Archive for Maart, 2008

Nie alle mummies is farao’s nie, maar alle farao’s is wel mummies – wel uiteindelik.

Ek is gek na mummies, ek gril glad nie vir hulle nie, en vind dit wonderlik hoe hulle vasgevang is in tyd.

Ook, is nie alle farao’s in piramiedes begrawe nie, die meerderheid is in gewone tombes in die grond begrawe. Die bou van primides was net ‘n betrokke mode-gier gedurende ‘n bepaalde era. Baie farao’s se mummies is nog vermis en sal nooit gekry word nie, of is dalk lankal in antieke tye al, verwoes deur diegene wat tombes beroof het. Of hulle is elders weggesteek. Eens op ‘n tyd was dit mode om hulle te versamel, wat tot groot verliese vir die wetenskap gely het.

Mense van die hoe stand, rykes en koninklikes is almal na die dood gemummifiseer. ‘n Duur proses wat 70 dae geneem het. Ander mense is bloot begrawe (die oorblyfsels hiervan is ook al gekry).

‘n Mummie van adelike afstand het altyd met sy arms gekruis gele soos die een van Ramesses I (dood omstreeks 1290 v.C): As die arms die gekruis is nie, was hy nie ‘n bloubloed nie.

3_14-3_15-3_16.jpg

 Maak ‘n mummie

Priesters was die liggaam met ‘n oplossing van wassoda/loogsout (natron). 

Al die interne organe, behalwe die hart, word uitgehaal en gewas omdat hulle gou verrot. Die hart bly in die liggaam (ka) om dit gesien is as die setel van die siel. Elke orgaan word in sy eie houer geplaas en bly naby die ligaam. Die houers met organe is orals te sien in museums en die betrokke persoon se naam word daarop uitgekerf. Die deksels van elke houer verteenwoordig elkeen ‘n ander god.

Die liggaam le vir 40 dae in die loogsout om heeltemal uit te droog. Sakkies met van die sout word ingestop. Die liggaam word weer gewas en die oe word uitgehaal en met vals oe vervang.

Dan kom die lae en lae materiaal. Amulette word geplaas, asook  ‘n masker oor die gesig. Tussen die lae materiaal is gom gesit. Die masker is ‘n afbeelding van hoe die persoon gelyk en daarom is ‘n masker soos ‘n ware kunswerk. Die masker is baie belangrik, omdat dit die beeld hou van die persoon wat hy nodig het om weer te hervorm

Verskeie rituele is gedoen en die mond is onder meer simbolies oopgemaak, sodat die persoon in die hiernamaals kan kommunikeer en eet.

Die liggaam was die tuiste van die siel en moet dus bewaar word vir later.

Kos, klere, juwele en alles wat hy nodig het vergestel hom/haar op die reis. Heilige diere is ook gemummifiseer.

Baie farao’s is in meer as een kis gesit en dan in ‘n klip-kis. In die meeste gevalle is die name in hirogliewe daarop grafveer.

Onder is Ramesses I (pa van Seti I). Ramesses II het vir 67 jaar regeer en vreeslik baie gebou, onder meer Abu Simbel se tempel. Sy koningin as  Nefertari (nie die pragtige Nefertiti nie, sy was die vrou van Akhenaten).

3_38.jpg

‘n Mens hoef glad nie ‘n Farao te gewees het, of ‘n Egiptenaar om ‘n mummie te word nie. Talle ander antieke beskawings het dieselfde gebruike gehad, veral in die Amerikas. Meer hieroor in ‘n tweede artikel.

Dan is daar regoor die wereld mummies wat spontaan gemummifiseer het, danksy die klimaatsomstandighede en/of omstandighede waarin hulle gesterf het. Meer hieroor in ‘n derde artikel.

Foto’s: Emroy-universiteit

Advertisements

Ek het al baie na die foto’s van my voorsate in die kiekies (onder) gekyk en gewonder of ek met hulle sal kan sit en gesels, of ons gemeenskaplike grond sal vind. Sal daar iets wees wat hulle van my bestaan sal verstaan en ek van hulle s’n? (as ‘n tydsreis onderneem kon word)

Ek wonder hoe was dit vir hulle in die kampe so ver oor die see?

So tyd gelede toe almal onder leiding van daardie jongeling so lekker saamsing oor De La Rey, toe dink ek so by myself: Ja, so ‘n paar jaar gelede toe die honderdjarige herdenking van die Anglo-Boereoorlog (ABO) gevier is, was die kinders wat so lekker saamsing nerens te sien nie, want of hulle het nog in doeke rondgekruip of dit was totaal en al un-cool om enige iets te doen te he met jou eie herkoms. Hoe ironies.

Die motief agter die liedjie voel vir my so baie eerder na opstand as na ware respek of eerbied vir die ABO. Die lied kla oor ander dinge.

Nou weer is die ABO deur middel van die betrokke lied, na my mening totaal en al verkeerd verpolitiseer om by die huidige politiese diskoers aan te pas. Meer as 100 jaar het verloop.

Die ABO sny diep in my eie familie. Vyf oupa grootjies en agter-oupagrootjies was krysgevangenes gewees op St. Helena en Ceylon. Ouma-grootjies en agter-oumagrootjies was in die konsentrasiekampe waar hulle kinders verloor het. Omtrent almal het alles wat hulle besit het verloor, huise, vee, besittings.

Wat met hulle gebeur het sal ek altyd eer. Ek sal dit nooit vergeet nie. Ek glo dit is belangrik dat dit altyd, saam met die res van die land se geskiedenis, aan alle kinders vertel moet word. Hul lyding is deel van my hart. Die verhale van hul oorlewing, moed en pyn sal ek opteken. Ek sal hul foto’s bewaar.

Vandag sien ek dit as ‘n tragiese historiese gebeurtenis. Een wat die Afrikaner-gemeenskap in ‘n bepaalde rigting ingelei het.

Maar ek kan nie, binne die huidige konteks, die kloutjie by die oor bring om te roep op ‘n bepaalde “De La Rey om my te kom lei nie”. Want die dae is verby, dit was meer as 100 jaar gelede my voorsate se droom. De La Rey is na my mening in die liedjie gebruik vir hedendaagse politiek en ek hou nie so baie daarvan nie.

Ek wonder hoeveel van die wat die CD loop koop het weet werklik iets van die ABO of en of hulle eie voorsate dalk swaargekry het. Hoe hulle was en wat hulle stories was. Die lied het polities geword. ‘n Kleur gekry. Vergeet nie lekker tune…dis meer as dit.

Die leier wat ek vandag begeer en na roep is heeltemal iets anders. Hy of sy is nie paternalisties nie. Het nie ‘n geweer in die hand nie. En is daar vir almal van ons. En dit is nie die man wat na Bok se lied iets anders geword het nie.

copy-of-abo3.jpg

Agter-agter oupa voor links

copy-of-abo2.jpg

Agter-agter oupa derde van regs voor

copy-of-abo1.jpg

Agter oupa regs

As ons na depressie kyk, waarvan daar baie vorme is, dink ek moet ons eers verder terug kyk. Dit is nie ‘n nuwe siekte nie, mense was nog altyd depressief, deur die eeue is hulle maar net uitgestoot, in sanitoriums gesit, in kamers opgesluit, randfigure geword of selfmoord gepleeg. Dieselfde geld vir alle ander siektes van die brein.

Dit is maar die laaste paar dekades wat daar met ander oë daarna gekyk is, omdat medikasie ontwikkel is wat daarvoor help en stadig maar seker breek ons deur die stigmas.  Ek persoonlik verafsku woorde soos mal, gek en kranksinnig. Of “hy is nie lekker in die kop nie.”

Depressie of enige ander psigiatriese siekte is ‘n siekte van die brein, net soos ‘n siekte van die hart (hartomlyning) of pankreas (diabetes).  Mense met depressie het ‘n chemiese wanbalans in die brein. Jy kan dit nie reg eet nie, jy kan nie sit en wag nie, en jy “kan nie jouself regruk” nie.

Dit is ‘n siekte wat vra vir deernis, begrip en simpatie.

Geen mens op aarde gaan vir iemand wat ‘n hartomlyning moet kry  sê ruk jou reg nie. Nog minder gaan ons vir iemand wat asma het, sê: Haal net diep asem, komaan!

Waarom is ons dan onsimpatiek teenoor mense met depressie? Waarom sê ons vir hulle dat hulle dit as verskoning gebruik? Verskoning vir wat? Verskoning omdat hulle fisiologies nie instaat is om serotinien en dopamien in die regte hoeveelhede af te skei nie? Twak. Ek dink sulke uitsprake is oningelig, ondeurdag en almal van ons behoort beter materiaal te lees.

En indien die depressie akuut is, waarom kan mens nie ook die pyn van die lewe behandel as ons ‘n hoofpynpil drink vir elke liewe babalas nie?

Baie navorsing word gedoen en die aanduiding vir veral major depressie is ‘n sterk genetiese basis. Dit is nie ‘n enkele geen nie maar etlikes saam, asook betrokke genetiese seinbane wat depressie veroorsaak.

Depressie moet met medikasie, psigoterapie en dan so bietjie oefening behandel word. Voedselaanvullers help nie! Pasop vir St. John’s Wort saam met anti-depressante, dit inhibeer die opname en kan baie gevaarlik wees, dit werk ook op ander middels in.

Daar is verskillende tipes depressie.

Om “af of down” te voel is normaal. ‘n Mens kan jouself aftrek en af voel, maar ‘n mens kan jouself nie klinies depressief maak nie.  (Die enigste uitsondering is die gebruik van dwelms wat neuro-toksies is vir die brein en depressie as newe-effek het).

Maar mens kan nie depressief oor jouself bring deur negatiewe gedagtes nie. Jy kan dit ook nie wegkry deur positiewe gedagtes nie.

Hier is van die simptome (jy kan van hulle hê, dit hoef nie almal te wees nie en is net ‘n riglyn)

Bedrukte gemoed

Verminderde belangstelling en/of ervaring van plesier van dinge waarvan jy hou

Slaapversteuring

Verandering in eetlus of gewig (meer eet/minder eet of gewig optel/verloor)

Moegheid en lusteloos

Selfverwyt

Waardelose gevoel

Skuldgevoel

Vergeetagtig en swak konsentrasie

Besluiteloosheid

Psigomotoriese traagheid

Agitasie en irritasie

Selfmoordgedagtes

Psigiaters bepaal presies wat verkeerd is en watter tipe ‘n mens het na aanleiding van die internasionale standaard: Die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM-IV)

Sover ek weet betaal die meeste mediese fondse chroniese medikasie vir depressie indien dit gemotiveer word deur ‘n psigiater.

Hier is ‘n goeie bron:

http://www.nimh.nih.gov/health/topics/depression/index.shtml

Skaf gerus prof. Piet Oosthuizen se boek: Ontsnap van Depressie aan.

Anna se rofstoei-droom

Verlede jaar hoor ek die manne wat so op TV rofstoei, WWE-Raw of so iets, gaan in Suid-Afrika hul ding kom doen.

Nou sien, ons huiswerker Anna, is hulle heel grootste ondersteunder onder die son. Mens hoor haar saans in haar kamer voor die TV: “Gryp hooooooom!”…… “Nee! Nee! Staan ooooooop!!!”

Sy is ‘n vrou wat leef vir haar stoei. Dis ‘n ernstige saak.

So suiker ek af Computicket toe vir kaartjies waar ek drie lekker plekke uitsoek. Vir my, vir my liefie en vir Anna. Ek kry ‘n floute toe ek die prys hoor: R375 vir een kaartjie. Toe ruk ek maar die kredietkaart uit, want dit is Anna se droom.

Ek deel haar die nuus mee en sy kraak twee van my ribbe soos sy my druk. En hoe nader die tyd kom hoe meer sien ek op na die aand. Anna kan nie wag nie.

By die plek gekom is daar natuurlik geen parkeerplek in ‘n radius van 2km nie, ons moet maar voetslaan. Toe ons in die tou staan, toe wil ek al piepie. Daar sal darem seker toilette wees? Ai, hoe verkeerd was ek nie.

Daar is omtrent 5000 seuns onder 12 jaar. Hulle skree nog voor die vertoning begin, sommer net vir die lekker. Ons gaan sit.

Daar is seker net 5 toilette en die tou is so lank soos ‘n aanloopbaan. Ek wil uit die saal kom om te soek na tydelike toilette en skielik ontgaan die woord my. “Do you have pop-up toilets?” vra ek die sekerheidswag. Hy gee my een kyk en skud sy kop. Niks nie.

Daar begin die show. Anna staar stip voor haar uit. Sy roer nie. Die mense jil, gil gee naakte gille soos barbare. Anna staar net.

Is jy okay, vra ek. Ja, ja, ja. Ek is net so bly ek is hier.

Daar is definitief met elke geveg ‘n gunsteling en ‘n wreedaard. As die wreedaard die oorhand kry raak die mense mal. As die gunsteling wen, stamp die mense voete en moedig aan.

Dan wen die een dan die ander. Nou kan ek duidelik sien hoe ge-olie die bewegings is, hoe goed elke beweging “uitwerk”.

Anna ontdooi en klap hande, skree vir haar gunstelinge.

Die mense raak mal. Ek raak mal – ek raak anstig. Dit is te veel vir my. Ek wil piepie.

Halftyd besluit ek, ek gaan agter ‘n bossie sit, of sommer in die openbaar agter iets sit. Ek kan nie meer nie. Maar nêrens kry ek plek nie. Ek was nog nooit in so nood nie.

Ek besluit om vir Anna ‘n gedenkboekie en T-hemp te gaan koop. Sodat sy darem vir die familie kan bewys sy was by die stoei.

Dit is heerlik om die mense te kyk . . . Ek is so bly ons het vir Anna gebring.

Maar my kop klop.

Toe die vroulike stoeiers in hul skraps klere mekaar pak bereik die saal sy akoestiese klimaks.

Toe als oor is, stap ek en Anna hand aan hand uit, want sy is skrikkerig vir die baie mense.

Uiteindelik kom ons tuis. Ons verras haar met die boekie en die T-hemp.

Sy begin huil. Dit was die wonderlikste aand van my lewe, dankie, sê sy.

Dit was ons plesier, Anna. Ek is so bly jy het dit geniet.

Drie goeies

My drie goeies (ek is so laat maar ek het gaan fossiele soek, en sal later iets plaas daaroor). Maar dit bly moeilik om te kies. Maar hier is hulle:

Staan op Einstein

einstein.gif

In ‘n museumkas in Berlyn, ‘n mens kan dit maklik mis, lê ‘n paar oopgeslane hardebandboeke.

‘n Unieke handskrif, moeilik om te ontsyfer vul die bladsye. Wanneer mens effens opkyk staar die donker oë van Albert Einstein af na jou vanuit ‘n foto. Asof hy steeds neerkyk op sy fenominale werk en daaroor dink.

Ek het met verwondering gekyk na die bladsye teoretiese fisika en wiskunde, wat geskryf is in dié reus se eie handskrif. Natuurlik het ek niks daarvan verstaan nie, maar ek het dit met die nodige respek en agtig wat dit verdien, gestaan en bewonder. Hy was onpeilbaar diepsinnig.

As ek my oë opslaan na die sterre en probeer begryp wat ons vandag van die heelal weet, dan besef ek, was dit nie vir dié een enkele mens nie, het ons seker niks meer van die kosmos en lewe geweet as wat die antieke filosowe oor gesit en dink het nie (met ‘n bietjie van Newton en Galileo se insig as basis).

Hy het ons inderdaad in meer as een opsig lig gegee, met sy relatiwiteitsteorie (lig beweeg altyd teen ‘n konstante snelheid van ongeveer 300 000 km/sek) en dat die wette van fisika dieselfde is vir enige liggaam in beweging.

Hy het ook kwantumfisika vir ons ontsluit (lig beweeg as ‘n golf/partikel).

En, dat atome ‘n werklikheid is. Hy het ons konsep oor swaartekrag verander.

Seker die interessantse is dat tyd en ruimte nie van mekaar geskei kan word nie. (spesiale relatiwiteitsteorie).

Moor die mites

Maar sy wetenskap is goed bekend. Die mites oor hom blyk net so bekend te wees.

Mite: Einstein was ‘n seksmaniak.

Feit: Hy was iemand wat in sy leeftyd erkenning gekry het vir sy werk en was baie gewild soos enige persoon wat bekend raak. Sy eerste huwelik het op die rotse geloop en hy was nie ‘n perfekte pa en man nie. Die geld van die Nobelprys het hy aan sy vrou en kinders gegee. Hy het na ‘n lang verhouding met ‘n verlangse niggie getrou en hulle het nie kinders gehad nie. Inteendeel, Einstein was nie te mal oor vroue nie, en het sommer hul bewonderaarsbriewe weggegooi. Hy het nie vroue as sy gelyke gesien nie.

Mite: Einstein was dom op skool

Feit: Dit is nog nooit bewys nie en op hoërskool het hy reeds goed presteer en talent in die wetenskappe getoon. Hy het nie van tale gehou nie en geen aandag daaraan geskenk nie. Hy was ‘n besonderse goeie violis.

Mite: Verhouding met Marilyn Monroe.

Feit: Hulle het een aand saam aan dieselfde tafel gesit en MM het gesê sy sou graag ‘n kind by hom wou hê  – met sy brein en haar skoonheid sal dit die perfekte kind wees. Einstein, het gesê: Maar wat as die kind my gelaatstrekke kry en jou brein?

Dan is daar die  belaglike mites: Hy het elke dag dieselfde klere gedra, maar het nie daarvan gehou om ‘n pak klere te dra nie. Hy het wiskunde gedop (LOL)! Hy was nie “lekker in die kop nie”.

Wat van die vreemde foto: Einstein het dit gedoen om die foto te ruïneer vir die fotograwe en toe word dit een van die mees ikoniese foto’s van alle tye.

050405_einstein_tonguewidec.jpg

Skerp

Einstein was een van die skerpste mense ooit. Sy aanhalings is legendaries.

“Any intelligent fool can make things bigger, more complex, and more violent. It takes a touch of genius — and a lot of courage — to move in the opposite direction.”

“A person starts to live when he can live outside himself.”

“Sometimes one pays most for the things one gets for nothing.”

“Two things are infinite: the universe and human stupidity; and I’m not sure about the the universe.”

“The further the spiritual evolution of mankind advances, the more certain it seems to me that the path to genuine religiosity does not lie through the fear of life, and the fear of death, and blind faith, but through striving after rational knowledge.”

http://www.time.com/time/time100/poc/home.html

EN DAN SÊ EK OOK BAAI VIR ‘N RUKKIE, WANT EK GAAN UITGESTORWE DIERTJIES SE GOEDJIES IN DIE VELD SOEK, EN SO AAN…..maar ekke kom weer terug….

My spog-boekie

My ma dra in haar handsak ‘n boekie rond met foto’s van haar kleinkinders en die wys sy orals rond – of mense nou wil sien of nie.

Almal van ons vrees om soos ons ma’s te raak. Ek dink ek vrees dit ook en sowaar ek het ook daai foto-wys-dring in my.  Ek raak seker soos my ma . . .

Ek en geliefde spog met ons drie honde, want met die dat ons nie kinders het nie, is die drie honde maar ons kroos. Twee is verwaarloosde weeskinders en een is aangekoop.

En elke een het haar eie persoonlikheid en sit diep in ons harte.

Die oudste ene, is jare der jare gelede al stukkend, uitgehonger en mishandel onder ‘n bos opgetel. Sy is mal oor jogurt, KFC en biltong. Maar menskos eet sy net bedags en laatnag gaan knibbel sy aan haar eie kos.

Sy slaap saam met ons op die bed. Ja, soms word ek wakker met ‘n poot in my mond, maar ai, sy verstaan my diepste wese.

Dis sy hier onder:

d11.jpg

Dan is daar die ene hier onder, wat ons byna vier jaar gelede by die weeshuis gaan haal het. Sy slaap in die winter sommer tot 10 uur soggens. Sy het wonderlike smaak en hou veral van handsakke. Sy gaan maak haar tuis op enige handsak en grom as jy dit wil vat.

Sy is ‘n opgaarder van formaat – veral klere en koerante neem sy na haar hoekie in die kamer. Haar ogies kan baie diep kyk.

sasimg_0021.jpg

Die ene het ons 5 jaar gelede as baba gekoop. Sy is die heel eerste hond in my lewe wat ek ken wat TV kyk, soos in regtig. Sy le skuins oor die bed en kyk, elke aand. Sy le ook met haar pote in die lug en slaap en/of sy le en hou die muur vas.

Die hond is bitter slim en mens kan haar nie lok met kos of probeer uitvang nie, sy vang jou uit. Sy is sagmoedig, maar het ‘n diep blaf wat mense bangmaak en dit pas my.

copy-of-img_0028.jpg

Hoe kaal sal ons lewe nie sonder julle drie wees nie. Ons praat met hulle, liefkoos julle, bederf hulle en leef met julle, soms word ons vies vir julle. Maar julle is ons liewe kinders.

Wat van my muis?

Kyk, die dag toe ek my rekenaar gekoop het, toe kon ek nie eens my muis kry nie. Ek het na die winkel toe teruggejaag en die mense stink uitgetrap oor my muis weg was.

En daar le die ding – so teen die kant van die boks, saam met die “key bord”. Hom nooit eers raakgesien nie.

Terug by die huis, natgesweet en skaam-kwaad toe kon ek nie die platskerm opgeslaan kry nie. Ek druk hier en vroetel daar maar die ding willie. Hy staan so skeef.

Ag en toe los ek dit maar en bel vir Dial-a-Nerd dat hulle die hele toetie aan mekaar kom slaan, want ek het tog nie krag nie.

En nou wil Soldaat weet waarop “hover” my muis en hy het allerhande vrae oor Vista. (ek lees toevallig die ding raak op sy blog)

My muis sit maar hier op die “mouse pad”.

O ja, oor rekenaar-speletjies, ek het toe ek klein was in die arkades die speletjies vir 20c gespeel. Jis, dit was lekker. Tot eendag, ek was nat van die swemmery by die openbare swembad en iewers was iets verkeerd met daai PacMan, want toe skok hy my dat ek skuins staan, toe ek aan daai rooi knop vat.

Ek het vir lank nie speletjies gespeel nie.

Maar deesdae se goed beweeg te vinnig, en dit maak my naar. Geen mens kan so vinnig skiet/vlug/ry/slaan nie.

http://diegestorwesoldaat.wordpress.com/2008/03/10/my-poison/

“Eendag as ek groot is sal ek seker tyd hê vir computer games.  Ek het darem Tiger Woods Golf op Vista (gehad).  Enige iemand wat dalk weet hoe ek weer my Vista aan die dreun kan kry sonder om ‘n vars installasie te doen?  Dinge was daar net soos wat ek dit wou hê…  Ek’s nou skoon tranerig van verlange…  Enige iemand?  Asseblief?  ASSEBLIEF?

 Wat op aarde, ek verstaan glad nie . . . Bel iemand? Betaal iemand?