Posts Tagged ‘mans’

Liewe Jesus ek is klein

Hou my net vir langer rein

Ek bly hier in Suid-Afrika

Ek is bang vir my oom

En ek’s bang ook vir my pa

– Amanda Stydom

 

Elke 6 ure word ‘n vrou in Suid-Afrika vermoor. Nie deur vreemde mans nie, nie die donker man wat jou van agter af inhardloop in ‘n verlate plek nie. Nee, deur die mans wat hulle “liefhet.”

Stukke vleis wat gebruik en gevreet word. Soms verkoop en gekoop word. Misbaar. Nietige lewens. Want die maaiers eet ons tog uiteindelik net op – al is dit in ‘n vlak graf in die vlei.

Dalk verwurg met jou eie bra?

Tussen 40% en 70% van alle vroue in hierdie land word vermoor deur hulle intieme lewensmaats of eks-maats  van die teenoorgestelde geslag (Dalhberg & Krug 2002). Dit kom daarop neer dat een uit elke vier vroue in ‘n verhouding vermoor word.

In hulle eie huise. Deur ‘n wettige vuurwapen of hulle word doodgeslaan. Jaloesie, woede oor “vroue wat nie wil  luister nie”, “sy wil nie seks gee nie”, “sy wil nie kosmaak nie”, “sy aanvaar nie ek is die hoof van die huis nie”, “sy loop rond (terwyl die teenoorgestelde eintlik waar is) ” en sulke belanglikhede word aangegee as redes. (MRC 2004)

Vroue word gesien as mans se besittings. Kinders ook. En dit is swart mense, wit mense, bruin mense en Asiërs, almal. Die bruin mense se syfer is egter proporsioneel die hoogste, maar nie een groep mans kan hier sê, hulle is nie deel hiervan nie.

Hoekom verkrag mans? Want hulle kan. En dit gaan oor mag, nie seks nie.

Wie is hiervoor verantwoordelik? Nie die vroue nie. Dit is nie ek en jy as vrou se skuld of verantwoordelikheid nie, en nie een van die redes sal ooit geldig wees om ‘n hand te lig teenoor ‘n vrou nie.

Suid-Afrika se diep gesetelde uiters patriargale siening van waar die vrou kwansuis hoort en wat haar kastige rol is, is deels hiervoor te blameer. Asook verskillende godsdienste se verkampte sienings wat hulle meen, “god se woord” is oor mans en vroue. Spesifiek sommige lekepredikers soos Angus en Zelda wat vir mense wil vertel hoe hulle glo hul lewe moet lei.

As ek ‘n prediker was met duisende wat op my voorstoep uitkamp sou ek gesê het: “Hou op verkrag, hou op om julle kinders en vroue te slaan. Help om kos te maak en doeke om te ruil – sy werk ook. Jy is nie haar meerdere nie. En jy, dit is jou plig om jou broer reg te help wat verkrag en aanrand – dit is eintlik wat god se.”

Maar wat doen die mense? Versterk die man se magshand en vertel hoe hulle “hoof van die huis moet wees.” Ongelooflik in ‘n land waar huishoudelike geweld hemelhoog is! En moenie vir my se die boodskap is simbolies nie, want jy weet nie hoe jou gehoor dit opneem nie – wat ‘n patriargale steoritipiese versterking.

Tradisionele gelowe se jagter-versamelaar siening oor die lewe is net so problematies. Die man doen dit en die vrou doen dat. Dit het dalk gewerk 2000 jaar gelede, maar nie in ‘n samelewing wat vloeibaar en kultureel veranderbaar is nie.

Selfs Unesco stem saam, indien ‘n kultuur mense se regte ontken en selfs skend, kan die kultuur hom nie meer daarop roem op beroep nie. Hy moet aanpas.

Indien die mens homself as so slim ag, soos hy doen, die intelligente wese wat hy glo hy is, behoort hy te sien dat hy besig is om een deel van die spesie, steeds op verskeie maniere te onderdruk in belang van die ander deel se mag. En mag is lekker, maar moeilik om mee weg te doen.

Vroue word vermoor, verkrag, mishandel en teen gediskrimineer nie omdat dit met seks of misdadigheid te make het nie, maar omdat hulle deur sekere mans geminag word. Dit is al onbewus. Sodra jy iemand minag sal jy hulle sleg behandel. Dit is hoe dit is. Dit is so met rassisme en gay-haat – met baie dinge.

As ek ‘n man in hierdie land was, het ek opstaan en hard gesê: Nee, hou op.  Ek sou ander mans wat so is, vasgevat het – nie vir hulle grappe gelag het nie. Nie toelaat dat my seun sy susters en ma minag nie. Ophou golfspeel saam moet boelies.

‘n Ma kan nie ‘n seun “reg grootmaak” sonder die voorbeeld van die pa nie. Hoekom word dit altyd teruggeooi in vroue se skoot, om te voorkom? Nonsens.

Dit wat teen vroue gedoen word, word deur (sommige) mans gedoen. Nie deur vroue nie. Dit is die mans wat ‘n einde hieraan moet bring. Die wat oortree en die wat nie oortree nie.

Mans moet die geweld teen vroue stop. Alle mans. Maar eienaarskap van verantwoordelikheid kom swaar, ek weet.

Hier lê Sarie Marias

Ek wonder wat my oupa daarvan sou sê

Sy lê in die sand

met haar kappie in die hand

en dit lyk vir my sy is aangerand

– Amanda Stydom

Survivor 101

Daar sit die vrou gister aand toe met die oom se bril. Met ‘n paar stokkies, fyngoed (hallo, gloeilampie het iewers aangegaan) en iets wat lyk na ‘n vrot lappie.

Hulle het ook gekliek dat jy moet wag vir die son om lekker hoog te sit. Maar eers sak my moed tot in my voete. Want ek sien sy hou die bril net so slap oor die vuurmaak-goed.

Ek gil! Ag tog. Soos ons as kinders gese het: Jy moet hom “trek”. Daai ligkolletjie, so fyn-fyn tot hy ‘n kern maak en hom dan doodstil hou. As die rokie kom moet jy hom eers stil hou. Anders kom die vlam nooit. Ek weet, ek het baie maatjies so geklits…:)

Maar met die genade het die vrou haar vuur gemaak. En weet julle wat, hulle gaan haar uitstem. Al het sy vuur, wat in die geval lewe beteken, want nou kan hulle water kook om te drink, gebring.

Want in Suvivor, ons is al seker in reeks 12, het die mense nog nooit die gender-Rubicon oorgesteek nie. Hulle glo/dink. Man=sterk en die beste. Vrou en ouer persoon = swak en verloorder.

Wat hulle nie besef nie is dat survivor nie gaan oor hoe sterk nie, maar oor hoe TAAI, jy is. Fisisies en emosioneel.

Al het sy vuurgemaak, beteken dit vir haar niks. Sy is nou of ‘n bedreiging, of ‘n steeds ‘n swak vrou.

‘n Vorige keer het hulle ‘n vrou wat visgevang het uitgestem, oor sy nie “sterk” was nie.

Was dit ‘n man wat vuurgemaak het, was hy weer die “big provider”.

Nog meer verstommend vir my: 6 vroue en 3 mans. En die vroue luister na die mans en stem die ander vroue af! Hallo? Hulle laat hul vertel die ander vroue, dus met implikasie hulself! is swak. Hierdie gaan nie oor feminisme nie, dit gaan oor jou eie waarde.

Neem byvoorbeeld die bebrilde “Sjinese” man gisteraand. Hy kan nie ‘n flippen bal gooi om sy verdomde lewe te red nie. Dit lyk of hy nog nooit ‘n bal gesien het nie. Maar wie stem hulle af? ‘n Vrou! Die ene wat die hele luukse skuiling in 2 dae die lig laat sien het, omdat sy ‘n argitek is.

Vir ‘n vrou om hier te wen moet sy na die mans luister en teen ander vroue draai. Onder die radar vlieg, soos die swart vrou in SA Survivor. Anders is dit baai-baai met haar. Want as sy sterk na vore tree, is sy ‘n “bossy bitch”.

En die ou met die leep-oe, Rocky, rook iets daar. Die teeblare of iets. Hy survive, hy is ‘n man. Hy is so min taai soos ‘n konyn.

En die man wat nie die varksnoet kon eet nie, hy het opgehou eet nog voor hy begin het. Maar kyk sy spiere, hy word as sterk gesien??

En die ouer man wat seergekry het. Hulle was maar te verlig om dalk een minder te raak.

Hierdie is voorwaar ‘n studie in moderne antropologie en ons nie veel verder nie…

Wanneer sal ons opvatting oor wie wat kan doen verander? Nie alle mans is taai en sterk nie, ook nie alle vroue nie. Die individu, die persoon moet op meriete beoordeel word, nie op grond van hulle geslagsorgane nie. Ek bly verstom. Ek sal altyd verstom bly.

Om ‘n man te wees

Hoe voel dit om ‘n man te wees? Ek wonder baie keer daarvoor. Hoe voel dit régtig…

Ek is ‘n vrou en heeltemal tevrede met vrouwees. Maar ek het al gewens ek kon vir so twee weke ‘n man wees – soos in 100% man, sodat ek kan voel hoe dit is.

Ek was nog op laerskool toe ek gewonder het hoe voel dit om ‘n seun te wees, om rugby te speel soos ‘n seun. Dit het begin toe die seuns my nie wou toelaat om lid van hulle bende te wees nie.

Maak nie saak hoe die wêreld verander nie, ek glo daar is maniere hoe die samelewing mans en vroue verskillend behandel.

As ek ‘n man is, sal die motorwerktuigkundige, die loodgieter, die elektrisiën, die verwer, die bouer en al die ander vakmanne wat my sulke twak vertel en gemors aanvang met my eiendom dit steeds met my doen?

Sal vroue ongewensde seksuele opmerkings of innuendoes teenoor my maak, sommer in winkelsentrums of op straat? Of op plekke waar ek koffie drink?

Sal ek vreeslik aggressief raak as ek my vervies as iemand iets in ‘n drinkplek sê en vir eens en vir altyd in my lewe kan voel hoe dit voel om iemand anders hard met die vuis te moer? En daarna weet ek is fisies sterk genoeg om myself te verdedig?

As ek ‘n man is sal ek steeds bang wees ek word verkrag? Of is dit nie iets waaroor mans dink nie. As ek ‘n man is hoe sal ek voel oor ander mans wat verkrag? Hoe sal ek voel oor die vroulike slagoffers (want ek weet hoe ek hoe jeens hulle as vrou voel), of maak dit nie ‘n verskil nie?

Waaroor praat mans as hulle toilet toe gaan? Sal die geslagsorgane my soveel verander? 

Waarin lê die identifikasie van gender? In hoe jy lyk, hoe jy voel. Die fisiese, biologiese, genetiese, sielkundige en kulturele?

Sal ek mense anders behandel omdat hulle my anders behandel?

Hoe voel dit om nie ‘n vrou te wees nie…