Archive for the ‘wetenskap’ Category

Gesondheidswenke

Dit is bitter lanklaas wat ek oor gesondheid iets geblog het, maar my hare staan regop as ek 95% van Suid-Afrikaanse tydskrifte optel – en dit sluit die sogenaamde gesondheidstydskrifte in.

Hier is ‘n paar gesondheidswenke

Moenie jou dieet aanvul met omega 6 nie, dit kom byna in alles kosse voor en jy het dit nie nodig nie. Omega 6 is nie net ‘n vet wat energie verskaf nie, maar kommunikeer met gene en is betrokke by die uitdrukking daarvan. Te veel omega 6 veroorsaak sistemiese imflammasie – dit is die begin van kanker en hartsiektes. Merkers van sistemiese inflammasie kan in die bloed opgespoor word.

Te veel anti-oksidante is gevaarlik en lei tot kanker. Anti-oksidante is: vitamine A, E, D, E en beta-karoteen. Dit is vetoplosbaar. Indien jy oor die langtermyn die voorgestelde daaglikse dosis oorskry, word dit verbind met verskeie tipes kanker. Jou liggaam moet ‘n balans he tussen vrye radikale en anti-oksidante.

Moenie wanneer jy dieet kaas en melk heeltemal uitsny nie, en mense doen dit altyd. Dit is so belangrik vir enige vrou en ook vir ouer mans.

‘n Mens se bene is op hulle optimale digtheid tussen 20jr en 30jr – daarna kan jy doen wat jy wil, jy verloor been. Jy kan soveel pilletjies drink van die aptreek jy kan niks doen nie, net middels soos Protos, Fosamax en dies meer kan weer been bou in ouer vroue. Maar dit is van uiterste belang dat jong vroue en tienermeisies se BMI nooit onder 20 moet wees nie. Die ideaal is tussen 20 en 25.

Gaan vir ‘n kolonoskopie op 60 en weer op 65 en daarna. Teen die tyd wat jy gaan pyn voel vir die kanker kan jy maar grafsteen soek.

Dieselfde geld vir prostaatondersoeke en ‘n mammogram– en borsondersoek en papsmeer (laasgenoemde  2 moet jy jaarslik al doen vanaf 30)  wat deel van jou lewe moet word teen 50. Dis bloot dom om nie te gaan nie.

Jy kan nie detox deur jou voete nie. Ook nie deur baddes en pleisters nie, ook nie deur ‘n enema in jou derms in te druk nie. ‘n Gevaarlike praktyk – wat as jou derm stukkend gesteek word? Daar is niks in jou vel wat kan detox of iets ‘uittrek’ nie, daai mense besteel jou. Die organe wat detox is jou lewer en niere. Dis al.

Daar is nie iets soos ‘n fat burner, metolistiese kick-starter en al daai nonsens nie. Die produkte bevat kaffiene (veels te veel) en ander middels, sommige onwettig wat nie net tot depressie kan lei nie, maar jou hart kan beskading.

Dis altyd beter om alles wat jy nodig het in te kry deur kos, eerder as om voedingsaanvullers, sogenaamde “natuurlike produkte” en dies meer te sulk. Net omdat jy dit nie op ‘n voorskrif kan kry by die “gesondheidswinkel” nie beteken nie dit is effektief nie, maar nog meer, dit kan gevaarlik wees, veral vir jou niere en lewer. Omdat die produkte nie klinies getoets is nie weet niemand wat regtig daarin is nie. Dit word ook nie beheer deur die Medisyne Beheerraad nie. Dit is nie waar dat ons kos nie voedsaam genoeg is nie, tot die margarien en brood is verryk.

Net mense wat MIV/vigs het, TB, kanker, diabets, asma of enige ander chroniese sieke, bo 65 is en arm kinders onder 7 jr en swanger vroue (baie spesifieke aanvullers want sommige is skadelik vir die fetus) behoort aanvullers te neem.

Die feit is “more is not more” en niks wat jy ekstra neem, tensy dit voorgeskrewe behoorlike medikasie vir ‘n bepaalde siekte is, gaan jou langer laat lewe of jou “DNS herstel” nie.

Dit is die lewe. Ons leef net so lank. Ons kan nie tyd koop nie. Ongelukkig.

Die ding oor siekte

Siekte is  ‘n moeilike ding om te verstaan, want ‘n mens moet so groot kopskuif maak, sonder dat die meeste van ons ooit presies so oor dit dink.

Ons sukkel om siekte te aanvaar en te verstaan, juis omdat dit ons eie liggame is wat teen ons draai. Dit is iets allervreesliks – ‘n moelike brug om te kruis. Dis soos ‘n verraad van jouself teen jouself.

Dit maak nie saak watter siekte of kwaal jy onder lede het nie, die meerderheid daarvan is eintlik in wese nie geneesbaar nie. Jip, jy het reg gelees.

