Archive for Maart, 2010

Klein rooi broekie

Ek dink nie ek kan vir een oomblik meer in Izak Davel se klein-klein rooi swembroekie vaskyk in Survivor nie.

Daai broekie is so groot soos my hand, en ek het nie groot hande nie. Ek kan sien dat hy vir hom die kleinste klein swembroekie gaan soek het om sy bates (LOL) mee af te show. Hy het mos geweet hy gaan op die eiland wees.

Izak, verstaan nou mooi, gewoonlik wys vroue hulle boobs in ‘n klein bikini’s, maar dit wat ‘n man besit is nie juis iets wat ek ingeprop wil sien in ‘n te klein broekie nie. Ek sien as jy wel ‘n kortbroek aan het dan rol hy die pype tot kiertsbo op? En selfs die middelband af?

Sies o jinne. En van wat jy dink jy besit, sien ons te veel. En nou weet die hele wereld ook dat Izak dink hy het ‘n mooi lyf.

En ProVerb, nee fokkit, jy kan nie die hele tyd onder die boom le en slaap nie. Ek moet nog sien hoe jy ‘n vinger lig – behalwe om elke keer te kom aansit vir ete. Dat jy nog so lank daar is verstom my.

Ashley ek dink jy moet politiek toe, want so van manipuleer het regeer het ek nog nie gesien nie. Nou moet jy nog net kroek en steel dan is dit ‘n kabinetspos vir jou.

Kyk ek is baie lui.

Dit help nie ek koop kaartjies vir die Woordfees op Stellenbosch (verlede naweek) nie, en dink ons gaan inry van die Kaap af as ek eers my lyf op die bed neergelê het nie. Nee. Ek los dit alles net so.

So hotel-bly is die voorland. Spier is te ver vir my, want as ek eers daar my lê kry sal ek ook nie wegkom na die fees nie. Dus die Stellenbosch Hotel uit 17-iets moet doen. Sodat ek kan loop waar ek moet wees, want om daai dorpie ‘n parkeerplek te kry…..

Ai tog dis 35 grade toe ons Vrydagmiddag die kamer betree. Kyk die selle in Pollsmoor is groter.

“Het jy die kat ingepak?”

Nee

Dankie tog, want die kamer is so klein jy kan nie ‘n kat in hom swing nie.

En, daar is net ‘n stort, en ons het gevra vir ‘n bad. Ek staan nie en beenhare skeer nie – regtig. Ek doen die meeste goed terwyl ek lê.

Bel af. Ek is nog mooi vriendelik.

Die ou wat die tasse dra drup van die sweet, ek loop so koes-koes agter hom.

Volgende kamer.

Die aircon woer-woer lug uit wat nie koud is nie. Waar is die remote vir die aircon? vra die Baas.

Wahahahhaha! Remote?

Ons kan nie bad nie. Net die stort binne-in die bad werk. Ag fokkit tog, die skakelaar wat mens moet draai is vas gefossileer.

Volgende oggend gaan vra ons mooi vir die man wat so sitlê by ontvangs. Maak reg.

17:00 – alles nog net so.

En toe vind die groot ontploffing plaas. Maar dit was nie baie mooi nie.

So sit ek en aktrise X en eet by daardie kuierplek in die Kompanjie se Tuine hier in Kaapstad. Dit was al lank terug.

Nie dat ons vriende is nie, allermins. Sy het my uitgeneem vir ete, omdat ek navorsingsmateriaal en agtergrond aan haar verskaf het vir TV-programme waaraan sy gewerk het.

Sy was destyds met die ete, toe onlangs oorsee gewees om met ‘n bekende skrywer (A) te gaan praat nadat werke gepubliseer is.

Intussen tjrip ‘n plaaslike skrywer (B) in die openbaar tussen-in en spreek lelike woorde oor A se werk uit, veral dat laasgenoemde “touch” verloor het met alles en almal en soort van oor die muur is. Beide ek en die aktrise (en soort van die res van die wêreld dink egter A se werk is fenominaal).

Die aktrise vra toe vir A, het jy gehoor wat sê B oor jou en jou werk?

En A se respons was: “As ek ‘n opinie oor my werk en oor myself wil hê, dan sal ek nie B se mening vra nie”.

Maar hiermee het sy wel ‘n opinie oor ‘n bepaalde issue uitgespreek. My vorige blog-inskrywing het nie soseer met myself as persoon te doen nie, maar met ‘n universele kwessie, ‘n issue of brandpunt wat baie mense oor praat en waaroor daar debat is. Ook op van die blogs, selfs al is dit net ‘n moffie-grappie.

Net soos wat baie wit mense hulself as B sien en pres. Zuma en Malema glo hulle is A. Luister en hoor ons mekaar? Wat beteken diversiteit en verskille, maak nie saak op watter vlak dit is nie.

Ja ek weet jy is waarskynlik heteroseksueel, gelowig en wit, maar beteken dit, dat die feit dat ek gay en nie-gelowig is, ek dit maar “vir myself moet hou”, “my issue hou” en in die hoekie sit en stilbly? Of wat?

Want almal om my is “very in my face” oor wie hulle is. En ek is okay daarmee, maar hoe voel jy oor diversiteit? Hmm?

Wel dit se basies alles.

Gay en dit is fine!

Ek blog nou al vir twee jaar, dan oor dit en dan oor dat. Bietjie van reise, bietjie van my ouma, bietjie van wetenskap.

Maar ek sien baie mense keer eintlik maar terug na God, seks, en spot met die politiek. Nie een van die drie is vir my juis besonders nie, maar wat ek wel weet is dat die drie baie verskillend is.

Tog kry ek soms die gevoel dat god en seks en die bybel met mekaar verwar word – of soos een of  ander stroom wat saamvloei. Eens was daar ‘n erge obsessie met die Jode en die swart mense en nou is dit wat in die slaapkamer tussen gay mense gebeur – dit is nie eintlik meer of minder as wat in ander slaapkamers gebeur nie.

Daar word gewoel, lank geskryf, ek ja veroordeel oor ander se lewens waaroor mense geen clue het nie, oor sonde, vloeke, die hel, die duiwel. En moet tog nie die euwel en gruwel van sogenaamde gay seks vergeet nie. WDF?

Soos ‘n passer in die wiskundeklas – al om een gat.

Ek kry die gevoel daar is sekere straight mense wat meer wroeg oor gay-wees as al die gay mense saam! Dis ‘n nasionale obsessiewe kompulsie.

Ou uitgediende ou redenasies, oor en oor en oor. Dit is so boring. Orals in die samelewing. Keuse, orientering, oordeel die sonde en nie die mens nie blah-blah, teksies uit die bybel.

Raai wat? Nie alle gay mense wroeg met seksualiteit, depressie, god, hulself, hulle ouers en die lewe nie. Dis nie ‘n siekte nie en dis nie “so erg” nie. Nie alle gay mense is moffierig en butch nie. Nie almal is snaaks nie. Dit is nie ‘n karikatuur in ‘n cartoon nie, jinne.

Just go get ‘n life! Just let it go. Niemand bedreig jou lewe of hoe jy lewe nie. Worry eerder oor kanker, padongelukke, kos en water, oorbevolking en maak jou kinders groot.

Ek is gay. Ek dit is net hoe ek is. Neither here nor there. Nog my hele lewe. Dit voel ook nie anders nie. Ek struggle nie.

Dit was nog nooit ‘n issue nie.  Issues is al wel baie gemaak deur ander mense, nie deur dit wat ek binne myself is nie.

Niemand het met my gelol nie, geen trane is gestort nie. Geen fokken polse is gesny nie. Almal is okay, my ma ook.

Maar my gay-wees is nie wat my as mens definieer nie, glad nie. Dit is net ‘n klein deel van wie ek is. Ek is ‘n mens en ‘n vrou. Dit is wie ek is.

Ek is wettig getroud met ‘n vrou, omdat ek wou. Ons is gelukkig.