Archive for the ‘geskiedenis’ Category

So bou ‘n mens mos

Dit is eintlik moeilik om te glo wanneer jy voor dir Groot Piramide van Khufu (of Cleops) staan om te dink hy het met die projek begin 2550 v.C. en dit het net 30 jaar geneem om te voltooi. Daar is 2,3 miljoen rotsblokke tussen 2,5 ton en 15 ton – die piramide toring 147 m hoog. (links op foto)

Mees interessant is om binne-in te gaan, teen ekstra koste, om teen die steil trappe teen ‘n hoek van sowat 30 grade in die tonnel te klim. Die houttrap is sowat 100m lank, en dan kom jy by die blokke wat destyds in plek gesit is om die grafkelder van die faro te beskerm. Daar was 4 van die blokke en die is intussen verwyder, om deur die spasies te kom, kruip jy deur ‘n holte van sowat halwe meter hoog tot by die volgende een.

Uiteindelik kom jy by die kelder en die sakrofaag (wat leeg is), maar dit is fantasties, want die ruimte is so ontwerp dat dit natuurlik nie ineenstort nie. Jy staan dus in die hart van die piramide. Ek het net so rukkie daar gestaan en die atmosfeer ingedrink, totdat dit te benoud geraak en ek weer uit is om asem te skep.

Kkuhu se seun, faro Khafre het die tweede piramide (middel op foto) teen 2520 v.C, asook die Sfinks gebou. Die Sfinks bestaan uit een enkele blok en is 70 m lank en 20 m hoog. Half-mens, half-leeu – en hy waak as beskerming oor die kompleks.

Die derde piramide, gebou deur faro Menkaure teen sowat 2490 v.C (heel regs)

Alles hier is al gesteel in antieke tye. Hul beraam sowat 30% van die skatte, en grafkelders le nog onder die sand.

Antieke Egipte het verskeie eras beleef waarin baie transformasie in kultuur, samelewing, godsdiens en regering plaasgevind het. Die beskawing het bestaan van 3150 v.C tot 31 v. C met die inval van die Romeine.

Verstommend mooi en indrukwekkend.

Anekdotiese observasies van ‘n reis in Egipte deur buitelander(s), geslagsverhouding teenoor mate van plesier.

1 x man alleen in egipte = 95-100% pret, net jammer my buddy is nie hier nie.

10 x mans in egipte = 100 % pret, wonderlikse plek op aarde

10 x vroue in egipte = varieer agv persoonlikheid, land van oorsprong – sal tog probleme ervaar weens afwesigheid van ‘n enkele p—l in hul teenwoordigheid. gevaar van middel-misbruik bestaan weens frustrasie, tog is daar safety in numbers.

10x vroue in egipte, vergesel van ‘n 16 jarige seun = reis aansienlik vergemaklik, aangesien direkte kommunikasie net tussen man en man geskied, selfs al is die man ‘n seun.

1 x  vrou  alleen = chaoties, word emosioneel en fisies tot die uiterste beproef. moontlike middelafhankliheid kan geskied. Woorde soos: “sit still there”; “you keep quite now”, ” you listen to me” en “no! taxi don’t go” sal herhaaldelik gebruik word.

 

Advertisements

Ek het so gebrand van nuuskierigheid om die Imperiale grafkelder van die  Habsburg-dinastie in Wene te sien dat ek soos ‘n handsakdief tussen die mense tot voor die deur gewikkel en daar gestaan het.

Ek hoop dit is lekker donker, koud en grillerig daar binne. Kom nou gids, wys.

Heerlik morbied. Kan nie wag nie.

Die Habsburgs het die Oostenryk-Hongaarse ryk regeer vir eeue. Die grafkelder  het die oorskot van 144 adellikes – waar onder 12 keisers en 18 keiserinne.

Die mense se ingewande en hart is verwyder en in ‘n katedraal bewaar. Die Cappuchin-monnike sien om na die grafkelder.

