Archive for Mei, 2010

Daardie eenkeermense

Ek wonder baie keer wat het geword van die mense wat jy net vinnig in jou lewe ontmoet, soms weet jy nie eens wat hulle name is nie. Ander kere vergeet jy dit. Soms is dit net ‘n gesig, soms iets kleins, ander keer iets groots – daardie eenkeermense.

Ek wonder nog baie oor die vrou wat 10 jaar gelede my van ‘n gewisse ernstige, as dit dan nie vieslike besering gered het nie. Dit was ‘n nagdonkeroggend in Khayelitsha waar ek in die re├źn rondgeloop het op soek na iemand (dit het met my werk te doen gehad).

Skielik het iemand my hard van agter af teruggeruk – so erg dat ek byna in die modder beland het. Ek het verbaas omgekyk. Die vrou agter my het die reuse oop rioolgat seker twee tree van waar ek sou trap vir my uitgewys.

Ek sou daardie oggend in die rou riool beland het. Ek wonder waar is daardie vrou vandag.

Waar is die dronk meisie wat my amper doodgery het voor die Engen in Oranjestraat?

Waar is die vrou wie se kind weggeraak het en met my daaroor gepraat het in haar shack in Delft terwyl sy vir ons soet tee maak? Waar is haar kind?

Wie is daardie ontbinde lyk in die veldjie gewees wat die mense sandhopie vir sandhopie uitgegrawe het – die dag toe dit so warm was en die kinders langsaan in die veldjie gespeel het?

Wie se voet was dit wat daai dag by Blouberg uitgespoel het?

Lewe die tannie nog wat laas jaar saam met my in die hospitaal was?

Het daai vrou ooit haar boarding pass gekry wat ek in die toilet op die lughawe gevind het?

Wie wie wie is al die mense?

Advertisements