekom koop jy nie eerder toffies nie? Of yssies?

Nee, ek wil 20 Chappies koop. Chappies het destydes vreemde kleure gehad, dalk kom dit ook uit die polonie en vienna-fabriek. Hulle was sulke deurmekaar-kol-kleure. En net elke 50ste keer het jy regtig ‘n pienke of groene gekry. Tensy jy natuurlik die duurder lang stokkie-ding gekoop het wat jy so stuk-stuk afgebyt het.

Wicks het ook daai langes gemaak. En natuurlik die groter blokkies. Wicks het sy eie geur, niks is soos dit nie.

Ek is te bang om ‘n Chappie of ‘n Wicks te eet, ek wil nie my herinneringe besoedel nie. Ek wil hulle net so bewaar.

En daar was Beechies – maar dit is nie bubble gum nie. Dit blaas nie op nie. Dit was vir sissies soos my sussie.

Ek het eendag ‘n Chappie, of ‘n halwe gekoude een in haar hare geplant. Eintlik het dit gegaan oor daar die min plek in die kar was vir ons twee. Waar was die dae toe ons see toe gery het teen 80 km/h sonder aircon? G’n wonder ons het baklei nie.

Ek het vandag ‘n bol groen kougom getrap, daai getrek onder jou voet wat jou die onvermydelike laat besef.

Die nodige

dettol

Ek gril nogal vir sommige mense, en dus ook die plekke waaraan hulle raak en sit. Daar is baie mense wat deesdae nie meer vir my skoon lyk en ruik nie.

Ek wonder, as jou hare lyk of jy tjips daarin kan bak, en as ek wil opgooi as jy jou arm oplig, dan is ek mos redelik seker daarvan dat jy nie jou hande gewas het, nadat jy by die toilet was nie. Jy vat aan die hyser se knoppie en dan moet ek daaraan vat? Of nog erger, aan jou!

En as die snot uit ‘n kind se neus so erg loop dat dit op sy bo-lip saamkoek en die kind skuur teen my verby, dan wil ek die creeps kry. Kinders is die grootse germ-carriers op aarde.

Jy staan in die tou by die bank en die ou agter jou hoes: Reg teen jou kop vas! Die hare lig sommer op van die hoes-wind. Aaaagghhh. ‘n Miljoen virusse en bakterieë swem uit sy mond . .

Of daai kelner wat met sy vuil naels jou blikkie koeldrank wil oopmaak.

Of daai een wat op straat die slym in sy heel doer agter gaan haal, hom in ‘n bal rol in die keel en dan glorieryk soos ‘n projektiel vol TB en wat nog , dit op die sypaadjie skiet. Ek sien altyd daai bolle raak waar hulle lê en koudword.

Vandaar my gunsteling produk: Dettol se hand sanitizer, die beste. Gemaak met ‘n alkoholbasis, moenie die sogenaamde “natuurlike” produkte gebruik nie. Hulle huisves eintlik die mikrobes waar hulle lekker leef, eerder as om hulle dood te maak.

Wonderlik Dettol beskerm selfs teen sekere virusse.

Amper tyd vir my om oppie vliegtuig te klim. Egipte, lekker vuil….ek kan net dink 🙂