Posts Tagged ‘inheemse amerikaners’

In die nag het ek sy naam uitgeskreeu! Geronimo! Net een keer het ek na hom geroep.

Diep en verlangend, het sy naam oor my lippe gestroom, asof ek hom lank reeds ken. Asof ek na hom wou gaan.

“Jy gaan na sy land toe gaan. Sy land wat van hom geneem is”, het die vrou gesê. “Dit is ‘n teken, jy sal sien.”

Nooit, ooit. Ek wil Geronimo graag vind, met hom praat, maar ek hou nie van sy land nie, of eintlik hou ek nie, van wat van sy land geword het nie, het ek gesê.

Later, veel later, het die ryk wit man se brief gekom en ek is oor die groot oseaan na Geronimo se land. Daar ek het na hom gesoek, maar hy was nie daar nie. Hy is uitgewis. Kry ‘n mens nog geld as jy hom doodmaak, het ek gewonder.

Net eendag het ek skielik een van sy diere, ‘n bison sien staan met haar kalf. Natgereen en bedroë in die middel van San Fransisco. in ‘n parkie. Ek het so jammer vir hulle gevoel.

Ek het die land deurkruis en Geronimo gesoek, in museums, in die Rocky-gebergtes in die stede. Maar sy stem was stil. Doodgeskiet en verdruk. Hy lewe glo net een keer per jaar op ‘n fees in Santa Fe. Hulle is ook amper uitgewis deur die witman se skitterende vermoe om te verwoes, sover hy gaan.

Jou mense se mense se mense is dood van die honger omdat die bisons doodgeskiet is, omdat almal na die goud gestorm het, omdat ons siektes julle doodgemaak het. Omdat, omdat, omdat…

“Do you have a reservation madam? No, do I look like an Indian”, lees ek raak. Lekker lag ons? Jou mense is in die “reservation” geplaas, omdat hulle grond gesteel is. Julle wat 14 000 jaar gelede al na jul grond getrek het.

Ek gaan soek jou in die reuse CD-winkel in New York, maar ek kry jou weggedruk onder “world musiek”. Was hierdie wereld nie eenmaal joune en al die ander stamme s’n nie. Het julle nie in harmonie geleef met die omgewing nie? Net gejag vir die honger nie? Nie vir die lekker of vir geld nie. Ook jou geloof het die omgewing in ag geneem en ingesluit. Ek koop jou dreunsang CD, want dit is so mooi.

Ek loop my voete stomp om meer van jou te leer en spoor ‘n fraksie uiteindelik van jou op in Denver in ‘n museum. Ek luister na jou dreunsang en die wonderlike, maar pynlike gedigte oor die witman se verdoemende koms. Jou wyse woorde oor die ekologie en biologie.

Hoe die aarde om jou verkrag is, hoe die vergrype na goud alles verander het. Ek wil aan jou kleed vat.

Ek wou jou, of net iets van jou, saam met my terugneem Geronimo, maar ek kon nie. Uiteindelik vind ek die winkel aan die voet van die Rockies waar jou kuns te koop is. En ‘n klein ikoon wat baba’s by hul geboorte kry, om geeste weg te hou, word myne.

Net dit en ‘n handvol poskaarte. Net dit.

Advertisements