Archive for the ‘sielkunde’ Category

Lady Gaga

Dit was jare der jare wat ek na die flou-tee popmusiek en ligte musiek probeer luister het, seker 20 jaar.

Seker die enigste groep met ‘n hoofsanger met ‘n goeie stem was Queen en dan miskien Madonna.

Maar niks het werklik my aandag getrek nie – ek is net te kieskeurig wanneer dit by musiek kom.

En toe arriveer Lady Gaga – uitdagend en kreatief soos Madonna destyds mense na hul asems laat snak het omdat sy durf waag het om die woorde “god” en “virgin” te gebruik. Maar daar is twee verskille Lady Gaga se stem is 100 keer beter en sy maak intens belangrike sosiale kommentaar. ‘n Geleentheid wat die meeste sogenaamde celebs laat verby gaan.

Die oppervlakkige kommetaar sou wees “sy trek aandag”. Nee sy het nie nodig om dit te doen nie, haar stem en besonderse looks doen dit klaar. Dis eksistensialisme op sy beste.

Maar nuwe CD: Born this way, spreek boekdele tot soveel aspekte van die samelewing.

Hy sit eenkant op die sypaadjie, vuil en sonder skoene. Waai die hele tyd met sy hand iets onsigbaar voor hom weg, maar ek weet hy sien wel iets. Ek wonder wat is dit?

Hy praat aanhoudend met homself – of so dink die mense. Maar ek weet hy praat met die stemme wat hy in sy kop hoor. Met die spoke, die monsters en die ander mense wat met hom praat. Die hallusinasies. Vir hom is dit regte mense.

Soms koop ek vir hom iets om te eet. Hy vra nooit vir geld nie. Toe ek klein was, het ons van boemelaars genoem. Maar ek verstaan hoekom hy een is, en daar is bitter baie soos hy op die strate. Ek sien hulle gereeld, die tipiese simptome: onbehandelde skisofrenie.

Mens dink diegene wat aan skisorenie ly is doodeenvoudig net “mal”, so kan ons hulle maar buite op straat, koud, honger en dors los. Hoe verkeerd en tipies onmenslik is ons nie al weer nie. Ons dink met inagting oor diegene op straat maar onder nie dalk oor die redes hoekom hulle daar is nie. Baie is weens onbehandelde psigiatriese siektes.

Hoewel skisofrenie ‘n komplekse en chroniese siekte van die brein is, is dit behandelbaar, vir die sowat 1,5% van mense wat daarvan ly. Daar is tientalle hoogs suksesvolle anti-psigotiese middels op die mark.

Simptome

Word in 3 kategoriee verdeel. Die siekte het siklusse en daarom moet die persoon medikasie kry om hom stabiel te hou. Die siekte word veroorsaak deur ‘n chemiese wanbalans van die neurosender, dopamien.

Positiewe simptome: Dit is redelik maklik onderskeidbaar van mense wat nie siek is nie, omdat mense met die siekte kontak met die werklikheid verloor. Dit is dinge soos hallusinasies, vervolgingswaansin, stoornisse van beweging en stoornisse van denke en verkeerde persepsies. Mense hoor baie keer stemme en sien dinge, wat vir hulle werklik is.

En van die gewildste hallusinasies is om God te hoor en te sien. Die ander een wat voorkom by die paranoiese skisofreen is dat iemand hulle agtervolg of dat hulle gemerk is in een of ander samesweringskomplot. Baie hoor boodskappe wat uitgesaai word. (Daar is verskeie tipes skisofrenie)

Ek persoonlik dink dat sommige “profete” en diegene wat beweer Aliens gaan/het hulle kom haal psigiatriese hulp nodig het. Die blyk ook teenwoordig te wees by sommige fanatiese sekte-leiers.

Negatiewe simptome

‘n Verlies aan die vermoe om alledaagse planne uit te voer, te praat, emosie te toon, en plesier te put uit die lewe. Die simptome is moeiliker om agter te kom. ‘n Monotone stem en “plat” gesigsuitdrukkig kan voorkom, en sommige mense kan net praat wanneer hulle geforseer word.

Kognitiewe simptome

Swak uitvoerende funksionering (die vermoe om inligting te absorbeer en te verstaan en op grond daarvan besluite te maak en uit te voer)

Swak aandag en probleme met die werksgeheue (die vermoe om inligting wat pas geleer is te onthou en dit dadelik te gebruik)

Mite

Die siekte kan behandel word, dit is die heel belangrikste om te onthou. En dat daar geen rede is om “bang” te wees vir iemand met die siekte nie. Die aggressiewe-beeld wat in flieks geskep word is totaal onwaar. Dit is net ‘n gepynigde individu wat in stilte swaarkry. ‘n Skisofreen gaan jou nie “aanval” nie, of jag nie.

Die persoon het ook nie ‘n sogenaamde “gesplete persoonlikheid” nie. Die een wat die swaarste kry is die siek persoon nie jy nie. Die mites is maar net nog van die hartseer stereotipes van die Amerikaanse monster.

Veral die nuwe generasie anti-psigotiese middels het aansienlik minder newe-effekte. Na ses weke van behandeling, of gouer, is die meeste mense aansienlik beter, hoewel elkeen anders reageer. Anti-depressante kan ook bygevoeg word.

Dit is belangrik dat families en vriende ook betrokke is by die hantering en die bestuur van die siekte. Die waarde van liefde, verstaan en omgee as deel van ‘n program moet nooit, ooit onderskat word nie.

http://www.mentalhealthsa.co.za/schizophrenia.html

http://www.supportsabda.co.za/

Bron: National Institute of Mental Health

As ons na depressie kyk, waarvan daar baie vorme is, dink ek moet ons eers verder terug kyk. Dit is nie ‘n nuwe siekte nie, mense was nog altyd depressief, deur die eeue is hulle maar net uitgestoot, in sanitoriums gesit, in kamers opgesluit, randfigure geword of selfmoord gepleeg. Dieselfde geld vir alle ander siektes van die brein.

Dit is maar die laaste paar dekades wat daar met ander oë daarna gekyk is, omdat medikasie ontwikkel is wat daarvoor help en stadig maar seker breek ons deur die stigmas.  Ek persoonlik verafsku woorde soos mal, gek en kranksinnig. Of “hy is nie lekker in die kop nie.”

Depressie of enige ander psigiatriese siekte is ‘n siekte van die brein, net soos ‘n siekte van die hart (hartomlyning) of pankreas (diabetes).  Mense met depressie het ‘n chemiese wanbalans in die brein. Jy kan dit nie reg eet nie, jy kan nie sit en wag nie, en jy “kan nie jouself regruk” nie.

Dit is ‘n siekte wat vra vir deernis, begrip en simpatie.

Geen mens op aarde gaan vir iemand wat ‘n hartomlyning moet kry  sê ruk jou reg nie. Nog minder gaan ons vir iemand wat asma het, sê: Haal net diep asem, komaan!

Waarom is ons dan onsimpatiek teenoor mense met depressie? Waarom sê ons vir hulle dat hulle dit as verskoning gebruik? Verskoning vir wat? Verskoning omdat hulle fisiologies nie instaat is om serotinien en dopamien in die regte hoeveelhede af te skei nie? Twak. Ek dink sulke uitsprake is oningelig, ondeurdag en almal van ons behoort beter materiaal te lees.

En indien die depressie akuut is, waarom kan mens nie ook die pyn van die lewe behandel as ons ‘n hoofpynpil drink vir elke liewe babalas nie?

Baie navorsing word gedoen en die aanduiding vir veral major depressie is ‘n sterk genetiese basis. Dit is nie ‘n enkele geen nie maar etlikes saam, asook betrokke genetiese seinbane wat depressie veroorsaak.

Depressie moet met medikasie, psigoterapie en dan so bietjie oefening behandel word. Voedselaanvullers help nie! Pasop vir St. John’s Wort saam met anti-depressante, dit inhibeer die opname en kan baie gevaarlik wees, dit werk ook op ander middels in.

Daar is verskillende tipes depressie.

Om “af of down” te voel is normaal. ‘n Mens kan jouself aftrek en af voel, maar ‘n mens kan jouself nie klinies depressief maak nie.  (Die enigste uitsondering is die gebruik van dwelms wat neuro-toksies is vir die brein en depressie as newe-effek het).

Maar mens kan nie depressief oor jouself bring deur negatiewe gedagtes nie. Jy kan dit ook nie wegkry deur positiewe gedagtes nie.

Hier is van die simptome (jy kan van hulle hê, dit hoef nie almal te wees nie en is net ‘n riglyn)

Bedrukte gemoed

Verminderde belangstelling en/of ervaring van plesier van dinge waarvan jy hou

Slaapversteuring

Verandering in eetlus of gewig (meer eet/minder eet of gewig optel/verloor)

Moegheid en lusteloos

Selfverwyt

Waardelose gevoel

Skuldgevoel

Vergeetagtig en swak konsentrasie

Besluiteloosheid

Psigomotoriese traagheid

Agitasie en irritasie

Selfmoordgedagtes

Psigiaters bepaal presies wat verkeerd is en watter tipe ‘n mens het na aanleiding van die internasionale standaard: Die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM-IV)

Sover ek weet betaal die meeste mediese fondse chroniese medikasie vir depressie indien dit gemotiveer word deur ‘n psigiater.

Hier is ‘n goeie bron:

http://www.nimh.nih.gov/health/topics/depression/index.shtml

Skaf gerus prof. Piet Oosthuizen se boek: Ontsnap van Depressie aan.

As jy alleen is raak jou hond (of kat) al ouliker en dalk verskyn ‘n engel aan jou…

Natuurlik dit is ‘n verskynsel bekend as antropomorfisme, waarin mens aan iets wat nie-menslik is nie menslike kwaliteite gee. Allerhande dinge raak jou “vriende”.

Navorsing deur die Universiteit van Chicago (University of Chicago) wat binnekort gepubliseer sal word in die akademiese portuur joernaal (http://www.psychologicalscience.org/) toon ons skep dinge om ons om die pyn van alleenwees te verlig.

Mense se god/gode, troeteldiere en tegnologie as lewend – dus ‘n funksie van die brein om ons te troos in oomblikke waarin ons alleen is.

Ek persoonlik vind dit nie vreemd dat ons die hond as een van die troos-objekte kies nie, aangesien die dier die eerste was wat die mens makgemaak het derduisende jaar gelede. Alle honde wat vandag leef stam van wolwe af. Die hond se volledige genoom is reeds gekarteer en kan bestudeer word by http://www.genome.gov/17515860

Die navorsers het ‘n verband gevind tussen hoe alleen mense voel en hulle neigdheid om aan diere en voorwerpe menslike eienskappe toe te ken. In nog ‘n eksperiment is mense opsetlik alleen laat voel deur aan hulle te vra om te skryf oor die tyd in hulle lewe toe hulle die eensaamste was. Onder die omstandighede was hulle meer geneig om aan god, engele en wonderwerke te glo as toe hulle nie eensaam gevoel het nie.

Hulle het ook beskryf hoe ‘n troeteldier menslike kognitiewe funksies het, soos om te verstaan hoe hulle voel, empatiek te wees en dies meer.

Die brein is inderdaad ‘n kragtige orgaan.

Maar soos die gerekende eksperimentele sielkundige en skrywer Steven Pinker, (How the Mind Works) sê. Die brein en verstand  is nie twee entiteite nie. Dit is een: neurologiese seinbane en selle wat aanhoudend vuur. Dit is neuro-elektrisiteit. Niks meer en niks minder nie.

En “vreemde verskynsels” kom voor wanneer die orgaan, soos die res van ons liggaam verkeerd loop of daar ‘n chemiese wanbalans voorkom.