Maar, en daar is ‘n groot maar, veral chroniese siektes is hoogs bestuurbaar en dus behandelbaar. Dit beteken dat jy met die siekte kan saamleef. Met sekere siektes kan jy dalk tyd wen, maar hulle luier altyd in die agtergrond.

Siekte kan beheer, bestuur en behandel word, maar dit kan in gevalle dalk nooit weggaan nie. Dit word deel van jou soos een van jou name. Dit is nie noodwendig altyd sleg nie. Dalk gee dit jou ‘n ander insig oor jouself en die lewe.

Leer meer oor jou siekte, sodat jy ingelig is om die regte besluite te maak.

Neem die behandeling wat beskikbaar is, regtig, dit help.

Loop die pad saam met jou siekte, toestand of kwaal. Probeer om dit nie weg te steek vir ander mense nie. Praat daaroor en lig ander mense in, wat nie verstaan nie. Indien hulle steeds weier om te verstaan, loop weg van hulle. Iets wat soms moeilik is om te doen.

Seker een van die wonderlikste figure in Suid-Afrika se geskiedenis, was dr. James Barry, die chirurg-generaal van die Britse weermag aan die destydse Kaap.

Verlede jaar het ek oor haar geblog (sien die skakel hier onder). Destyds het ek gehoor ‘n fliek word oor haar lewe gemaak, en nouja, ek kan nie wag nie, die voorskou is hierdie week (ek kon myself ingewriemel kry) en dit word later die maand uitgereik.

Heaven and Earth, vertel haar verhaal. Die titel is na aanleiding van die Hemel-en-Aarde-Vallei naby Hermanus, een van die plekke waar sy gebly het.

Daar is natuurlik na haar dood uitgevind sy is eintlik ‘n vrou en nie ‘n man nie, wat beteken sy was die eerste vrou wat ‘n mediese graad behaal het (destyds kon vroue nie medies studeer nie). Sy was ook die eerste persoon om ‘n keisersnee in Suid-Afrika te doen – die ma en kind het oorleef.

Natascha McElhone vertolk die hoofrol. Ek kan nie wag nie.

James Miranda Barry is in 1795 gebore en dood in 1865.

https://rosalindfranklin.wordpress.com/2008/06/16/die-dokter/

‘n Breukie

krbbjw

Rosalind Franklin met vakansie in Tuscany c.1940’s .

(Foto: LuzzatiVittorio. Uit die Rosalind Franklin Papers: National Library of Medicine. http://profiles.nlm.nih.gov )

Hoekom het sommige kinders (of sommige volwassenes) Ritalin nodig?

Die antwoord is eenvoudig: Die brein het dit nodig. Omdat dit in dele van dié komplekse orgaan is waar die chemiese wanbalans lê van mense met aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS) of aandaggebreksindroom (AGS).

Onkunde het ongelukkig onder meer daartoe gelei dat dié middel gebrandmerk is, soos met baie ander chroniese medisyne, tot nadeel van dié wat dit die nodigste het.

Ritalin en die ander handelsname (Ritalin LA en Concerta) wat vir dié toestande voorgeskryf word, se aktiewe bestanddeel is metielfenidaat,wat medies beskryf word as ’n stimulant. En dit is onder meer dié beskrywing wat tot ’n veldtog teen die middel gelei het, veral onder sogenaamde alternatiewes wat dié mediese term dikwels verkeerd verstaan.

Dit kan ook die eetlus demp en sommige mense, veral volwassenes, bekom die middel op een op ander manier sonder dat hulle siek is, om gewig te probeer verloor.

’n Stimulant beteken medies dat ’n middel dopamienvlakke in die brein verhoog, niks meer of minder as dít nie.

As dit vinnig verhoog of baie hoë vlakke word bereik, kan ’n mens ’n sogenaamde high hê, soos met dwelmmiddels. Ritalin verhoog ook dopamien, maar werk heeltemal te stadig as dit per mond ingeneem word om werklik as ’n dwelmmiddel te dien,veral nie in die doserings wat vir AGHS gebruik word nie.

Metielfenidaat verminder die ooreffektiewe opruiming van dopamien in die brein, sodat boodskappe in die brein beter herlei kan word.

Baie mense glo dat indien hul kind AGS/AGHS het, hy net reg hoef te eet/en of omega 3 en 6 aanvullers kan neem, sonder medisyne?

Die onderliggende probleem in sowat 70%vandie gevalle is ’n oorregulering van die opruiming van dopamien in die brein. Dit is dus ’n baie spesifieke patofisiologie en het niks met dieet te make nie.

Die ander 30% het ander oorsake, wat ook nie gesond geëet kan word nie. Almal betrek dopamien en/of norepinefrien, maar dit het nie spesifiek te doen met die opruiming (van dopamien) nie – moontlik eerder dat seinbane in die brein beskadig is of nie ontwikkel het nie.

Daar is omtrent ’n 30%-kans dat sekere voedselsoorte wel hierdie kinders se gedrag kan vererger.

Behandeling met dieet alleen is selde suksesvol op lang termyn, maar kan deel wees van die holistiese benadering. Medikasie moet nie uitgestelword net omdat die dieet eers aangepas moet word nie.

Kenners sê dieet allen is nie die oplossing nie, hoewel slegte eetgewoontes die probleme kan vererger.

Navorsing oor omega 3 en 6 toon dat dit ’n persentasieverskil kan maak, maar dit is aanvullings en moet in die regte verhoudings geneem word. Dit is nie ’n gelyke met medisyne nie. Hoekom ‘n kind laat swaarkry? Want die kinders word ook sosiaal verstoot.

In 80% van gevalle is die oorsaak van dié toestand geneties en die res is te wyte aan premature geboorte, trauma tydens geboorte en moeders wat tydens swangerskap gerook of gedrink het.

Die middel behoort voorgeskryf te word aan alle kinders met simptome van AGS/AGHS en waar dit ’n negatiewe impak op hul skolastiese asook hul sosiale ontwikkeling het.

Daar is nie ’n toets vir AGS/AGHS nie. Wat nodig is, is ’n deeglike geskiedenis oor ’n lang periode van die kind se gedrag, veral in samewerking met die klasonderwyser.

Dit gaan oor hoe die kind se gedrag hom op vele vlakke affekteer. Geheue en konsentrasie is hier onafskeidbaar, want die twee beïnvloed mekaar.

Met Ritalin verbeter ’n mens die kind se geheue, deur die uitskakeling van onnodige stimuli. Jy gee aan hom die vermoë om te fokus. Daardeur kan jy die kind help om baat te vind by die ander terapie wat jy aan hom bied, soos remediëring en sielkundige behandeling.

Indien mense nie behandel word nie, is hulle geneig om later in hulle lewe hulself te medikeer, gewoonlik omdat hulle ’n gevoel van onderprestasie het, ’n lae selfbeeld het en depressief is. Die voordele: verbeterde aandagspan, luistervaardighede, geheue en vermoë om te organiseer.

Dit verminder hiperaktiwiteit, impulsiwiteit en aggressie.

Raadpleeg ‘n pediater of neuroloog.

Wat is die toestand?

Daar word na aandaggebrekhiperaktiwiteitsindroom (AGHS) en aandaggebreksindroom (AGS) gesamentlik verwys as een term, AGS/AGHS, omdat ’n mens aandaggebrek kan hê met of sonder hiperaktiwiteit.

Volgens die diagnostiese kriteria van die Diagnostiese en Statistiese Handleiding vir Psigiatriese Siektes (DSM IV) is daar drie subgroepe of simptome wat kinders toon:

. aandagafleibaar sonder hiperaktiwiteit of impulsiwiteit (AGS);

. aandagafleibaar met hoofsaaklik hiperaktiwiteit en impulsiwiteit (AGHS); en

. ’n kombinasie waarin die kind definitief konsentrasieprobleme het, maar ook impulsief en hiperaktief is.

Talle ander faktore moet eers uitgeskakel word voordat só ’n diagnose gemaak kan word, omdat ander toestande simptome kan veroorsaak wat soos AGS/AGHS kan lyk weens die invloed wat dit op die kind se aktiwiteitsvlakke het:

. Allergieë en asma. (algemeen)

. Diabetes/hipoglisemie

. Gehoor en sigprobleme. Die werk van kinders wat nie goed kan sien of hoor nie, sal nie behoorlik gedoen word nie en hul aandag sal afgelei word.

. ’n Ystertekort kan tot aandag en impulsiwiteitsprobleme lei.

. Loodvergiftiging lei tot hiperaktiwiteit (raar)

. Leerprobleme kan tot hiperaktiwiteit lei.

. Emosionele probleme en mishandeling

‘n Bietjie oor genetika en die dinge, dit is nie moeilik nie. Hier is ‘n vinnige gids.

DNS word geberg as ’n kode wat uit vier chemiese basisse bestaan:

adenien (A), guanien (G), sitosien (C) en tiamien (T).

Die mens se DNS bestaan uit 3 miljard basispare en in die meeste mense is 99% van dié pare dieselfde. Ons is meer dieselfde as verskillend.

Die reeks, of orde, waarin die pare gerangskik is, bepaal die inligting om’n organisme te bou en in stand te hou. Net soos wat letters in die alfabet woorde en sinne vorm. Ons het net sowat 20 000 aangeskakelde (aktiewe gene)

Die basispare: A en T; G en C

Elke basispaar het ook ’n nukleotied: ’n suikermolekule en fosfaat

Die nukleotied: Vorm tweelang stringe genaamd ’n dubbele heliks.

Wat doen dit? DNS maak kopieë van die reeks. Dit is kritiek wanneer selle verdeel dat elke nuwe sel ’n presiese kopie van die DNS in die ou sel is.

Wat is ‘n mutasie? Anders as wat ’n mens in flieks sien, is ’n mutasie nie iets wat ’n “monster” sou skep nie.

Dit is veranderings in DNS wat natuurlik gebeur en is die basis van evolusie. Almal het mutasies in hul genome.

In die reeks segment hier kan ’n mutasie gesien word. G in die vyfde posisie in die eerste reeks het gemuteerna A in die tweede reeks.

CATT G GAATTACTCT

 CATT A GAATACTCT

Hoekom? Dit is byna soos ’n spelfout in die kopiëring van DNS tydens selverdeling en replikasie. DNS-polimerase (’n ensiem) maak ’n kopie van die oorspronklike DNS deurdie DNS-string as ’n sjabloon te gebruik. Soms gebeur dit verkeerd. Een nukleotied kan met ’n ander vervang word. Dit kan ook weggelaat of bygevoeg word.

Nut: Mutasies word gebruik om genetiese herkoms na te spoor. Mense wat dieselfde voorsate deel, deel dieselfde mutasies. Dit verdeel mense in haplogroepe.

Haplogroep? ’n Mens se totale genetiese samestelling is jou genoom, wat jou DNS insluit. ’n Mens kry die helfte van jou genoom van jou ma en die ander helfte van jou pa. (Een ‘n kwart van elke ouma en oupa, ‘n agste van die agter-oupas, en so kan jy aangaan tot derduisende jare gelede – ons is nie net die genetiese samestelling van ‘n ma en pa nie!)

Die genoom word geskommel – as ‘n sperm en eier byeenkom.
Daar is twee genetiese komponente (mitochondriese DNS en die Y-chromosoom) wat redelik stabiel bly in hierdie proses en net nou en dan kom mutasies daarop voor (soos ’n spelfout in die genetiese kode), wat merkers genoem word. Dít word merkers van herkoms genoem.

Wanneer ’n groep mense dieselfde genetiese merker deel, word hulle in ’n haplogroep ingedeel. Dit dui op mutasies wat plaasgevind het in ’n spesifieke tyd en plek in die geskiedenis en dui ook op oeroue patrone van migrasie. Dus, waar en hoe mense die planeet bevolk het.

Almal van ons is in ‘n haplogroep, jy weet net nog nie in watter een nie, oor die nie getoets is nie. Of is dit? Myne is al gedoen.

Vandag? Vroue se mDNS word getoets vir die bepaalde merkers van herkoms, terwyl mans se Y-chromosoom vir hierdie merkers getoets word. Hieruit word ’n mens in ’n bepaalde haplogroep (’n DNS-vingerafdruk) geplaas, en dít is die oergroep waaruit hy of sy kom.
Dit kan tans tot 100 000 jaar teruggevoer word.
Miljoene mense wat vandag leef, sal dus dieselfde haplogroep deel.

geno1

Die ontleding van Rosalind Franklin se sowat eerste 16 000- 17 000 genetiese basispare om die mitochondriese mutasie(s)  en uiteindelik die haplogroep te kry.

Noudat julle doodverveel is, ek vrek hieroor, laat weet oor enige vrae.

As net jy oor is

800px-lonesome_george_-pinta_giant_tortoise_-santa_cruz

Dit moet regtig vreeslik wees as net jy alleen oor is. Die res is almal dood. Dit is die geval met arme Lonesome George.

Hy is die laaste een oor van die Pinta Island Tortoise, subspesie: Geochelone nigra abingdoni, een van elf subspesies op die bekende Galapagos-eilande.

Georgie is vir die eerste keer raakgesien in 1971 en hulle raam sy ouderdom op tussen 60jr en 90jr.

Daar is net 103 Kakapo’s (Strigops habroptila) ook – so min elkeen het ‘n naam. Hulle bly in Nieu-Seeland.

399px-new_zealand_kakapo_felix

http://www.iucn.org het al die nuus oor bedreigde diere en omgewingsbewaring.

Veels geluk

darwin2

Liewe Charles Darwin met jou 200ste verjaardag vandag, 12 Februarie 2009.

Dankie vir die verstaan van die stamboek van die lewe. Dankie vir die weldeurdagte verduideliking van biodiversiteit, spesiasie en elegante natuurlike seleksie. Jou wonderlike boeke en jou fenominale denke – gedeel met ons vanuit die ryk, tydsame observasie van die ouskoolse natuurkunde.

Ek weet en verstaan ek is nie die kersie op die koek van ‘n skepping nie, maar net ‘n rosyntjie in die bun. Ontwikkel deur eons en eons se tydsame . . .tyd.