Eugene die grote

 

 

Eugene Marais was veral bekend vir poësie en werk oor miere en bobbejane, maar hy was véél meer as dit. Dié briljante wetenskaplike was ’n baanbreker in die veld van etologie en talle van sy bevindings oor verskeie vakgebiede heen. ‘n Baanbreker in die waarneming – iemand wat weggesteek staan agter ‘n paar matriekgedigte. 

 

 

’n Groot styd wat Marais gevoer het was teen antropomorfisme, of die neiging van die mens om homself in die middelpunt van alles op die planeet te plaas. Sy benadering tot die natuur was veel breër as die mens se kort bestaan. ‘n Beginsel wat ‘n mens baie buite die gespreekwoordelike boks laat dink. Ons is g’n so spesiaal nie. Wie se diere is laer as ons?

 

 

“Skoonheid in die natuur is nie vir die mens bedoel nie,” skryf hy in die Huisgenoot in 1926. Hy gaan verder om te sê dat die natuur al daar was vir miljoene jare voor die mens bestaan het en dit sal daar wees vir miljoene jare nadat ons hier was. Inderdaad.

 

 

Ons is vreeslik verwaand oor ons eie belangrikheid. Mense is nie die middelpunt van die Heelal nie. Ons is net toevallig die dominante spesie van hierdie tyd. Dinosourusse, onthou, was eens dominant.

 

 

Dr. Wilmot James, hoof van die Africa Genome Education Institute (AGEI) het verlede jaar tydens een van die gewilde Darwin-lesings wat deur die AGEI by die mediese skool van die Universiteit van Kaapstad aangebied word, sy lesing gewy aan die wetenskap van Marais. Ek het dit bygewoon.

 

 

“Alle die skitterende kleure van die pronkpou, van merops, van ons suikerbekkies, van die loerie, is alles bedrog. Dit is alles te danke aan ’n slimme klugspel van die natuur – waar spoke wat in werklikheid g’n reg van bestaan in ’n materiële het nie,” het Marais in 1926 in Huisgenoot geskryf. Want dit is nie die oog wat sien nie, dit is die brein.

 

 

Ons weet vandag presies hoe sig werk, maar Marais het dit dekades gelede al verstaan. Dit die oog die lig “versamel” en die brein wat kleur en betekenis daaraan gee.

 

Alles staan onder genetiese beheer en sy verstommende insig in die werking van die oog en brein kom sonder dat daar enige aanduiding is dat hy vertroud was met die werk van Gregor Mendel.

 

 

Dit is ook hier waar hy vasgesit het met die bekende Jan Smuts, wat ook president van die Akademie van Wetenskap was, oor sy “holistiese benadering tot die natuur”. Marais was woedend te hy hoor die British Royal Society wil aan Smuts ’n prys vir ’n boek, omdat hy gemeen het Smuts se skrywery is gebasseer op “wanbegrippe”, “onsinnge verwaantheid” oor sy idees oor sogenaamde skoonheid in die natuur en sy totale onkunde van feite.

 

 

Marais het gemeen (en korrek ook) dat daar nie so iets soos skoonheid in die natuur is nie. Skoonheid word in die brein aanmekaar gesit deur middel van neurologiese aktiwiteit. Dit is ’n biochemiese konstruksie geplant in die geheue-sisteem van sy eienaar. Skoonheid is in die oog, of meer presies, in die brein van die eienaar.

 

 

Wat mooi is vir die mens, is nie mooi vir ander diere nie en dit is net menslike arrogansie om te dink dat dit is. Kleur het verskillende doele in die natuur, dit speel onder meer ’n rol in kamoeflasie en in seksuele seleksie.

 

Sowat 140 jaar ná Charles Darwin en 80 jaar ná Marais het navorsing vandag in molekulêre biologie bewys dat evolusie inderdaad die meganisme is wat Darwin se meganisme van fantastiese perfeksie, die oog, gevorm het.

 

 

“Om in ons tyd van ’n grenslose Wese, sonder begin en sonder einde, te dink as onderhewig aan ons gemoedstoestande, is byna geen weerlegging waardig nie. Ons dierlike siel kan Hy nie besit nie net so min as ons dierlike liggaam. Ons skoonheidsgevoel kan alleen bestaan solank as die mensesiel bestaan en op sy omgewing reageer. Lig en duisternis kan vir ’n Grenslose Wese as teëstellings g’n betekenis hê nie, want lig is ’n tydelike en toevallige verskynsel in die heelal. Die voortdurende en ewige toestand van die heelal is uiterste koue en uiterste donker,” antwoord Marais vir Smuts.

 

 

Sy eie verslawing aan morfien (na die dood van sy vrou en kind) het hom egter nie daarvan weerhou om oor wat hy “euforiese vergiftiging” soos hy die gebruik van middele genoem het, navorsing te doen nie.

 

Marais skryf: “Vandat die mens geleer het om sy gedagtes in skrif weer te gee, het hy sy eie sielsverdriet bejammer en middels gesoek; en die vernaamste en tegelyk gunstigste van die middels in alle stadiums van sy beskawing, is ongetwyfeld die bonatuurlike godsdiens gewees; daarna kom euforiese vergiftiging. Die filosofie was ’n derde en baie swakker mededinger.”

 

 

Hy verwys na die gebruik van tabak, alkohol, opium en dagga. Hy wys ook uit dat ons die neiging van verslawing met die primate deel wat ook op ’n evolusionêre skakel wys en sekerlik nie ’n gewilde stelling was nie.

 

 

Marais het destydes nie geweet daar is genetiese bewyse dat ons en die groot primate ’n gemeenskaplike voorsaat deel nie en sy talle bevindings oor gedrag, emosie (die lag is dieselfde as die van die mens, en hull teur, skryf hy), speel, en kommunikasie is voortreflike waarnemings. “Desnieteenstaande is die gedrag van selfs die laagste aapsoorte oneindig meer menslik as die gedrag van selfs die hoogste soogdiere benede die ape.”

 

 

Nog lank voor primatoloë en evolusionêre bioloë op die toneel gekom het, het Marais opgemerk dat die bobbejaan (die primaat waartoe hy baie toegang gehad het) die siel van die individuele oorsaaklike geheue ontvang het. Dit is wat die mens verstand, rede en bewustheid noem, skryf hy.

 

 

Die titels van Marais se Siel van die Mier en Siel van die Aap word ook gereeld misverstaan. Dié werke handel volgens James nie oor enige siel of teologiese behandeling van die primaat of insekte nie, maar oor die biochemie van emosie, gevoel en die neurologiese breinfunksie van die diere.

 

 

Maar dit is juis sy werk oor die miere wat groot hartseer veroorsaak het. Maurice Maeterlinck se werk The Life of the White Ant is een van die grootste gevalle van intellektuele diefstal ooit waarin Marais se werk letterlik gesteel is.

 

 

Nie net as wetenskaplike nie maar ook as taalkundige wat Afrikaanse woorde geskep het in die vakgebiede van sielkunde, etologie, insektekunde en Darwin se evolusionêre biologiese wetenskap, en as wetenskapskrywer wat wyd in Afrikaans gepubliseer het, het Marais diep spore getrap.

 

 

Bronne: Science in the Life and Times of Eugene Marais, South African Poet and Writer, The Darwin Lectures, Wilmot James

Huisgenoot, September 1926 en 3 en10 Desember 1926.

’n Paradys van Weleer, Eugene Marais, 1965

Kopiereg op die foto het verval omdat hy meer as 50 jaar dood is.

 

Advertisements

  1. Baie interessant, ek het nie veel meer van hom geweet as die gedigte nie…

  2. Insiggewenede stuk in die anderkant van die groot man! Dat so brein nou moes vrot!

  3. BB

    Jy, Rosa, kry vandag by my ‘n erepenning of blog-toekenning vir die ongelooflik interessantste Afrikaanse blog tans in die blogosfeer!!

  4. Wow! Hoeveel hase het jy nog in jou hoed…. Puik inskrywing Rosie…

  5. Kaalvoetkind

    Baie interessante inskrywing!!

  6. Zee

    Roos, ek het baie om by jou op te vang, tyd is bietjie teen my op die oomblik. Hierdie was regtig baie interessant hoor!

  7. Blixer

    Is dit nie net ironies dat meeste van die mensdom se lateraal denkers eers jare na hulle dood erken word, dit is nou te sê as hul ooit erken word.

  8. Baie goeie stuk. Vir my is Die Siel van die Mier nog steeds een van my gunsteling boeke ooit! Jou post is baie interessant en daar is al baie geredekawel oor sig ens. bv. die boom wat in die bos omval, is daar geraas as daar nie iemand naby is om dit met sintuie waar te neem nie?

  9. Demoerin: Jy weet ons weet vandag dat die oog deur meer as 30 evolusionêre aanpassings gegaan het om te kom wat hy vandag is, hy was nie so perfek gemaak nie. Hy het ontwikkel, die debat het sy antwoorde gekry (darwin het dit nie nie geweet nie, hy kon tog nie alles weet nie, vandaar sy vrae oor die oog). Daai vraag oor die boom wat val is ‘n lekker een: Mens sou kon vra: Val die boom wel om as iemand hom “sien” val nie. LOL.

    Blixer: So waar, as hul ooit erken word.

    Dankie Zee, Netjan, Kaalvoetinnireen en Pikke en wow, dankie BB.

    Welkom en dankie Kaalvoetkind.

  10. Wipneus!

    Rosie briljante wetenskaplike inderdaad ook gewees, baie mense weet dit nie. Goeie inskrywing 😉

  11. Borrie

    Naais, very very naais!

  12. Dankie Wipneus.

    Hi Borrie, welkom, baie dankie.

  13. Baie goeie inskrywing. Hy was definitief ‘n reus!

  14. haha Rosa, ek neem aan as jy hom nie sien val het nie, kan jy dalk nog oor hom neerdonner. Dan gaan jy weet hy het geval. hahaha

  15. Thanks Boerinballingskap.

    Demoerin: LOL. Mens kan natuurlik ‘n kamera opgestel wat bewewing afneem soos wat bioloe doen om skaars diere af te neem en wat dat ‘n boom val en hoor of daar ‘n helse doef! was, ek vermoed daar sal wees.

    As daar nie oë is om te sien nie, bestaan kleur? Ons kan onsself lekker mal maak. hehehehehe

  16. Jy is te oulik man!;) Ek en jy sal lekker kan saam kuier…ek het so paar maande terug – ek dink twee inskrywings- oor hom geblog…in Engels ook, en die Gutenberg link dink ek is op een..met sy boeke…EN ek het sy gedig…”Dans van die reen” vertaal en ek kry verskriklik baie besoekers na daardie links…ek is GEK, mal-gek, oor daardie gedig van hom…

  17. Baie interessant :o) Dis net so interessant hoeveel briljante mense daar in Suid Afrika se verlede was en steeds is.

  18. Well done! Baie goeie stuk. Ek is en bly mal oor hierdie aanhaling van Henry Beston: “Animals are not brethren, they are not underlings; they are other nations, caught with ourselves in the net of life and time.”

    Eugene Marais is steeds ‘n groot gees.

    Ek hoef nie verder uit te brei oor gene, evolusie en ons verwantskap aan ander spesies nie – ek dink ons deel dieselfde siening, of dan ten minste 99% 😉

    Baie dankie vir die stukkie – en gaan beslis weer bietjie tyd saam Eugene spandeer.

  19. Von

    Hi Rosie! Baie dankie vir die insiggewende stuk blogwerk. Ek was nie bewus van al sy fasette nie. Ek is gek na goeie gedigte en ken hom as digter. My horisonne is definitief nou baie verbreed!

  20. Nikita: Ek het jou nice inskrywing oor Dans van die Reen al gelees!

    CheekyBum: Welkom hier!Inderdaad, ek sou daarvan hou om almal op een virtuele argief te sien.

    Von: Dankie, as meer wil lees kan jy van sy versamelwerke koop, van die wetenskapstukke is daarin.

    Emil: Beslis het ons dieselfde siening oor spesies en die verwantskap. Dit is so naby. Baie goeie aanhaling.
    Ek dink vandag weer: Ons mens net sit en diere dophou, hulle is so besonders. ‘n Spinnerak, ‘n voel se nes, ‘n migrasie van duisende kilometers, ‘n mier se toewyding, ‘n by wat blomme besoek, ag alle diere. Ek wens so mense wil ander begin dink oor diere en hulle besonderse vermoeens.

  21. Elsie, wat ‘n wonderlike verassing/toevalligheid ! Ek was die week in SA (Natal kus) en het die boek “Soul of the Ape” Donderdag (8 Mei) raakgekoop. Ek het dit Saterdag begin lees kon dit nie neersit tot ek dit dieselfde dag klaar gelees het nie.

    Ek is gek oor die boek, sy objektiwiteit, insigte en raak beskrywings laat my koud.

    Ek dink die boek is nou een van my 5 gunsteling boeke.

    Dit is ‘n jammerte dat sy werk nie meer bekend en beskikbaar is nie. Dit is ook jammer dat sy bewyse/inligting nie bietjie meer stelselmatig en volledig gerapporteer is nie, maar sjoe, wat ‘n kosbare brein had hy nie!

  22. Dan moet jy Soul of the White Ant ook in die hande probeer kry. Dit is net so fantasties.

    Die ander boek wat uit druk is: Paradys van Weleer, het ek opgespoor in ‘n 2de-handse boekwinkel. Dit is ‘n wonderlike boek en bevat sy stukke wat in Huisgenoot en Die Transvaler was, dit is alles net wetenskap.

    Hy was ongelooflik. Maar ongelukkig onthou mense net die morfien. Maar sy vrou en kind is saam dood, baie van ons sou toe ook na so groot slag gesukkel het. En dit was in die dae voor anti-depressante.

  23. Christo Rabie

    Deur my werk as opvoedkundige beampte by die Nasionale Kultuurhistoriese Museum, was ek genoodsaak om intens leeswerk oor Boesman rotskuns gedoen. Die onderwerp is hoogs spiritueel en as moderne mens raak dit moeilik om jou in die pagan-skoene te plaas voor die Calvinistiese heksejag. Ons wat dink ons is die kroon van die skepping, sal seker nooit ten volle respek vir alles wat lewe verwerf nie, want mens plant, dier en insek staan op dieselfde vlak gelyk met mekaar wat bestaansreg betref – komende van ons San / Boesmanbroers. Dar is nie ‘n bodorp of onderdorp nie.

    En wat het dit met Eugene Marais te doen?

    Na ‘n lesing van prof. Alex Schoemen van Tukkies oor reenmaakpraktyke in die Limpopo-Sashe area (waar baie rotskuns voorkom), het dit my getref hoe akuraat Marais die basiese praktyke van reenmakery en die San rotskuns in “Die dans van die reen” verwoord het:

    Die Suster is toe al die tyd ‘n wolk / reenkoei. Blink elemente wat tydens reenmaakrituele deel van die dolosse vorm, blink wonderlik as die Suster as juweliersware. Hoogtes en berge is nie verniet die plek waarvandaan sy kom nie. Grotte is koel plekke wat met reen assosieer word en kom in in koppies of berge voor. Daar is mens natuurlik ook nader aan die wolke, wat hoogtes logiese plekke maak vanwaar die reen in rituele aangeroep word. En dis hier waar sy vandaan kom. Rotsgravures word dan seker nie om dowe neute op koppies en hoogtes of naby rivierbeddings aangetref nie. Die grootwild en insekte se byna dienende houding vertel van ‘n diep religieuse respek waarmee die elemente as deel van die totale landskap gesien word. Self die sagte landsreen versus donderstorms is visueel in rotskuns versinnebeeld. So terloops, wat het intussen van ons biddae vir reen geword of het die ekonomiese insinking ons so min geraak?

    Alles in ag geneem, besef mens dat die hele Boesman wereldsiening met sterk gevoelswaarde in hierdie gedig uitgebeeld word.

    Ek bied op 25 Augustus ‘n werkswinkel by Unisa se Departement Afrikatale aan waarin lyne getrek gaan word tussen rotskunsinterpretasie, literere stukke en die aanwending daarvan deur taalonderwysers. Taalpraktisyn Hester van der Walt het die gedig op die Brits weergegee met baie interessante betekenislae wat tusen-die -lyne deurgeskemer het en hopelik sal die gedig via die dosente in isiZulu, seTswana en seSoetho beskikbaar wees in die werkswinkel vir klaskamergebruik.

    Die lesing vorm deel van ‘n reeks “Know your roots” en poog om kulturele konteks aan die taalonderwyser te verskaf. Hopelik sal een van die Dwaalstories dan ook ter sprake kom.

    Ai die GPS is op San spoorsnykuns baseer en as moderne mense soek ons steeds na sin en rigting in ‘n moderne samelewing, waar die shamaans van destyds reeds geweet het die spirituele dimensie is neffens ons en hoe om toegang daartoe te verkry.

    Weer eens nog ‘n voorbeeld van die geniale Marais se diep verwysingsraamwerk.




Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s



%d bloggers like this: