Posts Tagged ‘lewe’

Totsiens van Rosalind Franklin

Nouja ek dink ek het aan die einde van die blog gekom, Februarie was dit twee jaar sedert ek begin het – hoekom en hoe kan ek eintlik nie meer onthou nie.

Dit is nie dat ek die lus vir blog verloor het nie, of niks het om te sê nie, inteendeel. Die tyd en plek is dalk net verkeerd.

Ek dink die laaste was toe ek vandag sien die nr.1-inskrywing is van ‘n klomp verregse mense wat een of ander Afrikanerstaat soek, asook baie van die ander blogs, is toenemend net oor godsdiens. Dit gaan eintlik net oor bybelversies, gebede, godsdiens en ‘n god waarin ek nog nooit geglo het nie. Van kleins af al.

Ek kritiseer dit nie, dit is net nie ‘n zone waarin ek nie leef nie – dit is nie my wereld nie. My wereld is en bly anders. Ek is ook nie teen geloof of gelowiges nie, ek wil net nie op elke tweede blog daaroor lees nie.

Rosalind Franklin gun elkeen sy of haar plek, maar ek gun myself ook my eie plek. Ek wil ook nie krities staan jeens mense nie. Ek is werklik 100% eerlik oor hoe ek voel.

Ek wil met mense begin verskil op hulle eie blogs nie, maar dalk is WP nie die plek vir mense soos ek nie: Die Nie-Gelowiges van die wereld wat anders glo en soms dink.

Toe ek begin blog het op WP was daar soveel bloggers wat oor mense, die hier en nou, die lewe met sy seer en mooi geskryf het, en ek voel dit het grootliks verander. Daar is heerlike interaksie tussen mense. Nou is daar soveel “sondagpreke” en ek vind glad nie aanklank nie.

Dankie vir al die pret en plesier. Daar is baie, baie van julle wat erg spesiaal vir my is.

Groete en loop mooi, dalk “sien” ons mekaar weer

Rosalind Franklin

(Die naam Rosalind Franklin en die FB-profiel gaan ek steeds hou – ek speel lekker saam met julle speletjies en daar is mense wat vir my baie spesiaal is, wat ek so oor ‘n afstand leer ken het. As julle daar vir my wil afgooi, is dit jammer maar ook julle vrye keuse.)

Daardie eenkeermense

Ek wonder baie keer wat het geword van die mense wat jy net vinnig in jou lewe ontmoet, soms weet jy nie eens wat hulle name is nie. Ander kere vergeet jy dit. Soms is dit net ‘n gesig, soms iets kleins, ander keer iets groots – daardie eenkeermense.

Ek wonder nog baie oor die vrou wat 10 jaar gelede my van ‘n gewisse ernstige, as dit dan nie vieslike besering gered het nie. Dit was ‘n nagdonkeroggend in Khayelitsha waar ek in die reën rondgeloop het op soek na iemand (dit het met my werk te doen gehad).

Skielik het iemand my hard van agter af teruggeruk – so erg dat ek byna in die modder beland het. Ek het verbaas omgekyk. Die vrou agter my het die reuse oop rioolgat seker twee tree van waar ek sou trap vir my uitgewys.

Ek sou daardie oggend in die rou riool beland het. Ek wonder waar is daardie vrou vandag.

Waar is die dronk meisie wat my amper doodgery het voor die Engen in Oranjestraat?

Waar is die vrou wie se kind weggeraak het en met my daaroor gepraat het in haar shack in Delft terwyl sy vir ons soet tee maak? Waar is haar kind?

Wie is daardie ontbinde lyk in die veldjie gewees wat die mense sandhopie vir sandhopie uitgegrawe het – die dag toe dit so warm was en die kinders langsaan in die veldjie gespeel het?

Wie se voet was dit wat daai dag by Blouberg uitgespoel het?

Lewe die tannie nog wat laas jaar saam met my in die hospitaal was?

Het daai vrou ooit haar boarding pass gekry wat ek in die toilet op die lughawe gevind het?

Wie wie wie is al die mense?

‘n Bondeltjie energie

So sit ek en ‘n vriendin by die werk en koffie drink – bekyk die ander mense op en af. Beide van ons is moeg, sat, gedreineer van alle energie, lam – die fut is uit.

Wat kan ‘n mens daarvoor drink vra sy?

Brandewyn, sê ek. Want ek weet eintlik, niks help nie.

En toe begin ons praat oor die mense in Men’s Health, Women’s Health en op die TV – daai mense wat so maksimaal lewe dat jy daarvan kan kots!

Dit gaan basies so:

Hulle staan 05:00 soggens op om 10km ver na die gym toe fiets te ry waar hul op balle rol, op matjies spring en swem. Dan roei hulle terug huis toe waar hulle 07:00 vir almal ‘n buffet brekfis voorsit en 08:00 is hulle voor almal by die werk.

Teen die tyd wat die baas by die werk is, het hy hulle al klaar gekomplimenteer oor die dag se werk . . . Lunchtyd maak hulle ‘n kosblik oop wat die fok weet wie ingepak het vol kos wat nie net lekker is nie, maar sommer ook siektes kan genees.

Na werk gaan stap hulle met die honde, speel met die kinders, doen huiswerk, en slaan ‘n ete aan mekaar – net binne 45 minute – wat lyk of dit op ‘n internasionale skou ‘n prys sal kan wen. Dan fliek hulle, drink skemerkelkies in cool plekke, abseil teen Tafelberg af en lees Newsweek.

Intussen bou hulle huise gratis vir arm mense, hulle het karate-lesse, neem joga en het leer brei.

Naweke ry hulle trein, kamp uit, werk self in die tuin, was die hokke by die DBV en het 27 keer per week seks. En hulle sit dit huiswerker se kind deur varsity.

Hoe fokken doen die mense dit?

Ek is te moeg om op die staan, en die koffie wat ons sit en drink proe vreemd in die mond.

Ja se die vriendin, die rol aan haar maag is nou so groot sy roer die bad soggens voor sy inklim dat dit nie so erg lyk nie. Ek voel aan haar maag – flip – my rol is groter.

Ai die bad van Getsemane, as my rol maar net wil verdwyn en die moegheid maar net wil wyk.

Wat doen jy hier?

Wat dink jy doen jy hier op aarde?

Hoekom is die mens op aarde?

Maar wag net ‘n oomblik voor jy antwoord, dink aan die tyd wat ons hier is, byvoorbeeld.

En die feit:

Die mens en sy huishoudelike diere het 10 000 jaar gelede net 0,1% uitgemaak van die gewerwelde biomassa wat op land gebly het, terwyl dié persentasie vandag 98% is.

Die mens het dermate gegroei dat hy ’n geweldige magsposisie beklee waar hy die verfkwas vashou, want die toekoms van lewe op aarde is in ons hande. Danksy kultuur het dié ontploffing van die mensdom en sy huishoudelike diere net 500 geslagte geneem.

Die mens as ’n spesie het die vermoë om vooruit te beplan en begrip te hê vir wat in die toekoms kan gebeur, maar hy het ’n gebrek aan motiveringstelsels in die hede, het Dan Dennett, wetenskap-filosoof, gesê toe hy in Maart vanjaar hier was.

Ek stem, ons sal sien hoe alles vergaan, maar niks doen nie.

Nou lees weer die twee vrae daarbo. Dit is hoekom ek die mens, my eie spesie, eintlik verag.

Ek dink die mens is hier om die verruklike lewe op die aarde wat 4,5 miljard jaar oud is, binne Homo sapiens se bestaan van 200 000 jaar, totaal te verwoes. Die mens is niks en daar is niks goddelik aan hom nie (om my eie 2de vraag te beantwoord). Hoewel die mens dink hy is besonders.

Ek is hier omdat my voorsate tot hier evolve het. Niks meer niks minder. (my eie antwoord op my 1ste vraag). Ek lewe vir ‘n beperkte tyd. Ek probeer goed lewe en dan gaan ek sterf.

So hoekom dink julle is jy en die mensdom hier?

Ek wonder wat sal gebeur was ons almal besluit om ‘n op ‘n dag net te laai waai. Sonder voorbehoude te skryf wat ons regtig op die hart en in die kop het: wat ons dink, glo, weet, erken, herken, sommer net wil sê of deel.

