Archive for Julie, 2008

Wie is Hugo?

Ek maak my oe op skrefies oop. Reg voor my is ‘n banier teen die muur: “Geluk met jou 21ste Hugo!”

Wat? Ek ken nie ‘n Hugo nie!

Ek kyk om my rond. Langs my sit ‘n tannie op ‘n kerksaal-stoel en eet braaivleis. Sy glimlag vir my.

Mense dans, drink bier, eet braaivleis en vier Hugo se 21ste verjaardagpartytjie. Ek voel soos eergister se braaivleis. En, ek weet nie waar ek is nie! Hoe het ek hier beland, en wie is die mense?

Ek waggel na die toilet. Staar na die gesig in die spieel. Ja, dit is Rosalind se gesig. Maar die res is totaal en al onbekend. “Waar is ek,” vra ek vir ‘n ander tannie in die badkamer. “By Hugo se partjie,” antwoord sy effe verbaas.

“Ja maar waar is dit?”

“By die Waterkloof-lugmag-basis, in die rec-saal, ” en nou kyk sy my eers skeef aan.

O hel. Dit is seker 20 km van my koshuis af! Ek was nog nooit, ooit hier nie. Wie is Hugo? Hoe kom ek hier? Die vrees klim oor my. Ek voel in my sakke na my Volksie se sleutels. Niks.

Ek het niks aan my nie, nie ‘n sent nie. En dit voel of die dood oor my geloop het. Vaag in my mond proe ek OBS. Oubies. Old Brown Sherry. O siesa.

Die bottel Oubies, so platte, ‘n hele liter, het my R6 gekos. ‘n Pakkie sigarette kos onder R3. Met R20 maak ek my Volksie byna vol petrol.

Die lewe is lekker (sou ek later eers besef), ek is 18. Dit is 1991.

Hoe de hel gaan ek terugkom by die koshuis? Dis aan die anderkant van PTA? Fok wat nou?

Ek hol soos ‘n mal haas by die saal uit. Help my!

Om die derde hoek wat ek hol staan ‘n klomp mense by die vuur. En toe, skielik herken ek my kamermaat. Ag dankie tog.

“Wat die hel doen ek hier? Wie is Hugo,” gil ek byna buite beheer.

“Jy het die hele bottel OBS alleen gedrink en uitgepass. Ons het besluit om jou op die bakkie te laai en saam te bring. Hulle het jou op die stoel daar binne gaan sit. Ons was bang jy kom alleen by, toe bring ons jou saam,” se sy.

Wel, ek het alleen bygekom.

(ter herinnering aan my studentedae)

Advertisements

Die Boere-troue

“Hey, my meishjie, wilsh jy nie sho bietjie met die oom dansh nie,” se die vatterige, vet, middeljarige man met so comb-over op die egte Boere-troue.

Hy het jou al ‘n klapsoen ook gegee, al ken jy hom nie. Niemand kom ooit tot jou redding nie.

Hy ruik na drank. Sommer enige drank, veral die wat hy gratis kan afsluk.

Die sweetreuk hang dik om hom, want dit is Desember en al wat hy net effens op sy wange tik is Old Spice. Hy spuit nooit deodorant onder sy arms nie, want hy is nie ‘n “moffie” nie. Hy weet nie sy seun is gay nie.

Hy dra ook sy troupak, al was dit tien jaar terug al te klein vir hom.

Indien jy vlug van voet is, kan jy sy reeds grypende hande wat al om jou middellyf krul, ontduik. Anders trek hy jou sommer nader om jou swaaiend na die dansbaan te sleep-trek. Hy kan natuurlik glad nie dans nie en besit die ritme van ‘n T. Rex. Noudat hy dronk is, kan hy nog minder dans, maar hy dink hy kan.

Jy protesteer luid. Nee dankie, ek wil nie nou dans nie, my kerel wag vir my. “Ag, moenie worriesh nie, hyshallie mind nie.”

Die bruidegom is ook effe dronk, of van senuwees of van die ramparty van die vorige aand. Sy gesig is rooi en hy dra die pak waarin hy aangeneem is.

Dan is daar die tannies wat ritse vrae uitryg. Wat doen jy, hoekom het jy nog nie kinders nie, vele vrae en hulle luister nie na een antwoord nie. Terwyl jy wegstap bespreek hulle jou volledig.

Indien die rok van die bruid, miskien lewendig sou word, sal dit ‘n gevaar vir lewe op aarde wees. Die ding sal daartoe instaat wees om eerste die kinders en dan ander vorme van lewe te eet. Toe sy die kerk instap snak almal na hulle asem van skok. Die moeder van die bruid, dink haar dogter lyk pragtig. Die pa van die bruid kla oor die geld.

Die moeder van die bruid, ‘n studie in pienk/pers/groen of die immergewilde duifgrys, is ‘n emosionele wrak, sonder rede. Miskien oor die kondensmelk-horinkies pap geword het.

Elke liewe kind wat nog ooit ‘n engel was raak op die tradisionele Boere-troue, ‘n werfetter. Iets vaar in hulle koppe in, hulle raak verbeteringskool-gevalle. As jy hulle sien, wil jy hulle met die plathand bykom, maar jy kan nie, want dit is nie jou kinders nie. Almal sien wat hulle aanvang, behalwe hulle eie ouers. Weird.

Daar is natuurlik, buiten die jagse ou omie(s) wat altyd met die jong vroue lol, ook iemand wat met iemand se man/vrou neuk. So ‘n onderliggende seksuele spanning wat laataand tot uitbarsting kom.

Die tieners drink skelm uit half-vol glase.

Teen daardie tyd is die orkes/DJ ook al getrek.

Die toiletpapier is op. Altyd.

Iemand of iets het hulle vinger in die troukoek gedruk.

‘n Ouma of oupa word verlate gelaat.

Iemand het hardop gewonder oor wat die hel in daai groot boks is – die ene op die geskenktafel?

Daar is altyd iemand wat soveel skaapvleis vreet dat almal dink hy kry ‘n hartaanval.

Die tannies vat (nie steel nie) vir hulself die tafelruikers soos hulle lus het. Die ma van die bruidegom is eintlik die moer in, want sy het dit aan haar vriendinne by die boekklub belowe.

Die troues het uitgesterf. Of dalk nie?

Die Bors

‘n Bors is natuurlik nie net ‘n bors nie. Dit is ook nie sommer net ‘n ding wat in ‘n bra pas nie.

Nee, nee dit is veel meer. Ons was nie altyd so openlik nie. want “brassiere” is ‘n ou woord wat sy onstaan het in militere uniforms, maar die meer moderne woord verwys onder meer na die keel. Keel is in Frans ‘n eufemisme vir ‘n bors.

Sy voorloper was natuurlik die korset, veral vir diegene wat ryker was. Die bra het sy opwagting teen 1905 gemaak.

Maar vir jare voor dit het vroue van Rome, Griekeland en ander beskawings hulself op een of ander manier toegedraai. En dan is daar die ding waarvoor mense al tot hekse veroordeel is, polimastia ( drie borste en/of drie tepels)

Buiten gemak as voordeel, vir groter borste is daar natuurlik geen waarde van die bra nie. In die 1970’s het vroue vir die eerste keer begin dink oor die gedoente. Daar is ‘n stadslegende dat vroue hulle bra’s inderdaad gebrand het, dit is natuurlik nie waar nie.

Op ‘n Mej. Amerika-plegtigheid is bra’s wel in vullisblikke gegooi as simbool van bevryding, maar hulle is nooit verbrand nie. Maar dit is nie waaroor dit gegaan het nie, hulle wou probeer se, dit is OK, om nie ‘n bra te dra nie. ‘n Vrou kan doen wat sy wil, sy hoef nie te doen wat daar vir haar gese word nie.

Die bra en die sosiale status van vroue is nou verbind. Bind dit vas, steek dit weg, of hou dit tog net in toom! Netnou skep dit probleme elders.

Die katolieke kerk se in 1370: “No woman will support the bust by the disposition of a blouse or by tightened dress.” . . .gepla met borste, bid jou aan.

Maar borste wat mooi regop staan word gesien as ‘n teken van jeug, van viriliteit, van seksuele aantrekkingskrag en op ‘n dieper vlak is die mooi, stywe mode-bra niks anders as ‘n na-aping hiervan nie.  Veral in die Westerse kultuur.

Histories is die bors nog altyd gesien as ‘n simbool van fertiliteit. Om nie ‘n bors te he nie, maak jou minder vroulik, daarom is die trauma van borskanker of ‘n mastektomie, weens ons vooroordele op sielkundige vlak, so erg.

Vandaar die weensin wat mense het wanneer daar na die legende van die Amazone verwys word – die krygstam van vroue, het een bors amputeer sodat hulle beter met ‘n pyl en boog kon skiet. Hulle het mans net aangehou om kinders mee te he, en daar word gefrons op so ‘n gemeenskap, grotendeels weens hulle “onvroulikheid”. Of daar word lukraak na hulle verwys as minder vroulik of dan sommer lesbiers, of mannehaters.

Die is glad nie waaroor die antieke legende gaan nie, nog minder die gemeenskap van Sapho op Lesbos, dit gaan oor selfversorgend wees. Oor ‘n gelykheid, dis al. Oor die bewys dat almal tot alles instaat is, sou hulle wou.

Net soos wat grimering, en veral lipstiffie, op ‘n diepliggende vlak ‘n seksuele verfraaiing is, het die bors en alles rondom dit, die simbool van vrouwees geword. Verwerp dit en jy verwerp soveel…

Omdat die bors so ‘n hoogs seksuele verwantskap het, is dood normale dinge soos borsvoeding in die openbaar en selfs om sonder ‘n bo-stuk te loop op baie plekke nog taboe. Die bors word dus nie gesien as ‘n bron van kos vir ‘n kind nie (tot nie so lank gelede nie is kinders tot op 5 jaar geborsvoed) en die idee is daar dat jy dit moet wegsteek, want dit is onbehoorlik.

Die mens is natuurlik die enigste dier met borste wat permanent vergroot is.  My gunsteling periode (omrede die kuns, ontploffing van ontdekkings en verligting van denke) is die Renaissance. Dit is tyd toe decolletage mode geraak het.

1906

“Magtag vrou, ek kry ‘n graaf!”

“Sit net so. Sit doodstil,” sê my Ouma, en sy laat spaander van die stoep af waar ons sit, blitsvinnig in die kombuis in.

Oomblikke later kom sy uitgehardloop op haar hoëhakskoene met die ketel kookwater, waarvan ons sopas tee gemaak het. En met een swaai van haar arm gooi sy die stomende water dwarsoor die stoep. In haar ander hand het sy die besem.

Iets krul in die lug toe die kookwater dit tref. Oopmond sien ek hoe my Ouma meters van my af, iets hard met die besem takel, oor en oor en oor.

My oupa sit nog met die Romany Cream, wat my Ouma self gebak het, in sy hand. Ek onthou sy groot hande met die eelte so goed.

My ouma slaat en slaat en toe staan sy terug: “Duiwel se kind.” sê sy.

Wat eers ‘n “swart slang” was, soos ons hulle genoem het (die dodelike swart mamba), le verskrompeld, disnis geslaat en verbrand eenkant op die stoep. Dit was ‘n helse groot slang.

My Ouma sit die besem teen die muur en gaan sit op die stoel. Ek sit nog steeds waar ek gesit het en my Oupa het nog steeds die Romany Cream, ongehap in die hand.

Ek is 10 jaar oud en verstom oor my fyn, uitgevatte Ouma, wat altyd krale en ‘n borsspeld dra se reaksie. Wow!

“Soja, nog een minder,” se my Ouma en neem ‘n sluk tee.

“Magtag vrou, ek kry ‘n graaf! Dan gaan spit jy sommer bietjie in my groentetuin,” sê my Oupa.

“Dit sal die dag wees.” se my Ouma.

Seker ‘n maand later loop ek verby die turksvybos, so 200 m van my Ouma en Ouma se huis. Zap! pik ‘n slang my, skielik vanuit die langgrasse in die boord. Wha, ek het geweet hier is slange.

Eina-Eina, dis seer. Oe flip. Oe nee, ek gaan doodgaan. Die dorp is ver, die dokter is ver. Oe heeeeeeeeeeeeelp harloop ek skreeuend in die voetpaadjie af.

“‘n Slaaaaaaaaaanggggggg het myyyyyyyyyy gepiiiiiiiiiiiiiiiiiiiiiiiiiiiiik!” hardloop ek oop en toe na my Ouma-hulle.

My Oupa kom uit die huis na my toe aan. Ouma is ook daar. Ek skreeu soos ‘n sirene.

Waar het die slang jou gepik?

Hier op my kuit! Skreeu ek.

“Dit is ‘n perdeby steek!” en my oupa krul van die lag. “Kyk, kom ek gaan wys jou die nes, daar is baie daar.”

“Issie is ‘n slang” se ek vol trane en ek gee ‘n skaam-kwaad skop na my Oupa. Hy koes en nou lag hy eers.

En toe gaan haal my Ouma spesiaal in die koelkamer ‘n klein botteljie “cocktail Coke” en Hertzoggies vir my troos.

Die Skoolsuster!

“Ag liewe Jesus, moenie dat die skoolsuster more skool toe kom nie. Ag asseblief tog.”

Maar die gebede is nooit verhoor nie. So seker as wat die perskebloeisels elke jaar uitgekom het en die kosmosse langs die pad geblom het, so seker kon ons maar wees oor die skoolsuster se besoeke. Ons het net nie geweet wanneer nie.

Elke jaar het ek gebid. Elke jaar het sy (en soms ‘n dokter ook) gekom. Ons het net nooit geweet presies wanneer nie – eers ‘n dag voor die tyd, wanneer jou ma die briefie moes teken.

Die enigste dat ‘n mens geweet het dat die skoolsuster wel ‘n vrou is, sonder om haar rok op te tel, is dat haar borste styf gepunt, vooruit gestaan het in ‘n borstrok of knellende bra. Hulle almal het dieselfde gelyk – soos Turkse aartappelplanters of Russiese gewigoptellers. Totaal a-seksueel

Die uitdrukking op haar gesig is totaal onbeskryfbaar, iets tussen ‘n onvergenoegdheid met kinders en ‘n kliniese reptiel wat eiers sou gele het, sou sy kinders kon baar.

Daar sit ons in die skool se personeelkamer met die gordyne toegetrek, sodat die ander kinders nie vir ons kan loer nie. Maar hulle beurt kom nog. Net in ons broekies in die winter van 1979.

Die dik roomystokkie word in jou keel en teen jou wange gedruk sodat daar na jou tande en mangels gekyk kan word. Dalk spoor hulle ‘n 6-jarige op wat al verstandtande het sodat hulle jou kan gaan opsny en uitstal.

Die koue stetoskoop gly oor jou bors. Hulle verduidelik glad nie wat hulle doen nie. My oe rol uit hul kaste om te probeer sien of hulle inspuitings op die tafel het.

Dan, skielik en met mening, trek die suster jou broekie van jou maag af weg en GLUUR na benede. NEE! Hoekom kyk sy daar! Sy trek haar kop die kant toe, dan daardie kant toe. Bekyk die dingtjie van alle kante.

Wap! Skiet die broekie terug. Oeeeeee.

Die vernedering.

Wat het sy gesien? Waarna het sy gekyk? Wat is daar, wat daar nie gister was nie?

Ek bewe so toe ek my vessie aantrek dat ek skoon struikel. “My sussie se hulle kom elke jaar,” se my maatjie langs my.

En dit was toe dat ek begin bid het, dat hulle nie moet kom nie. Daai dag in 1979.

Die skoolsuster met die koue hande…   Duskant het geskryf hoe seuns dit ervaar het.

My ouma het botweg geweier om Engels te praat en as sy na die gehate taal verwys het, het sy ook van Ingils gepraat.

Sy het net gese, sy kan dit nie praat nie en sy verstaan dit nie. Rosalind was ‘n wilde kind, vol streke en gees. Ek het dus losgetrek met my Engels en onbesonne goed kwytgeraak, net om te toets of my Ouma regtig niks verstaan nie. Maar sy het, want haar gesig het dit verklap.

En soms as sy lus was vir saamspeel, het sy ‘n paar sinne in Ingils gese. Dit was met so swaar Afrikaanse aksent dat ek gelag het dat ek half gek wou raak. Dan het sy ook begin lag, totdat haar een oog so getraan het, sy moes die sakdoek uit haar bra haal. Die sakdoek wat na poeier geruik het.

Is Afrikaans net woorde? Ja en nee. Dit het onstaan hoofsaaklik uit Nederlands, maar ook uit baie ander tale. (Let wel, ek is nie ‘n taalkenner nie, net ‘n liefhebber).

Soos ons genetiese samestelling in Suid-Afrika spreek van ‘n hutspot van gene so is die taal ook ‘n reenboog.

Gamka, beteken leeu, in ‘n Khoi-taal. Ek smaak die woord. Dit pas by ‘n leeu. So ook gogga. Dan is daar boegoe, karee, dagga, koekmakranka, kambro, kanna, ghaap, noem-noem, kwagga, oorbietjie, geitjie, gogga, karos, abba, kamma, kamalielies, kamtig, kastig, hoeka, ga(ng), soe, aitsa, arrie, eina, gonna, kierie, hn’n, ghnarra, gorra, karkoer, koedoe – dit is afkomstig van Khoi-tale.

En ons het wyd geleen uit ander tale:

Maleier-woorde natuurlik (ons genetiese samestelling toon dat die meerderheid wit mense het Eurasiese of Asiese bloed, bitter min is suiwer Wes-Europees). “amper” van hampir, “baadjie” van badju, “baie” van badju en “piering” van piring. nartjie, blatjang, bobotie, borrie, sosatie, mebos, doepa, paljas, sieal, ramkie, nonnie, nonna, kierang, pamperlang, lieplapper.

Frans: pawee(-perske), sermyn(peer), bermotsersan(-peer). Let daarop dat meeste ander Afrikaanse woorde wat van Franse afkoms is eers in Nederlands opgeneem is en daardeur in Afrikaans beland het.

Portugees: bredie” van bredo, “kombers” van cobertas en “kraal” van curral.

Swart tale:  donga, dagha (“klei” of “sement”), mopanie, maroela, moepel, kaboe(-mielies), tollie, mamba, tsetse(-vlieg), indaba, indoena, impie, loboloa, pasella, babalaas, haiköna, ietermagö, sakaboela, tamboekie(-gras) , kaia, marog, skokiaan, poetoe(-pap)

Al die bogenoemde (en daar is nog baie ander) kom uit en met dank aan: http://af.wikipedia.org/wiki/Afrikaans

So dit is seker nie net “ons” taal nie. Dit is ‘n huwelike tussen baie tale en kulture. ‘n Proses van ontwikkeling met sy eie storie oor op- en afdraand.

Baie wetenskaplikes glo dit is juis taal en die duisende dinge wat taal ons bied, wat ons onderskei van ander diere. Dit het soveel deure oopgemaak, maar ook gelei tot lelike dinge, soos die strategie om ander sistematies uit te wis, mense kan dit nie doen sonder taal nie. (Geen ander dier toon die kenmerk om ‘n ander sistematies uit te wis nie)

Het ons eerste woorde begin praat of begin sing? Daar is nog nie uitsluitsel daaroor nie. Want sulke spesifieke kultuur kan nie versteen nie. Die grom het dalk die woord geword. Of het die grom die middel C-klank geword. Wie weet.

Taal is egter ‘n besondere ding, dit is nie net ‘n middel van kommunikasie nie. Dit is ‘n bron van ons geheue. Ons gebruik dit ook in wiskunde.

Die katalisator van spraak was taal, tegnologie en geselligheid. Die mens moes gevorderd kommunikeer toe dit by die jag van diere gekom het. Hoe bepreek jy presies waarheen en hoe om ‘n dier te agtervolg sonder gevorderde taal? Om die spore van diere te lees en uitvoering te gee aan die jagproses is baie abstrak.

Die tipe redenasies vereis komplekse taal. Die mense moes op “speaking terms” met mekaar gewees het om te oorleef. Om gunste met mekaar te ruil is die rede hoekom daar sosiale verbande tussen mense bestaan het, wat nie aan mekaar verwant is nie.

En ons vloek om klem te le op sekere goed, om aandag te trek tot die dringendheid van ‘n saak.  Dit word ook opsetlik gedoen om mense of groepe te beledig.

Dit maak sommige mense vies, meen die eksperimentele sielkundige Steven Pinker, omdat hulle nie kan kies om vloekwoorde te hoor en te verstaan nie, mens hoor dit wel want die brein verwerk dit outomaties.  Die vloekwoord dwing jou om emosioneel betrokke te raak by die situasie. Dit aktiveer die regterhemisfeer van die brein in ‘n area wat met negatiewe reaksies te doen het, of jy wil of nie.

Wat is in ‘n woord?

Soms soveel en soms so min.

 

 

Bollie

As kind het ek van Vrydag tot Vrydag gelewe, want die oom by die semi-plaaswinkel het spesiaal vir my en my sussie elkeen ‘n Bollie gebêre. Ek wou niks anders in die lewe hê as my Bollie nie, nie lekkers, koeldrank of wat ookal nie.

Elke maand het ek ongeduldig gewag vir my Daan Retief-klubboeke. Ek het hulle verslind, en my eie klein biblioteek opgebou.

Onlangs het ek my hele versameling boeke van Daan Retief, van Trompie, Saartjie, Die Uile en ander gaan aflaai by Kindersorg op my tuisdorp. Ek hoop die kinders daar kan ontsnap in die wonderlike verhale soos ek daarin myself verloor het. Soms was die boeke, en my twee honde, my redding.

Maar niks het gekom my die Bollie nie. Ek het hom aanhou lees tot ek veels te groot was vir hom, aanhou bly hang aan my kind-wees.

Wie onthou nog die wilde spul?  Die Swape:

En die held in die verhaal, blou Bollie homself. Sy sussie Krabbel, Baba, Mamma, Pappa, Ouma, Tjoek-tjoek, Tant Netso, Boekies, Oom Dik-Daan en Tant Doortjie! Hoe wonderlik was die hase nie.

Dan dan is daar Pinkie Poenk, die olifant met sy lang slurp en sy maatjie Kiets.

Oom Stoffel en sy Handige neef Hansie.

Daar was plek om in te kleur en dinge te doen. ‘n Bietjie te leer, maar nie te veel sodat jy dit kan agterkom nie. En ‘n langer storie om te lees.

En die verhale van Sprokiesland. Agterop was die verhale van Wolla-Wolla die indiaan.

Het julle ook Bollie gelees?

Ek het nog ‘n hele leer vol Bollies, wat ek bere. Party is gaar gelees, vol spore van my kinderdae. Prysloos.

Wat ek wou word

Om te vra wat ek wou wees toe klein was, is inderdaad erg wreed, want nou moet ek op die pad terugstap waar die ou ontnugterings le 😉

Maar hier is dit:Pikkelik

My heel eerste herinnering was om ‘n dominee te word. Ek het my pa se ou, swart pak klere waarvoor hy te vet geword het aangetrek, en Bybel onder die arm afgesit na die plaaswerkers. Ek gaan nou vir hulle preek: “En die Morena sê in die Bybel ons, moet ons naaste liefhê soos onsself. Ons mag nie sonde pleeg nie,” het ek vir die arme bediendes wat geduldig geluister het voorgesê.

Ek wonder wat op aarde hulle gedink het van die wit kind wat al die goed kwytraak in ‘n land waar God se reëls oor liefde nou nie eintlik nagekom is nie.

Ek het my ma uitgevra oor die dominee-word-droom. Toe kry ek ‘n lekker skok: Vroue kan nie dominees word nie, hoor ek.  Toe los ek dit maar.

Iemand het my foksterrier doodgery toe ek vyf jaar oud was. En iemand anders het aan my gese die hond het weggeloop! Dit was bietjie dom. Ek het myself so verkwyt – vir jare – want ek het geglo ek het nie die hond lief genoeg gehad nie. Baie jare later het ek uitgevind daar is vir my gelieg. Toe besluit ek, ek wil ‘n veearts word, sodat ek mooi na diere kan kyk.

Eendag by die veearts, toe ek so 8 was, sien ek toe hoe ‘n dooie hond weggedra en in ‘n swart asblik (!) gegooi word. Ek was so bang vir die veearts daarna en wat hulle aan my hond gaan doen, dat ek helemal oorhoeks was.

My susters het vir my, ons poppe en die honde skoolgehou. Ek kon dus so effe lees en skryf nog voordat ek in die skool was. Ek en die poppe is hard gedril. Net daar het ek besluit om nie ‘n onderwyser te word nie.

Toe dink ek, ja, dit sal lekker wees om te boer! Ek ry met my honde in die bakkie rond en het baie diere. My pa vertel my toe geen vroue boer ooit nie, en die wat boer is almal mannetjiesvroue. Daar was so tannie naby ons en my pa se gesig het so lelik getrek as hy oor haar praat.

Maar my pa was ‘n boer en as my ma by die werk is, kuier my pa by ander tannies. So se die bediendes. Toe besluit ek, nee-nee. Ek wil nie ‘n boer word nie, ek dog mens plant mielies!

En op skool het ek ‘n bepaalde droom gehad en mnr. S, die “bekwame” voorligting-onnie, het my oortuig, dat “niemand ooit werk in die rigting kry nie en as hulle werk kry dan is dit mans.” Hoe verkeerd was hy nie! Vandag het SA ‘n skaarste aan die mense! En talle vroue beklee sulke poste.

Vandag is my belangstellings so wyd, dit sluit omtrent net brei, doeke en netbal uit. En ek is skrikkerig vir stofsuiers en bore – regtig.

Toe word ek maar iets anders, want die aanlegtoets het so gesê.

Leen nooit jou ore uit as jy jonk is nie, want ander mense se vrese kom sit in jou kop.

Vrees, enige vrees, bly steeds die grootste struikelblok in die soeke na kennis.