Die laaste keiserin Zita van Bourbon-Parma is in 1989 ter ruste gelê en nog iemand,  ‘n direkte afstammeling het spesiale vergunning in 2008 gekry.

Die dinastie het natuurlik tot ‘n einde gekom met die Eerste Wêreldoorlog – die probleem was ook een van die Habsburgs, Franz Ferdinand, wie se sluipmoord in Sarajevo in 1916 die oorlog begin het. Hy is nie in die grafkelder gegrawe nie, omdat sy vrou nie van die adelstand was nie en nie daar gegrawe kon word nie. Sy wens was om elders by haar te lê.

Die hele familie is na die oorlog verban, hulle het alles verloor. Die twee pragtige paleise alles en dit is tot nou toe nie terug gegee nie, en sal seker nooit nie.

Seker die heel mooiste is die sakrofaag van Keiserin Maria Theresa (13 Mei 1717 – 29 November 1780) , nou sy was ‘n amazing vrou. Sy was die enigste vroulike regeerder ooit van die ryk, en sy het 16 kinders gehad met Francis III van Lorraine. Hulle huwelik was gelukkig en hul is saam gegrawe.

Die vrou wat haar help kyk het na haar kinders, en sekerlik ook ‘n vriendin, lê in haar eie sakrofaag voor die egpaar – die enigste gewone burger in die kelder.

mariat

Maria en Francis se beelde kyk na mekaar en voor lê die kinderopasser.

Franz Joseph I het as koning van Oostenryk en Bohemia regeer van 1848 tot 1916, die laaste van die Habsburg se regerende keisers. Hy was ook koning van Hongarye sedert 1867. In 1853 het ‘n sluipmoordenaar hom met ‘n mes gesteek, maar sy uniform se hoë kraag het gekeer.

Hy was getroud met Elisabeth van Bavaria, of keiserin Sisi, soos sy oral bekend gestaan het. Mense was gek oor Sisi, en dit het gehelp dat sy mooi was. Dit lyk vir my of sy aan anoreksie gelei het, indien mens die geskiedenis lees.

In 1889 het hulle enigste seun kroonprins Rudolp selfmoord gepleeg.

In 1898 het ‘n anargis op Sisi afgestorm waar sy in Geneva op ‘n boot gewag het. Hy het haar met ‘n skerp voorwerp reg in die hart gesteek. Sy het geval opgestaan en op die boot geklim, kort daarna het sy ineengesak en gesterf.

Die druk van haar korset op haar bors het die bloed vir ‘n paar minute gekeer.

Franz Joseph, Sisi en Rudolp is almal in een kamer ter ruste gelê.

sisi

Sisi se sakrofaag

Die kerk is in 1147 in gebruik geneem in Wene ter ere van St. Stephens. Maar dit het lank geneem om hom so te kry, tot 1511.

Styl: Romanesk en Goties.

matt

Vol en leeg

Die derduisende mense wat hier gesterf het, is nie meer hier nie – maar op ‘n manier is hulle. Want dit is so vreeslik leeg en verlate, dat dit vol is.

Jy soek die mense oral, maar hulle is nie te vinde, net as geeste van foltering in die geheue.

Tot oorlopens toe vol-leeg.

IMG_0909

Dachau – 6 Augustus 2009 – Paradegrond

Dis traag en vreemd om te verstaan, amper soos die heelal – net te veel. Die son brand, die klippe maak seer onder jou voete. Die winter hier moet hel wees.

Moet nie na jou godheid roep nie, want hy bestaan nie, hy het jou verlaat. Hy is nie daar nie  – Jood, gypsie, katoliek, gestremde, intellektueel, homoseksueel, liberale of politieke aktivis.

IMG_0938

SS-selle Dachau – Augustus

Dit was mense se handewerk. Mense. Die mens is nie besonders nie.

Jy hoef nie ‘n Nazi te wees om dit in jou te he nie.

 

IMG_0990

Oorspronklike elektriese grensdraad -Dachau

“Hoekom het jy nie ook teen die draad vasgehardloop nie?” vra ek die vrou. “Elk het elke dag vir die draad gekyk, maar ek het nie die guts gehad, want ek wou nie lewe nie.”

IMG_0968

Die grens tussen dood en lewe is breed of nou – hang af waar jy staan.

Meer as 200 jaar gelede was daar ‘n vrou met die naam van Emily Holloway. Sy moes geletterd gewees het in musiek en anders as die meerderheid van vroue van haar tyd, wat nie formele skoolopleiding ondergaan het nie, moes sy kon lees en skryf.

(Ek meen Elizabeth Blackwell was na ‘n helse stryd toegelaat as die eerste vroulike mediese student in die VSA in 1847 – ek kan my net indink deur watse geveg sy is. En eens in 1908 is vroue in Brittanje toegelaat om snydokters te word. Die meeste vroue is ook eers toegelaat in universiteite net vir vroue. Punt is, formele onderrig vir vroue is eers in die Victoriaanse era gesien as nodig en het begin by die meer gegoede mense. Daarna het dit teen die begin van 1900 gedraai.)

Emily het seker by haar skryftafel gaan sit, en met hierdie mooi handskrif haar naam, blyplek en die datum: 5 November 1798 voorin die boek geskryf. Die boek bestaan uit kerkgesange of “Hymns” soos dit geskryf is, en die Engels is nog nie heeltemal modern nie.

boek2

Die samesteller van die boek is: E.M. Moore en geen drukker/uitgewer is voorin aangedui nie, hoewel die paper van goeie kwaliteit is en die boek in ‘n goeie toestand is. Die kondisie is nie “mint” soos versamelaars na stukke verwys wat basies splinternuut lyk nie. As ek baie geld gehad het sou en beslis meer sulke boeke, nog ouer boeke en geskiedkundige eerste uitgawes versamel het.

boek1

Ek besit die boek al 20 jaar en hy het orals saam met my getrek. Ek is verknog aan Emily se boek. Maar dit is haar klassieke handskrif, daardie tikkie uniekheid in die boek, die persoonlikheid van die vrou wat my lief vir hom maak.

Emily was iemand. Ek wonder wie sy was. Was sy gelukkig, of was sy nie. Hoe het sy haar dae deurgebring? En waar het sy leer lees en skryf? Hoe oud was sy toe sy die boek gekry het? Hoe het sy gelyk?

Ek wonder al jare oor haar. Ek was verheug toe die inskripsie in die boek se inskripsie 200 jaar oud geword het in 1998. Dit was soos ‘n wasdom.

boek3

Om haar toe soek op die argiewe wat natuurlik nie alles op die web is nie is moeilik, en jy moet weet waar om te soek, die vet weet. Ek het ure na Emily gesoek.

17 MAR 1779 Warblington, Hampshire, England – die doop van ene Emily Holloway, kon ek kry.

Haar ouers was Ann en Joseph. Maar of dit my Emily is weet ek nie, hoewel die datums ooreenstem. Met ‘n helse gesukkel het ek uiteindelik uitgevind Emsworth was ‘n “parish” in Warblington.

Maar daar le nog baie werk voor as ek seker wil wees en meer wil uitvind oor die eienaar van die unieke boek.

En, die boek se reuk, ek kan julle nie eens begin vertel watter geheime daarin vaskleef nie. Onopnoembaar subliem.

Die doef-gerammel van die middag-kanon (noon gun) wat elke dag (behalwe Sondae en vakansiedae) oor Kaapstad knal is vir my gerusstellend.

Dit is asof mens dan weet, alles is nog soos dit gister was, vandag is vandag en more sal dit hopelik weer so wees. Ek het ook nog nooit vir die kanon geskrik nie, en ek hoop die tradisie sal nie uitsterf nie.

Soms gaan kyk ek hoe vuur hulle die kanon. Ek gaan staan so ent van hom af en dan rammel dit in my maag en dit tril onder jou voete. Dis lekker. Dit maak jou lewendig voel.

Of ek gaan sit op ‘n spesiale plek in die Waterfront, waar dit hard knal. Reg oorkant die Kloktoring is daar bankies en as jy skuins na regs opkyk is Seinheuwel oorkant jou. Jou horlosie moet presies-presies wees, want die kanon is op die kop 12:00. Mens sien eers die wit rookwolk en so sekonde of wat daarna, omdat die klank stadiger trek, hoor jy die knal.

Ek hou ook van die kanon omdat hy geskiedenis aan hom het. Omdat hy nie sommer net is nie, hy het ‘n storie.

Die kanon word natuurlik met afstandsbeheer afgevuur deur die Suid-Afrikaanse Sterrewag in Observatory, want hulle het die land se akkuraatste tydmasjien – of meester-horlosie (atomies). Die elektriese sein word al sedert 1864 uit Observatory gestuur, danksy die koms van die telegraaf.

Maar die kanon word steeds deur ‘n lid van die vloot gelaai, dit is net swartkruit (1,3 kg), by die historiese kanonne (daar is 2) op Seinheuwel.

Aanvanklik is die kanonne gebruik om die aankoms van skepe in die destydse Kaap aan te kondig. Voorheen was hulle by die Kasteel en is sommer van daar af gevuur.

Dit word sedet 1806 gebruik om spesifiek tyd te hou.

Later het die geraas te veel geraak in die Kaapse middestal en hulle is na Seinheuwel verskuif. Dit is die eerste keer gevuur vandaar op 4 Aug 1902. Volgens die Sterrewag is die oudste kanonne steeds in gebruik in die wêreld. Die betrokke kanonne dateer uit 1806 en staan bekend as Engelse 18-ponders, ander kanonne is voor dit gebruik.

Volgens Wiki was daar twee insidente met die kanon, toe hy nog in die stad was, is die stamper wat gebruik word om die sakkie kruit vas te stamp in die loop gelos en ‘n perd is doodgeskiet. Op 7 Januarie het die kanon vir die eerste keer in 200 jaar nie gevuur nie, weens ‘n tegniese fout.

Die Kaap is nie die Kaap, sonder sy kanon nie.

 

Foto’s: www.saao.ac.za

I know I have the body but of a weak and feeble woman, but I have the heart and stomach of a king.”

So het Elizabeth I (gebore 1533, gekroon 1559 en dood 1603) aan haar ministers en raadgewers gese kort nadat sy die Engelse troon bestyg het. Voor dit was sy natuurlik opgesluit in die Londense Toring, omdat haar halfsuster Mary haar as ‘n bedreiging gesien het.

Na Mary se dood aan siekte is, word Elizabeth koningin. Teen haar wyle pa, Henry VIII wat vermoor het om ‘n seun te he, se wildste drome in.

En toe sy op die troon sit is sy oorval met aanbiedinge om te trou, maar sy het nooit nie. Daarom staan sy ook bekend as die “Virgin Queen“. Hoekom trou sy nie? Party reken dat sy die manier wat haar pa vroue behandel het, verafsku het. Sy is dan self opgesluit in die toring waar haar eie ma en ander was.

Die politieke redes om nie te trou nie was net so sterk. Het sy met ‘n oorsese prins getrou sou Engeland betrek geword het by buitelandse beleid vir sy gewin.

Ander meen sy kon nie met die man trou vir wie sy lief was nie, ene Hertog Robert Dudley, omdat hy voorheen getroud was, maar sy het waarskynlik ‘n verhouding met hom gehad. Dalk wou sy net onafhanklik wees, self regeer en self besluite neem. Daar was baie druk op haar om te trou, maar sy wou nooit ingegee nie.

Sy se in 1601 in har Goue-toespraak soos dit bekend staan: ‘There is no jewel, be it of never so high a price, which I set before this jewel; I mean your love.’

Daar was natuurlik ook Mary Stuart, Elizabeth se niggie, en Skotse koninging, wat haar kroon wou he. Dit was of die een of die ander en uiteindelik na ‘n poging om Elizabeth te vermoor het sy Mary Stuart laat opsluit – vir jare. Na ‘n worsteling met haarself, omdat sy geglo het om ‘n koninging wat aangewys is deur God, dood te maak, is ‘n doodsonde, het Elizabeth ingestem om haar voor ‘n hof te bring. Mary is tereggestel – 19 jaar na sy gevange geneem is.

Elizabeth I is een van my gunsteling mense in die geskiedenis, sy was in een van die moeilikste tye ooit ‘n ware leier. Bekend daarvoor om eerder self perd te ry, as in ‘n koets. En in 1588 toe die Spaanse Armada die Engelse kus aangeval het, was sy midde haar soldate in die geveg. Die Goue Era was tog een van bedreiging want die verhouding met Skotland, Frankryk en Spanje was sleg, maar sy het kopgehou.

Vir 45 jaar lank het sy die land regeer. Binne haar eie land het sy opstand en burgeroolog onder beheer gehou. Ontdekkingsreise is onderneem en die kunste het floreer. Sy het self die eerste vertoning van Shakespeare se A Midsummer Night’s Dream bygewoon. Die mense het haar Gloriana genoem

Mary is gebore uit die huwelik tussen Henry VIII en die Katolieke Spaanse prinses, Catherine van Aragon. Die kerklike bestel in Engeland is omver gegooi toe Henry besluit die huwelik is van nul en geen waarde nie. Hy het uiteindelik homself as hoof van die kerk verklaar en daar is gebreek met Rome, sodat hy kon trou met Elizabeth se ma, Anne of Boleyn. Toe sy nie ‘n seun kon baar nie het haar kop gewaai en die res is geskiedenis, maar buiten die wreedheid jeens die vroue in sy lewe, het die suiwer protestantse geloof in Engeland, in werklikheid deur Henry se persoonlike wense en luste vastrapplek gekry.

Uitgeslape. Slim. Prater van ses tale. Baanbreker, was sy.

(Ag hel, ek kan nie die foto gelaai kry nie, net ‘n blokkie met ‘n rooi kruisie in, het dit nou al 20 flippen keer probeer. Hier het nou weer iets verander, by WP, **&^% tog. hoekom tog is alles so complicated?)

Bronne:

http://www.royal.gov.uk

http://tudorhistory.org

My ouma het botweg geweier om Engels te praat en as sy na die gehate taal verwys het, het sy ook van Ingils gepraat.

Sy het net gese, sy kan dit nie praat nie en sy verstaan dit nie. Rosalind was ‘n wilde kind, vol streke en gees. Ek het dus losgetrek met my Engels en onbesonne goed kwytgeraak, net om te toets of my Ouma regtig niks verstaan nie. Maar sy het, want haar gesig het dit verklap.

En soms as sy lus was vir saamspeel, het sy ‘n paar sinne in Ingils gese. Dit was met so swaar Afrikaanse aksent dat ek gelag het dat ek half gek wou raak. Dan het sy ook begin lag, totdat haar een oog so getraan het, sy moes die sakdoek uit haar bra haal. Die sakdoek wat na poeier geruik het.

Is Afrikaans net woorde? Ja en nee. Dit het onstaan hoofsaaklik uit Nederlands, maar ook uit baie ander tale. (Let wel, ek is nie ‘n taalkenner nie, net ‘n liefhebber).

Soos ons genetiese samestelling in Suid-Afrika spreek van ‘n hutspot van gene so is die taal ook ‘n reenboog.

Gamka, beteken leeu, in ‘n Khoi-taal. Ek smaak die woord. Dit pas by ‘n leeu. So ook gogga. Dan is daar boegoe, karee, dagga, koekmakranka, kambro, kanna, ghaap, noem-noem, kwagga, oorbietjie, geitjie, gogga, karos, abba, kamma, kamalielies, kamtig, kastig, hoeka, ga(ng), soe, aitsa, arrie, eina, gonna, kierie, hn’n, ghnarra, gorra, karkoer, koedoe – dit is afkomstig van Khoi-tale.

En ons het wyd geleen uit ander tale:

Maleier-woorde natuurlik (ons genetiese samestelling toon dat die meerderheid wit mense het Eurasiese of Asiese bloed, bitter min is suiwer Wes-Europees). “amper” van hampir, “baadjie” van badju, “baie” van badju en “piering” van piring. nartjie, blatjang, bobotie, borrie, sosatie, mebos, doepa, paljas, sieal, ramkie, nonnie, nonna, kierang, pamperlang, lieplapper.

Frans: pawee(-perske), sermyn(peer), bermotsersan(-peer). Let daarop dat meeste ander Afrikaanse woorde wat van Franse afkoms is eers in Nederlands opgeneem is en daardeur in Afrikaans beland het.

Portugees: bredie” van bredo, “kombers” van cobertas en “kraal” van curral.

Swart tale:  donga, dagha (“klei” of “sement”), mopanie, maroela, moepel, kaboe(-mielies), tollie, mamba, tsetse(-vlieg), indaba, indoena, impie, loboloa, pasella, babalaas, haiköna, ietermagö, sakaboela, tamboekie(-gras) , kaia, marog, skokiaan, poetoe(-pap)

Al die bogenoemde (en daar is nog baie ander) kom uit en met dank aan: http://af.wikipedia.org/wiki/Afrikaans

So dit is seker nie net “ons” taal nie. Dit is ‘n huwelike tussen baie tale en kulture. ‘n Proses van ontwikkeling met sy eie storie oor op- en afdraand.

Baie wetenskaplikes glo dit is juis taal en die duisende dinge wat taal ons bied, wat ons onderskei van ander diere. Dit het soveel deure oopgemaak, maar ook gelei tot lelike dinge, soos die strategie om ander sistematies uit te wis, mense kan dit nie doen sonder taal nie. (Geen ander dier toon die kenmerk om ‘n ander sistematies uit te wis nie)

Het ons eerste woorde begin praat of begin sing? Daar is nog nie uitsluitsel daaroor nie. Want sulke spesifieke kultuur kan nie versteen nie. Die grom het dalk die woord geword. Of het die grom die middel C-klank geword. Wie weet.

Taal is egter ‘n besondere ding, dit is nie net ‘n middel van kommunikasie nie. Dit is ‘n bron van ons geheue. Ons gebruik dit ook in wiskunde.

Die katalisator van spraak was taal, tegnologie en geselligheid. Die mens moes gevorderd kommunikeer toe dit by die jag van diere gekom het. Hoe bepreek jy presies waarheen en hoe om ‘n dier te agtervolg sonder gevorderde taal? Om die spore van diere te lees en uitvoering te gee aan die jagproses is baie abstrak.

Die tipe redenasies vereis komplekse taal. Die mense moes op “speaking terms” met mekaar gewees het om te oorleef. Om gunste met mekaar te ruil is die rede hoekom daar sosiale verbande tussen mense bestaan het, wat nie aan mekaar verwant is nie.

En ons vloek om klem te le op sekere goed, om aandag te trek tot die dringendheid van ‘n saak.  Dit word ook opsetlik gedoen om mense of groepe te beledig.

Dit maak sommige mense vies, meen die eksperimentele sielkundige Steven Pinker, omdat hulle nie kan kies om vloekwoorde te hoor en te verstaan nie, mens hoor dit wel want die brein verwerk dit outomaties.  Die vloekwoord dwing jou om emosioneel betrokke te raak by die situasie. Dit aktiveer die regterhemisfeer van die brein in ‘n area wat met negatiewe reaksies te doen het, of jy wil of nie.

Wat is in ‘n woord?

Soms soveel en soms so min.

 

 

In 1943 is die briljante beeldhouer, Camille Claudel (1864–1943) , in Frankryk in ‘n sogenaamde “gestig” vir diegene met psigiatriese siektes, dood.

Sy was daar vir 30 jaar – of sy regtig so siek was om weggesluit te word, is ‘n ander vraag. Haar hart is egter gebreek en sy het dalk aan depressie gely, maar haar familie het onder meer besluit sy moet daar bly, al het die dokters dit nie nodig gevind nie.

In 1914 is besluit sy ly aan illusies van vervolging gebaseer op valse interpretasies van haar verbeelding (dit kan skisofrenie wees, maar sy het die simptome heeltemal te laat in haar lewe begin ‘toon’). Nadat haar pa in 1913 dood is, het haar broer en ma, haar enkele dae later in die institusie laat opneem.

Sy was tot ‘n mate paranoies en het gesukkel om na haarself om te sien (wat moeilik vir ‘n enkellopende vrou wat kuns as loopbaan gehad het, was), en het haarself van die samelewing begin onttrek. Maar voor dit was sy glad nie so nie . . .

Maar weggesluit het sy gebly, verlore as mens en kunstenaar. Sy is eers weer na behore in die 1980’s herontdek.

As kunstenaar het sy daarop aangedring om ook naakte modelle tot haar beskikking te he – iets wat aan vroulike kunstenaars geweier is, weens morele kwessies. Maar sy het dit reggekry en briljante kunswerke gelewer.

Camille (17) het die reeds bekende beeldhouer Auguste Rodin (41) in 1883 ontmoet. Hy was toe besig met twee van sy bekendste werke: ‘n Uitbeelding van Dante, se Gates of Hell en die Burghers of Callais

Sy het sy student geword en ook sy geliefde. Hy was bekend daarvoor dat hy verhouding met sy modelle gehad het, so die argument dat vroulike kunstenaars nie naakte modelle behoort te kry nie vlieg hier by die deur uit.

Maar Rodin het geweier om sy verhouding met ‘n ander vrou, Rose, te staak. Na ‘n verhouding van jare met Camille het sy hom gevra om te kies: Hy het haar nie gekies nie. Daar was ook fisiese onderonsies tussen Rose en Camille.

Teen 1905 het sy beweer hy steel haar werk en idees. Sy het die meeste van haar kunswerke self verwoes, maar van dit het oorleef en is vandag in die Rodin-museum in Parys te sien.

Hoe ironies dat sy in haar dood met hom verenig is.

Maar dat Rodin se werk self deur die invloed van Camille in sy lewe verander is, is ‘n seker saak. Mens kan haar as mens in sy latere werk bespeur. En sy werk het ‘n sagte, intimiteit bygekry.

Sy het bepaald gesorg vir inspirasie in sy loopbaan wat hy op daardie stadium erg nodig gehad het. Dis al of sy vir hom ‘n muse was.

Vir my persoonlik was marmer, brons, oniks en gips nog min kere so pragtig soos in die werke van haar wat bewaar gebly het. Daar is ‘n intensiteit, emosie, soeke en romantiek wat min kan namaak.

(In 1988 is ‘n pragtige fliek gemaak genaamd: Camille met Isabelle Adjani en Gérard Depardieu in die hoofrolle.)

Bronne:

http://www.dia.org/exhibitions/claudel_rodin/preview5.asp

http://www.aworldtowin.net/reviews/CamilleClaudel.html

http://www.camilleclaudel.asso.fr/pageweb/sculptures.html