Hans met die skerp tande

Dit was op ‘n Sondagmiddag wat ek ‘n regte, egte, lewende “monster” by my Ouma-hulle se huis gesien het. En hy het gekom vir my.

Agter my Ouma-hulle se huis was ‘n braai-area, buite-toilet en druiwe prieel. En as ek my besige speelroetine moes onderbreek om gou toilet toe te gaan, het ek knyp-knyp na die toilet toe gehol.

Die betrokke middag het ek weer daar gaan piepie. Net toe ek by die toilet uitkom, staan hy daar.

Regop rooi hare. Oë wat die kant toe trek. Skewe hande wat na my uitreik. En toe hy sy mond oopmaak, het hy sulke spits, skerp tande.

Ek het nog nooit sulke tande gesien nie! En hy sê: Aaaarrrghhh. Eeeeuuuuu!

Die volgende oomblik trippel hy, nie loop nie, trippel hy, op die punte van sy tone na my toe. Sy arms is na my uitgestrek.

Ek het geweet die dag gaan kom. Ek het geweet daar is spoke en monsters. Maar ek het nie gedink een sal my kry in die dag nie. Ek het gedink dit sal in die nag wees.

Die tuinpaadjie is te nou en besluit om regdeur my Ouma se petunias koers te kies. Ek ruk daai tuinhekkie oop dat hy so klap teen die muur se verf. Ek hoor hoe trippel hy agter my aan.

Nee! Hy kom in die paadjie agter my aan na ons huis toe. Neeeeeeeeeee!

Ek hardloop vir my lewe en hol teen ons deur vas, kan nie die onderdeur gou genoeg oopkry nie. Skreeuend in die gang af, vertel ek my ma daar kom ‘n “monster-man”.

Sy gaan kyk vieserig. Intussen het hy homself gehelp aan ‘n piesing in ons kombuis. Ek loer agter my ma uit en sien weer die vreemde skerp tandjies.

“O, dis net Hans, van tannie Marie-hulle. Hulle kuier seker by Ouma-hulle.”

“Dis okay Hans, eet maar die piesing, wil jy koeldrank hê,” sê my ma.

Aaargh-Aaargh knik Hans sy kop.

Later stap my ma terug saam met Hans om hom na sy ouers terug te neem.  Hy is al ouerig.

Sy verduidelik vir my hy is erg gestremd, hy kan nie praat nie en hy kan nie help sy arms, bene en tande lyk so nie. Hy is so gebore, sê my ma. En hy is nie ‘n monster nie.

Ek was seker 6 toe toe gebeur het. Ek verstaan, knik ek.

Daarna het ek vir Hans nog baie gesien. Ek het my gedra en nie weggehol nie. Hy het my nog so bietjie bang gemaak met sy skerp tande en vreemde geluide.

Maar hoe groter ek geword het, hoe minder bang was ek vir hom. En hoe meer het ek verstaan. En meer en meer, met deernis. Vandag verstaan ek heeltemal.

Vandag sal ek opstaan, en het ek ookal, vir iemand soos Hans, as hy in onkunde deur ‘n volwassene ‘n monster (of wat ook al) genoem word.

Net meer genade.


  1. ICE

    Ons kort meer mense soos jy in die wêreld, Rosa!

  2. BB

    Seer-seer… mooi-mooi – I can picture the little girl (en die groot Genade). ICE – dis net soos jy daar sê – netso!

  3. Hoe meer ons leer ken, hoe beter verstaan ons?😉

  4. Ai, ((((Rosie)))) jy is so dierbaar!!!

  5. Net vanoggend dink ek wat die belangrikste ding is wat ek my kiddies wil leer, en ek besluit dis genade. Genade vir mense wat nie soos hulle is nie, vir mense wat swaarkry, ens. Ek dink jou ouers het dit mooi reggekry, Rosatjie.

  6. Dankie Ice, BB en Wippie,

    Dellie: Ja dit is waar.

    Boendoe: Ek stem, genade juis vir mense wat NIE soos jy is nie, want ons is geneig om genade te toon vir mense wat soos ons is.

  7. Dit is ‘n interessante skets.

    My eerste kennismaking met gestremdhede was met ‘n downsindroom seuntjie. My ma se vriendin se oom was ook kom ons se ‘n bietjie stadig. Ek kon nooit regtig verstaan wat met hom fout was nie, dus tel hy nie. Hy het normaal opgetree, maar het nooit gewerk nie.

  8. Adrie as hy nie gewerk het nie die oom, was hy waarskynlik op een of ander wyse gestremd. Mense kan gestremd wees en steeds “normaal” optree, maar steeds nie in staat wees om te werk nie, dit is baie tragies.
    Dan is daar gestremde mense fisies, verstandelik en psigiatries wat wel optimaal funksioneel is en wonderlik bydra tot ons werksmag. Mense wat met genade ‘n kans moet kry, voel ek persoonlik.

  9. Rosa

    Ek is bang ek word gemoer. My ma se verduideliking was dat Boetie vertraag is. En ja, ek weet vertraag is ‘n vloekwoord. Ek is nie seker wat die oorsaak van sy toestand was nie. Hy het sy lewe lank ‘n ongeskikheidspensioen gekry tot hy so op 83 dood is.

    Ek sal vir jou later ietsie epos oor verstandelike gestremdes wat werk.

  10. Adrie, ek weet dit is hoe mense praat “vertraag” of “retard” en nee ek sal jou nie moer nie. Die idee daaragter is dat dit vervang moet word met minder kwetsende woorde soos mentally disabled en verstandelik gestremd. En dat ons meer begrip sal toon en dies meer.

    Mense kan in baie verskillende vakrigtings opgelei word en ‘n bydrae tot die samelewing lewer, dit glo ek vas.

  11. Maar dit is soveel minder moeite om bakhand vir n pensioen te staan. en ja, dit drup van sarkasme.

  12. Ek aanvaar dat almal nie so is nie.

  13. Gewis nie. dalk moet ek hieroor n blog skryf. dit is nie net van toepassing op gestremdes nie.

  14. ami

    heidi se sy soek ook skerp tanne
    annora

  15. reisiger

    Dis soos ek omtrent ook gevoel het toe ek die eerste keer met iemand met Down-sindroom te doene gekry het. Dit het ‘n hele paar jaar terug gebeur dat ons by mense gekom het en ek het ‘n blommetjies rok aangehad – pragtige rok met die mooiste pienk rose op. Die dogter (met Down-sindroom) raak toe vreeslik opgewonde oor die rok en maak geluide en vat aan my en ek skrik my boeglam. Haar ouers verduidelik toe vir my waaroor sy so opgewonde raak. Dit is maar omdat ek onbekend was daarmee dat ek so gevoel het. Vandag, baie jare later, het Down-sindroom kinders ‘n baie spesiale plekkie in my hart.

  16. Rosa, jy het darem maar net ‘n manier met woorde. Weereens ‘n lekker-lees.

  17. Ami, ek verstaan nie lekker jou kommentaar nie.

    Reisiger, ja as mens jou hart oopmaak dan gebeur amazing dinge.

    demoerin, dankie!




Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s



%d bloggers like this: