Posts Tagged ‘vermoor’

Liewe Jesus ek is klein

Hou my net vir langer rein

Ek bly hier in Suid-Afrika

Ek is bang vir my oom

En ek’s bang ook vir my pa

– Amanda Stydom

 

Elke 6 ure word ‘n vrou in Suid-Afrika vermoor. Nie deur vreemde mans nie, nie die donker man wat jou van agter af inhardloop in ‘n verlate plek nie. Nee, deur die mans wat hulle “liefhet.”

Stukke vleis wat gebruik en gevreet word. Soms verkoop en gekoop word. Misbaar. Nietige lewens. Want die maaiers eet ons tog uiteindelik net op – al is dit in ‘n vlak graf in die vlei.

Dalk verwurg met jou eie bra?

Tussen 40% en 70% van alle vroue in hierdie land word vermoor deur hulle intieme lewensmaats of eks-maats  van die teenoorgestelde geslag (Dalhberg & Krug 2002). Dit kom daarop neer dat een uit elke vier vroue in ‘n verhouding vermoor word.

In hulle eie huise. Deur ‘n wettige vuurwapen of hulle word doodgeslaan. Jaloesie, woede oor “vroue wat nie wil  luister nie”, “sy wil nie seks gee nie”, “sy wil nie kosmaak nie”, “sy aanvaar nie ek is die hoof van die huis nie”, “sy loop rond (terwyl die teenoorgestelde eintlik waar is) ” en sulke belanglikhede word aangegee as redes. (MRC 2004)

Vroue word gesien as mans se besittings. Kinders ook. En dit is swart mense, wit mense, bruin mense en Asiërs, almal. Die bruin mense se syfer is egter proporsioneel die hoogste, maar nie een groep mans kan hier sê, hulle is nie deel hiervan nie.

Hoekom verkrag mans? Want hulle kan. En dit gaan oor mag, nie seks nie.

Wie is hiervoor verantwoordelik? Nie die vroue nie. Dit is nie ek en jy as vrou se skuld of verantwoordelikheid nie, en nie een van die redes sal ooit geldig wees om ‘n hand te lig teenoor ‘n vrou nie.

Suid-Afrika se diep gesetelde uiters patriargale siening van waar die vrou kwansuis hoort en wat haar kastige rol is, is deels hiervoor te blameer. Asook verskillende godsdienste se verkampte sienings wat hulle meen, “god se woord” is oor mans en vroue. Spesifiek sommige lekepredikers soos Angus en Zelda wat vir mense wil vertel hoe hulle glo hul lewe moet lei.

As ek ‘n prediker was met duisende wat op my voorstoep uitkamp sou ek gesê het: “Hou op verkrag, hou op om julle kinders en vroue te slaan. Help om kos te maak en doeke om te ruil – sy werk ook. Jy is nie haar meerdere nie. En jy, dit is jou plig om jou broer reg te help wat verkrag en aanrand – dit is eintlik wat god se.”

Maar wat doen die mense? Versterk die man se magshand en vertel hoe hulle “hoof van die huis moet wees.” Ongelooflik in ‘n land waar huishoudelike geweld hemelhoog is! En moenie vir my se die boodskap is simbolies nie, want jy weet nie hoe jou gehoor dit opneem nie – wat ‘n patriargale steoritipiese versterking.

Tradisionele gelowe se jagter-versamelaar siening oor die lewe is net so problematies. Die man doen dit en die vrou doen dat. Dit het dalk gewerk 2000 jaar gelede, maar nie in ‘n samelewing wat vloeibaar en kultureel veranderbaar is nie.

Selfs Unesco stem saam, indien ‘n kultuur mense se regte ontken en selfs skend, kan die kultuur hom nie meer daarop roem op beroep nie. Hy moet aanpas.

Indien die mens homself as so slim ag, soos hy doen, die intelligente wese wat hy glo hy is, behoort hy te sien dat hy besig is om een deel van die spesie, steeds op verskeie maniere te onderdruk in belang van die ander deel se mag. En mag is lekker, maar moeilik om mee weg te doen.

Vroue word vermoor, verkrag, mishandel en teen gediskrimineer nie omdat dit met seks of misdadigheid te make het nie, maar omdat hulle deur sekere mans geminag word. Dit is al onbewus. Sodra jy iemand minag sal jy hulle sleg behandel. Dit is hoe dit is. Dit is so met rassisme en gay-haat – met baie dinge.

As ek ‘n man in hierdie land was, het ek opstaan en hard gesê: Nee, hou op.  Ek sou ander mans wat so is, vasgevat het – nie vir hulle grappe gelag het nie. Nie toelaat dat my seun sy susters en ma minag nie. Ophou golfspeel saam moet boelies.

‘n Ma kan nie ‘n seun “reg grootmaak” sonder die voorbeeld van die pa nie. Hoekom word dit altyd teruggeooi in vroue se skoot, om te voorkom? Nonsens.

Dit wat teen vroue gedoen word, word deur (sommige) mans gedoen. Nie deur vroue nie. Dit is die mans wat ‘n einde hieraan moet bring. Die wat oortree en die wat nie oortree nie.

Mans moet die geweld teen vroue stop. Alle mans. Maar eienaarskap van verantwoordelikheid kom swaar, ek weet.

Hier lê Sarie Marias

Ek wonder wat my oupa daarvan sou sê

Sy lê in die sand

met haar kappie in die hand

en dit lyk vir my sy is aangerand

– Amanda Stydom