Archive for the ‘verhaal’ Category

Ek dink nie ek ervaar die dood, of die sterfproses van mense, anders as ander mense nie. Die enigste verskil is dat ek nie glo daar is ‘n lewe na die dood nie. As jy dood is, is jy dood.

Die lewe is vir my intens, vir my is dit, ál wat daar is – die hier en die nou. Want nadat die hart ophou klop het, sterf die allerbelangrike brein. En sonder hom is ons niks.

Die afgelope maande het ek nie geblog nie, want ek het niks gehad om te se nie, nie omdat ek ongemaklik was met die dood van ‘n nabye persoon nie, maar omdat woorde net te veel was. Hoe lank ‘n mens se liggaam uithou is seker maar hoe die kaarte vir jou val.

Vandag is dit twee maande na haar dood. In daardie laaste dae was sy verdwaal en deurmekaar, onbewus selfs van die kanker in haar liggaam. Oë strak in haar kop. Ek het daardie dag by haar gesit en verduidelik wat aan die gebeur is.

Ek is nie ongemaklik met die dood nie, selfs nie met sterwendes nie, ook nie met geloof nie.

Sy was Joods en ek was die volgende dag soos gebruiklik by die begrafplaas. Geluister na die Rabbi se singende stem in Hebreeus. Soos altyd is ‘n stukkie van ons klere geskeur by jou kis.

Ek verstaan waarom mense glo, dit maak dit bitter min tyd op aarde wat ons het soveel meer leefbaar en verteerbaar. Iets om na uit te sien – ‘n geloof dat alles nie net eensklaps eindig nie. Dis net, ek kan myself nie oortuig nie, kon nog nooit. Dit sou seker eintlik makliker gewees het.

Advertisements

Ek moet ET verdedig

Kyk ek moet darem vir Eugene Terre’ Blanche ‘n lansie breek. Dit gaan oor die voorval die dag toe hy van sy perd afgeval het in 1991.

Sien ek was daar die dag. Op Kerkplein in Pretoria. Ek het knap onder Paul Kruger se standbeeld gesit en gesien hoe mense van die KP, AWB en die tien oorblywende lede van die HNP ‘n massa-vergadering gehou het.

Ek was bloot ‘n nuuskierige student wat saam met ander studente na ‘n gratis skouspel wou gaan kyk.

ET het op sy perd geklim. Arme perd. Destyds was ET nog bitter vet – die perd het so diep gesak toe hy met mening opgeklim het.

Toe begin hy en die hele brigade met bravade gallop. En toe gly sy perd op die gladde stene. Die perd het geval. Arme perd. En toe val hy ook; reg agteroor.

Hy het moer hard geval.

ET het blitsvinnig opgespring nog voordat sy perd met skoppende bene en ‘n runnik kon opkom. Die manne in swart het die perd onder beheer gekry en ET is weer op hom.

En ja dit is wat gebeur het; so tegnies gesproke het hy afgeval omdat die perd afgeval het. Sien.

Daar was mense in Voortrekker-klere, ou klere. Weird. Lang rokke en kappies in die warm son. Frikkedelle en eiers in hulle mandjies met flesse koffie.

Toe ‘n paar maande later het hy in die PTA stadsaal gaan praat en ons het weer na sy skreeuende doem sang gaan luister. En toe besluit sy manne hulle gaan die strate invaar – onwettig.

Die polisie het met traanrook en rubberkoeëls op hulle geskiet, in die warboel het ons tussen hulle beland. Al laggend en gillend is ons in die strate af.

Later het ek afgebuk en een van die rubberkoeëls se doppies opgetel, ek het hom vandag nog, iewers in ‘n kas.

Oor ‘n bier teen R2 een het ons gesit en lag oor alles; die mense, die toespraak, die skietery, weer die mense – hoe hulle gelyk het en die vrae wat hulle gevra het.

Ek wonder waar is al daai mense nou, want al drie die sprekers van die dag, Jaap Marais, ET en Andries Treurnicht is dood.

Ek wonder of daardie mense steeds hulle kontinent, Afrika, vrees.

Toe wit mense die land regeer het was daar altyd ‘n onderliggende vrees vir swart mense gewees, natuurlik. Mense was bang vir die opstand van die swart massas “wat ons in ons beddens gaan kom vermoor”. Met reg, van die wit mense se die swart mense onderrig.

Ek kry deesdae die gevoel ‘n klein groepie wit mense is weer so skytbang vir die “swart massas”. Hoekom? Hulle propaganda en vrees in die hoop op steun.

Maar wat my vies maak is dat dit onder die naam van die “afrikaner” gedoen word. Dit moet onder die naam van “verregs” gedoen word.

Gay en dit is fine!

Ek blog nou al vir twee jaar, dan oor dit en dan oor dat. Bietjie van reise, bietjie van my ouma, bietjie van wetenskap.

Maar ek sien baie mense keer eintlik maar terug na God, seks, en spot met die politiek. Nie een van die drie is vir my juis besonders nie, maar wat ek wel weet is dat die drie baie verskillend is.

Tog kry ek soms die gevoel dat god en seks en die bybel met mekaar verwar word – of soos een of  ander stroom wat saamvloei. Eens was daar ‘n erge obsessie met die Jode en die swart mense en nou is dit wat in die slaapkamer tussen gay mense gebeur – dit is nie eintlik meer of minder as wat in ander slaapkamers gebeur nie.

Daar word gewoel, lank geskryf, ek ja veroordeel oor ander se lewens waaroor mense geen clue het nie, oor sonde, vloeke, die hel, die duiwel. En moet tog nie die euwel en gruwel van sogenaamde gay seks vergeet nie. WDF?

Soos ‘n passer in die wiskundeklas – al om een gat.

Ek kry die gevoel daar is sekere straight mense wat meer wroeg oor gay-wees as al die gay mense saam! Dis ‘n nasionale obsessiewe kompulsie.

Ou uitgediende ou redenasies, oor en oor en oor. Dit is so boring. Orals in die samelewing. Keuse, orientering, oordeel die sonde en nie die mens nie blah-blah, teksies uit die bybel.

Raai wat? Nie alle gay mense wroeg met seksualiteit, depressie, god, hulself, hulle ouers en die lewe nie. Dis nie ‘n siekte nie en dis nie “so erg” nie. Nie alle gay mense is moffierig en butch nie. Nie almal is snaaks nie. Dit is nie ‘n karikatuur in ‘n cartoon nie, jinne.

Just go get ‘n life! Just let it go. Niemand bedreig jou lewe of hoe jy lewe nie. Worry eerder oor kanker, padongelukke, kos en water, oorbevolking en maak jou kinders groot.

Ek is gay. Ek dit is net hoe ek is. Neither here nor there. Nog my hele lewe. Dit voel ook nie anders nie. Ek struggle nie.

Dit was nog nooit ‘n issue nie.  Issues is al wel baie gemaak deur ander mense, nie deur dit wat ek binne myself is nie.

Niemand het met my gelol nie, geen trane is gestort nie. Geen fokken polse is gesny nie. Almal is okay, my ma ook.

Maar my gay-wees is nie wat my as mens definieer nie, glad nie. Dit is net ‘n klein deel van wie ek is. Ek is ‘n mens en ‘n vrou. Dit is wie ek is.

Ek is wettig getroud met ‘n vrou, omdat ek wou. Ons is gelukkig.

Sondes van die kinders

Dis seker nou 5 jaar dat my  ma vir ons vertel, vanjaar gaan sy vir haar nekoperasie. Nouja kersfees het sy weer vir ons vertel: 2010 gaan ons nou uiteindelik soort van kak, as sy uiteindelik vir die groot operasie gaan. Want dit gaan maande en maande vat om reg te kom.

“Ek het vir die dokter gese, ek gaan uithou tot ek nie meer kan loop nie. Dan sal ek gaan,” se sy.

Sug. “Ma, as dit so erg is, gaan die operasie tien keer erger wees,” se ek.

Sy het ons vertel sy kan nie meer haar arms oplig toe ons oorsee is nie, maar sy het lekker geshop en geeet.

Sien dit is eintlik my skuld dat my ma se nek gefok is, beweer sy altyd subtiel.

En daar laat waai my ma met haar storie. “Twee van my nekwerwels is verkrummel. Want ek het jare gelede geval. Plat op my gesig, ” se sy vir Liefie.

1980. Ons badkamer.

My ma gaan aan met my oor iets. Ek kan nie meer onthou wat nie, maar ek het basies nie saamgestem nie.

En toe sien ek haar hand kom. Hy mik vir my boud, my kaal boud. Nee!

Ek spring op en hol weg. Soos altyd.

En hier kom sy sowaar agterna! My ma dink sy kan my inhol.

Wap, val sy. Op die nat badkamervloer.

En vir 30 jaar hoor ek die storie.

Hoekom my ma nie jaaaaaaaaaaaaaaaaaaaare gelede al haar nek laat uitsorteer het nie, slaan my dronk. Ek verstaan dit nie.

En ek het aangehou om weg te hol vir die pak slae. En het het nooit opgehou vloek nie. Steeds nie. Al het ek op 5 my eerste pak gekry oor ‘n vloekwoord.

Sien soms werk dit nie.

So vanjaar haal daai weghol-pakslae my in. Want dit gaan fokkin moeilik wees.

Plaas ek maar daai dag gestaan het vir die pakslae in die badkamer.

Die trein na Malelaan (1)

Vyf-uur daai oggend, jare gelede, toe ek al die oumense op die Kaapse stasie sien, wonder ek: Hoe het ek nou weer hier beland? Ek kan nie so lekker onthou nie, maar ek het ja gese.

Ek en seker 350 oumense. Net oumense. Op ‘n trein vir 10 dae van Kaapstad tot by Malelaan. Shit.

Paniek tree in (ek is nog okay) wie klim waar in, wanneer ry ons, waar PP jy, poefie mense in die ding, waar is die bad? Oh is hier nie ‘n bad nie? “As ek dit geweet het, het ek nie gekom nie”. moan die spul al klaar.

Nou waar is my kajuit? Vra 350 gelyk? Dit ten spyte van die feit dat elkeen se naam in grootskrif op die kajuit of coupe se deur geskryf is. 🙂

Dank vader, in my coupe, en doef toe met die deur. Stile. Nee, die “mure” is so dun ek kan alles hoor wat die oom en tannie vir mekaar langsaan se.

Niemand het my gese nie, of ek het seker nie gelees nie, dat ons eers vanaand stop vir kos. Geen eetsaal. Ons eet van die trein af. Okay dankie. Dan drink ek maar.

Vaal van die honger kom ek aan by die eerste ete. Ha! Lekker die spul kon mos nie lekker geloop kry op die perron nie. Kla, rugpyn, verkeerde skoene etc. So, ek kan lekker voor hulle uithol om eerste in die ry te staan. Wa! Nee, al hulle skete en kwale is weg, die stof staan in die grondpad soos seker 50 van hulle veeeeeeeer voor my laai waai. Okay.

En nog 20 druk voor my in die tou in. Elmboog my uit die pad, en kyk net doooeeerrr voor hulle uit.

Uiteindelik kry ek so taaierige stuk vleis met pap en vleis. Teen die tyd het ek ‘n bottel rooiwyn op ‘n leë maag in.

Ai maar die lekkerste-lekker is die nag se wieg-wieg hier deur die Karoo, soos slaap in ‘n sakkie op jou ma se rug. Swaai-swaai. Ek sal elke nag van my lewe op ‘n trein kan slaap.

05:00 am toe staan daai oom en tannie langs my op. Kadoef met die deure en die banke. Waarheen gaan hulle? Nie lank nie toe is die res op en af in daai trein. Hulle skrop nes en hulle borsel.

Hallo? Ontbyt is in Johannesburg op die stasie. Wat de?

Slaap verder. Ek skrik 9 uur wakker en sien, maar ons is ver van Johannesburg af. O sorry ja ons moes in die nag stop en wag vir ‘n ander trein.

Toe ons middagete vir die ontbyt opdaag toe vreet ek soos ‘n komadoewurm op daai stasie en koop sommer nog kos vir die res van die reis.

En ek loer vir die ooms en tannies en hulle loer vir my

Kyk ek is gek oor oumense, maar die lot is nie net oud van gees nie, maar misbruik ook hul ouderom vir allerhande verskonings om mislik te wees. Dit was eers later wat ek die die lekker tannies op die trein ontdek het.. . . (word vervolg)

Om in die pad te lê

Saterdagoggend. 3 Oktober 2009 om 08:00

Twee bergies vloek mekaar onder hulle ma se rokke in. Die ene is so dronk hy praat van: Jou ma se push.

Ek het die grootste gedeelte van die week van 6 tot 6 gewerk. Al wat ek wil doen is slaap.

Want more, moet ek weer werk, soos my ma sê: “Op die heilige Sondag”.

Een afdag en langs my ore breek die bottels en die bergies baklei, maar oor ‘n rukkie gaan hulle mekaar weer uit liefde bespring.

Die honde blaf.

Ons lê ‘n rukkie en hoop dit gaan weggaan. Die bekgeveg raak meer intens.

Eintlik gaan die rusie oor niks. Absoluut niks. Dit is Jerry Springer Suid-Afrika. Dit is net vloekwoorde in reekse sinne wat geen sin maak nie.

“Shut up!” skree ek sommer so vanuit die bed. Dit het voorheen al gewerk, die stem wat sommer so vanuit nerens gil. Dan is hulle heel verskrik oor die pratende muur.

Die keer help dit niks.

‘n Uur later moet ek gaan hare sny, klaar ‘n traumatiese ervaring vir my, want ek verpes dit as iemand aan my kop vat. Iemand het seker toe ek klein was ‘n hoed op my kop vasgemaak – waarskynlik my ma.

Die haarkapper is nog okay, ek en hy verstaan mekaar, hy weet hy moet nie my kop beswerm nie. Maar die meisies wat vir hom werk wil my net masseer van oor tot oor.

Terug by die huis se liefie: Dis doodstil hier buite. Die twee het uitgepass. “Maar die een se kop lê in die pad, wat as ‘n kar oor haar kop ry?”

En toe dink ek aan my Lief se hart.

En aan die arme mense se bestaan op straat, hul verdoemde alkoholisme, hul pyn en honger, hul siektes en die lewe wat hulle ly in plaas van lei.

Miskien moet ek nie volgende keer “shut up!” skree nie, maar iets ander doen, iets minder kwaad, iets wat my en hulle beter sal laat voel.

My Oom se Scopes

Ek is tog so bang ek mis iets – miskien is dit my motto in die lewe.

Toe ek klein was, het ek die aand voor my verjaardag nooit geslaap nie, want ek was bang ek gaan dalk in my slaap dood. Op Oukersaand sou ek so gejaag het na die kersboom, dat ek baie keer geval het, netnou mis ek iets.

Selfs vandag wil ek al die nuwe boek in die hele wereld lees, ek wil alles sien, alles eet en voel hoe voel daai nuwe ding.

Toe my oom army toe is, het my ouma (die ander een) sy kamer binnegevaar – op soek na die vieslike Scopes wat hy so lees. Sy het hulle opgespoor en korte mette van hulle gemaak – in die koolstoof.

Hy het baie suur van die army teruggekeer. Maar my ouma het volgehou “dis sonde”.

So paar maande daarna is my oom saam met ons op vakansie en ek hoor hoe hy vir my pa vertel van sy verlore Scopes. Ek het eintlik grootoor gesit en afluister.

My pa het met hom gesimpatiseer. My oom het gese, ‘n paar van die Scopes het die slagting oorleef en is nog in sy kamer.

Ek was 7 jaar oud en het glad nie geweet wat dit is nie, maar wel dat dit ‘n tydskrif is en baie, baie lekker klink. Ek moet een sien. Ek moet net.

Woerts is ek in my oom se kamer in toe ons weer een Sondag by my ouma-hulle gaan eet. Vinnig met krappende vingers tussen sy klere en in sy laaie.

En sowaar, daar kry ek een. SCOPE, se dit. 😀

En daar is ‘n kaal vrou met sterretjies op haar tieties. Wow.

Ek het die boek daar weg, kombuis toe. Nou moet ek die sterretjies afkry om te sien wat is daar onder. Krap-krap met die mes – regdeur die bladsy.

Okay ander ene. Krap-krap. Oeps.

Sal ek nou die Scope weggooi in die “asgat” en laat my ouma die skuld kry, sal ek die boek heelonder terugsit, of  wat?

Ek het maar die boek teruggesit. Ek wonder wat het my oom gedink toe hy dit kry. Ek moet hom tog vra eendag.

Die onverwagte kind

Het ma gemaklike skoene vir oorsee? vra ek.

Ja, maar hulle lyk lelik, by die broeke wat ek vat, so ek gaan hulle nie saamneem nie, ek vat my mooi sandale.

😯 Dit gaan nie oor mooilyk nie, ons gaan nie oorsee om uit te hang nie, vat asseblief die gemaklike skoene, asseblief.

Oh, sug, my ma.

My ma het my ook plegtig meegedeel dat sy al haar pille uit hulle boksies gaan haal, en in klein sakkies gaan pak in haar tas.

😯 Nee! Hou dit in die boksies, met die apteek se plakker op, het ma geweet die mense wat die meeste dwelm-donkies is, is ou tannies? Ek picture al my ma met al haar pille en ek in die tronk.

Maar dan gaan ek twee toilet-sakkies nodig he vir al my pille? Nee ek gaan nie.

Ja, jy gaan. En die pille gaan nie in die tas nie, as hy gesteel word, sny ek my polse. 

(Wat ek haar nie vertel nie, as as haar tas wegraak – soos dit al 1 keer voorheen gebeur het – met of sonder pille sal ek tien kalmeerpille ‘n dag  en tik nodig he. Want daai vorige keer was dit nag-nag-nag, sy het my uit-ge-fokken-mergel oor die tas – wat 2 dae later opgespoor is.  Teen daai tyd het ek al ‘n buite-geestelike-liggaamlike ervaring gehad, dit het gevoel of ek vier oe en iemand anders se siel het – so het sy gemoan)

En so gaan dit. Die en daai kant toe met alles.

Ma, suster en Rosalind gaan vir die eerste keer in meer as 20 jaar alleen saam met vakansie.  Ek sien baie uit om weer te bond en alles. En op die program is een van die wonderlikste kitch dinge: Die Sound of Music toer! Hoop ek kan ‘n T-shirt kry van Maria von Trapp.

Ek is so lief vir my ma en my suster. My ma het vreeslik baie vir ons twee opgeoffer – baie baie.

Maar sy is lankal  die kind en ons die ma’s.