Jy pas geen selfsensuur toe rakende jou denke nie.

Ek sluit Rosalind Franklin hierby in.

Almal gelyk. Sê nou maar net om 11:00 op die 11de van die 11de maand – wat toevallig ook die oomblik in tyd was toe die Eerste Wêreldoorlog geëindig het – probeer ons net een keer dit. Laat gaan net vir een keer.

Ek het aanvanklik ‘n blog begin om totaal en al iets anders te sê, en ongelukkig van die eerste oomblik af, was het ek suurtjies getrap. Hoekom? Want dit is nie in my aard om sensitiewe mense  se gevoelens te spaar nie. Is dit omdat mense so onverdraagsaam is?

Dit gaan ook nie oor persoonlike detail nie, dit is privaat. Dit gaan meer oor idees, konsepte, standpunte en gedagtes.

Miskien is ek bang almal sal weghol as ek werklik se wat ek dink? Dalk is almal bang.

Ek sê meestal nie wat ek wil sê nie, en ek skryf nie wat ek wil skryf nie. Meestal nie. Soms wel.

Baie keer scroll ek af in die afrikaanse WP-lys en die volgende kom in my kop op: Al weer dit!!

Die wereld is groter as net dit. Die lewe is meer. Dalk net my lewe. Ek weet nie.

Give me more! I can give more.

 

praag2

Praag – die mooiste stad op aarde

Net dood

http://bashinginnieboendoes.wordpress.com/2009/05/22/janeth/

Die dood het nooit ‘n rede nie, nie vir my nie. Ek weet mense soek na ‘n rede en na troos, maar ek, ek kan nie.

Dit is maar net hoe ek is.

Boendoe het geskryf oor Janeth wat dood is. Sy het vir my geklink na ‘n besondere jong vrou, een met talent en ambisie. Iemand wat nog moes geleef het. Soos baie, baie ander.

Vir my is daar sin in die lewe. Oor die hier en die nou. In dit wat ons elke uur, elke dag en elke week doen.

Indien ‘n kind, jong mens, of middeljarige sterf, maak dit nie vir my sin om te probeer se: Maar god het ‘n plan gehad nie, of; haar werk was klaar nie, of daar is ‘n plan met alles nie. Dit is nie waar nie, hulle werk was ver van klaar en ek sien geen sin in so ‘n dood nie. Dit is bloot ‘n vermorsing van ‘n lewe.

Ek weet en verstaan wel hoekom ons dit se, om onsself te troos, om dit beter te maak. Maar dit is nie beter nie. Dis rou en seer en die slegte kant van leef.

Ek kan ook nie elke dag skugter leef omdat ek dink daar is miskien dalk net ‘n ander leef vir my nadat ek dood is nie. Want ek weet dit nie. ‘n Nou afskeep-leef, verskoon-leef in afwagting op ‘n tweede leef? Nog ‘n kans vir leef? Nee.

Dood het nie ‘n rede nie en dis bloot net k*k. Dis seer en dis finaal. Dis oor en dis verby.

Jy is net eenvoudig weg. Dit gaan alles oor hoeveel tyd jy het en wat jy daarmee maak.

Maar ek kan dit nie sagpraat of goedpraat nie.

Dood is so werklik soos lewe. Net op ‘n ander manier.

Landskap

plek2

Die reis hierheen is verder as ver. Dit neem langer as lank. En as “iets gebeur” op hierdie plek dan gebeur dit maar, of jy oorleef dit, of jy gaan dood.

Dit het ek ook self geleer.

Niemand kan jou skielik kom red nie. Soos in regtig. (Nie eens ‘n bad Suid-Afrikaanse staatshospitaal nie, wat luuks hier voel nie.)

Dit is ware ongeskondenheid. Net die berge, klippe en die grond.

En in die ver teen die hange van daai berge bly daar mense. Mense met hulle bokke, beeste, manna,bone en uie. Moet net nie dink dit is ‘n “eenvoudige en rustige lewe nie”.

Dis ‘n harde, swaar lewe. Daar kan jy doodgaan van die honger of dors. Ek weet want ons het afgestap en vir hulle gaan kuier.

Met die sweet wat van jou loop soos stortwater – hier tussen die niks en die nerens.

Waar die reuk van mens, grond, sweet, lot, mis, armoede, rook, bok, meel, snot, tabak, kind en taai hande een ding is. En dit is net wat dit is. 

Pragtig en verlate. Dit is ook dit. Dit is die aarde.

huise

Jy laat my toe . . .

. . . in jou modderhut-huis om jou af te neem en vrae te vra. Ek weet jy verwag niks.

Jy laat my kyk na jou voete, jou bokke en potte. En ek sien ‘n bietjie van jou lewe, maar ek sal nooit weet hoe dit werklik is nie.

mali-217

Ek stap in die sand en die krommings en draaie van jou dorpies, tussen vis, vrugte, sout van die Tuareg en mis van die diere. Sien die leer, silwer, katoen, halssoere en beelde van jou mense. Die muskiete en vlieë volg my.

 Ek sien jou elegante, dog skamerige vroue. Jou smekende, dog laggende kinders en ek wonder.

Die sweet loop in strome teen my hele lyf af. Ek sukkel. Dit is op vele maniere ‘n reis vir my, binne en buite. Ek is binne dae 36. Ek dink al oor 40. Dit is net soos ek maar nog altyd was. Baie reise het ek al geloop en hulle begin buite en draai later na binne. Soms is hul net in my kop.

“Now there is a hungry kid,” sê ‘n reisgenoot. Ek draai en kyk. Sien die kind staan. Herken dadelik die tekens van erge wanvoeding. Dit is die soveelste honger kind wat ek hier sien en ek kan niks doen nie. Waar as ek vir een gee, moet ek vir almal gee, anders breek ‘n wrede geveg uit. Ek wens sy het stilgebly.

Hoe kwalifiseer jy vir armoede? Wat is arm? Wie is arm?

Ek en baie mense wat ek ken is nie arm nie. Baie mense in Suid-Afrika wat beweer hulle is arm, moet dalk hier kom kyk. As jy arm was en nie meer is nie, get over it.

Later stap ons hoog teen ‘n berg op, na ‘n natuurlike grot. En toe begin hulle hulle sing. Die kinders. Pragtige, skoon stemme. Hulle hoop op geld.

Met die terugslag loop ek vinnig deur die klokglasstemme. Hande op die kop sodat hulle my nie kan aanraak soos die afgelope paar dae nie.

Ek kan dit nie hou nie. Ek kan nie.

Ek hardloop na die 4×4 terwyl die trane by my wange afrol. Hoe kan ek nee se vir 60 honger kinders? Maar ek weet as ek gee kan wrede gevegte uitbreek.

Die ander roep my terug, sien nie my trane onder die sonbril en hoed waaragter ek skuil en vuil voel nie.

mali-112

Grot van die singende kinders

By die volgende dorpie kibbel ek nie soos die gebruik is oor die handgeweefde indigo-lap nie, ek betaal die eerste prys. Want ek moet iewers gee.

Later op die Niger laat jy my weer toe om jou mense te sien, jou laggende kinders wat giggel oor my kort hare en die groot oë wat ek trek. Jy laat my soveel toe en jy vra soms, maar jy bedel nie. En jy word nie woedend nie en daar is nie ‘n gevoel van “dit is alles my reg” by jou nie – al is jou demokrasie ook 14 jaar oud.

Tot diep binne jou hart nooi jy my in. Vertel my mites en geheime van jou mense. Jy groet my met sa-wa! oral waar ek gaan.

mali-028

Ma en kind

Jy is nie aggressief met my nie en stel die grense ferm maar baie respekvol. Dit werk vir my, die eerlikheid. Maar nooit is daar ‘n geskel, gevloek, ‘n dreigende houding of obsene tekens nie.

mali-236

Vrou met haar vissies

Jy laat my toe om soveel te leer van jou, want jy is oop. Jy laat my dink oor myself, my weer eens herbesin. Jy laat my toe om dankie te sê, om te waardeer. Jy het my weer klein gemaak. Dankie.