Die Boere-troue

“Hey, my meishjie, wilsh jy nie sho bietjie met die oom dansh nie,” se die vatterige, vet, middeljarige man met so comb-over op die egte Boere-troue.

Hy het jou al ‘n klapsoen ook gegee, al ken jy hom nie. Niemand kom ooit tot jou redding nie.

Hy ruik na drank. Sommer enige drank, veral die wat hy gratis kan afsluk.

Die sweetreuk hang dik om hom, want dit is Desember en al wat hy net effens op sy wange tik is Old Spice. Hy spuit nooit deodorant onder sy arms nie, want hy is nie ‘n “moffie” nie. Hy weet nie sy seun is gay nie.

Hy dra ook sy troupak, al was dit tien jaar terug al te klein vir hom.

Indien jy vlug van voet is, kan jy sy reeds grypende hande wat al om jou middellyf krul, ontduik. Anders trek hy jou sommer nader om jou swaaiend na die dansbaan te sleep-trek. Hy kan natuurlik glad nie dans nie en besit die ritme van ‘n T. Rex. Noudat hy dronk is, kan hy nog minder dans, maar hy dink hy kan.

Jy protesteer luid. Nee dankie, ek wil nie nou dans nie, my kerel wag vir my. “Ag, moenie worriesh nie, hyshallie mind nie.”

Die bruidegom is ook effe dronk, of van senuwees of van die ramparty van die vorige aand. Sy gesig is rooi en hy dra die pak waarin hy aangeneem is.

Dan is daar die tannies wat ritse vrae uitryg. Wat doen jy, hoekom het jy nog nie kinders nie, vele vrae en hulle luister nie na een antwoord nie. Terwyl jy wegstap bespreek hulle jou volledig.

Indien die rok van die bruid, miskien lewendig sou word, sal dit ‘n gevaar vir lewe op aarde wees. Die ding sal daartoe instaat wees om eerste die kinders en dan ander vorme van lewe te eet. Toe sy die kerk instap snak almal na hulle asem van skok. Die moeder van die bruid, dink haar dogter lyk pragtig. Die pa van die bruid kla oor die geld.

Die moeder van die bruid, ‘n studie in pienk/pers/groen of die immergewilde duifgrys, is ‘n emosionele wrak, sonder rede. Miskien oor die kondensmelk-horinkies pap geword het.

Elke liewe kind wat nog ooit ‘n engel was raak op die tradisionele Boere-troue, ‘n werfetter. Iets vaar in hulle koppe in, hulle raak verbeteringskool-gevalle. As jy hulle sien, wil jy hulle met die plathand bykom, maar jy kan nie, want dit is nie jou kinders nie. Almal sien wat hulle aanvang, behalwe hulle eie ouers. Weird.

Daar is natuurlik, buiten die jagse ou omie(s) wat altyd met die jong vroue lol, ook iemand wat met iemand se man/vrou neuk. So ‘n onderliggende seksuele spanning wat laataand tot uitbarsting kom.

Die tieners drink skelm uit half-vol glase.

Teen daardie tyd is die orkes/DJ ook al getrek.

Die toiletpapier is op. Altyd.

Iemand of iets het hulle vinger in die troukoek gedruk.

‘n Ouma of oupa word verlate gelaat.

Iemand het hardop gewonder oor wat die hel in daai groot boks is – die ene op die geskenktafel?

Daar is altyd iemand wat soveel skaapvleis vreet dat almal dink hy kry ‘n hartaanval.

Die tannies vat (nie steel nie) vir hulself die tafelruikers soos hulle lus het. Die ma van die bruidegom is eintlik die moer in, want sy het dit aan haar vriendinne by die boekklub belowe.

Die troues het uitgesterf. Of dalk nie?

Advertisements

  1. Dit was nou die akuraatste beskrywing van troue hou. Ek kan hulle sommer name gee want ek ken elke karakter.

  2. ICE

    Puik beskrywing!!

    Ek stem, Rustig! Ek was al op baie sulke troues!

  3. Wonderlik!
    Jy hou ‘n mens gevange en maak soveel verskillende herinneringe wakker met jou vertellinge.
    Ek het op die platteland groot geword en was by tonne sulke troues.
    Ek het dit GEHAAT wanneer al die ou ooms mens net wil hello en koebaai soen!

  4. Rustig: Ek ken ook ‘n paar by die naam, maar die wereld is klein. 😉

    Ice: Ek was in die laat agtigs op so troue.. jinne dis erg, maar ook so “eie”. (ek het jou opgesit hier by my)

    Eilandkind: Daar is maniere en maniere vir sulke ooms (grin) (ek sit jou nou op my blogrol)

  5. maxie

    😆 😆 Het nou lekker gelag, dankie! Daai grillerige ooms… yuck! Een het eenkeer sy tong in my mond gedruk, word nou nog naar as ek net daaraan dink 😮

  6. Ek koes myself toe bykans van my stoel af toe ek hier lees van daai omies, ek weet SSSOOOO waarvan jy praat. Ek wens iemand wil troureëls (lees ettiket) opstel!!! Ek gaan nie meer na troues toe nie, come to think of it, ook nie dope, begrafnisse of familiereunies toe nie… Nee aarde, elke mens het sy perke! 😈

  7. Jaco

    Elke naweek gebeur daar ‘n hele paar sulke troues in ons ou landjie. Gmmph, en mense worry actually oor dwelms . . .

  8. Reisiger

    Only in South Africa, wil ek amper se, maar dalk is dit in ander land ook so of dalk net ‘n klein bietjie anders. Ja, ek was ook al baie op sulke troues en ek het dit verpes!!

    Baie goeie vertelling Rosa!!

  9. Ek was ook daar! 😆 Uurrgg en as daai omie jou so vasdruk en basies optel tot op sy pens dat jou voetjies so in die lug spartel… o hel nee, ek het terapie nodig! 😯 😆

  10. Liewe Jesus, mag Rosalind Franklin se storietjies nooit opdroog nie. Amen.

  11. Zee

    Sjoe, gelukkig was ek die gespaar! maar het dit wel al sien gebeur.

    Lekker gelag Roos!

  12. Mefri

    Rooskind, dankie vir die moeite wat jy met elke inskrywing doen, dit is ‘n plesier om dit lees. Ek kom loer elke nou-en-dan na die vrolike spontane kommentare en dinge wat hier kwyt geraak word. What a pleasure!

  13. Maxie: As ek ‘n tong in my mond gekry het so ek aan skreeue gaan het soos met die slang.

    Pikke: Ons familie is so gelukkig so droog en klein hulle teel nie meer aan nie. Dit is my gespaar. Etiket! Dink jy daai ooms sal hulle steur aan dit?

    Jaco! LOL LOL

    Reisiger: So waar is deel van ons kultuur en ons moet daarvoor lag.

    Dellie: Terapie…ek ook dis waar ek een van my eerste knakke gekry het, op ‘n troue in 1986 op Zeerust…

    Eendjie: 😉 dis maar soos die kassies in my kop oopspring.

    Zee: Jy is gelukkig vrou.

    Mefri: Groot plesier en dankie vir die kuiers.

  14. Wat erg is, daar is mense wat trots op die tipe troue is. Al iets gehoor van “My big fat Afrikaner Wedding”? Deel van die redes hoekom ek troues pes.

  15. BB

    LOL!!! Rosa jy is soooo skerp – en soooo raak! Ek was vir die eerste keer in my lewe op ‘n boeretroue toe ek al mid-30 was – dit was ‘n groot culture shock vir my 😯 – en ja, daai omies… ai-jai-jai… ek kon gelukkig two-step – alhoewel – toe daai omies my beetkry (“arme kind wie se man nie dans nie en sy lyk so of sy wil”) kon ek for the life of me nie verstaan dat hulle dit nodig ag om my regop te hou deur my HELE linkerboud vas te vat terwyl ek net op die reguit pad hoef te trippel, want om die draaie het ek air-born geraak – en amper half-bly dat daar wel housvas plek aan my was – anders het ek in die lobby geeindig… 😳
    Ek moet sê ek het al aangeleer om die hand so nonchalant as moontlik op te skuif middel toe, want sien, intussen het ons nou al oooooou-bekendes geword en ou blonde-kop goody-two-shoes BB’tjie kon nog nooit lelik wees met gawe ou gryskop omies nie (hoe jimpels ookal 😉 – ek bly weg van ‘n langbroek onder die ouderdom van 35 (daardie jong anties slaan blykbaar hard en seer) – die ouer anties kyk mens so goediglik agterna, want eintlik is ek great pelle met hulle en hulle weet ek willie die oom hê nie…
    ek moet sê die kos is altyd maar altyd uit die boonste gestoeltes!!
    Ditto Eendjie!!!

  16. Adrie: Flip jy het ook nou in Spam gaan le. LOL. My big fat, SWEATY afrikaner wedding.

    BB: Jy is so reg, as dit net lyk of jy nie dans nie, dan kom hulle na jou toe soos brommes na poef. Ja mens stuur met die hand op nie rug, NIE hand op die boud nie. LOL.

    Jy is reg, die kos is wonderlik.

    Ek het vergeet om te se!!!!!!! MENSE STEEL ALTYD DIE TAFELRUIKERS.

  17. BB

    Issit nie Rosa!!! dis sooooo kommin!! die gaste wat verkas met die ruikers – maar dan – by ons (duitse tradisie) kry die oudste female gas aan die tafel by default die tafelruiker… jinne, party mense stap met daardie super-dik hervulbare candle-en-al-centrepieces daar weg!! ek moet bysê, by my stiefpa se restaurant loop daar gereeld gaste ná Sondag lunch uit met die tafelruiker – s e r i o u s l y 😯 !!

  18. BB: Verkas, ja daai is nou ‘n lekker woord vir steel.(natuurlik as dit tradisie is, is dit ‘n ander saak). By boere-troues is die tradisie dat jy dit kan kry as dit aan jou GEGEE word.
    Ek kan nie glo mense steel blomme in die restaurant nie. “Ag, maar vat sommer vir jou ‘n braaipan saam met die tandestokkie ook huistoe, dankie, kom weer.”

  19. As mens gelukkig is, is dit net ‘n vinger wat iemand in die koek gedruk het…

  20. Pienk Zuit: LOL mmmmmm presies wat ek bedoel het (flip klomp mense beland in spam ek verstaan nie wat gaan aan nie)

  21. maeree

    hahaha
    ek haaaaat troues (en ek woon hopeloos te veel van die goed by. maar ek doen nie meer onthale nie – woon net die actual troue by)

    oe, jy’t my geinpsireer. ek dink ek gaan nou blog oor my troue.

  22. Maeree: ek wag in spanning om te lees van jou troue….ek haat dit ook. Ek is seker jou troue was heeltemal anders.

  23. Wipneus!

    So ‘n raak beskrywing. Dis of ek weereens self by hierdie sirkus was. Hulle loop ook nie net met die tafelruiker nie, hulle pak sommer kos in vir die volgende dag of week!!

    Ugghhh en ek gril so vir daai soene, asems en arms wat hulle so mildelik aan jou uitdeel en jou mee omhels!!

    Ek is baie goed met wegkruipertjie speel op troues, begrafnisse en familie reunies. Ek sit altyd eenkant en bekyk die “sirkus vertoning” My gesig spreek boekdele!!

  24. Ek was eendag by ‘n portugeuse troue. Altans my portugeuse vriendin het met ‘n rooinekoutjie getrou. Dit was baie aangenaam. Niemand het hulleself wangedra, dronk geword of die bruidegom verpes nie. Dit was waardig en heilig.

  25. alta

    Goeie beskrywing.

  26. Wat van “sjoe die kinners het groot geword, ek het hulle laas gesien toe hulle in die doeke was… ons moet regtig meer by mekaar uitkom!”

    ek dink ek was een van daai werf-etters wat soos ‘n mal hoenner die hele wereld rondgehardloop, onder die tafels rondgekruip, op die gladde vloer gegly het, dogtertjies se hare getrek het, troukoek-gooi gevegte gehad het, ens. ens.

    En dan daai gevretery. Het al vergeet hoe ongemaklik dik ‘n mens gevoel het net omdat jy iets van alles moet eet…! Dis om van te kots.

  27. demoerin

    Weereens ‘n moerse lekker storie! 😆 vir ritme van ‘n T-Rex!

  28. Wippie: So jy is een wat sit en kyk vir almal? (ek ook)

    Adrie: wat is ‘n “rooinekoutjie”

    Alta en Demoerin: dankie vir die inloer

    Johannes: Ja ek het vergeet van daai een!

  29. flippiefanus

    Dis nou baie goed beskryf. Nou nie dat ek sal weet nie. Ek was seker meer as twee dekades laas by ‘n troue. Vermy die goed soos die pes. Bygese, van wat ek hoor klink dit my Kanadese troues is nog erger.

  30. Eish, spelling (of eindlik tale) is nie my sterkpunt nie.

    Dalk beter so: rooinek-outjie.

  31. Adrie: oooo flip, ek moes gekliek het, dankie.

  32. vokov

    Waar vokin hang jy uit, ou Wildstes? Vokof ken gelukkig nie sulke snaakse mense nie.

    Ons hou sommer lekker paartie, dis net as die gooste mekaar begin vasdruk dat ‘n effense stilte oor die vokin saal neerdaal, maar dan dans almal stokke in die wind voort!

  33. O donner – praat jy nou! Ek hoop net die mense gedra hulleself op my troue!

    Daai ruiker steel storie is vir my erg!

  34. Netjane: Dis oordat almal eintlik aandag soek en net die bruid kry aandag, dat hulle so aangaan.

    Vokov: Jy was al op sulke troues broer, jy weet net nie dit is vokkin weird nie…LOL. Dans maar lekker hoor!

  35. Jacob Vispoep

    Gaaf,…. die storie oor die troue, ek was al op ‘n hele paar. Sommige in my eie familie en sommige as date… Die mense is almal dieselfde, regoor die land. Die chintz tannies en die ooms met die brandwurm bo-lippe. Generiese genetiese gemors. Al wat missing is is die bakleiery buiteen die DJ wat “Red Red Wine”, “Lady in Red” en “Rat in the Kitchen” oor en oor speel. Later kom “Macarena” en die “Clap Clap Song” op. Nee dankie.




Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s



%d bloggers like this: