Archive for April, 2008

Luidier

 

Ek voel soos die ene, soos ‘n luidier.

Inteendeel ek het reeds een geword. Genus: Choloepus (want hy het twee tone). Mens kry van hulle met drie tone ook, maar dit sal te veel werk wees, nog ‘n toon om skoon te lek aan elke voet is een te veel.

Die luiheid het oor my gekom. Ek wil net op groen gras langs ‘n kabbelende waterstroom lê en die hele tyd oor sagte diertjies streel, diertjies soos katjies, hondjies, hasies en beertjies. Ons moet net lê en giggel en speel.

Iemand moet my lekker kosse voer.  En warm toegooi met sagte komberse. Ek wil ‘n luidier wees wat hang en slaap. En min grond toe gaan waar die ander diere woel.

Ek wil nie dink nie.

Advertisements

Koningin

Ek het angstig deur Berlyn se strate gedrafstap. Ek kon nie wag om haar te sien nie.  Die konferensie wat ek bygewoon het was skaars klaar vir die dag toe ek haar begin soek.

Uiteindelik het Museum-eiland voor my opgedoen  – waar is sy tog?

Ek het die Euro’s oor die toonbank gestoot, ek gee nie om hoeveel nie, ek sal enige iets betaal om haar net te sien.

Op by die trappe van die pragtige gebou. Verby al die ander goed. Ek sal hulle netnou kom bekyk.

Ek probeer beskaafd deur die stigtelike plek loop, ek sweet weens die hitte en weens afwagtig. Waar is sy tog?

En toe, om ‘n draai, staan sy onverwags net daar op haar eie. Soos dit hoort. Want sy is ‘n koningin: Nefertifi. (c. 1370 -1330 b. C) (Uitgespreek Na-fra-ti-ta, destyds)

Ek stap nader. Om in haar oë te kyk. Ekstase spoel soos warm olie oor my, oh, sy is mooi. Die perfekte afwerking van haar gelaat, die presisie van haar kenmerke wat in gelid soos klein soldaatjies in plek is.

Die lippe, neus en voorkop is skoon. Vol en tog ook afgerond.

Haar kortgeskeerde hare en pruik is weggesteek onder haar hooftooisel.

‘n Roepe na bo want dit is voldoening voor my! Sy neem my weg saam met haar en ek vloei in tyd in haar vel heen.

En volgens tradisie sit sy langs haar koning Akhenaten, op die ander beelde in die vertrek. Sy is sy gelyke, haar beeld is net so hoog en groot soos syne. Want vroue was die mans se gelyke, in Antieke Egipte. Die klein prinsie aan haar voete, in die ‘n ander uitbeelding, is laer en kleiner as sy. Hy is dus nie belangriker as sy ma, die vrou nie.

Hoe sy dood is en wat van haar geword het, weet ons nie, want haar man was omstrede vir sy uitkyk op godsdiensake. Dit is moontlik dat sy kortliks farao was na haar man se dood (vroue kon koning/farao word).

Is sy ‘n ikoon, ja verseker. Hoekom? Wie sal tog weet, sommige mense, is net magies.

Die wagte maal om die mense, beloer almal. Ek dink, hulle dink, ek staan te lank daar. Hulle begin vir my kyk en om my draai. Tyd om aan te beweeg.

En en stap weg. Maar vir ‘n rukkie was dit net ek en sy wat bestaan het.

Hulle lê gelukkig goed weggesteek in die veld, want anders sou elke liewe vandalis seker lankal hulle merk op hulle gelaat het en/of die mooie versteendes net opgetel het, om tog geen waarde daaraan te heg nie.

Gelukkig neem dit ‘n redelike kennersoog om hulle te vind, om hulle onderskei van die landskap waarin hulle rustig  – al vir miljoene der miljoene jare – lê. En soos op die meeste ander plekke op Aarde is fossiele moeilik om te vind en kom hulle op onherbergsame plekke voor. Myle se stap, klouter en sukkel om soms net by ‘n paar verweerde bene uit te kom.

Suid-Afrika is ryk aan fossiele omdat ons onder meer eens deel was van die superkontinent Gondwana. En die Karoo-supergroep (wat 2/3 van SA beslaan) baie, baie fossiele bevat omdat ‘n massiewe uitwissing 251 miljoen jaar gelede plaasgevind het. (Dit is nie die uitwissing wat die dinosouriërs se einde beteken het nie, dit was 65 miljoen jaar gelede).

Daar was ook baie lewe hier op Aarde, met ongelooflike biodiversiteit, van piepklein tot reusagtig. Vleiseters en planteters, voor en na die era van die dinosouriërs. Amfibiese diere, reptiele, soogdier-agtige reptiele (wat uiteindelik aanleiding gegee het tot soogdiere), soogdiere, insekte, plante, visse, voëls. Dit het gewemel.

Onthou ook dat die eerste soogdiere het saam met die dinosouriërs geleef en toe die uitgesterf het, het hulle die dominate groep op land geword.

Die reuse begrafplaas is dus afgeset in groot dele van ons geologie. Maar moenie moeite doen om in Kaapstad en omgewing te loop kap aan klippe nie, dit was diep onder die see gewees. Eers ander kant Worcester en Ceres se omgewing sal jy baie ou diere kry, en dan ook net ongewerweldes en plante.

Gondwana se oseaan het tot by Van Rhynsdorp gegaan, diep land in. Toe Gondwana opbreek (140 mil jr gelede) het die geologie weer verander. Met die reuse plaat-tektonika is berge ook gevorm – dit opdruk, saam met die voordurende opvloei van lawa.

Die vloei van varswater en soutwater, lawa, wat gebeur op die pole en binne in die Aarde se kern, die druk van die Aarde se plate, die skuif van kontinente en vorming van berge en klimaat het veel, veel meer te doen moet hoe dinge vandag dag daar uitsien wat die meeste mense besef.

Die gee die toon aan vir lewe en hoe dit daar uitsien.

Sekere afsetsels (lae) dateer uit sekere eras (epogs/periodes) en waar ‘n organisme gevind word, plaas hom in ‘n bepaalde periode. Indien hy bo op die grond lê kan hy steeds gedateer word uit watter tipe dier dit is en die gesteentes,en area waarin hy gevind is. Jy gaan bv. nie ‘n T.rex in ‘n whitehill-formasie kry nie. En ‘n kameelperdagtige dier van 5 miljoen jaar gelede (soos die gevind aan die Weskus van SA) gaan nie in 8km diep mariene-neerslag gevind word nie, tensy hy vinne het!

Mens kan jou net verwonder aan tyd, diep-tyd en hoe kort ons hier op Aarde is. Dink net lewe bestaan al sowat 500 miljoen jaar op hierdie fantastiese planeet en Homo sapiens, die moderne mens, is maar 200 000 jaar hier.

En hoe mooi verwoes ons alles nie, nogal met ‘n verwaande, arrogante houding: Ons is slim en dit is ons reg. Soveel spesies het weens ons doen en late uitgesterf. Hoe dom is dit nie, ons is maar net ‘n spikkel in die verloop van tyd.

In ‘n gruisgat soos hierdie, dalkies ‘n paar insekte of plante?:

 

Dan kap mens dalk ‘n gesteente in ‘n ryk afsetsel oop:

 

 

Maar ai, die Son brand kwaai en al die “klippe” lyk dieselfde as jy dors is. Kan jy die fossiele hier onder sien?: (omtrent alles is fossiele hier, behalwe die baie geel klippe, is sandsteen)

 

 

Van die tientalle kameelperd-agtige diere (Sivatherium hendeyi) van sowat 5 miljoen jaar wat aan die Weskus gevind is.  Kyk net hoe lê hulle!

 

Deel van heupbeen en groot ook – sowat 250 miljoen jaar oud wat die oorhoofse groep Therapsida.

Val plat! Die terroriste kom skree die kinders in my klas. Almal gil en skree, banke en stoeltjies val om.

Ons beur en skop mekaar om ‘n plek teen die muur onder die venster te kry. Want die meneer in sy bruin weermag-univorm het gesê dit is waar ons moet gaan lê as die skoolklok drie keer na mekaar lui.

Ek is in st. 1 maar ek word eers aan die einde van die jaar, nadat die skool gesluit het 9. Die meeste kinders is al 9. Dit is 1981.

Die skoolhoof het vir ons ‘n groot ding gewys, daarop was landmyne, handgranate, kleefmyne en ander vreemde goed wat ontplof. As ons so iets by die skool sien mag ons nie daaraan vat nie, maar dadelik vir die juffrou se.

Die terroriste plant die bomme. Die terroriste is swart. Die terroriste is kommuniste. Dit is sonde en verkeerd, net soos dwelms en satanisme. En wilde plate wat agteruitspeel en dan hoor mens boodskappe wat jou die duiwel laat aanbid.

My maatjie se broer is op die grens. Hy skiet die terroriste wat ons wil doodmaak. Ons kan nie meer gaan kamp by die Limpopo-rivier nie, want die karre wat daar ry ontplof in die pad.

Een dag sien ek my oupa lees die koerant. In Pretoria het ‘n bom ontplof en baie mense is dood. Baie ander mense het seergekry. Die foto’s in die koerant is vreeslik.

Dit is 1983. By die skool gaan die alarm weer af en die hoof sê ons moet ontruim. Ons moet netjies in rye uitstap na die rugbyveld, en ons tasse net so los. Ek raak baie bang en piepie bietjie in my broek. Die juffrou se dis okay sy sal my later help.

Die polisie kom met honde wat orals snuffel. Niemand verduidelik vir ons wat aangaan nie.

Later sien ek iemand het in my tas gekrap. Ek voel baie kwaad daaroor. Wie het in my tas gekyk?

Ons oefen baie om plat te val en te ontruim. Ons mag nie lag nie, dis nie ‘n grap nie.

Ons hou vakansie in Durban. Daar werk swart mense op die strand wat stoele uitdeel en roomys verkoop. Hoekom swem hulle nie ook nie, vra ek my pa. “Hulle het hulle eie strande”, sê hy.

Hoekom? “Want dit is hoe dit is,” sê hy.

In 1984 gaan my ma en pa oorsee. My pa sê die mense betoog voor Suid-Afrika se ambassade. Hoekom vra ek? “Daar is sanksies teen die land, hulle hou nie van ons nie, ” antwoord my ma.

Hoekom? vra ek. “Want ons en die Israeliete, is God se uitverkore volke,” dis hoekom.

Die papier wat my pa teruggebring het van London sê: “PW eats black babies for breakfast.”

“Dis nie waar nie,” sê my pa. Hy wys dit vir al sy vriende en hulle lag. Ek verstaan nie wat beteken die papier met die dooie babas wat voor die president se voete lê nie.

Ek hoor baie hoe grootmense sê swart mense wil die land wat God aan ons gegee het van ons wegvat. Ek hoor hulle sê ons veg vir ons land op die grens.

In 1985 moet ek veldskool toe gaan. Al die kinders moet. Daar slaap ons koud en min. Die oefening is baie. Ek huil omtrent die hele tyd.

Die ooms wat die onderwysers is praat die hele tyd van terrorisme, kommunisme, satanisme, die rooi gevaar, die swart gevaar, volkstrots, die afrikaner, die engelse, nasie, die bybel, god, sonde, wat verkeerd is met seks, dwelms, die oorlog op die grens, pw botha en al sulke goed.

Hulle vertel ons hoe die mau-mau nonne met panga’s doodgekap het.

Ek het gedink ons kom veldskool toe om oor die veld te leer.

Ek is bang vir die “lokasie”.

Ek is 12 en bang vir swart mense.

****

(Geskryf uit ‘n kindergemoed van jare gelede)

Tik-tik…’n binneshuise swembad

Ek het dit gehoor, so paar maande gelede, iets wat so tik-tik as mens in die kombuis staan. Wat maak so? vra ek.

Ek weet nie. Ek ook nie.

Ek kyk en loer by die elektriese bord. Alles reg. Dalk is daar ‘n rot in die kas wat aan iets vreet. Ook nie dit nie. Dalk ‘n kas wat kraak?

Daar is iets met die geyser verkeerd, ons moet daarna laat kyk, dink ek. Die ding gaan weer ontplof. “Ag tog, alles gaan verkeerd, nog uitgawes. Ek gaan nie nou iemand inkry nie,” se Liefie.

Die geyser het in 2004 ontplof en die hele plafon was in sy glory. Daai tik-tik pla my.

Ek sit vandag rustig in ‘n hotel met ‘n slim man en gesels oor: vroue-siektes van alle dinge. Ons eierstokke hier en bepeins hormone daar. My selfoon lui. Ek druk hom vies dood, Liefie weet mos ek en die man konfereeer vandag.

Ek luister na die boodskap: “Die geyser het weer ontplof. Dis net water orals. Dit loop deur die dak. Dis oral, oor jou papiere. Alles.”

Ek bel terug: Dit was daai tik-tik, se ek.

“Dit help nie om nou te praat oor wat was en kon gewees het nie, dit het nou gebeur. Baai.” kom die antwoord.

Iewers diep in my kry ek daardie pyn wat ek in 1986 gekry het toe ek van ‘n perd afgeval en my stuitjie gebreek het. Dit is ‘n pyn wat fisies deur jou stert skiet. ‘n Pyn in die gat.

Ek ry huis toe. Die loodgieter was al hier en hy se daar is ‘n gat in die geyser wat net vier jaar oud is. Toe ek klein was het ons geyser nooit gebars nie, die goed het vir 20 jaar gehou.

“Jy moes sien waar was die water oral. Tot in die Royal Doulton Toby Jugs wat op die tafel gestaan het. Toe ek hier kom was hulle vol water. Dit was baie erger as nou.” se Liefie.

Die honde spring rond, baie opgewonde oor die verhitte, binneshuise swembad wat hulle bygekry het. Ek trek die bokse in die studeerkamer uit waar my “papiere” is. Dis nat. Die honde is nat.

Ons kry dalk more ‘n ander geyser. Die versekering moet eers dit en dat. Die water loop uit die plafon uit. Die huis is omgekeer.

Ek moet more dokter toe gaan! Hoe gaan ek bad en my beenhare skeer? Ek is baie lus om hotel toe te gaan.

Mr. Delivery moet maar vir ons kos bring, want ek het nog daai gevoel in my stert.

Genade

jy,

jy is

hul god

gee hul

dan meer

genade

vir ander

 

 ******

 

Die gedig is ‘n waarnening uit die derdepersoon, juis om afstand te kry. Om afstand te kry van die mensdom, op humanity, wat so min genade vir mekaar het. Menslikheid

Ek sien, hoor, lees en ervaar dit so baie. Die gebrek aan genade vir ander mense en hul lewe.

Waarom is ons so kru, so veroordelend teenoor mense wat nie presies soos ons is nie? Hoekom maak ons ander mense, en diere, so seer? Wat as dit jy in daardie posisie was?

Hoekom is ons wreed as onsself nie wreed behandel wil word nie?

Genade asseblief, want die lewe is kort en die dood kom gou.

Nie 8 nie

Die tag kom van Wipneus en Kaalvoet maar agt goed van myself is helemal te veel/te min!!! So toe pas ek dit ‘n bietjie aan:

Goed waaraan ek erg het

Boeke

Wetenskap in die breë

My honde en my Liefie

Fossiele

Diep-tyd (Deep time)

Genade

 

 

Wat ek gereeld sê

&*(%*&& $!@ —-onder sensuur geplaas

%&*^%$&* —– onder sensuur geplaas

ek hou meer van diere

ag tog

ag wie het dit gedoen?

 

Flieks

Camille Caudel

The Unbearable Lightness of Being

Three Colours Red, White and Blue

A Clockwork Orange

Evita

The Meaning of Life

The Last Temptation of Christ

The English Patient

My Left Foot

 

 

Gunsteling boeke

Daar is seker 500 op my lys maar hier is ‘n paar:

Perfume deur Suskind

100 Years of Solitude :Marquez (al sy boeke is nice)

Triomf : Van Niekerk

The God Delusion en The Selfish Gene: Dawkins

Six Impossible Things Before Breakfast: Wolpert

The end of faith: religion, terror and the future of reason: Harris

Ek hou ook van Karel Schoeman se: Kinders van die Kompanjie en Amosyn van die Kaap.

Etienne van Heerden se boeke is fantasties het almal en het almal gelees.

En Dan Sleigh se Eilande. Ag die lys is ongoddelik lank.

Ek lees eerder nie-fiksie en biografie as stories, behalwe is dit baie goed is. Ek kan Nadine Gordimer se boring gerammel nie verdra nie, nog minder  JM Coetzee se bitsige houding jeens vroue.

Ek hou ook baie van Gould, Sagan, Zimmer, Dennet. Jones en Ingrid Jonker en Elizabeth Eybers. Ek luister nie eintlik musiek nie, dit irriteer my gou.

‘n Mens het ‘n kans om ‘n natuurlike mummie te word (‘n per abuis mummie), mits die omgewingsomstandighede van so aard is. Daar is al baie sulke mummies gevind, mens moet net op die regte plek soek, of per ongeluk op een afkom!

Die mense is nie deur ander mense gemummifiseer nie en het net daar waar hulle gesterf het, of in hulle grafte/tombes danksy die omgewing en/of chemiese prosesse gemummifiseer. Ek sou nie se per abuis mummies is net moderne mummies nie, soos sommiges dit beskryf nie, hierdie mummies kan baie oud of wees of jonk.

Daar is ‘n paar maniere: in bitter koue omstandighede, in baie droe omstandighede (waar dit ook verkieslik koel is -maar nie noodwendig), in soutagtige plekke, in baie suurgrond, in ‘n moeras wat bitter dig is.

Nogal interessant is dat die natuurlike mummies oor die algemeen baie, baie mooi bewaar is. Indien mens hipoteties gesproke (etiese aspekte tersyde) in moderne begrafplase sou soek waar dieselfde klimaatsomstandighede teenwoordig sou wees, ten tyde van die begrafnis, sou jy talle goed bewaarde liggame kry. Ek dink nou vinnig hier aan plekke in Rusland (baie koud en droog), China (droog, soutagtig) en in Groenland (perma-frost).

Vreemd genoeg het baie van die menslike offerhandes wat in die suide van Amerika gemaak is behoue gebly, nie omdat die liggame spesifiek gemummifiseer is nie, maar omdat hulle so hoog, droog en in koue omstandighede begrawe is. Die dooies vertel baie verhale: Hoe mense geleef het, wat hulle geeet het, hoe die beskawing geleef het, ens. Onnoembare inligting kan uit die skelet verkry word, insluitend DNS.

Daar is eintlik soveel van die mummies mens kan nie almal noem nie.

Net ietsie oor mummies wat oop monde het: vir indien dit jou dalk ontstel. Wanneer ‘n mens sterf, ontspan die spiere, al die spiere, ook die van die kake. So dit lyk dalk nie mooi as mummies se monde oop is nie, maar hulle het hulsef nie doodgegil nie. Alle lyke se monde val na ‘n rukkie oop. Die vel droog ook uit en trek effe van die lippe weg wat die “gryslag” gee.

(Tensy ons nie bewyse aan die liggaam sien van marteling nie, is hulle nie gemartel nie, soos merke om die nek, en elders op die liggaam, vars gebreekte bene, krapmerke, kneusplekke en dies meer.)

Guanajuato, Mexiko

Uiterste droe omstandighede het hier gelei tot die natuurlike mummifisering van mense. In die laat 1800’s is sowat 100 mummies gevind toe liggame opgegrawe is om plek te maak vir ‘n groter, nuwe begrafplaas.

 

Die Ysmaagd (Juanita)

Sy is in 1995 ontdek en was 14 jaar oud toe sy geoffer is deur die Inkas tussen 1440 en 1450. Sy is met ‘n stomp voorwerp oor die kop doodgeslaan – as offer vir die gode van die berge. Sy is ongelooflik mooi bewaar en word onder beheerde temperatuur-omstandighede gehou.

Sy is bewaar danksy die droe, koue omstandighede

Die DNS-toetse wys sy het genetiese verbande met ‘n ou stam van Panama, asook van haplogroepe van antieke Taiwanese en Koreaanse stamme. Dit versterk natuurlik die hipotese dat mense na Suid-Amerika migreer het vanuit die Ooste, ‘n reeds aanvaarde teorie.

 

 Siberiese Ysmaagd

Die jong vrou was iemand van statuur, ‘n koningin of leier van ‘n stam. Sy is 2400 jaar gelede begrawe met baie seremonie in wat seker ‘n kleurvolle begrafnis moes gewees het. Baie mense moes oor die jong, blonde vrou se dood getreur het.

Sy is in 1993 in Pazyryk gevind, saam met onder meer, die oorskot van ses perde, asook kos. Haar kis is pragtig gekerf met beelde van diere en so is haar liggaam. Daar is etlike tattoeeer-merke regoor haar van verskeie diere en die merke is perfek bewaar. Goud en sy-klere versier haar liggaam. Later het hulle ‘n man gekry, ook met sulke tattoes op, net so goed bewaar.

 

Moeras-mummies

Die mummies kom nogal wyd in Europa voor. Die water is suur en die gebrek aan suurstof keer dat die liggaam ontbind, omdat die modder so dig is. Dit is ook koud. Die mummies wat hierin voorkom lyk ook effe anders, byna plastiek-agtig. Soms vergaan die skelet en die rubberagtige mummie bly agter, met die organe nog daar.

Otzy (dood sowat 3300 v. C) is seker een van die bekendstes. Hy is in die Alpe gevind met hoedjie op die kop, klere aan en sy wapens langs hom.

Daar is al sowat 700 sulke moeras-mummies gekry. In die moerasse is organiese sure en aldehied teenwoordig. Lae van veenmos en turf vou die liggaam toe wat sorg dat oksidasie en water nie kan inkom nie.

Een van die mooi turfmoeras mummies is Tollund-man (onder) wat sowat 400 v. C. geleef het en in die vyftigs in Denemarke gekry is.

Sy verstandtande het ingegroei dus was hy ouer as 20. Hy het ‘n tou om sy nek gehad en is waarskynlik opgehang en toe in die moeras gegooi. Sy laaste maaltyd wat pap was het groot hoeveelhede ergot – wat hallusinasies meebring – bevat, wat baie vrae oor sy dood laat ontstaan. Dit bly ook dat hy tot 24 uur voor sy dood nie geeet het nie.

 

Marco Polo verloor?

Die laaste mummies voeg ek by omdat DNS ons nou instaat stel om nuwe vrae te stel. Die mummies is in China gekry. Hulle dateeer uit tussen 2600 en 4000 jaar gelede en hulle is nie Chinese nie! Hulle het Europese gelaatstrekke en blou oe gehad, en selfs geruite klere gedra. Dus was daar Westerlinge in die Ooste lank voor Marco Polo.

Dié ontdekking dui op ’n onverwagte verbintenis tussen die Ooste en Weste, veel vroeër as wat voorheen gedink is.
Honderde van dié mummies is in 1978 in die Tarim-vallei in die weste van China gevind, maar hulle het weggesteek gebly van die wetenskap in ’n streeksmuseum. Hulle is onlangs weer daar ontdek deur ’n kenner. Die bekende dr. Spencer Wells, ’n antropoloog, genetikus en direkteur van National Geographic se Genographic-projek, is betrek.
Wells het gesofistikeerde tegnologie gebruik om DNS te trek uit die mummies om hul genetiese oorsprong te bepaal. Die baie wol in hul klere dui daarop dat hulle skaapherders was en die Skotse geruit in sommige van hul klere dui op ’n Europese oorsprong. Die voorlopige uitslae is dat die mense van Europa, Mesopotamië, Indië en ander plek­ke gekom het.