huis2

Toe, erken dit, jy lees of Huisgenoot, of You. Ek weet jy lees dit.

Jy kritiseer Huisgenoot vir die “gemors” wat daarin is. Die sogenaamde sensasie, die paparazzi-foto’s, die allervreeslikste indringing van mense se private lewe, die smet en slet, die drama en moord.

Maar hoe op aarde weet ek en jy dit is daarin sonder dat ons dit lees, of dan na bewering “net in die dokter se spreekkamer daardeur blaai”. Dan is ons baie siek, want ons weet altyd wat daarin staan. “Het jy gehoor…?”

Ons loer na alles wat Charlize Theron en Brangelina, doen, selfs as hulle met met die honde gaan stap – danksy Huisgenoot. Ons weet watter rokke hulle en die ander sterre dra. Ons oooeee oor die baba’s.

Danksy Huisgenoot het ons elke liewe oomblik van prinses Diana se lewe en dood gevolg. Van die verlowing en troue, tot die babas, die trane, die reise oorsee, die egskeiding en die begrafnis. Ons het almal lank na al die kiekies gekyk. Het ons nie? Met SA se isolasie destyds sou ons min gesien het van haar. En ons was gek oor haar, want sy was mooi om na te kyk. Ons het dit nie in die Vrye Weekblad of Mail & Guardian gelees en onsself voorgedoen as intellektuele nie, het ons?

Vreemde operasies, vreemde mense, common-troues, glinster-troues, mense met twee koppe, diere met twee koppe. Oe, al die Mej. SA’s, onthou? Dit eerste in Rapport, die Mej. SA, maar ons het haar gevolg vir die res van die jaar in Huisgenoot.

Elke keer as ‘n monsteragtige reeksmoordenaar of iemand wat sy gesin vir jare lank verkrag of almal uitwis, lees ons dit vlugtig in die koerant. Maar dit is die Huisgenoot wat vir ons die sappige detail gee. Die “wat het nou eintlik in die huis van horrors” gebeur. Erken dit. Jy lees daai artikel, elke woord.

Ons lees dit alles en voel dan skuldig dat ons dit eintlik geniet het. Hoekom, dit is nie nodig nie. Dit is ‘n doodeenvoudige refleksie van die lewe daarbuite en wat aan’t gebeur is.

Dit is sosiale antropologie weergee in woorde en foto’s.

huis1

Hoe lekker is dit nie om te lees dat Steve  Hofmeyr, of enige ander celeb ook maar voete van klei het nie. Dat beroemdes sukkel met dieselfde dinge waarmee ons ook sukkel nie? Om te bevestig dat Hollywood-sterre maar ook net mense en nie gode is nie. Dat arme Britney eintlik aan ‘n psigiatriese siekte ly soos miljoene ander nie. Dan voel ons skuldig dat ons beter voel. Weird.

Dwelms, drank, depressie, seks, skinder, siekte – dit is so real. En wat van al die sappige detail van Jurie. Mmmm?

Huisgenoot se direkte verkope staan tans op 318 128 per week en You op 196 732 per week. Nie per maand nie, per week.

Dit gee Huisgenoot meer as 1,2 miljoen per maand en You meer as 780 000. En onthou, dit is net die verkoopsyfer (sirkulasie), maar nie die leserstal nie. Soveel as ses mense, volgens die ouditburo vir sirkulasie lees aan een tydskrif.

Miljoene mense in die land lees dus Huisgenoot en You. Dit is die grootste suksesverhaal in tydskrifgeskiedenis in hierdie land, maak nie saak wat in hom is nie. En om te se ons lees hom nie, is ‘n leuen.

Mense koop met hulle beursies. Hulle sal hom nie koop as hulle nie hou van dit dat daarin is nie. Punt.

Ons hou van die smet, die drama, die details, ons hou van die seksskandes en die pyn. Want dit is in ons aard. En bowen alles, ons laaik, oh ons is lief vir skinner.

Niemand sal betaal vir iets wat hy nie geniet nie.

Mense gooi hom seker nie weg nadat hulle byna R12 daarop gespandeer het nie. Dit is die lesers wat hom maak wat hy is, anders was sy deure laaaaaankal toe.

Om te se ons is nie lief vir Huisgenoot nie, dat dit nie dekades al deel van SA is, soos wors en mielies is, is ook ‘n leuen.

Ek kan myself oulik hou en se, ek koop net Visi. Ja? Hulle verkoop maar slegs 19 000, elke drie maande. Sarie het sy op en af in ‘n sterk mark en Weg trek 65 000 per maand.

Ek se nie die inhoud is goed nie, dit is nie die punt van die inskrywing nie, ek se bloot spoke kan nie die tydskrif koop en lees nie.  Die inhoud is, ja wel…Of wil ons beweer dit is soos met die destydse Inligtingskandaal en die Citizen, die regering koop die tydskrif op en dump dit iewers? Ha-ha!

En hulle joernaliste? Is net gewone mense. En laat ek julle maar vertel. Baie van die celebs wie se privaatheid kastig so binne gedring word, verkoop hulle foto’s en stories aan die Huisgenoot.  So ook baie ander mense, moenie dat julle harte bloei nie, iemand se bank-balans groei.

Moenie jammer voel vir hulle nie. Steve (en ander) het die media, insluitend, net so goed gebruik om sy boek (en loopbaan) te bemark. Kyk maar uit vir die woord: eksklusief, dan kan jy maar weet. Veral as hulle trou of  baba’s kry.

Celebs se loopbane sal ineenstort, van hulle se loopbane sal nooit begin het nie, veral in die land, sonder die Huisgenoot nie. Glo dit maar.

Ons is lief vir Huisgenoot. Ek weet ons is.

huis3

Ja, ek lees die Huisgenoot, maar ook Time (ek wissel dit al om die ander jaar met Newsweek af), National Geographic, ek het Insig gelees, maar vind De Kat en Visi pynlik snobisties, ek lees ook Scientific American, soms New Scientist en Scientific American Mind en klompie joernale wat nie tydskrifte is nie. Ek lees nie lipstick- en koekbak-tydskrifte nie.

Die inskrywing wat my die idee gegee het hiervoor is: (met dank)

http://oordose.wordpress.com/2009/01/13/steve-en-die-illiterati/


  1. Carina

    Ja ja, ek koop die Huisgenoot. En ek lees dit
    (het immers my Engelse man leer Afrikaans lees en verstaan met die Huisgenoot!) Elk geval, my groot rede hoekom ek dit koop is vir die prentjies (vir skool projekte) – hulle het regtig ‘n helse verskeidenheid en my kinders knip dit voos. 🙂

  2. Jammer ek lees lankal nie meer die Huisgenoot nie. Nie eers “online” nie. Ek het aanbeweeg na iets veel meer opvoedkundig. “Die Son!”😆

  3. Carina: dit is ‘n slim manier om iemand Afrikaans te leer. Ons huiswerker neem ook die Huisgenoot vir haar kinders.

    Rustig:🙂 seks-nes-siesga-opvoedkunde meen jy!

  4. NEE!! Ek kan doodeerlik se: ek lees NIE die Huisgenoot nie. As ek MOET geld uitgee op ‘n tydskrif, sal dit eerder die Sarie wees. Of Runner’s World. Of Tuin. Enigiets anders, maar NIE die Huisgenoot nie! :mrgreen:

  5. Dagse RosalindFranklin
    Ek kan met alle eerlikheid daarop antwoord nee. Ons koop nie die Huisgenoot nie dus lees ons ook nie die Huisgenoot nie. Daar is baie beter lees stof verkrygbaar as daardie tipe van tydskrif.
    Groete

  6. Boedoe, ek kan nogal sien dat jy ‘n tuin-tydskrif of iets soos sal lees. Runners World is ‘n verassing, nie geweet jy hol (weg) nie. Eerder gedink dit pas by Roer.

    WhiteNight: Ek stem daar is beter leesstof, maar ek bedoel iets anders hier. Vertel my wat jy lees.

  7. eilandkind

    Ek het myself altyd verloor vir ure se ‘opvoeding’ met die stapel, stokou Huisgenote in my tannie se badkamer of in ons eie buitekamer. Daar het ek geleer van mense wat lank voor my tyd in die nuus was soos, Daisy de Melker, Patty Hearst, JFK en Jackie natuurlik en ja, natuurlik al die massamoordenaars en vreemde mense in die wereld.
    Ek sien die Huisgenoot van ouds as een van my grootste bronne van kennis, ek weet nou nog van dinge wat, voor my tyd, in ander lande gebeur het, dinge waarvan my vriende nie eens weet nie.
    Ek het egter opgehou om dit te lees voordat ek uit SA weg is, was nie lus vir al die popsterre en goete nie.

  8. Ek is mal oor enige tydskrif!! As ek al die geld moes spaar! Ek lees enige tyd die Huisgenoot, maar ek koop dit nie self nie.

  9. Nee, ek lees regtig nie die Huisgenoot nie Rosie!!! Die rede is maar net omdat ek regtig nie van die spesifieke tydskrif hou nie. Maar dan kan ek ook sê dat ek nie baba tydskrifte of bv die Keur lees nie. LOL As kind het ek natuurlik die Huisgenoot gelees, want ons oumas het almal diè tydskrif en die Sarie gekoop! Daar was nie ‘n groot keuse nie.🙂

    Ek is wel ‘n tydskrif verslaafde, mens kan deesdae kies en keur onder die tydskrifte! Ek lees verseker lipstick en koekbak boeke. Ek lees ook Sky en Telescope, Astronomy, Tuin en Science tydskrifte! In CNA en Exclusive kom ek met ‘n hele gros tydskrifte uit die winkel oor enige onderwerp onder die son! (Nou kort ek nog net die tyd om dit te lees)

    Ek verstaan wat jy hier sê, stem ook saam dat Celebs die media nodig het. Maar ek wil darem net die volgende bylas: Ek weet van mense wie se lewens erg ondraaglik gemaak word deur die media. Die media is soms “in your face”! En ek weet, ek was daar! (Dis nie net Steve wat swaar trek nie)
    Nee ek soek nie ‘n joernalis naby my nie, hulle maak my bang! Hulle snoop tot in jou vullis rond! En ek het so fobie oor my privaatheid! LOL Dankie tog ek is nie Brangelina nie! 😆

    Oor Diana, die arme vrou se lewe was hel met joernaliste. Maar sy het dit soms geniet selfs nodig gehad toe sy die wêreld attent gemaak het oor die landmyne in Angola, vigs ens. Sy het met hulle kat en muis speletjies gespeel en op die einde het dit haar dood beteken.

  10. Lekker inskrywing! Nee, ek koop nie die Huisgenoot nie. Wel Weg en hier en daar ‘n lipstiek en resepte enetjie. As ek ‘n onbeperkte tydskrifbegroting gehad het is daar ‘n hele paar ander waarvoor ek my tande slyp. Vang beslis die Huisgenootvoorblad so in die verbygaan. Want hoe anders gaan ek dan nou weet waaroor skinder almal? My ouers het nie eintlik tydskrifte gekoop nie. En Sondaemiddae wanneer ons by die bure gaan kuier het ek daai pakke Huisgenote deurgewerk op hulle sonstoep waarheen ons kinders verban is. Baie slim geword…So, o, ek ken die Huisgenoot.

  11. Eilandkind: Ek het ook so groot geword met Huisgenoot, dinge geleer, my belangstelling in mummies het inderdaad daar begin. Gelees oor verhale, mense en plekke as kind en soos al nuuskieriger geraak. Die opsterre en celebs traak my ook nie veel nie.

    Tersia: Ek hou ook van tydskrifte en lees inderdaad die wat ek nie koop nie op plekke waar ek moet wag.

    Wippie: Haai, krap joernaliste in vullisblikke! wow. Diana het ook self die media gebel, gebruik vir eie gewin. En die res doen dit ook maar.
    Hulle bly egter weg van die media as hulle aanjaag.
    En hoe presies is Diana dood, dronkbestuur of die media. Of iets anders. Ons sal nooit weet nie. Maar ek hoor wat jy se.
    Ek is ook lief vir Astronomy, maar koop hom nie elke maand nie.

    Ek dink as die media in jou lewe is, moenie weghol nie, praat met hulle, want “no comment” is ook ‘n comment. Gewoonlik is dit eenmalig en weg is hulle. Is dit die media as sulks wat iets wil weet, of die persoon wat die artikel lees? Maar nouja, dit is ‘n moeilike een.

  12. Hi Nelba, ek koop nie die respte-boeke nie want ek kook so sleg, hulle intimideer my! Toe ek klein was wou ek baie graag die Scope gesien het . . . en toe ek dit uiteindelik sien was ek erg teleurgesteld.🙂

  13. Ek koop ook nie HG nie. Glad nie. Ek het ‘n ruk lank Cosmo gelees en koop nou Readers Digest.

    Ek moet seker erken dat ek HG deurblaai wanneer ek by my ma is. Juis vir die Celeb nuus en Dr Adri (Dit is pissnaaks).

  14. ELF

    TopBike .. waarvan Jan/Feb sadly die laaste uitgawe was.😦

    Ek soek my waarheid in mense nie in gedrukte (is die Engelse daarvoor ‘constipated’?) media soos HG nie.

  15. dis so dat celebs huisgenoot gebruik vir bemarking ja, net soos huisgenoot nie sonder celebs kan bestaan nie, maar dit gee geensins die reg aan hulle om mense se privaatheid tot op sulke uiterstes binne te drink vir sensasie nie

    huisgenoot se verkoopsyfers is veel eerder die simptoom van ‘n siek gemeenskap eerder as ‘n bewys van ‘n kwaliteit produk. en nee ek koop nie huisgenoot nie, dit beteken nie dat ek nie deur hom blaai in die tou by checkers nie of in die dr se spreekamer nie, en selfs wanneer daar iets spesifiek is wat ek wil sien, soos bv die eensydige lesersforums wat huisgenoot tans aan die gang het na die steve teedrink insident. moet lekker wees vir esmaré om ‘n medium soos huisgenoot te hê om haar persoonlike battles te fight….en daar my liewe rosalind…daaar lê die probleem met huisgenoot. dis tyd vir ‘n nuwe redakteur. daai vrou is besig om die mugabe van redakteurs te word…

  16. Huisgenoot het darem vir Dana Snyman opgelewer. Maar dis die beste iets wat ek daarvan kan sê.
    Huisgenoot het kunsmatig ‘n belangstelling in koningklikes aangewakker – ek verpes die ou spul.

  17. BB

    Ek koop hom ook nie, maar ek blaai beslis deur hom as hy hier by die werk rondlê – en daar lê baaaaie ander ook rond – Rooi Rose by Marisa en Sarie by Cloudine – Wanda lees Keur… Ek is in ‘n fase van: I don’t buy ANY magazines – vir ‘n goeie 2/3 jaar nou al. But, what the… as ek nou weer op ‘n dag so voel, koop ek dalk HG ook weer – en dan wil ek tog nie die moeite hê om dit te moet explain nie.
    Maar Rosie, ek is impressed met jou, man!! Ek het 2 keer ge-refresh – wassie seker ek is oppie regte blog nie😕 – Rosie is toe wragtig ‘n true, touchable, gewone mens nes ekke – nie net (meer as genoeg) brains nie, maar lekker baie hart en lekker baie ‘girl’ ook!!
    Ek laaiks jou nou sommer nog meer!!
    LOL @ Scope!!!!

  18. Ek het grootgeword met die Huisgenoot, en het dit self vir baie jare weekliks gekoop toe my seun nog in die skool was. Baie nuttig vir take en so aan. En ek hou daarvan om die blokkiesraaisels in te vul.

    Nou koop ek dit af en toe, en dan travel dit weer na vriendin toe wat nog kinders op skool het. Soms koop sy dit, en ek lees dit en stuur weer terug.

    Ek gaan maar min dokter toe, so ek weet nie watse Huisgenote daar rondlê nie! Ek lees dit ook nie in die tou by die kasregisters nie. As iets op die voorblad my prikkel, koop ek dit.😉

  19. Ek rooflees die You se “moord en bloed” stories by ‘n vriendin…😆 Ek koop wel Time en Stuff.

  20. Mmmm jy sien die rede hoekom meeste van die blogmaats nie die Huisgenoot koop nie, is natuurlik maklik om te verduidelik…
    In ons spaar tydjies lees ons eerder blogs as tydskrifte.LOL
    Vandat ek blogs ontdek het, is my lewe nie meer dieselfde nie. 😆

    “Google” is my #1 tydskrif!
    Dankie vir daardie “google link” wat jy vir my gestuur het Rosie!!! Fantastiese lees en leer stof! 😆

  21. Ek koop al lankal nie meer die Huisgenoot nie, nie oor wat hul doen (sensasie soek) nie, maar dit het vir my boring begin raak. Ek koop nou net “Baba en Kleuter”, “Your Baby” en “Living and Loving”. Ek sal so nou en dan as ek ‘n interessante celebrity op die voorblad sien, gou loer by die girl by die werk waaroor die bohaai gaan, maar dis dit.

  22. Paula

    Ek koop ook die Huisgenoot, maar is nie meer so passievol oor hom soos in die verlede nie. Hy het te min aan die lyf .. maar ek hoop nog🙂

  23. Mefri

    Rooskindjie, ek het so lanklaas ’n tydskrif gekoop, maar my randjies het op sy dag elke week ‘n bydrae gemaak om Huisgenoot se salarisse te betaal. Ek lig my hoed met ’n lae kniebuiging vir Huisgenoot; dankie vir Skouspel!

    My gunsteling tydskrif was ‘Readers Digest.’ gewees.

  24. Ek gaan ‘n nuwe tydskrif begin: Spookgenoot (vir die spooklesers van Huisgenoot)

    Adrie: jy erken jy blaai hom deur (punte vir jou), ek hou nie van Cosmo nie, te veel plastiek-seks.

    Elf: mmm waar soek ‘n mens die waarheid? soms is boeke ‘n lekker plek.

    Neil: “om mense se privaatheid tot op sulke uiterstes binne te drink vir sensasie nie” ..ek sal graag ‘n voorbeeld wil he. want mense verkoop in talle gevalle hul stories aan HG. As ‘n mens in die opebare oog is, veral politici, moet jy maar gewoond raak aan die aandag. Dit kom saam met die lewe wat jy kies.

    Alleman: Is waar maar ek dink nie HG het meer of minder gedoen rakende die koninklikes was enige ander oorsese media nie.

    BB: ja flip ek het gehoor my ouma het my oom se Scopes in die koolstoof gegooi to hy army toe is en toe wou ek weet hoe lyk dit. ai toe ek dit jare later sien was ek so teleurgestel. (dankie ja ek is wargtig gewonde mens :))

    Dellie: ek lees die FHM in die tou en by die dokter, haarkapper of so, nogals interessante tydskrif. my liefie doen die blokkiesraaisels.

    Demoerin: ek rooflees ook sommige tydskrifte, veral by die haarkapper.

    Wippie: plesier vir die link😉

    Botter: ek sou seker ook daai gekoop het vir idees en raad as ek ‘n baba gehad het. ek ken Baba en Kleuter en dis nogal oulik.

    Paula: Dis waar as kind was die Huisgenoot lekkerder vir my of selfs nog in die 1990’s.

    Mefri; My ma was ook al na Skouspel en sy het dit geniet.

  25. Hierdie blog wil my ook alewig Mefri maak.

  26. Dit was die rede hoekom ek opgehou het met Cosmo. Hulle herhaal elke jaar dieselfde artikels (en posisies). Eerlik, hulle SA Reports was goed. Dit maak jou oe oop soos min ander dinge.

  27. Ek moet bieg – my naam is Sonkind en ek lees die Huisgenoot. Maar ek lees ook Sarie en kakkerlak en Boeke-Insig en verskeie ander tydskrifte. O ja, en BAAAIIIEE blogs. En gelukkig lees ek nie die Rapport nie😈

  28. Ek lees onder geen omstandighede die Huisgenoot nie! Ek het wel in die verlede.

    Time en National Geographic is ‘n heel ander saak. Hulle voel tien-teen-een beledig deur in dieselfde sin as Huisgenoot genoem te word😉

    Maar ek kan nie die historiese relevansie van die Huisgenoot in die ontwikkeling van Afrikaans misken nie.

  29. Wat ‘n uitstekende post.

    Miskien is die belangrikste ding om by te noem die LSM van mense wat Huisgenoot koop. Dis beslis nie 1 nie.

    Die taalversorging in Huisgenoot is oor die algemeen baie beter as ander publikasies s’n; so ook die vaardighede van die bladuitlegspan. Maar dis te verwagte. Wat my wel frustreer, is die blatante, patetiese vertalings van advertensies wat daarin verskyn. Ek hoop van harte dit word deur buitepartye gedoen, want as dit ‘n inside job is, sal ek baie teleurgesteld wees.

    Self lees ek nie artikels in die Huisgenoot nie, omdat dit – soos jy tereg uitwys – so ongoddelik maklik is om agter te kom of ‘n artikel / foto gekoop is of nie. (I mean good grief, wat is die kans iemand smile elke keer perfek in ‘n winkelsentrum of op die sypaadjie in hoë resolusie elke liewe keer? Dis nie steelfoto’s nie; dis posed.)

    Huisgenotjies is die beste, though😉

  30. Adriana: Ek verstaan jou glad nie, verduidelik?: (Hierdie blog wil my ook alewig Mefri maak.)

    Sonkind: LOL…mooi bieg jy. Wel ek het ook gebieg. Ja ek lees ook maar boeke Insig nadat die vorige een gevou het.

    Emil: Histories inderdaad. Ag basta beledig voel🙂

    Johan: wat op aarde is LSM? Die taalversorging is goed. Die advertensies, soos by baie ander publikasies is dit ‘n seerpunt, dit is nie die redaksie met hul taalvaardighede wat die kopie lewer/versorg nie, maar die adverteerder en/of die advertensiebemarker wat in die meeste van die gevalle nie kan spel nie.

    Posed! Inderdaad. “voor jy die foto neem, wag nie dat ek gou my lipstick aansit”. LOL, ek meen hoe stupid is ek?

  31. LSM = Life style measurement. Dis ‘n unieke skaal wat in Suid-Afrika ontwikkel is om mense se leefstyle / ekonomiese stukrag te meet. Iemand met ‘n LSM van 1 woon in ‘n shack sonder sanitasie en elektrisiteit; iemand met ‘n 10 woon in weelde. Ek sou raai dat Huisgenoot se teikenmark LSM baie hoër as, byvoorbeeld, Keur s’n is.

  32. Uhm… moet ook bietjie bieg … ek is verskriklik “out of touch” met die nuus … enige nuus… ek lees dit nie, kyk dit nie … het net veel beter dinge om met my tyd en geld te doen …. Boeke however is ‘n ander storie … het tonne en tonne van die goed…

    aka.. lees-aholic

  33. Johan: dankie, ja dit is ‘n goeiepunt.

    Merriemuis: welkom hier. ek is ook ‘n boekwurm, eintlik ‘n leeswurm. sou kon doen met nog ‘n paar oe wat ek by die huis sou los elke dag om net te lees🙂

  34. In SA het ek ook nie die Huisgenoot gekoop nie, maar om hier in ‘n winkel te loop en tussen al die internasionale tydskrifte ‘n afrikaanse een te sien, maak dat mens dit koop! Nie mal oor die inhoud nie, maar geniet die Afrikaans. Partykeer lees dit soos ‘n “cartoon-boek”😉

  35. Sandra; ek sal sowaar ‘n Afrikaanse motortydskrif koop net vir die Afrikaans as ek oorsee was.

  36. Ek lees nie die huisgenoot nie, in fact, ek koop geen tydskrif nie, behalwe once in a blue moon die Crafts of Treads tydskrif, en dalk so een scrapbooking tydskrif per jaar. Ek lees hom ook nie in die dokter se spreekkamer of in skoonma se toilet nie. Regtig nie.

  37. Jenny, sal jy die Huisgenoot online koop?

  38. Ek koop nooit die Huisgenoot nie, maar as ek een in die hande kry dan lees ek dit graag. Die enigste tydskrifte waarop ons maandeliks geld uitgee is; Ride Magazine en Golf Digest. My man verslind hulle behoorlik. Ek lees net hier en daar wat ook al interessant lyk. Daar is deesdae te min tyd vir lees.

    Nietemin, lekker inskrywing.

    Mooi jaar vir jou en jou lief!

  39. jenny jy het my oortuig,😉 dankie vir die inloer.

    Wag’nBietjie, dankie en ‘n pragtige jaar vol liefde en geluk vir jou. altyd lekker om van jou te hoor. ‘n Lekker geskenk vir iemand is ‘n subskripsie vir ‘n verjaardag.

  40. maxie

    Lekker inskrywing!

    Eerstens: Ek stem met jou saam oor De Kat. 10jaar terug was dit nog lekker leesstof, maar nou…

    Ek koop die Huisgenoot (hoofsaaklik vir skooltake, regtig) maar lees dit nie juis nie, buiten artikels oor Ryk (die verslind ek!) of iets wat werklik my aandag trek.

    As ‘n vriendin iets noem oor ‘n interessante artikel, sal ek dit wel lees.

    My gunsteling is Mad Magazine! (koop dit al jare en nou is my seun ook verslaaf daaraan).
    Verder koop (en lees) ek Popular Mechanics, Golf Digest, Sarie, Fair Lady en Readers Digest.

  41. Uhm, nee Johan, ek sal nie.

  42. Ken julle die SA wetenskaptydskrif Quest. Hy is nogal oulik.

    Maxie: Ja De Kat was die beste toe Johan van Rooyen die redakteur was. Mad het ek ook eens gekoop maar hy is te veel van dieselfde nou vir my. Hy kort iets nuuts.

    Jenny en Johan: ek is nog nie daar dat ek online sal koop om te lees nie. ek wil nog in die bed le en lees.

  43. Ons koop nie Huisgenoot nie. As ek by ‘n spreekkamer sit, gril ek my vrek vir die Huisgenoot, want hy is altyd vodde gevat! Dink net aan al die kieme wat aan daardie blaaie klou, veral by dokters…

    Dankie tog vir my PDA selfoon, ek het entertainmens in die palm van my hand, ek het nie nodig om na ‘n boek te gryp nie.

    Ek onthou HG toe ek klein was. Ons kinders het letterlik vuis geslaan oor wie die middelblad sou kry – die kamers had skaars ‘n skrefie muur oor, soos wat Michael Knight, MacGyver en The A-Team die kamer oorgevat het! En prinses Stephanie van Monaco! En Rob Lowe en Tom Cruise met sy wet look hare in sy Top Gun suit.

    Gelukkig het ek die urge om HG te lees, ontgroei. Nie oor dit of dat nie, maar daai bleddie boek kos klomp geld, en dan is daar een artikel van waarde in.

    Ek lees Sarie. Insig het gerock. De Kat absoluut sux. Daaroor kan ek ‘n ander storie skryf.

    Ek wonder hoeveel tydskrifte dit gaan maak deur die moeiliker ekonomiese tye. Mens gaan eerder melk en brood koop as ‘n boek. Sal interessant wees om te sien.

    Lekker inskrywing Rosa.

  44. skoor: nee vat nie aan die grillerige tydskrifte by die dokter nie, ek vat net aan die nuwes🙂
    ja onthou ek nie al daai heros nie, en magnum PI!

    ag ‘n HG smaak seker nie te sleg met botter op nie.

  45. Met botter op! LMGA!! Solank ek netnie moet kou aan mienkie se kaal tieties, of steve se oop gulp nie!

    Mind you, wil jy nie maar jou laaste sin her-oorweeg nie, want ek is nou besig om effe naar te raak, hahah.

    Ja, Magnum PI. En Airwolf! Ons het nogal gisteraand oor die helde gesels. Het sowaar ‘n episode van die nuwe Knight Rider gekyk noudie aand. Jinne tog, Michael Knight het ‘n kind, en hy ry die nuwe KIT!

  46. Skoor: sorry jy weet mos ek gril vir niks.
    Ja airworlf. Ag nee die nuwe knight rider is ‘n sissie. En daar is net een Kit. En een ou Miami Vice, en Chips! en Man of Atlantis LOL

  47. Roer

    Ek hou van 3 tydskrifte, maar koop hulle nie altyd nie. Punt is, as ek hulle sien rondle^, sal ek hulle lees. Dis Nose Week, Bicycle (duh) en Home Owner. Lekker pos Rosie.

  48. Roer: Ek het nogal gedink jy sal een of ander fiksheidstydskrif lees, ek dink nog nie daar is een vir paaldans nie, maar ek sal laat weet🙂 Ek sien jou nogal as iemand wat Shape ook sal lees?

  49. Jinne Rosa, miskien is daai Nose Week van Roer alles behalwe hoe dit klink, en IS dit ‘n paaldans tydskryf.

    As ek egter by Shape in die shop verbystap, kry ek miltsteek!

    Ek het vergeet jy gril nie.

    Nou hoekom gril jy nie? Ek trek net jou been.

    Is jou stoof al gesort?

  50. Skoor: Noseweek issie so nie – daai tydskrif soek korrupsie agter elke bos.

    My stoof al uitgesort? Ag jinne maar jy is snaaks. Of jy glo die potensiaal wat ek nie het nie.

    As ek ‘n fiets sien, moet ek gaan le vir ‘n rukkie. Maar eintlik bewonder ek vir Roer wat 05:00 kan opstaan om fiets te ry..ai.

  51. Roer

    Ditsem oor Noseweek (korrupsie), hence hoekom ek hom like. Shape en enige dieet tipe artikel of tydskrif irriteer my Rosie, want hulle vat desperate vrouens vir suckers. Daar is net een manier. Eet reg en oefen. NO quick sollution. Jou yskas toesluit werk ook nie. Vra vir my! Ek hoor paaloefening is baie goeie oefening…

  52. Roer, ek moet se ek het ‘n wilde raai gevat oor Shape, hy lyk vir my na oefen. Dit = ek rol weg/gaan le.
    Oor dieet stem en 200% met jou saam. Daar is geen quick fix nie.
    Ek hoor ook die ding van paaldans ,,, ek sal nou weer net aan die paal hang . . .

  53. hehe, hierdie post is ‘n goudmyn.

  54. Zee

    Rosie, ek koop elke week getrou die Huisgenoot en ‘n paar of 4 ander. Vandat ek kan onthou het my ouma Huigenoot gekoop en dit vir my gegee om te lees as sy klaar was. Ek geniet dit om dit te lees al is daar partykeer ‘n klomp snert in.

  55. Johan: wa,wa,wa die goud. ek soek geld vir travel . . .

    Zee: Ek ook, soms is snert die wonderlikste ontspanning.

  56. Anoniem

    Ons koop Huisgenoot as ‘n gesin, ‘n gewoonte wat dus nie so maklik gebreek kan word nie.
    Vir my is Huiagenoot beslis nie meer wat dit was nie. Ek lees altyd eerste die Huisgenotjies en selfs dit is nie meer dieselfde nie. My persoonlike keuse is dat HG moet regkom, nie tot niet gaan nie.




Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s



%d bloggers like this: