Posts Tagged ‘dankie’

Totsiens van Rosalind Franklin

Nouja ek dink ek het aan die einde van die blog gekom, Februarie was dit twee jaar sedert ek begin het – hoekom en hoe kan ek eintlik nie meer onthou nie.

Dit is nie dat ek die lus vir blog verloor het nie, of niks het om te sê nie, inteendeel. Die tyd en plek is dalk net verkeerd.

Ek dink die laaste was toe ek vandag sien die nr.1-inskrywing is van ‘n klomp verregse mense wat een of ander Afrikanerstaat soek, asook baie van die ander blogs, is toenemend net oor godsdiens. Dit gaan eintlik net oor bybelversies, gebede, godsdiens en ‘n god waarin ek nog nooit geglo het nie. Van kleins af al.

Ek kritiseer dit nie, dit is net nie ‘n zone waarin ek nie leef nie – dit is nie my wereld nie. My wereld is en bly anders. Ek is ook nie teen geloof of gelowiges nie, ek wil net nie op elke tweede blog daaroor lees nie.

Rosalind Franklin gun elkeen sy of haar plek, maar ek gun myself ook my eie plek. Ek wil ook nie krities staan jeens mense nie. Ek is werklik 100% eerlik oor hoe ek voel.

Ek wil met mense begin verskil op hulle eie blogs nie, maar dalk is WP nie die plek vir mense soos ek nie: Die Nie-Gelowiges van die wereld wat anders glo en soms dink.

Toe ek begin blog het op WP was daar soveel bloggers wat oor mense, die hier en nou, die lewe met sy seer en mooi geskryf het, en ek voel dit het grootliks verander. Daar is heerlike interaksie tussen mense. Nou is daar soveel “sondagpreke” en ek vind glad nie aanklank nie.

Dankie vir al die pret en plesier. Daar is baie, baie van julle wat erg spesiaal vir my is.

Groete en loop mooi, dalk “sien” ons mekaar weer

Rosalind Franklin

(Die naam Rosalind Franklin en die FB-profiel gaan ek steeds hou – ek speel lekker saam met julle speletjies en daar is mense wat vir my baie spesiaal is, wat ek so oor ‘n afstand leer ken het. As julle daar vir my wil afgooi, is dit jammer maar ook julle vrye keuse.)

Jy laat my toe . . .

. . . in jou modderhut-huis om jou af te neem en vrae te vra. Ek weet jy verwag niks.

Jy laat my kyk na jou voete, jou bokke en potte. En ek sien ‘n bietjie van jou lewe, maar ek sal nooit weet hoe dit werklik is nie.

mali-217

Ek stap in die sand en die krommings en draaie van jou dorpies, tussen vis, vrugte, sout van die Tuareg en mis van die diere. Sien die leer, silwer, katoen, halssoere en beelde van jou mense. Die muskiete en vlieë volg my.

 Ek sien jou elegante, dog skamerige vroue. Jou smekende, dog laggende kinders en ek wonder.

Die sweet loop in strome teen my hele lyf af. Ek sukkel. Dit is op vele maniere ‘n reis vir my, binne en buite. Ek is binne dae 36. Ek dink al oor 40. Dit is net soos ek maar nog altyd was. Baie reise het ek al geloop en hulle begin buite en draai later na binne. Soms is hul net in my kop.

“Now there is a hungry kid,” sê ‘n reisgenoot. Ek draai en kyk. Sien die kind staan. Herken dadelik die tekens van erge wanvoeding. Dit is die soveelste honger kind wat ek hier sien en ek kan niks doen nie. Waar as ek vir een gee, moet ek vir almal gee, anders breek ‘n wrede geveg uit. Ek wens sy het stilgebly.

Hoe kwalifiseer jy vir armoede? Wat is arm? Wie is arm?

Ek en baie mense wat ek ken is nie arm nie. Baie mense in Suid-Afrika wat beweer hulle is arm, moet dalk hier kom kyk. As jy arm was en nie meer is nie, get over it.

Later stap ons hoog teen ‘n berg op, na ‘n natuurlike grot. En toe begin hulle hulle sing. Die kinders. Pragtige, skoon stemme. Hulle hoop op geld.

Met die terugslag loop ek vinnig deur die klokglasstemme. Hande op die kop sodat hulle my nie kan aanraak soos die afgelope paar dae nie.

Ek kan dit nie hou nie. Ek kan nie.

Ek hardloop na die 4×4 terwyl die trane by my wange afrol. Hoe kan ek nee se vir 60 honger kinders? Maar ek weet as ek gee kan wrede gevegte uitbreek.

Die ander roep my terug, sien nie my trane onder die sonbril en hoed waaragter ek skuil en vuil voel nie.

mali-112

Grot van die singende kinders

By die volgende dorpie kibbel ek nie soos die gebruik is oor die handgeweefde indigo-lap nie, ek betaal die eerste prys. Want ek moet iewers gee.

Later op die Niger laat jy my weer toe om jou mense te sien, jou laggende kinders wat giggel oor my kort hare en die groot oë wat ek trek. Jy laat my soveel toe en jy vra soms, maar jy bedel nie. En jy word nie woedend nie en daar is nie ‘n gevoel van “dit is alles my reg” by jou nie – al is jou demokrasie ook 14 jaar oud.

Tot diep binne jou hart nooi jy my in. Vertel my mites en geheime van jou mense. Jy groet my met sa-wa! oral waar ek gaan.

mali-028

Ma en kind

Jy is nie aggressief met my nie en stel die grense ferm maar baie respekvol. Dit werk vir my, die eerlikheid. Maar nooit is daar ‘n geskel, gevloek, ‘n dreigende houding of obsene tekens nie.

mali-236

Vrou met haar vissies

Jy laat my toe om soveel te leer van jou, want jy is oop. Jy laat my dink oor myself, my weer eens herbesin. Jy laat my toe om dankie te sê, om te waardeer. Jy het my weer klein gemaak. Dankie.

Die reent kom soos gewoonlik in vlae oor die Kaap neer. Dit is 5 uur die oggend en pikdonker.

Om my skarrel die mense soos miere onderweg na die werk in Harare, ‘n plakkerskamp in Khayelitsha.

Ek is vanoggend ook hier. Ek kan nie sien waarheen ek stap nie en my motor staan ver geparkeer. Dit is Julie 2000. Daar is geen straatligte nie.

Skielik pluk ‘n vrou my hardhandig na haar toe. Ons struikel altwee en val saam in die modder neer. Ek staan verstom op. “Why did you do that!” skree ek.

“Look there. You would have hurt yourself”. Sy wys na ‘n reusagtige, diep gat in die sypaadjie, as mens dit ‘n sypaadjie kan noem. Ek sou binne-in die gat geval het en baie seergekry het as sy my nie uit die pad uit geruk het nie.

Dankie! Dankie! sê ek vir haar. Sy glimlag. Ek voel simpel, omdat ek eers vies was, maar besef my reaksie was natuurlik.

‘n Paar maande later is ek weer in een van die plakkerskampe. Die klein plakkershut, of hokkie, soos die mense dit noem is die tuiste van ‘n vrou en haar drie kinders.

Daar is net ‘n bed, tafel en kas. Alles mooi ingerig. Ek sit met die vrou op haar bed en gesels. Voel die sagte kombers onder my hande. Sy maak vir my soet-soet koffie op die primus.

Dié vrou onthou ek baie goed. Sy vertel my oor haar lewe.

Ek kom nie meer in die plakkerskampe nie, maar op ‘n stadium het ek baie. Ek het weer daaraan gedink toe Soldaat op sy blog geskryf het van kind wat sê die mense in die kampe moet sommer net doodgeskiet word.

http://diegestorwesoldaat.wordpress.com/2008/03/05/bly-liewer-weg/#comments

En ek wonder of die kind/persoon al gesien het hoe lyk ‘n plakkerskamp of een van die hutte.

Hoe lyk dit daar nadat ‘n brand alles verwoes het, tot die troeteldiere verbrand. Hoe vinnig hardloop so ‘n brand?

Hoeveel misdaad en moord daar is? Hoe ver hulle moet loop?

Hoe leef ses mense in ‘n klein spasie, sonder ‘n bad, stort of spoeltoilet. Hoe staan die mense tou vir water, die hele dag.

Hoe is dit met net ‘n primus en ‘n kers?

Hoe loei die wind in die winter?

Hoe sê mens werklik: Dankie