Hou koers!

“Ek wil ‘n Voortrekker word,” se ek vir my Ma in 1980.

“Hoe seker is jy? Want jy wou ook ballet, judo, en klavier speel,” se sy.

“Ek is baie, baie seker. Dit is wat ek wil doen,” se ek sonder dat ek weet wat die Voortrekkers is. Eintlik is ek gelok deur die uniform en dit wat ek dink rituele om die kampvuur is. Dit klink vir my soos ‘n geheime bende waar net lede weet wat aangaan. Ek pols my maatjie oor wat op die kampe en na-skool gebeur, maar sy laat nie veel blyk nie.

Ek is 8 jaar oud en van nasionalistiese gebrabbel-praat weet ek nog nie baie nie (en die breinspoel van die veldskool wag nog vir my).

My Ma reken ek moet eers as ‘n nie-lid een van die kampe bywoon, voordat sy geld spandeer aan ‘n uniform. As ek dan nog steeds daarvan hou kan ek aansluit. Want ek verloor belangstelling in sogenaamde buitemuurse aktiwiteite (soos die skool dit noem) so gou as wat ‘n mens se: Hou Koers!

Ek is klaar vies toe ek hoor, meisies kry fluitjies en seuns kry knipmesse. Wat de hel moet ek met ‘n fluitjie maak? Netbal afrig? Maar daar is sooooooo baie wat ek met ‘n mes kan doen. My eerste ervaring in seksisme en gender-rolverdeling. Hoekom kan ek nie kies wat ek wil he nie? Stupid!

Nouja ons vertrek op die kamp. Ek gaan natuurlik sonder uniform.

Die kinders gedra hulle heeltemal toe goed, en die tannie se dun lippe is ‘n pyn. Dit is geen pret nie. Ek wou eintlik wild in takke rondgeswaai het. Die “lesse” voel soos preke. Soos iemand wat met my raas. Dit voel vir my al die oorloë is my skuld en ek bid te min.

En hoe langer die naweek word hoe skuldiger voel ek oor sommer alles (die verwoestende uitwerking van in ‘n inteelde Calvyn-geen). Ek wens ek kon my ma bel, maar hier is nie ‘n tiekieboks nie.

Ons eet eiers vir ontbyt. Ek het ‘n traumatiese ervaring rakende eiers gehad (te sensitief om hier te deel). Ek loop stilletjies met my blikbord af na die rivier om van die eier ontslae te raak.

“Eet jou eier hoor,” gil die dunlip-tannie agter na. (Ek en die einste stupid dunlip-tannie sou later in st.3 nog in die wetenskapklas koppe stamp oor die siklus van die padda)

En daar op die wal van die rivier sit die grootste varswaterkrap wat ek nog my hele lewe (en tot dusver ook) gesien het. Ek stap stadig nader. Die krap sit net daar – sy ogies roer effe.

Ek gooi ‘n stukkie eier na hom toe. Hy kom vinnig nader en vreet daai eier soos blits op. Dit is asof die eier nooit daar was nie. Ah! Ek gee hom nog ‘n stukkie. Hy eet dit ook.

Ek voer hom sommer ‘n groot stuk met my hand, en saggies neem hy die eier met sy knyper uit my hand! Hy eet al my eier. Dankie tog.

“So wil jy nog ‘n Voortrekker word?” vra my Ma toe sy my kom oplaai.

Nee ek dink ek wil eerder perdry, se ek.

Advertisements

  1. Enige kampe wat iets met die skool uit te waai gehad het, het vir my altyd stukkend gesuig.
    Fluitjies? Ha! Ha! Ek dink regtig die meisies was ingedoen. Julle moes sommer daai fluitjies onophoudelik geblaas het totdat daai een met die dun lippe se kop bars.

  2. Rosa

    Duidelik het jou ma jou geken. Waar ek was, was daar nie voortrekkers nie. Ek dink dit is iets wat ek baie sou geniet het (kampe uitgesluit). Ek is darem ‘n paar jaar agter jou, in die tyd wat geslagsgelykheid tuis geraak het in die voortrekkers. My beste vriendin was haar lewe lank in die voortrekkers en hulle lesse het iets beteken.

  3. Ek wou ook maar ek’so bly die uniform was te duur…!

  4. Dalk was die uniform vir my ma ook te duur!

  5. Von

    Haai Rosie, het sowaar al vergeet ek was ‘n Voortrekker – kan nie eers meer alles onthou wat ons gedoen het nie. My lidskap was ook van korte duur want die uniforms was vir my ouers ook te duur en ‘n ernstige, volbloed Voortrekker moes verseker ‘n uniform kry. Die fluitjie/knipmes kwessie was vir my ook onregverdig. Het altyd gevoel die seuns kry die lekkerder/interessanter dinge om te doen. (Voel soms nou nog so!)

  6. Ek wou ook ‘n Voortrekker geword het, seker ook iets met die uniform te doen gehad en omdat ek eintlik baie van reëls hou. My ma het net geweier. Gesê dis te Afrikaans… 😕

  7. Jaco

    Ek moes kies tussen voortrekkers en kadetkampe omdat my ma’le net een van die 2 kon bekostig. Ek het kadette gekies want daar kyk jy net voor jou, die army sal agter jou kyk. Hulle het ook gewere en kanonne en ander cool stuff gehad wat die voortrekkers net van kon droom

  8. Ek moet eerlik wees, ek het nooit eers ‘n begeerte gehad om ‘n voortrekker te wees nie. Ek was maar ‘n regte huishond wat eerder my dae met ‘n boek onder die boom deurgebring het. By ons was voortrekkers in alle geval vir die ‘in’ kinders, nie die bleeksieletjies wat te skaam was om blikskottel te sê nie… 😕

  9. Ek het die parade gehaat. Die kampe was ok. Die uniform was cool en my groepie was “Die Jagluiperde”. Ek het van die badges ook gehou. Ek het nie van die Penkoppe gehou, maar wel van die Drawertjies.

    Dit was lekker om ‘n Verkenner te kon gewees het.

    Toe lees ek van Mandella in die tronk … en alles verander.

  10. Ek stem saam, gee my ‘n perd, ‘n plaas en berge…menige dae in die berge op ons plaas rondgehang…en fiets gery saam met maats op die plaas kronkelpaadjies…en in waterval-poele geswem…dis meer van ‘n lewe as om 1x per jaar (of hoeveel?) op ‘n kamp te gaan…;)

  11. Het jy toe perd gery? Rosie ek was mal oor perdry, dis so bevrydend. Ek mis nou nog my perd 🙂

    Klink my jy was ook ‘n tom-boy. Ek was bekend vir my kop stampe met onnies. 😛 Wel ek het die kop stamp storie nogsteeds nie afgeleer nie…..

    Geniet die naweek

  12. Nee kyk, die Voortrekkers was nie vir my nie! Ek het nooit tyd gehad nie, dit was eerder musieklesse. 😉

  13. Ek kies ook eerder ‘n perd. Ek het darem ‘n perd gehad toe ek ‘n kind was, het hom sommer bloots gery ook party dae.

    Voortrekker uniforms was vir my lelik. Ek wens ek kon sien hoe voer jy daai krap. Ek voer altyd die seevoels by Houtbaai slap chips. Ek hou my hand in die lug, met die chip tussen my duim en wysvinger, en dan kom hulle, so in die vlug, en pik dit uit my vingers uit. As mens weer kyk, is jy omring van die voels 🙂

  14. demoerin

    hahaha, ek was ook nog nooit een vir iemand wat ‘n sekere siening of ding in my kop wou inprent. was nog altyd meer van ‘n maak my eie mind op sodra ek daaroor gedink het! Ek was egter bly oor die knipmes, al was dit van korte duur!

  15. Die waatlemoen gevegte op Vrydae was net so 😎

  16. Rosa, ek dink jy moet vanaand Trompie gaan uitneem, en lekker terugverlang na die goeie ou dae.

    Dit het gewerk vir my, maar nou verlang ek sommer na nog ‘n klomp ander goed wat ek al vergeet het.

  17. Zee

    Skoor, nou laat jy my aan Saartjie dink 😉 Roos, kan jy glo, ek sal my ma moet vra of ek ‘n Voortrekker was. Ek kan om die lewe nie onthou nie. 🙂 Ek sien hier voor my al hoe jy daardie vis gevoer het 🙂

  18. maeree

    “dis net ‘n worsie, anderaf duimpie, bo-op ‘n snytjie, botter en brood… maar in my hart is daar geen smaaaaart meer, ek het die worsie na binne gestuur”
    wees dankbare vir jou jeugdige wysheid, anders bg liedjie ook op rustige aande deur jou kop gedraai.

  19. As ek so na die stories luister is ek bly ek het verbygehou! Ek het sommer my eie verkenning op die plaas gedoen en dit met ‘n knipmes! Ek sou ‘n tantrum gegooi het as ek ‘n simpel fluitjie moes kry, want ek was (en is nog so bietjie)’n tomboy! Ek het lekker gelees Rosa, dankie!

  20. Skoor, jy praat so van Trompie en Zee van Saartjie. Ek het al daai boeke gelees! En wie ken Die Uile??
    Ai man, hoe verlang ek nou. Dit was natuurlik deel van my brandende begeerte om deel van ‘n bende te wees wat lekker dinge doen.

    Ek was natuurlik ‘n tomboy, (ja kaalvoetinnireen, ek is nog steeds so effe een). Baie waaghalsig en ‘n effe van rowwe kind.

    Ja, Wipneus ek het toe perdgery. Tot in st. 6 toe ek helse hard geval het en my stuitjie heeltemal gebreek het. Ek kon vir 3 maande nie behoorlik sit nie.

    Sonkind…ek voer altyd diere…waar ek ookal kom. As daar ‘n dier is word hy gevoer.

  21. Genadiglik is ek nie in daai klub toegelaat nie- slegs ras suiwer egte afrikaners is toegelaat. Dankie tog daarvoor, veldskool het ‘n permanente letsel gelaat.

  22. Ek het die Uile gelees, maar dit was nie my gunsteling nie. Die reeks wat die daglig uit my geirriteer het was Soekie. Raak nou nog naar as ek aan haar dink.

  23. Blixer, my kop sou nou eers geraas het as ek wel aangesluit het (en nog veldskool daarby gekry het). Maar my Liefie meen weer nee, ek is so rebels dat die voortrekkers my net nog meer rebels sou gemaak het, veral oor die fluitjie-mes-issue.

  24. Ek was ook so ‘n rowwe plaaskind. En ek het vreeslik hard probeer om ‘n arm te breek, want ek wou ook cool prente op my gips teken.

    Ek het dit, Goddank, nooit reggekry nie. Maar vandag pyn my litte en gewrigte, en ek reken dis oor ek so stupid was daai jare!

  25. Knipmes?! Ons seuns het ook net vluitjies gekry!

    Voortrekkers was van my beste tye op skool, solank mens jou nie aan die politiekery gesteur het nie.

  26. Gaan vra jou knipmes, hulle skuld jou. Iemand het julle vir ‘n pop gevat. LOL.

    Wel ek belowe jou by ons skool is meisies nie met messe vertrou nie.




Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s



%d bloggers like this: