Archive for Februarie, 2008

Wie is jy? Het jy al regtig daaroor gedink. Wie se DNS voel deur jou are? Die meeste van ons is dalk nie wat ons dink ons is nie.

Die kans dat ‘n slaaf, sogenaamde vry swarte, khoisan of een of ander buite-egtelike verbintenis aan die Kaap tussen 1652 en 1795 bygedra het tot mense wat vandag Afrikaans praat se genepoel is nogal goed.

In Hans Heese se wonderlike boek: Groep Sonder Grense, lees ons van die vermening in die Kaap in die eerste jare.

Eva (Krotoa) se hartseer verhaal, asook die van haar bekendste kind Pieternella is nou al wel bekend danksy Dalene Matthee en Dan Sleigh se boeke.  Lees gerus hier wie is hulle lewende nasate (http://www.ancestry24.com/Default2.aspx?page=content/dna/eva).

Eva se huwelik met Pieter Meerhoff in 1664 was die eerste opgetekende huwelike tussen ‘n blanke man en Khoikhoi-vrou. Hy was toe die chirurgyn.

Maar vroeër as dit was die eerste huwelik tussen ‘n blanke man en vrygestelde slavin in 1656 tussen Jan Woutersz en Catharina Anthonis van Bengale. ‘n Bekende huwelik is die van Arnoldus Willemsz Basson met Angela van Bengale in 1669. Sy is die SA stammoeder van die Bassons en talle ander Afrikaner-families. (Ek noem maar net die een voorbeeld)

Wanneer iemand in die rekords aangetoon word as “van die Kaap” (van de Caab) beteken dit dat hulle gekleurde vrye mense was (in vryheid gebore in die Kaap) by gebrek aan Europese vanne. Of hulle was slawe sonder vanne (wat hul herkoms kon aandui) wat hier gebore is.

Vryswarte beteken vrygestelde slaaf of slavin. “Vol kleur/volle kleur” verwys na diegene wat afkomstig is uit ‘n gebied waarvan die inheemse bevolking nie Europeërs was nie.

Vryswartes se nageslag (gebore nadat hulle ouers vryheid gekry het) het as vrygeborenes bekend gestaan. Die vrygeborenes se kinders, wat hulle in ‘n vaag omlynde sosiale groep bevind het, was gewoonlik van gemenge afkoms, verduidelik Heese.

Kinders wat tot 1795 binne die eg tussen ‘n wit pa en gekleurde ma gebore is, is deur die sogenaamde wit gemeenskap aanvaar, die kind moes net gedoop word. Maar buite die eg het die kind se lot afgehang of die pa hom/haar erken of nie. Maar nog meer, die kinders “van Duitsche vaders geteelt” is nou in die slawelosie saam met hulle ma’s en hoe kan die bloed van wit mans slawe wees! Daar is toe besluit dat die kinders hulself kan vrykoop later vir 100 gulden.

In 1687 het Detlef (Dietlof) Biebouw (Bibault) en die slavin Diana ‘n buite-egtelike kind gehad wat later met die stamvader van die Odendaal-familie getroud is. Sy is die halfsuster van die Hendrink Bibault wat in die 18de eeu op Stellenbosch uitgeroep het dat hy ‘n “Africaander” is.

Om navorsing te doen is doopregisters ‘n handige plek, omdat die ouers se name aangegee word. Vanaf 1675-1748 is in die slawe se doopregisters wel aangedui of ‘n kind ‘n halfslag of heelslag is.

Dat vryburgers (mans wat nie in diens van die kompanjie was nie en grond ontvang het om op die boer) met ‘n slavin saamgeleef het en na etlike kinders eers trou het toenemend in die 18de eeu voorgekom. Die meeste van die slavinne was van Indië afkomstig.

Daar was ook huwelike tussen wit vroue en gekleurde mans, maar in ‘n mindere mate.

Waar mense nie getroud was nie, maar saamgeleef het, is die term “byzit” gebruik. Die hartseer saak is dat slawe nie toegelaat is om met mekaar te trou nie, omdat hulle verbied is om kontrakte aan te gaan. Kinders wat uit verbintenisse tussen slawe gebore is, “het met die ma gegaan” maar net tot op tien jaar. Daarna was hulle toekoms onseker.

