Posts Tagged ‘voortrekkers’

Hou koers!

“Ek wil ‘n Voortrekker word,” se ek vir my Ma in 1980.

“Hoe seker is jy? Want jy wou ook ballet, judo, en klavier speel,” se sy.

“Ek is baie, baie seker. Dit is wat ek wil doen,” se ek sonder dat ek weet wat die Voortrekkers is. Eintlik is ek gelok deur die uniform en dit wat ek dink rituele om die kampvuur is. Dit klink vir my soos ‘n geheime bende waar net lede weet wat aangaan. Ek pols my maatjie oor wat op die kampe en na-skool gebeur, maar sy laat nie veel blyk nie.

Ek is 8 jaar oud en van nasionalistiese gebrabbel-praat weet ek nog nie baie nie (en die breinspoel van die veldskool wag nog vir my).

My Ma reken ek moet eers as ‘n nie-lid een van die kampe bywoon, voordat sy geld spandeer aan ‘n uniform. As ek dan nog steeds daarvan hou kan ek aansluit. Want ek verloor belangstelling in sogenaamde buitemuurse aktiwiteite (soos die skool dit noem) so gou as wat ‘n mens se: Hou Koers!

Ek is klaar vies toe ek hoor, meisies kry fluitjies en seuns kry knipmesse. Wat de hel moet ek met ‘n fluitjie maak? Netbal afrig? Maar daar is sooooooo baie wat ek met ‘n mes kan doen. My eerste ervaring in seksisme en gender-rolverdeling. Hoekom kan ek nie kies wat ek wil he nie? Stupid!

Nouja ons vertrek op die kamp. Ek gaan natuurlik sonder uniform.

Die kinders gedra hulle heeltemal toe goed, en die tannie se dun lippe is ‘n pyn. Dit is geen pret nie. Ek wou eintlik wild in takke rondgeswaai het. Die “lesse” voel soos preke. Soos iemand wat met my raas. Dit voel vir my al die oorloë is my skuld en ek bid te min.

En hoe langer die naweek word hoe skuldiger voel ek oor sommer alles (die verwoestende uitwerking van in ‘n inteelde Calvyn-geen). Ek wens ek kon my ma bel, maar hier is nie ‘n tiekieboks nie.

Ons eet eiers vir ontbyt. Ek het ‘n traumatiese ervaring rakende eiers gehad (te sensitief om hier te deel). Ek loop stilletjies met my blikbord af na die rivier om van die eier ontslae te raak.

“Eet jou eier hoor,” gil die dunlip-tannie agter na. (Ek en die einste stupid dunlip-tannie sou later in st.3 nog in die wetenskapklas koppe stamp oor die siklus van die padda)

En daar op die wal van die rivier sit die grootste varswaterkrap wat ek nog my hele lewe (en tot dusver ook) gesien het. Ek stap stadig nader. Die krap sit net daar – sy ogies roer effe.

Ek gooi ‘n stukkie eier na hom toe. Hy kom vinnig nader en vreet daai eier soos blits op. Dit is asof die eier nooit daar was nie. Ah! Ek gee hom nog ‘n stukkie. Hy eet dit ook.

Ek voer hom sommer ‘n groot stuk met my hand, en saggies neem hy die eier met sy knyper uit my hand! Hy eet al my eier. Dankie tog.

“So wil jy nog ‘n Voortrekker word?” vra my Ma toe sy my kom oplaai.

Nee ek dink ek wil eerder perdry, se ek.