Posts Tagged ‘spoetnik’

Voorwaarts Mars

Briljante mense word onthou vir dit wat hulle doen, uitvind, verrig en met akkuraatheid kan se oor veral die toekoms. Hulle is mense wat die vermoe het om, een van die grootste aspekte wat ander mense in hulle daaglikse bestaan belemmer, te oorkom: die manier hoe daar na tyd gekyk word.

Maak nie saak in watter veld die betrokke slim mens goed in is nie, hulle staar hulle nie vas in die wurgende en verkeerde idee wat die gewonde sterfling oor tyd het nie. Dit is uit hierdie volwasse denke waaruit ‘n visie vir die toekoms gebore word, of dit nou ‘n fiets, ‘n mikrogolfoond, ‘n motor, balpuntpen of satelliet is.

Hierdie is mense wat dink: Ja, dit is moontlik.

Byna 51 jaar gelede is die eerste satelliet in ‘n wentelbaan buite die aarde se atmosfeer ingestuur, Spoetnik. Vandag is daar meer as ‘n 1000 in die ruimte.

In 1920 is in die New York Times van Robert Goddard ’n gek gemaak omdat hy voorspel het die mens sal die Maan met ’n vuurpyl kan bereik. Daar is gesê Goddard ken nie die verband tussen aksie en reaksie nie en besef nie dat ’n vuurpyl nooit in ’n vakuum sal kan funksioneer nie.
Daar is ook gesê hy beskik nie eens oor die kennis wat daagliks in hoërskole uitgedeel word nie.
Dit was eers in 1969, drie dae voordat Neil Armstrong sy voet op die Maan gesit het, dat die koerant droog verskoning gevra het – hoewel Goddard toe reeds dood was.
Vir baie mense het Goddard die onmoontlike voorspel. Vandag is dit prof. Stephen Hawking die bekende astrofisikus en wiskundige, wat soms uitsprake maak wat die mensdom laat regop sit. Hy het verlede jaar gesê die mens se oorlewing hang af van sy sukses om binne die volgende 100 jaar ander planete te koloniseer, omdat die mens die Aarde as tuiste verwoes. Indien nie, sal die mensdom nie oorleef nie. Leke lag vir hom maar Nasa (wat vanjaar 50 jaar oud word) neem hom ernstig op.
Hawking meen dit is moontlik om binne 20 jaar ’n kolonie op die Maan te hê en binne 40 jaar op Mars – en dat dit belangrik vir die oorlewing van die mens is.

Met Nasa se nuwe Konstellasie-program, met sy splinternuwe ruimtetuie, sal tot vier mense op ’n keer Maan toe gaan en uiteindelik tot ses maande lank bly. Die eerste onbemande missie om die beste landingsplekke te soek sal al vanjaar geskied.

Die bemande missies sal op die vroegste in 2015 gebeur en nie later as 2020 nie, as alles volgens plan verloop.
En hulle sal buiteposte moet bou – dit alles met die oog op Mars.

En ons dink dit is onmoontlik, want soos ons vandag kan reis sal dit ses maande duur om Mars te bereik. Dit is nie vergesog nie. Kyk hoe ver het ons in 50 jaar gekom! Die Internasionale ruimtestasie, verskeie tuie na planete, die pendeltuie, Skylab, Hubble en Spitzer.

Ek glo nie dit is vergesog nie. Ons sal daar kom, nog voor 3000. En Hawking sal die man wees wat onthou sal word as die een wat ons gemaan het om te eksploreer, om onsself te dryf en nuwe tuistes te soek. Hy sal die groot gees wees.

Die week het Phoenix van Nasa suksesvol op Mars geland in ‘n poolarea (noord) wat ons nog nooit ontdek het nie. Dit is ook nie die eerste tuig na Mars nie, maar die een het ‘n spesiale robotarm wat in die harde grond sal boor en met ‘n spesiale laboratorium aan boord wat eksperimente sal uitvoer oor die komposisie van die grond – chemiese samestelling, en die belangrikse die soeke na moontlike organiese elemente, wat water insluit.

Ons weet reeds daar is alle aanduidings van waterwys op die oppervlakte en ander navorsing het getoon daar is ‘n groot moontlikheid vir waterys en/of lopende water onder die oppervlakte. Die antwoord sal ons hopelik vanjaar nog he.

Daar sal ook nie mars-mannetjies wees nie, en indien daar nog vorms van lewe is/was (in ons sonnestelsel) is die algemene gevoel dit sal ‘n mikroskopiese of baie klein vorm van lewe wees. Of ons dit sal herken as lewe is ‘n ander vraag. In die ander miljarde, miljarde, miljarde sonnestelsels lyk (en in samestelling) kan dit dalk so anders wees dat ons dit nie sal herken as lewe nie, behalwe natuurlik die feit dat ons en “hulle” nie die afstande sal kan verduur nie.

En hoe moeilik was dit om hom te land? So moeilik soos om ‘n laser te fokus op ‘n 20c-stuk sowat 300 km ver.

Waarom is ons daar? Ons durf nooit, nooit ophou ontdek nie. Net soos van die seevaarders, reisigers en ander nuwe lande ontdek het, doen ons dit weer. Ons verbreed ons kennis, las by en skaaf aan dit wat ons reeds weet. Bewys onself ook verkeerd.

En daardie stukkie nuuskierigheid van die wetenskap, wat wil leer en verbreed moet altyd bly: die sin van nuwe inligtig.

Die harde, ys-agtige grond van Mars. Foto-Nasa

Een van Phoenix se eerste foto’s van ‘n deel van homself (om te toon hy is in werking) en van die pool-horison – uit natuurlik plat sal wees. Foto-Nasa

Advertisements