Hoe meer ek lees oor die samelewing, sy mense, kultuur en normes hoe meer besef ek dit was geweldig kompleks. Dinge was soveel anders. Maar toe die Engelse die Kaap oorgeneem het, het soveel verander. Ek glo in ‘n negatiewe wyse. Maar ‘n mens kan nie nie horlosie terugdraai nie en terugstap op die wysers se tik-tok.

Met erkenning aan: H.F Heese

Suiwer?

Een uit elke 12 wit Kaapse vroue se genetiese wortels is swart en minstens 6% stam aan moederskant direk van die Khoisan af.
Een uit elke vyf swart vroue se moederlike wortels is Khoisan. En een uit elke tien swart vroue se oer-oumas (aan moederskant) is van Europa of Asië.
Altesame 8% van mans wat meen hulle is nie van Afrika afkomstig nie, is inderdaad van hier.
Hierdie is ’n paar van die interessante uitslae van die eerste fase van die Living History-projek wat deur die Africa Genome Education Institute en Ancestry24.com gedoen is.
In die eerste fase is ’n klein deeltjie van die DNS van 365 huidige Kapenaars (swart, wit, bruin en Asiërs) getoets.

Volgens dr. Wilmot James, direkteur van die Africa Genome Education Institute, is Suid-Afrikaners baie vermeng, sommige meer as ander. Die wetenskap-gemeenskap weet dit al jare lank.
“Wat verrassend is, is die rigting van vermenging, die graad waartoe baie van ons spore van Khoisan-oorsprong het (20% van al die vroue wat getoets is). Ook hoe baie wit mense swart bloed in hulle het, en hoe baie swart Afrikane Europese bloed het.”
Altesame 3% van wit mense en 20% van bruin mans in die studie het ’n swart Afrikaan-oorsprong.

Onthou dat ‘n mens se velkleur deur ander gene bepaal  word as die genetiese merkers van herkoms (mDNS en y-chromosoom).

Ons is veel meer vermeng as wat sommige mense, wit en swart, dalk sou wou hê. 100% sg. suiwer? Dit is min van ons – watter ras ons ookal is.
http://luigiblog.wordpress.com/ Skryf interessante verhale oor sy herkoms

Advertisements

Ek het al meer as ‘n week gelede die nuus gehoor. Ek kon nog nie eintlik daaroor praat nie, want as ek daaraan dink word ek só kwaad in my hart ek wil intens aggressief word.

My suster het in 1994 laas vir my gesê: “Sit, ek moet vir jou iets sê.” Sy is ‘n ernstige mens wat nie van drama’s hou nie. Ek is die sentimentele, emosionele een.  In 1994 het sy vir my skoknuus gegee wat toe ons almal se lewe verander het – maar toe was dit nie haar skuld nie, iemand anders was onbesonne.

Verlede Donderdag sê sy in my ma se huis, waar ons besig is om op te pak, omdat sy na ‘n aftree-oord trek, dat sy, haar man en 2 kinders na Australië gaan emigreer. “Oor dit nie veilig hier is nie”.

My ma gaan dit nie oorleef nie, haar 2 kleinkinders (die enigste wat sy sal hê) is haar HELE lewe.

Sy is honderde kilometers van my af (my ma) en wil nie na my trek nie, want al haar vriende is by haar, asook my suster-hulle. Sy is gelukkig daar.  Dit is nou so gemors.

My ma huil nog die hele tyd. Sy word ouer, nie jonger nie.

Ek is woedend. Ek is briesend vir my suster-hulle. Ek wil haar en haar man ruk en slaan.  Sy ouers is dood, so dit is maklik vir hom. Ek wil sê: Wat doen julle aan ons. Ek weet dit is selfsugtig en ek gee nie ‘n  om nie.

Omdat hulle my ma hier los. Sy is oud en fragile. Sy is nie meer so gesond nie. Ek is ver en kan nie gou gaan help nie.

Omdat hulle my hier los.

Omdat ek nou minder veilig voel sonder my ousus. Ek is so kwaad vir haar. Dis seker hartseer-kwaad. Soos wanneer jy hoor jy is baie siek.

Ek gaan nie totsiens sê nie. Ek kan nie, nie soos ek nou voel nie. Dit voel of my hart ruk as ek net daaraan dink.

Die Pop

Heel onder in die boks – daar le sy. My ma het haar saam met ‘n klomp ander kleinode vir my toegedraai in borrelplastiek.

Ek vou haar versigtig oop en kyk in die mooi porselein-gesiggie. Haar handjies en voetjies is ook van porselein en haar lyfie is van gestopte lap. Sy was my ma se ma, my Ouma Hantie, se enigste pop.

Maar dit is nie sommer enige pop nie. Sy het onlangs weer eens ‘n ver reis van my ma se huis in Gauteng met ‘n Stuttaford’s-trok na my huis honderde kilometers ver oorleef. Voorheen het sy saam met my Ouma op ‘n ossewa getrek na Noord-Rhodesie (Zambie) en weer terug.

My agterouma, Bettie en haar man, Theunis is in 1920 met hulle vyf kinders na Noord-Rhodesie om daar te gaan boer. My ouma was toe ses jaar oud en haar pop is saam.

Hulle het na ‘n reis van maande uiteindelik op die nuwe plaas aangekom en ‘n klein huise gebou. Ouma Bettie se mooi meubels is saam.

Oupa Theunis het na maande se werk om die wilde area te ontbos, uiteindelik daarin geslaag om mielies te plant.

Maar die nuwe sukses was van korte duur. Hy is in 1922 aan malaria dood en sy vrou en kinders was aan hulle eie lot oorgelaat. Ouma Bettie was boonop swanger.

Sy het haar man daar gegrawe onder ‘n klomp bome. Vandag is daar net ‘n foto van sy graf.

Haar mening was: “My kinders gaan arm en ongeletterd in die bosse grootword,” het ‘n familielid in 1975 in Die Huisvrou geskryf.

Sy het alles opgepak. Haar kosbare meubels moes sy daar verkwansel. En met die nuwe baba, vyf jong kinders en die bietjie wat sy kon saamneem het hulle agt maande lank, per ossewa, gereis om terug in Suid-Afrika te kom.

Hulle was heeltemal verarm. En moes maar oor begin. Hier gekom was die kinders skoon wild, sonder skoene en almal moes maar weer aanpas in die beskawing. My Ouma is vir die eerste keer skool toe.

Ouma Bettie het egter nie geskrik vir die oor begin nie. Sy het as ‘n tienerjarige die konsentrasiekamp van die Anglo-Boere-oorlog saam met haar ma en sibbe oorleef. Haar ma, Johanna, (my agter-agterouma) het elke sent wat hulle gehad het in vasgewerk in ‘n spesiale band wat sy gemaak het. Die het sy die hele tyd om haar lyf gedra in die kamp.

Later moes hulle van die geld in die kamp gebruik toe kos baie skaars geraak het en sy het daarvan gebruik om blikkieskos te koop by van die soldate sonder rang.

Na die oorlog was daar nog van die geld oor en hulle het darem iets gehad om weer te begin.

Die pop van baie reise, definitief ‘n geliefde pop, het nou ‘n spesiale plek by my. Sy het baie beleef en ek sal onthou om haar en haar mense nie te vergeet nie.

Die ongeluk wat ‘n baba gekry het

Salig ry ek in my motor wat net 10 000 km op het – in ‘n nou eenrigtingstraat. Natuurlik ry ek in die regte rigting van die simpel eenrigtingstraat.

En skielik op die hoek waar ek by die stopstraat stop, verskyn ‘n ou Uno. Hy pyl reguit op my af. Ek blaas my toeter verwoed. En swaai my hande.

Maar die Uno kom! Hy kom vir my en my betreklik nuwe motor. Doef! Binne in my vas.

Die man het ‘n wilde, vreemde kyk in sy oë. Ag nee! Hy sit sy motor in tru-rat en probeer iets doen. Ek weet nie wat nie. En sowaar hier pyl hy wéér op my af! Wat gaan aan?

Ek lê op die toeter. Doef. Doef. Ry hy twee keer weer in my vas. Wat die m**r is met die man verkeerd.

Weer gaan die Uno in tru-rat. O nee, hier kom hy weer vir my, maar die keer mis hy my rakelings en jaag op in die eenrigtingstraat. Hy mis my net. Ek sien hom nooit weer nie. Hy jaag net weg. Ek kan dit nie glo nie.

Die details van die pynlike ervaring met die polisie en my gesmeek om die saak te laat ondersoek en nie net bloot ‘n ongeluksverslag in te vul nie, sal ek julle spaar.

Vandag eers ses weke later kan my motor herstel word. Duisende rande se skade. Ek moet die bybetaling doen. Want Uno-man is wel uiteindelik deur die polisie opgespoor, maar hy is ‘n dwelmverslaafde wat in sy Uno bly. Hy is al voorheen gevang vir ander klein misdade en sy ma het hom maar elke keer uit die tronk kom “bail”. Ek dink nie ek sal ooit ‘n sent sien nie.

(Hy is al 38 jaar oud, sê die polisie)

En toe ek by die motorhuis uitry oppad na die paneelklopper, stamp ek my kar teen die pilaar!

Ek staar in ongeloof na die verf en frommel aan die ander kant van my motor. Die ongeluk het ‘n baba gekry. Dit is totaal en al onverteerbaar vir my…

My suster sê: Jy moet die humor daarin sien, die dag wat jy jou motor neem om ge-panelbeat te word stamp jy hom. Dit gaan nog ‘n rukkie wees voor ek lag.

Om ‘n man te wees

Hoe voel dit om ‘n man te wees? Ek wonder baie keer daarvoor. Hoe voel dit régtig…

Ek is ‘n vrou en heeltemal tevrede met vrouwees. Maar ek het al gewens ek kon vir so twee weke ‘n man wees – soos in 100% man, sodat ek kan voel hoe dit is.

Ek was nog op laerskool toe ek gewonder het hoe voel dit om ‘n seun te wees, om rugby te speel soos ‘n seun. Dit het begin toe die seuns my nie wou toelaat om lid van hulle bende te wees nie.

Maak nie saak hoe die wêreld verander nie, ek glo daar is maniere hoe die samelewing mans en vroue verskillend behandel.

As ek ‘n man is, sal die motorwerktuigkundige, die loodgieter, die elektrisiën, die verwer, die bouer en al die ander vakmanne wat my sulke twak vertel en gemors aanvang met my eiendom dit steeds met my doen?

Sal vroue ongewensde seksuele opmerkings of innuendoes teenoor my maak, sommer in winkelsentrums of op straat? Of op plekke waar ek koffie drink?

Sal ek vreeslik aggressief raak as ek my vervies as iemand iets in ‘n drinkplek sê en vir eens en vir altyd in my lewe kan voel hoe dit voel om iemand anders hard met die vuis te moer? En daarna weet ek is fisies sterk genoeg om myself te verdedig?

As ek ‘n man is sal ek steeds bang wees ek word verkrag? Of is dit nie iets waaroor mans dink nie. As ek ‘n man is hoe sal ek voel oor ander mans wat verkrag? Hoe sal ek voel oor die vroulike slagoffers (want ek weet hoe ek hoe jeens hulle as vrou voel), of maak dit nie ‘n verskil nie?

Waaroor praat mans as hulle toilet toe gaan? Sal die geslagsorgane my soveel verander? 

Waarin lê die identifikasie van gender? In hoe jy lyk, hoe jy voel. Die fisiese, biologiese, genetiese, sielkundige en kulturele?

Sal ek mense anders behandel omdat hulle my anders behandel?

Hoe voel dit om nie ‘n vrou te wees nie…

Ongetiteld

elke teug wyn
is die nektar van
jou lendene jy
is my nagmaalbloed

My naaste boek

Die tag kom van fredddels af:

Tel die boek naaste aan jou op – dit moet meer as 123 bladsye he, vir obvious redes. Moenie kul nie.

Blaai na bladsy 123.

Tel die eerste vyf sinne af.

Post die volgende drie sinne.

Tag vyf ander boggers (spelfout intended deur Freddy)

…”Neanderthals were in many ways our equals, and in some ways our betters. Only by recognizing the success of Neanderthals can we begin to understand why we are the only surving hominid species left on Earth and they are not.” – Where did we come from? Carl Zimmer.

Nou tag ek vir knersis http://haaspastei.wordpress.com/

oopkop: http://oopkop.wordpress.com/

sonkind:  http://sonkind.wordpress.com

en die 7kleuresusters. http://7skewekleure.wordpress.com/

en boegels  http://boegels.wordpress.com/

Bieg

jou mooie borste
is soos ’n bidplek
vir ’n god wat sing
en my naak in sy
tabernakel laat bieg
oor my siel my lyf
verlaat as jy binne
my is