Miss Helen

Jy moet die ver pad aanpak en vir Miss Helen gaan kuier. Jy moet na haar blyplek gaan om te drink uit haar sement-tuin en siel vol boodskappe en eenvoud.

Want Miss Helen, soos die kinders haar genoem het, het iets om te sê vir elke liewe een van ons, maar jy moet jou oe en ore baie fyn oophou. Sy praat sag en haar hande wys skugter. Weet dat hierdie is ‘n reis wat met haar en jouself sal wees.

Ons was al twee keer, in die koudste kou van die winter op Nieu-Bethesda, om vir haar te kuier. So dat my hande skurf gebly het. Maar hoor vir my, as jy na Miss Helen se huis en tuin van beelde gaan, doen dit as die son vroegoggend nog skaduwees gooi, of as hy water begin trek, sodat jy die skaduwees van die beelde kan sien. Daar is boodskappe van lig en donker in.

Die laaste keer wat ons daar was vir ‘n week lank, was ek elke dag by Miss Helen se Uilhuis (The Owl House), want mens sal nooit ooit kan ophou leef saam met haar nie. Haar armoedige huisie is donker, maar die glas-skerwe bring lig.

Dis asof sy sopas verby gestap het na die koolstoof toe.

Van haar beelde, geinsprireer deur onder meer die Midde-Ooste, kyk na die Ooste. hande uitgestrek na bo. Daar is ook sommiges wat lyk soos tipiese wyse manne, kamele skape en ander wesens. Oor een, Vader Tyd, kan mens ure lank tob, ook die meermin wat sit en vra vir geld. Dan is daar natuurlik orals uile en beelde wat ontstellend diep na jou roep.

Die huis is vol interessanthede – alles presies nog soos sy dit gelos het. Selfs die velle is nog op die vloer en kerse in die blakers. Stukke gekleurde glas bedek al die mure waarop die lig flikker.

En dan skielik le daar ‘n sementbeeld op die vloer in die hoek toegedraai in ‘n doek- met een gehoefde klou en een voet.

Op ‘n ander bed le twee poppe, een wit die ander swart in ‘n ewige omhelsing.

Daar is ondertone van spiritualiteit, moederskap/gebrek daaraan?, vryheid, ontspanning, uitreik en/of ontvang, ‘n onkante betrapping van ‘n moontlike seksualiteit of dalk ‘n tipe abuse, vrede maar ook vrees.

Die dorp se mense het haar natuurlik verstoot, onder meer omdat sy nie kerk toe wou gaan nie. En omdat sy net die soos die hoofstroom was nie. So tipies van hoe onverdraagsaam mense is, onseker en bang. Net die kinders het vir haar die glas en leë bottels, stukke metaal en draad aangedra wat sy nodig gehad het. Ons weet vandag dat sy van tee en brood geleef het, en die res van haar pensione gegaan het om sement vir haar werke te koop. Enkele mense het by haar gekom.

Sy het haarself afgesonder, ook omdat sy skaam was. Maar dit was eers op ‘n latere ouderdom (laat veertigs of vroe vyftigs) dat sy met kuns begin het. Sy het glas en sement gemeng en uiteindelik het dit haar oë beskadig (die gemaal van die glas).

Haar uile met hul reuse oë en byna mitiese dier-figure was seker ook vir die dorpsmense onaanvaarbaar. Seker gedink sy skep demoniese monsters en wat lol die ou vrou dan nou met die bruin man om beelde te maak wat niemand tog koop nie?

Haar helper Koos Malgas het haar werk voortgesit na haar selfmoord in 1976 (sy het seepsoda gedrink) en dit probeer onderhou. Die dorp sukkel vandag om die huis en werke behoorlik te onderhou.

Vreemd genoeg is dit die Uilhuis wat juis die dorp aan die gang hou, die dorp wat haar eens verstoot het. Daar is net een Uilhuis en daar was net een Miss Helen.

Iets diep binne ‘n mens roer in jou as jy deur haar huis, erf en lewe stap. Plaaslike mense maak van die figure na en verkoop dit buite die huis.

Die dorp is enig in sy soort, daar is angora-bokke in die hoofstraat, daar is geen verkeerstekens nie en geen teerstrate nie.

Ons uile en ‘n meermin sit op ons stoep – tydloos met blou oë en groen oë. Want ek dink ek verstaan Miss Helen.

Helen Martins

(Die drama en ook flim The Road to Mecca handel oor haar lewe en werk. Daar is verskeie boeke oor haar lewe en werk te koop.)

Foto’s Arnold Erasmus en Tracy Gander http://www.owlhouse.co.za/index.html

(Vir die reisiger wat gewoond is aan 24/7-geriewe. Bespreek vir blyplek by Nieu-Bethesda, mens kan nie net opdaag nie, blyplek is beperk. Soms is die kafee net toe sonder rede – daar is nie ‘n Spar nie, regtig. Daar is nie petrol op die dorp nie. Neem maar eie kos. Soms kan mens uiteet soms nie, hang af hoe die mense wat “eetplekke” het voel).


  1. alta

    Baie interesant!!

  2. reisiger

    ‘n Kuier by Miss Helen is op my lysie van plekke wat ek nog moet besoek.

    Met haar kunswerke het sy gesê wat sy nie in woorde kon sê nie…

  3. Dit laat my baie dink aan ‘n boek wat ek lank terug gelees het en dit maak dieselfde emosies in my wakker. Ek sal myself mos verloor in so plek…
    Die mensdom wat die wat anders is so verwerp gaan my verstand te bowe, maar dis maar wat gebeur as jy nie by die mainstream inval nie. Ek weier om die massas te volg. Ek het nog altyd my eie ding gedoen, al is dit hoe verregaande😉

  4. o ja! o ja!
    “Iets diep binne ‘n mens roer in jou as jy deur haar huis, erf en lewe stap.” beslis. dis asof haar gees nog daar rondhang. jy kan haar desperate vasgekeerdheid aanvoel, haar bykans maniese pogings om uit mediocrity te ontsnap en dit te verdring met skoonheid, met stukkies glas wat lig weerkaats.

    my drama juffrou was betrokke by the road to mecca, maar kon nie in die huis ingaan nie, dit het haar te erg uitgefreak.

  5. Ek het so ‘n rukkie terug ‘n TV program hieroor gesien. Dit moet ‘n belewenis wees om dit self te ervaar. Ek sit dit op my lysie van goed om te doen voordat ek die wêreld groet.

    Welkom terug Rosa, ek hoop die stilte het vrede en aanvaarding gebring?

  6. Eerstens wil ek net sê ek is so bly jy is terug vanuit die stilte Rosie!!!!

    Ek moet definitief hier uitkom!! Ek is mal oor die kunswerke! Dankie goeie inskrywing! Interessant.

  7. Nou wil ek eers gaan. Wou nog altyd Nieu-Bethesda toe gaan, nadat ek iemand ontmoet het wie se pa een of ander gesondheidsplaas of iets daar naby het! Sal moet plan maak!

  8. Dankie was lekker om weer oor die “uilhuis” te lees. My kinders was nog klein toe ons hulle soontoe geneem het. Oppad het ons ‘n donkiekar gesien wat aangebied het om die kinders tot by die huis te vervoer en vandag nog het hulle soveel goeie herinneringe aan die plek.

  9. o rosa, rosa! Hierdie is een van my hart se plekke! Ek het nogal nou die dag gedink ek wil blog oor haar/haar huis. Daar is egter niemand beter as jy om dit te doen nie.
    My sus bly in Steynsburg omgewing en ‘n ander een het op Graaf Reinett gebly, so ons het die pad al ‘n paar keer gevat hierheen.
    Ek raak verlore in haar wéreld, kan vir ure net daar ronddwaal of in haar tuin van standbeelde sit.
    My gunsteling, as ek moet kies, wat SO moeilik is, is die standbeeld van haarself, die een sonder kleintoontjies…
    Die glas en spieéls in haar huis trek my hart, ek wil in so ‘n huis bly, maar my man is ‘n minimalis!
    Kry mens nog die fliek The road to Mecca? Dit is een van my gunsteling, gunsteling flieks, het dit laas op video gekry in ‘n obskure video plek in Oos-Londen, deesdae het plekke mos nie meer baie videos nie. Ek wou sommer die video hou en vir hulle sé dis weg, maar het dit toe maar teen my sin terug gevat.
    Jy is reg, mens moet daarheen gaan wanneer die skaduwees water trek.
    Hoe verlang ek nou na my eie sement uil van Miss Helen, wat tussen my gebokste goed vér in die Oos-Kaap sit…
    Dankie, dankie rosa, jou blog is ‘n juweel voorwaar.

  10. Een van die plekke in SA wat ek nog MOET besoek! Dankie vir hierdie interessante inskrywing.

  11. Zee

    Rosie, baie interessant. Maar waar op aarde is Nieu-Bethesda? Ek sal seker nooit die voorreg hê om daar te draai nie!

  12. Mefri

    insig

    terwyl my oë oor jou woorde gly
    drink my siel dit gulsig op
    en dan skielik
    weet en ervaar ek
    nog ʼn vensterdeur is oop!

    ek dink ek verstaan Miss Helen ook

  13. Hallo alta!

    Zee: Dit is ‘n ent uit Graaff-Reinet. Dan draai jy af op ‘n grondpad, deur die berge kronkel die pad. In ‘n dal, weggesteek van alles le die dorpie met sy donkies, bokke en mense, en Miss Helen.

    Mefri: dit is soos ‘n venster.

    Boerinballingskap: Beslis, jy sal dit geniet, ek is seker. Bly 2/3 dae. Daar is net iets aan die plek. Iets magies.

    Eilandkind: nee vrou, blog jy ook haar, ons almal beleef dit mos anders, toe ek wag. ek sien jy verstaan ook dat mens vir ure in haar huis en tuin verlore kan raak. nie kan ophou kyk nie. ek weet nie presies wat dit is nie??
    ek weet nie of die fliek op DVD is nie. Ek het dit op die big screen gesien as student in 1992, ek was dadelik in ‘n beswyming of iets. Maar het eers in 2004 by die huis uitgekom. ek weet wat jy bedoel oor die fliek wat jy wou hou😉

    Sandra: Die donkiekar is steeds daar, dit neem mens op ‘n stadige toer deur die dorp. heerlik.

    Demoerin: jy moet gaan en dan kom vertel jy ons hoe jy dit ervaar.

    Wippie: dankie ek is so half-terug. JY sal vrek oor die plek en ek weet een van die beelde wat die mense verkoop sal pas by Marie-Antoinette in jy tuin.

    Dellie: mmm die dinge wat stilte bring is veel…

    Maeree: dit is asof Miss Helen nog daar is, asof sy net gou kafee toe is, ne? is van die kragtigste kuns wat ek ooit ervaar het, rou emosie.

    Kaalvoet: die spore van die massas trap so gemaklik jy sien. trap daaruit en jy kry ‘n negatiewe “naam”.

    Reisiger: soveel is ongese van wat sy probeer se het, jy sal sien as jy daar kom

  14. Die TV program onthou ek, dit het my ook soos jou inskrywing gefassineer. Baie mooi.

  15. Dis definitief om my lys van dinge om te doen voor ek doodgaan is om n draai te maak by miss helen se uilhuis, ons het op universiteit n projek oor haar huisie gedoen, dit fasineer my ontsaglik baie.🙂

  1. 1 Die week in ‘n neutedop…. « Demoerin’s Klasak

    […] pattie! In die toerrubriek het ons darem weer die week na 2 budgets gekyk: Gaan kyk na die uile of toets ‘n interessant stoel uit. Ek kan net nie besluit watter een die budget gaan blaas […]




Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s



%d bloggers like this: