Archive for Februarie, 2009

Die groot verstomming

So paar jaar gelede was dit die groot woede wat oor my gedaal het. Nou noem ek dit maar die groot verstomming.

Elke nou en dan, daal hy soos ‘n nat kombers oor my en kom le oor my gemoed soos ‘n sening. ‘n Sening wat so taai is, ek kry hom net nie gekou nie. En as ek hom heel probeer insluk soos een van daai senings aan ‘n biltong, dan kom hy net terug in die keel.

Dit tref my onverwags, die voormalige groot woede wat nou die groot verstomming is, sommer so oral waar ek kom. Nou die aand weer: Ek sit nog so en gesels met iemand oor die maan, ja die reuse stuk rots so groot soos die helfte van Afrika wat so 360 000 km ver bo ons koppe draai. En iemand trek los: “Ek glo nie mense was ooit maan toe nie, glo jy dit?” en hy kyk reguit vir my.

En daai groot verstomming daal oor my soos iemand wat skelm in ‘n vol saal gepoep het. En toe doen ek dit . . . ek lag hom uit. En ek lag en ek lag. Ek kan niks se nie.

Ek probeer nie eens verduidelik hoe ons wel 12 keer op die maan geloop het nie. Maar die verstommendse van alles is dat hy ‘n nagraadste kwalifikasie het, by ‘n goeie plek werk en geen verskoning vir sy denke het nie.

Op sommige mense word ons belastinggeld net gemors. Skryf dit af. Sela. Hy kyk net vir my wat lag. My verstomming is net te veel vir my,

Toe gaan pak ek maar weer my bordjie vol kos en eet nog.

Sam

Die manier waarop Sam, die koala, tussen al die vlamme en pyn gered is, het my aangeraak.

National Geographic skryf dat die vrywilliger-brandbestryder David Tree, vir Sam opgespoor het waar sy op haar verbrande pote in ‘n woud geloop het, noord van Melbourne

“Ek kan sien sy het seer pote gehad en was in die moeilikheid, so het die brandweerwa gestop. Sy het net neergeval, asof om te sê: Ek is klaar,” het hy gesê.

Hy het vir haar water gevoer uit sy eie waterbottel. En die ongelooflikste is dat sy my hand gegryp het. Ek sal dit nooit vergeet nie, het hy gesê.

Die water het waarskynlik die dehidreerde koala se lewe gered. Sam word nou vir brandwonde behandel.

Verlede week is ‘n tranerige Tree met haar herenig. Dalk het sy hom herken, sê hy.

Hierdie storie van omgee, van besef dat elke lewende organisme werd is om gered te word. Dat geen dier jou mindere is nie, was vir my ongelooflik.

En die foto! Hoe roerend is dit nie?

090212-burned-koala-photo_big
Foto: National Geographic

Veels geluk

darwin2

Liewe Charles Darwin met jou 200ste verjaardag vandag, 12 Februarie 2009.

Dankie vir die verstaan van die stamboek van die lewe. Dankie vir die weldeurdagte verduideliking van biodiversiteit, spesiasie en elegante natuurlike seleksie. Jou wonderlike boeke en jou fenominale denke – gedeel met ons vanuit die ryk, tydsame observasie van die ouskoolse natuurkunde.

Ek weet en verstaan ek is nie die kersie op die koek van ‘n skepping nie, maar net ‘n rosyntjie in die bun. Ontwikkel deur eons en eons se tydsame . . .tyd.

Die verpesting van musiek

Ek is oortuig daarvan dat jy my nie gaan glo indien ek vir jou gaan vertel dat ek eintlik musiek verpes nie, amper alle musiek, buiten ‘n paar handgekose genres.

Ek weet nie of daar nog sulke mense is nie, maar soos ek ouer word, word dit ook erge. My toleransie vir geluide raak al minder.

Skoor se tag was kies 5 gunsting songs. Onmoontlik. Ek laaik dit nie. Ek verpes popmusiek, rockmusiek is nog meer simpel. En al die rap, hip-k*k-hop, rave, rammel en geskree is nog ‘n groter klomp nonens.

Kom slaan nou ‘n kitaar asof jy geld kry elke keer as die snare (en ek) gepynig word! ‘n Instrument, soos ‘n viool, moet gestreel word op gevoel. Maar die geskreeu soos ‘n barbaar en die onnosel woorde? Neewat.

Afrikaanse Alternatiewe musiek is nou werklikwaar pretensieus.

Musiek wat skreeu en draai, alles dieselfde klink en waarin daar die meesterlikheid is nie maak my ore seer.

Jazz, Blues, Mowtown, Gospel en die res wat so in mens ‘n ore kerm, is vir my suiwer, suiwer torure. Sit my in ‘n kamer en speel vir 24 uur polsende musiek en ek is ‘n pak ertjies.

Ek het ‘n kar-radio/CD-speler in die laai in een van die kaste by die huis. Ek gebruik hom nooit nie. Want ek smag na die stilte.

Musiek hits my aan en op al die verkeerde plekke, dit irriteer my geweldig. My grootste nagmerrie is ‘n popkonsert. Jy sal my baie moet betaal om naby die dronk stinkende lywe te kom wat die hele tyd net skreeu.

Maar ek dink sy kon sing. Van haar hou ek en ek kan na haar luister. Inteendeel ek dink sy was amazing. My gunsteling is Lili Marleen.

marlene-dietrich

En sy ook: My gunsteling: Non, je ne regrette rien.

220px-c389dith_piaf

Maar die mense sing nie meer so nie, miskien Amanda Strydom, ja dalk sy. Soos ‘n lam. My gunsteling: My lam.

Ek kan die opera, die ballet en die simfonie geniet. Die smeulende klanke van die klassieke.

Daar is verskeie weergawes van Ave Maria, maar die een deur Schubert, is vir my die mooiste en Nana sing dit pragtig.

Ek pik musiek baie kieskeurend met die hand. Baie fyn.

Ave Maria

Meer as 200 jaar gelede was daar ‘n vrou met die naam van Emily Holloway. Sy moes geletterd gewees het in musiek en anders as die meerderheid van vroue van haar tyd, wat nie formele skoolopleiding ondergaan het nie, moes sy kon lees en skryf.

(Ek meen Elizabeth Blackwell was na ‘n helse stryd toegelaat as die eerste vroulike mediese student in die VSA in 1847 – ek kan my net indink deur watse geveg sy is. En eens in 1908 is vroue in Brittanje toegelaat om snydokters te word. Die meeste vroue is ook eers toegelaat in universiteite net vir vroue. Punt is, formele onderrig vir vroue is eers in die Victoriaanse era gesien as nodig en het begin by die meer gegoede mense. Daarna het dit teen die begin van 1900 gedraai.)

Emily het seker by haar skryftafel gaan sit, en met hierdie mooi handskrif haar naam, blyplek en die datum: 5 November 1798 voorin die boek geskryf. Die boek bestaan uit kerkgesange of “Hymns” soos dit geskryf is, en die Engels is nog nie heeltemal modern nie.

boek2

Die samesteller van die boek is: E.M. Moore en geen drukker/uitgewer is voorin aangedui nie, hoewel die paper van goeie kwaliteit is en die boek in ‘n goeie toestand is. Die kondisie is nie “mint” soos versamelaars na stukke verwys wat basies splinternuut lyk nie. As ek baie geld gehad het sou en beslis meer sulke boeke, nog ouer boeke en geskiedkundige eerste uitgawes versamel het.

boek1

Ek besit die boek al 20 jaar en hy het orals saam met my getrek. Ek is verknog aan Emily se boek. Maar dit is haar klassieke handskrif, daardie tikkie uniekheid in die boek, die persoonlikheid van die vrou wat my lief vir hom maak.

Emily was iemand. Ek wonder wie sy was. Was sy gelukkig, of was sy nie. Hoe het sy haar dae deurgebring? En waar het sy leer lees en skryf? Hoe oud was sy toe sy die boek gekry het? Hoe het sy gelyk?

Ek wonder al jare oor haar. Ek was verheug toe die inskripsie in die boek se inskripsie 200 jaar oud geword het in 1998. Dit was soos ‘n wasdom.

boek3

Om haar toe soek op die argiewe wat natuurlik nie alles op die web is nie is moeilik, en jy moet weet waar om te soek, die vet weet. Ek het ure na Emily gesoek.

17 MAR 1779 Warblington, Hampshire, England – die doop van ene Emily Holloway, kon ek kry.

Haar ouers was Ann en Joseph. Maar of dit my Emily is weet ek nie, hoewel die datums ooreenstem. Met ‘n helse gesukkel het ek uiteindelik uitgevind Emsworth was ‘n “parish” in Warblington.

Maar daar le nog baie werk voor as ek seker wil wees en meer wil uitvind oor die eienaar van die unieke boek.

En, die boek se reuk, ek kan julle nie eens begin vertel watter geheime daarin vaskleef nie. Onopnoembaar subliem.

darwins-finches

Hier le hulle, Charles Darwin se bekende vinke van die Galapagos. Met sy eie hand versamel. Darwin se 200ste verjaardag word op 12 Februarie gevier en later vanjaar is dit ook die herdenking van die 150ste bestaansjaar van The Origin of Species.

Maar hoekom is die vinke so belangrik en tot watter insig het dit in die biologie gelei en uiteindelik in die evolusieleer. Tydens Darwin se wereldreis op die HMS Beagle van 1832-1839 het hy natuurlik ‘n verskeidenheid van spesies gesien en kon net sowat 5000 versamel weens spasie-probleme op die skip.

Hy het onder meer gesien dat vinke op die Galapagos se snawels verskil van die van vinke elders. Hoe dan so?

Party eet sade en ander insekte. Die snawel is aangepas deur evolusie aan die hand van natuurlike seleksie by die verskillende voels. Maar hy het ook besef dat die vinke ‘n gemeenskaplike voorsaat het, en dat hulle so verander het weens die omgewing waarin hulle is.

Die verskillende tipes vinke het so geword – hulle het evolve. En is dus die nasate van ‘n gemeenskaplike vink en daarna het die spesies van vinke diversifiseer. Die met die dikker snawels eet sade en die met die dunner snawels eet insekte.

Natuurlike seleksie dryf dus evolusie. In deel van die verhaal van 4,5 miljard jaar is die moderne mens se bestaan maar net 200 000 jaar oud en die bestaan van die hominied tussen 7 miljoen en 5 miljoen jaar.

Gegewe die bogenoemde, het die mens ook ‘n gemeenskaplike voorsaat met die groot primate (oerang-oetang, sjimansee, bonobo en gorilla). Die mens stam nie van ‘n aap af nie. Ons deel ‘n voorsaat met die groot primate. (Die vraag: Hoekom is hier dan nog ape, dis dus totaal verkeerd en irrelevant).
Op verskillende punt van die tak het ons van al vier die groot primate afgeskei, met die sjimpansee se voorsaat natuurlik laaste.

En elk van die primate, ons ook, het ‘n bepaalde tak met sy kleiner takkies op die stamboom geword – na die afskeiding van die gemeenskaplike voorsaat.

Darwin het ook besef dat evolusie nie linier en progressief is nie, maar soos die takke van ‘n reuse ou boom is. Soms gaan ‘n tak selfs dood. Evolusie vind dus nie plaas van die laagste vorms van lewe na die hoogste, soos ‘n leer met trappies nie.

Indien dit die geval was, sou daar nie meer mikro-organismes, (siekes van virusse en bakterie inkluis) plankton en die miljoene piepklein organismes in die see gewees het nie. Sien?

ss_image_notebook

Darwin se notaboek uit die 1830’s met ‘n rowwe skets van die stamboom van die lewe.

En die mens is ook nie die kersie op die koek nie, hy is net ‘n rosyntjie in die bun. Dis al. En as jy eers jou kop daarom gekry het, dan begin jy die storie van lewe werklik waardeer.

Ek is waarlik maar nietig op die stamboom van die lewe. Kort is die mens maar hier, en kort is hy dalk nog hier.

ss_image_skull-wall