Archive for the ‘boeke’ Category

Meer as 200 jaar gelede was daar ‘n vrou met die naam van Emily Holloway. Sy moes geletterd gewees het in musiek en anders as die meerderheid van vroue van haar tyd, wat nie formele skoolopleiding ondergaan het nie, moes sy kon lees en skryf.

(Ek meen Elizabeth Blackwell was na ‘n helse stryd toegelaat as die eerste vroulike mediese student in die VSA in 1847 – ek kan my net indink deur watse geveg sy is. En eens in 1908 is vroue in Brittanje toegelaat om snydokters te word. Die meeste vroue is ook eers toegelaat in universiteite net vir vroue. Punt is, formele onderrig vir vroue is eers in die Victoriaanse era gesien as nodig en het begin by die meer gegoede mense. Daarna het dit teen die begin van 1900 gedraai.)

Emily het seker by haar skryftafel gaan sit, en met hierdie mooi handskrif haar naam, blyplek en die datum: 5 November 1798 voorin die boek geskryf. Die boek bestaan uit kerkgesange of “Hymns” soos dit geskryf is, en die Engels is nog nie heeltemal modern nie.

boek2

Die samesteller van die boek is: E.M. Moore en geen drukker/uitgewer is voorin aangedui nie, hoewel die paper van goeie kwaliteit is en die boek in ‘n goeie toestand is. Die kondisie is nie “mint” soos versamelaars na stukke verwys wat basies splinternuut lyk nie. As ek baie geld gehad het sou en beslis meer sulke boeke, nog ouer boeke en geskiedkundige eerste uitgawes versamel het.

boek1

Ek besit die boek al 20 jaar en hy het orals saam met my getrek. Ek is verknog aan Emily se boek. Maar dit is haar klassieke handskrif, daardie tikkie uniekheid in die boek, die persoonlikheid van die vrou wat my lief vir hom maak.

Emily was iemand. Ek wonder wie sy was. Was sy gelukkig, of was sy nie. Hoe het sy haar dae deurgebring? En waar het sy leer lees en skryf? Hoe oud was sy toe sy die boek gekry het? Hoe het sy gelyk?

Ek wonder al jare oor haar. Ek was verheug toe die inskripsie in die boek se inskripsie 200 jaar oud geword het in 1998. Dit was soos ‘n wasdom.

boek3

Om haar toe soek op die argiewe wat natuurlik nie alles op die web is nie is moeilik, en jy moet weet waar om te soek, die vet weet. Ek het ure na Emily gesoek.

17 MAR 1779 Warblington, Hampshire, England – die doop van ene Emily Holloway, kon ek kry.

Haar ouers was Ann en Joseph. Maar of dit my Emily is weet ek nie, hoewel die datums ooreenstem. Met ‘n helse gesukkel het ek uiteindelik uitgevind Emsworth was ‘n “parish” in Warblington.

Maar daar le nog baie werk voor as ek seker wil wees en meer wil uitvind oor die eienaar van die unieke boek.

En, die boek se reuk, ek kan julle nie eens begin vertel watter geheime daarin vaskleef nie. Onopnoembaar subliem.

Advertisements

Seker een van die mooiste woorde vir my is “solitude”.

Seker daarom wat een van die pragtigste boeke wat ooit gepen is, uit die kop die van een van my gunsteling skrywers, Gabriel García Márquez (80), dus met die gepaste titel: One hundred years of solitude, is.

Die boek handel oor die fiktiewe dorpie Macondo in Suid-Amerika en sy mense, meer spesifiek verskeie generasies van die Buendía-familie.

Die mistieke realisme waarin hy skryf vang jou vas in ‘n wereld waarin jy wonder, bedoel hy wat hy skryf of nie? Die skrywer het my jare gelede vasgevang in sy greep en ek sit steeds gemaklik in sy arms. Die tema van “solitude” is in die meeste van sy werke.

Dit is nie eensaamheid, of afsondering nie. Dit is iets anders. Amper iets wat stilstaan in tyd en eens is daarmee. Stil en rustig maar wetend.

In 1982 het hierdie Colombiaan,die Nobelprys vir Letterkunde gewen.

Daar is ook Chronicle of a Death Foretold; Love in the Time of Cholera (wat verlede jaar in ‘n fliek omskep is); Nobody Writes to the ColonelOf Love and Other Demons; In Evil Hour, Leaf Storm meer.

curry_gabo

(Foto: Patrick Curry)

 

Sensoriese sensualiteit

Hy het die fynste neus in die vuil strate van die 18de eeuse Parys, maar self geen reuk van sy eie nie. Die betrokke man in die verhaal.

Hy kan alles ruik, letterlik alles. En dit afbreek in die fynste dele.

En die mooiste reuk op aarde, ‘n vrou natuurlik, of die kombinasie van ‘n klomp vroue. Elkeen, wat iets bepaald verteenwoordig. Maar hoe op aarde vang ‘n mens die reuk van ‘n vrou, haar essence op?

Die boek Perfume van die skrywer Patrick Süskind het ek in 1995 vir die eerste keer gelees, later weer gelees en ek sal hom in my lewe weer lees. Hy sal op my boekrak bly.

Die emosie en sensualiteit van ruik, regtig ruik word in hierdie klassieke boek wat vir die eerste keer in 1985 uitgekom het, onbeskryflik beskryf. Die neem jou op ‘n sensoriese reis soos mens jou net nie kan voorstel nie.

Die boek ontstig natuurlik ook so bietjie, seker omdat manipulasie ‘n rol speel en moraliteit. Maar ek sal nie te veel weggee nie.

Die fliek Perfume het ‘n jaar of wat gelede uitgekom en die het ek ook geniet. Alhoewel ek altyd die boeke verkies. Maar dit was een van die min flieks wat goed uitgebeeld is.

Elke nou en dan sal ek skryf oor van my gunsteling boeke – in hulle eie kategorie.

Onrustig het so rukkie gelede geskryf oor die idee om oor boeke te skryf, so die inspirasie is ook aan hom te danke.

Foto: http://www.elegant-lifestyle.com