Archive for the ‘argeologie’ Category

‘n Mens het ‘n kans om ‘n natuurlike mummie te word (‘n per abuis mummie), mits die omgewingsomstandighede van so aard is. Daar is al baie sulke mummies gevind, mens moet net op die regte plek soek, of per ongeluk op een afkom!

Die mense is nie deur ander mense gemummifiseer nie en het net daar waar hulle gesterf het, of in hulle grafte/tombes danksy die omgewing en/of chemiese prosesse gemummifiseer. Ek sou nie se per abuis mummies is net moderne mummies nie, soos sommiges dit beskryf nie, hierdie mummies kan baie oud of wees of jonk.

Daar is ‘n paar maniere: in bitter koue omstandighede, in baie droe omstandighede (waar dit ook verkieslik koel is -maar nie noodwendig), in soutagtige plekke, in baie suurgrond, in ‘n moeras wat bitter dig is.

Nogal interessant is dat die natuurlike mummies oor die algemeen baie, baie mooi bewaar is. Indien mens hipoteties gesproke (etiese aspekte tersyde) in moderne begrafplase sou soek waar dieselfde klimaatsomstandighede teenwoordig sou wees, ten tyde van die begrafnis, sou jy talle goed bewaarde liggame kry. Ek dink nou vinnig hier aan plekke in Rusland (baie koud en droog), China (droog, soutagtig) en in Groenland (perma-frost).

Vreemd genoeg het baie van die menslike offerhandes wat in die suide van Amerika gemaak is behoue gebly, nie omdat die liggame spesifiek gemummifiseer is nie, maar omdat hulle so hoog, droog en in koue omstandighede begrawe is. Die dooies vertel baie verhale: Hoe mense geleef het, wat hulle geeet het, hoe die beskawing geleef het, ens. Onnoembare inligting kan uit die skelet verkry word, insluitend DNS.

Daar is eintlik soveel van die mummies mens kan nie almal noem nie.

Net ietsie oor mummies wat oop monde het: vir indien dit jou dalk ontstel. Wanneer ‘n mens sterf, ontspan die spiere, al die spiere, ook die van die kake. So dit lyk dalk nie mooi as mummies se monde oop is nie, maar hulle het hulsef nie doodgegil nie. Alle lyke se monde val na ‘n rukkie oop. Die vel droog ook uit en trek effe van die lippe weg wat die “gryslag” gee.

(Tensy ons nie bewyse aan die liggaam sien van marteling nie, is hulle nie gemartel nie, soos merke om die nek, en elders op die liggaam, vars gebreekte bene, krapmerke, kneusplekke en dies meer.)

Guanajuato, Mexiko

Uiterste droe omstandighede het hier gelei tot die natuurlike mummifisering van mense. In die laat 1800’s is sowat 100 mummies gevind toe liggame opgegrawe is om plek te maak vir ‘n groter, nuwe begrafplaas.

 

Die Ysmaagd (Juanita)

Sy is in 1995 ontdek en was 14 jaar oud toe sy geoffer is deur die Inkas tussen 1440 en 1450. Sy is met ‘n stomp voorwerp oor die kop doodgeslaan – as offer vir die gode van die berge. Sy is ongelooflik mooi bewaar en word onder beheerde temperatuur-omstandighede gehou.

Sy is bewaar danksy die droe, koue omstandighede

Die DNS-toetse wys sy het genetiese verbande met ‘n ou stam van Panama, asook van haplogroepe van antieke Taiwanese en Koreaanse stamme. Dit versterk natuurlik die hipotese dat mense na Suid-Amerika migreer het vanuit die Ooste, ‘n reeds aanvaarde teorie.

 

 Siberiese Ysmaagd

Die jong vrou was iemand van statuur, ‘n koningin of leier van ‘n stam. Sy is 2400 jaar gelede begrawe met baie seremonie in wat seker ‘n kleurvolle begrafnis moes gewees het. Baie mense moes oor die jong, blonde vrou se dood getreur het.

Sy is in 1993 in Pazyryk gevind, saam met onder meer, die oorskot van ses perde, asook kos. Haar kis is pragtig gekerf met beelde van diere en so is haar liggaam. Daar is etlike tattoeeer-merke regoor haar van verskeie diere en die merke is perfek bewaar. Goud en sy-klere versier haar liggaam. Later het hulle ‘n man gekry, ook met sulke tattoes op, net so goed bewaar.

 

Moeras-mummies

Die mummies kom nogal wyd in Europa voor. Die water is suur en die gebrek aan suurstof keer dat die liggaam ontbind, omdat die modder so dig is. Dit is ook koud. Die mummies wat hierin voorkom lyk ook effe anders, byna plastiek-agtig. Soms vergaan die skelet en die rubberagtige mummie bly agter, met die organe nog daar.

Otzy (dood sowat 3300 v. C) is seker een van die bekendstes. Hy is in die Alpe gevind met hoedjie op die kop, klere aan en sy wapens langs hom.

Daar is al sowat 700 sulke moeras-mummies gekry. In die moerasse is organiese sure en aldehied teenwoordig. Lae van veenmos en turf vou die liggaam toe wat sorg dat oksidasie en water nie kan inkom nie.

Een van die mooi turfmoeras mummies is Tollund-man (onder) wat sowat 400 v. C. geleef het en in die vyftigs in Denemarke gekry is.

Sy verstandtande het ingegroei dus was hy ouer as 20. Hy het ‘n tou om sy nek gehad en is waarskynlik opgehang en toe in die moeras gegooi. Sy laaste maaltyd wat pap was het groot hoeveelhede ergot – wat hallusinasies meebring – bevat, wat baie vrae oor sy dood laat ontstaan. Dit bly ook dat hy tot 24 uur voor sy dood nie geeet het nie.

 

Marco Polo verloor?

Die laaste mummies voeg ek by omdat DNS ons nou instaat stel om nuwe vrae te stel. Die mummies is in China gekry. Hulle dateeer uit tussen 2600 en 4000 jaar gelede en hulle is nie Chinese nie! Hulle het Europese gelaatstrekke en blou oe gehad, en selfs geruite klere gedra. Dus was daar Westerlinge in die Ooste lank voor Marco Polo.

Dié ontdekking dui op ’n onverwagte verbintenis tussen die Ooste en Weste, veel vroeër as wat voorheen gedink is.
Honderde van dié mummies is in 1978 in die Tarim-vallei in die weste van China gevind, maar hulle het weggesteek gebly van die wetenskap in ’n streeksmuseum. Hulle is onlangs weer daar ontdek deur ’n kenner. Die bekende dr. Spencer Wells, ’n antropoloog, genetikus en direkteur van National Geographic se Genographic-projek, is betrek.
Wells het gesofistikeerde tegnologie gebruik om DNS te trek uit die mummies om hul genetiese oorsprong te bepaal. Die baie wol in hul klere dui daarop dat hulle skaapherders was en die Skotse geruit in sommige van hul klere dui op ’n Europese oorsprong. Die voorlopige uitslae is dat die mense van Europa, Mesopotamië, Indië en ander plek­ke gekom het.

         

chinchorroweb.jpg

Twee Chinchorro-mummies met hul artefakte 

(Hier is dan die tweede artikel oor mummies – die wat nie deur Egiptenare gemaak is nie, maar ook nie toevallig gemummifiseer het nie). 

Sover terug as 5000 v. C het die Chinchorro-beskawing, in wat vandag Peru en Chili is, hulle mense gemummifiseer. Hierdie is van die oudste mummies wat spesifiek gemummifiseer is en nie per abuis behoue gebly het nie.

Hulle het ‘n unieke manier gehad om dit te doen:

Die organe is uitgehaal en die vlees is van die bene gesny. Die liggaam is dan weer herbou en versterk deur hout. Die interne organe is voorgestel deur klei, plantvesel en seegras. Die mummie is oorgetrek met die vel van seeleeus en die persoon se eie vel is aan die binnekant gebruik. Die hele liggaam is dan gesmeer met ‘n pasta van as en oker.

Die gesig en seksuele organe is herbou met klei en die hare is weer geheg. Die Chinchorro het dit vir 3500 jaar lank gedoen en die styl die hele tyd aangepas en verbeter (party is rooi gemaak en ander swart).  Dit is eintlik beskou as kunswerke.

Die materiaal wat gebruik is en die tegnieke vertel baie van hoe die mense geleef het.

Nou kyk, vir die Spaanse veroweraars het ek nie veel tyd nie, want hulle was eintlik net plunderaars wat goud gesoek het. Hulle het natuurlik die Inka’s  (1100 n.C tot 1500 n. C) – ‘n wonderlike beskawing – uitgewis deur onder meer kwaadwillig siektes soos pokke en masels onder hulle te versprei.

Hulle het ook die Chinchorro se fantastiese mummie-bondels geplunder agter die bietjie goud aan. Gelukkig is sowat 200 bondels ongestoord ontdek ‘n paar jaar gelede en hier en daar word steeds nog bondels gekry. Die mummies is stewing in bondels toegedraai, amper soos ‘n baba, en wanneer hulle ontdek word, word alles intens bestudeer – tot die manier wat die materiaal geweef is. Die bondels word nie altyd oopgemaak nie, juis om dit mooi te bewaar.

Die Inkas het ook mummies van hulle dooies gemaak. Hulle het die liggaam in ‘n sittende posisie geplaas, styf toegedraai met linne of leer en dan in ‘n groot leerpot of mandjie geplaas. Die mummie is ryklik versier met juwele en ander artefakte. Sout en kruie is gebruik om hulle te bewaar.

Van die mummies wat hoog teen die berge in Peru gevind is, is offers vir die gode gewees – die mense het baie keer kos, juwele, klere en ander kosbaarhede by hulle.

Die Spanjaarde het ons die guns gedoen om die mummies wat gemaak is van die Inka-konings te verwoes en hulle is nou verlore! (Offer-mummies is gekry, maar meer hieroor later).

Die Chachapoya (wolkmense) se mummies is in die negentigs in noord-Peru in hoë grotte gevind. Die vel is behandel en die interne organe is verwyder. Hulle is tussen 500 en ‘n 1000 jaar oud en was ook in ‘n sittende posisie, toegedraai in linne. Navorsing oor hulle mummifiseringsproses word nog op hulle gedoen. (Die mense was in konflik met die Inkas)

Die Capuchin katatombes van Palermo in Sicilië is het in die 16de eeu ontstaan toe die monnike se begrafplaas te klein geword het en hulle begin het om mense te mummifiseer. Dit het ‘n modegrier geword en uiteindelik is 8000 mense in die katatombe ingesit – heel bisar. Die laaste persoon het in 1871 daar tot ruste gekom.

Die tegniek wat gebruik is, is saam met een van die priesters na sy graf, maar wat ookal gebruik is, dit is fantasties want van die mense lyk of hulle slaap. Die kategorië waarin die mense lê is net so bisar: mans, vroue, kinders, maagde, priesters, monnike, professionele mense.

catacombs1-799270.jpg

Palermo se mummies

Vandag? 

Om jouself te balsem is natuurlik heel algemeen, baie mense doen dit steed, vra maar vir die begrafnisondernemer. Maar as jy hoor wat dit kos om te keer dat die wurms jou vreet gaan jy jouself doodskrik. En dan moet jy verkieslik ‘n spesiale kis ook kry, want hout is nie vir ewig nie.

Die res: 

Die volgende artikel gaan oor hoe mense natuurlik gemummifiseer het, dit het regoor die wereld gebeur en honderde sulke mummies is al gekry. Baie van hulle was mense wat deur verskillende beskawings geoffer is en die spesiale omstandighede van die rituele begrafnis het gehelp met die bewaring van die liggaam, saam met die spesifieke klimaat en omgewing.

Van die interessantste en mooise mummies is al so gekry. Dalk grillerig maar tog interessant.

En dan was daar die toeval in die  en die nog meer toevallig ontdekkings, in mere en in ys. En wat ons daaruit geleer het.

Bron gebruik: Archeological Institute of America