Nie ‘n klip nie

Hulle lê gelukkig goed weggesteek in die veld, want anders sou elke liewe vandalis seker lankal hulle merk op hulle gelaat het en/of die mooie versteendes net opgetel het, om tog geen waarde daaraan te heg nie.

Gelukkig neem dit ‘n redelike kennersoog om hulle te vind, om hulle onderskei van die landskap waarin hulle rustig  – al vir miljoene der miljoene jare – lê. En soos op die meeste ander plekke op Aarde is fossiele moeilik om te vind en kom hulle op onherbergsame plekke voor. Myle se stap, klouter en sukkel om soms net by ‘n paar verweerde bene uit te kom.

Suid-Afrika is ryk aan fossiele omdat ons onder meer eens deel was van die superkontinent Gondwana. En die Karoo-supergroep (wat 2/3 van SA beslaan) baie, baie fossiele bevat omdat ‘n massiewe uitwissing 251 miljoen jaar gelede plaasgevind het. (Dit is nie die uitwissing wat die dinosouriërs se einde beteken het nie, dit was 65 miljoen jaar gelede).

Daar was ook baie lewe hier op Aarde, met ongelooflike biodiversiteit, van piepklein tot reusagtig. Vleiseters en planteters, voor en na die era van die dinosouriërs. Amfibiese diere, reptiele, soogdier-agtige reptiele (wat uiteindelik aanleiding gegee het tot soogdiere), soogdiere, insekte, plante, visse, voëls. Dit het gewemel.

Onthou ook dat die eerste soogdiere het saam met die dinosouriërs geleef en toe die uitgesterf het, het hulle die dominate groep op land geword.

Die reuse begrafplaas is dus afgeset in groot dele van ons geologie. Maar moenie moeite doen om in Kaapstad en omgewing te loop kap aan klippe nie, dit was diep onder die see gewees. Eers ander kant Worcester en Ceres se omgewing sal jy baie ou diere kry, en dan ook net ongewerweldes en plante.

Gondwana se oseaan het tot by Van Rhynsdorp gegaan, diep land in. Toe Gondwana opbreek (140 mil jr gelede) het die geologie weer verander. Met die reuse plaat-tektonika is berge ook gevorm – dit opdruk, saam met die voordurende opvloei van lawa.

Die vloei van varswater en soutwater, lawa, wat gebeur op die pole en binne in die Aarde se kern, die druk van die Aarde se plate, die skuif van kontinente en vorming van berge en klimaat het veel, veel meer te doen moet hoe dinge vandag dag daar uitsien wat die meeste mense besef.

Die gee die toon aan vir lewe en hoe dit daar uitsien.

Sekere afsetsels (lae) dateer uit sekere eras (epogs/periodes) en waar ‘n organisme gevind word, plaas hom in ‘n bepaalde periode. Indien hy bo op die grond lê kan hy steeds gedateer word uit watter tipe dier dit is en die gesteentes,en area waarin hy gevind is. Jy gaan bv. nie ‘n T.rex in ‘n whitehill-formasie kry nie. En ‘n kameelperdagtige dier van 5 miljoen jaar gelede (soos die gevind aan die Weskus van SA) gaan nie in 8km diep mariene-neerslag gevind word nie, tensy hy vinne het!

Mens kan jou net verwonder aan tyd, diep-tyd en hoe kort ons hier op Aarde is. Dink net lewe bestaan al sowat 500 miljoen jaar op hierdie fantastiese planeet en Homo sapiens, die moderne mens, is maar 200 000 jaar hier.

En hoe mooi verwoes ons alles nie, nogal met ‘n verwaande, arrogante houding: Ons is slim en dit is ons reg. Soveel spesies het weens ons doen en late uitgesterf. Hoe dom is dit nie, ons is maar net ‘n spikkel in die verloop van tyd.

In ‘n gruisgat soos hierdie, dalkies ‘n paar insekte of plante?:

 

Dan kap mens dalk ‘n gesteente in ‘n ryk afsetsel oop:

 

 

Maar ai, die Son brand kwaai en al die “klippe” lyk dieselfde as jy dors is. Kan jy die fossiele hier onder sien?: (omtrent alles is fossiele hier, behalwe die baie geel klippe, is sandsteen)

 

 

Van die tientalle kameelperd-agtige diere (Sivatherium hendeyi) van sowat 5 miljoen jaar wat aan die Weskus gevind is.  Kyk net hoe lê hulle!

 

Deel van heupbeen en groot ook – sowat 250 miljoen jaar oud wat die oorhoofse groep Therapsida.

Advertisements

  1. Hi daar, ek is doodeerlik as ek sê dat ek letterlik met ‘n fossiel in my hand sal staan en nie eers besef wat dit is nie. Ek het al daarvan gelees en ja ook op TV gesien, maar het eintlik nie ‘n clue nie. Dit was nou baie interressant, maar ek dink nie ek is al reg om met ‘n pik en ‘n kwas die berge in te vaar nie. Miskien na nog so ‘n paar aflewerings. 🙂

  2. Hi Pikke, dit is nou geen sonde om nie ‘n fossiel en klip van mekaar te onderskei nie! Ek het honderde klippe opgetel en gedink dit is fossiele voor ek die 1ste een gekry het. En seker ook ‘n paar fossiele gelos en gedink dit is klippe!
    En om in ‘n gruisgat die regte klip oop te kap is net geluk, die trick is om in die regte laag te kap. Daarvoor het jy ‘n kenner nodig.

    Die ding is dat mens die lae nie kan “forseer” nie jy moet wag vir vader tyd om dit oop te verweer. En dit neem laaaaaaaank. Of vir die mense wat paaie bou om ‘n laag oop te blaas, maar in die proses kan hulle die fossiele ook wegblaas. Die beste is om te wag tot op ‘n dag….

  3. Ek het die ander dag na ‘n lang gesprek geluister oor watter argeologies voetspoor die mens gaan agterlaat wanneer hy uiteindelik uitsterf (of dit nou is te danke aan hulself of nie).

    Dit is nogal vreemd om te dink daaraan, wat gaan ons agterlaat ? Hoeveel leidrade gaan ons oor los van ons samelewing ? Hoeveel van ons lewens sal toekomstige wesens kan saamvoeg deur na ons oorblyfsels en skeppinge te kyk ?

    Ek sal probeer om die program te soek, tot dusver onsuksesvol.

  4. Ek het ‘n onnie op skool gehad wat ek kon sweer iewers uitgegrawe was…
    ‘n regte ou fossiel 😀

  5. Mieliepap: Dit was op History Channel, program genaamd Life after People. Dit was interessant, maar net gefokus op die VSA, soos altyd. Ek sou meer van Afrika en Europa ook wou weet.

    Na 10 000 gaan hier niks oor wees nie.(dalk die groot piramide by Giza, juis weens sy grootte en Mount Rushmore, oor dit uit klip gekap is)

    Maar die res sal alles weg wees, want dit hang van menslike instandhouding af. Dit is vreemd, die meeste goed oorleef net 200/300 jaar as mense dit nie instand hou nie. Maar lekker om te dink daaroor.

    Dis hoekom ek so aanhoudend en knaend van diep-tyd praat. Mens moet jou kop instel na ‘n baie, baie lang tydsverloop, wat so moeilik is.

    Jasper: Dalk was hy nog ‘n fossiel…verrys uit tyd

  6. NIce inskrywing! Ek was so paar jaar terug by die “park” daar aan die weskus waar hulle so baie opgrawings doen. Dit was maar nog in die beginfase,maar ek het my verwonder aan al die gebeentes. Dis vir my so vrek interessant en om te dink daai reusagtige gediertes het op ‘n stadium die aarde bewoon. Argeologie is so interessante veld. Ek het baie respek vir die mense wat heeldag so in die son kan sit en werk!

  7. BB

    Jip! Hooginteressant soos altyd! Thanks!
    behalwe… volgens die Bybel is die ‘moderne’ mens (eerste mens) sowat 6 duisend jaar oud??
    Maak dit regtig saak of ‘n ‘ding’ 250 miljoen of 66 miljoen jaar oud is/was? Dit bly dinders oud!! En wat van die teorie dat dinge (o.a.sediment) ook bietjie vinniger kon plaasgevind het? Ek kyk gisteraand na ‘n program oor global warming en die arctic melting (6 degrees of so iets) – as dinge aanhou soos nou kan groot dele van die aarde binne 20 jaar reeds groot veranderings ondergaan (m.a.w in ons leeftyd nog). Netsoos met die sondvloed kon dinge seker ook maar ‘in ‘n oogwink’ verander het?
    Al ooit na Kent Hovind – Dr Dino gaan loer? Ek is nie ‘n kenner op enige van die gebiede nie – nie argeologie, nie wetenskap, nie ewolusie en beslis ook nie teologie nie, maar in my hart is daar één waarheid: en dis dat die mens geskep is, uniek en na die beeld van God.
    Ek moet sê ek is ‘n sucker vir ‘n mooi klip. My ex-man is ‘n ‘blaster’ en het geweet hy kan eerder ‘n mooi klip huistoe bring as ‘n bos blomme – ek VREK oor klippe! (is ek mal, Dr Franklin??) :mrgreen:

  8. rosalindfranklin – is die park aan die weskus die moeite werd om te besoek? Vir ‘n leek?

  9. Wipneus!

    Hierdie is een van my gunsteling goedjies, ek versamel fossiele. Natuurlik moet ek dit koop. Ek versamel ook kristalle en klippe. 😉 Rosie ek het alweer jou inskrywing geniet!!

  10. meermin

    Hallo jy baie interessant, mens ek het so lanklaas hier by jou ingeloer ek voel eintlik skuldig!!! Lekker dag vir jou!

  11. Kaalvoet: Ja dit is vir geduldige mense en dit is baie interessant, soos ‘n ontdekkingsreis.

    BB: Nee ek weet nie waar kom die mense aan 6000 jaar nie, want hierdie presiese getal is nie in die Bybel nie. Dit sou beteken die dino’s het saam met die mens geleef, en dit kan tog nie. (Maar ek sal nie met jou stry oor jou oortuigings nie en ek respekteer dit.)
    Sover ek weet sit Kent Hovind in die tronk vir belasting-bedrog. As ek so kyk na die ou, ou berge kan ek nie dink dat hulle so jonk is nie, ook as mens dink hoe lank steenkool vorm nie, om nie eens te praat van diamante nie! Hulle is dermiljoene jare oud.
    Oor global warming, die aarde het al baie keer warm geword en ook baie koud, so 15 000 jr gelede was daar ‘n massiewe ystydperk oor die grootste gedeelte van Europa. Die aarde het sy siklusse. Dit sal weer warm word en weer afkoel….so altyd.

    Skoor: Gaan besoek die fossielpark beslis. Ek dink die toere is om 10.30 elke dag. Dit baie nice, hulle vertel jou alles. Vat jou kamera.

    Wipneus: Ja dit is heerlik om te versamel. Ook mooi klippe en kristalle, asof hulle die tyd vasgevang het in hulle. Dink net wat hulle alles “weet”.

    Meermin: Dankie vir die inloer. En mooibly daar by jou.

  12. Rosa

    Dit verstom my telkens wanneer die “klipmanne(vroue)” met groot gesag(soms met groter as Bybelse gesag) verklaar… dat iets 13 miljoen of 13 biljoen of selfs 13 trijoen jaar oud is. Ek wens hulle wil dit rephrase deur met dat iets “lyk of dit 13 miljoen, biljoen of trijoen jaar oud kan wees….”

    Nadat ek die boek ADAM WHEN? gelees het (hier is die link as jy dalk sou belangstel … http://www.familyradio.com/graphical/literature/when/when_contents.html )

    Kom ons aanvaar vir net een oomblik dit as ‘n “wetenskaplik feit” dat God hierdie heelal in ‘n letterlike 6 dae (van 24-uur elk) geskep het deur net te spreek(soos die Bybel dit verklaar). En kom ons aanvaar vir ‘n oomblik dat Hy Adam (adam beteken mens) “nie na die beeld van God geskape het nie” maar dat Hy Adam vanuit die staanspoor met ‘n rebelse hart geskape het met al die wetenskaplike kennis wat die mensdom vandag oor beskik. En Adam kom op die 7de dag (toe God gerus het) na hierdie Skepper God en stel dit aan God dat volgens sy wetenskaplike kennis dit vir hom “lyk” of hierdie heelal ongeveer 13 biljoen jaar gelede geskep is, en God vir Hom te kenne gee “Nee Adam, dit mag miskien volgens jou volmaakte wetenskaplike kennis dalk so “lyk”… maar dit IS net 6dae (van 24 uur elk) oud….!?

    Wat dink jy kon Adam se antwoord daarop wees..?

    “Maar God….?”

  13. Johannes, ek skryf soos ek in die “about” deel gesê het, oor dinge waarin ek belangstel.

    As wat ek skryf jou ontstel, staan dit jou vry om nie hier te lees nie. Niks wat ek hier skryf kan ek nie met portuur evaluasie (peer review) bewys nie. (Behalwe natuurlik die verhale wat anekdotes is en die 2 gedigte wat bloot versinsels is)

    Daar is sover my kennis strek, nog nooit een wetenskaplike wat gesê het dat iets op Aarde 13 triljoen jaar oud is nie. ‘n Triljoen is soveel:
    1 000000000000000000
    ‘n miljoen tot die mag 3

    Maar oor moontlike gesprekke tussen God en Adam gaan ek nie nie gis nie, begin vir jou ‘n blog en gesels daar. Die stuk gaan oor fossiele en paleontologie, en filosofie/teologie nie…kyk asb na die kategorie. Nog minder is ek bereid om in ‘n konfrontasie te gaan wat duidelik uitlokkend vanuit twee pole is wat nerens gaan lei nie.

  14. Dankie Rosa, jy maak ‘n ander wêreld vir my oop. Ek geniet jou inskrywings verskriklik baie.

  15. Hi daar Dellie, baie dankie.

  16. Rosa

    Ek’s geensins ontsteld nie, net “verstom”… inteendeel ek geniet nogal die dinge wat jy kwytraak. Jou “passion” vir dit wat jy verkondig is (glo dit as jy wil) gewis inspirerend.

    Twee pole is dalk nodig? Anders sit ons almal dalk netnou op een van die twee pole.. in die koue? (Of sou negatief of positief dalk meer gepaste bewoording wees?)

    Ek is ook nie lus vir konfrontasie nie, dalk lees jy meer in my kommetaar as net dit wat ek geskrywe het, ek weet nie?

    As my kommetaar jou dalk ontstel sal ek met graagte ophou comments(ek sien die trijoen pla so biekie?)

    13000 jaar versus 13triljoen jaar as twee pole waartussendie ouderdom van hierdie heelal kan val, is dalk ‘n biekie ver gepush en behoort enige wetenskaplike ongemaklik te laat voel…? Ek bied daarom my verskoning aan.

    Wat beteken “anekdotes” is eenvoudige boere afrikaans…?

  17. Johannes, jou kommentaar ontstel my hoegenaamd nie. So wees gerus.

    ‘n Anekdote is sommer net ‘n verhaal, ‘n vertelling. Dit is egter nie ‘n feit wat toetsbaar, en bewys in ‘n wetenskaplike omgewing nie. Dit sal ook nie in die wetenskap aangehaal (cited) word nie.

    Die wereld is tot barstens toe vol anekdotes. Tant Sannie sê…panado’s kuur kanker. Sy glo dit dalk, maar dit is nog nooit klinies bewys nie.

  18. Wipneus!

    Rosie jy moet eendag as jy lus is asb weer hieroor skryf ek vind dit baie interessant!

  19. Ek sal weer oor dit skryf, wipneus, as iets weer opduik. Soos in watter tipe fossiele stel jy belang?

  20. BB

    Rosalind – was jy al ooit in die versteende (petrified) woud, naby Khorixas in Namibië? Eerie & awesome!!
    Ek wil graag weet wanneer is ‘n fossiel ‘n fossiel en wanneer is dit maar net ou beendere?? (ek praat nie van Jasper se onnie nie!!) 😉

  21. Wipneus!

    Rosie ek stel veral belang in die proses wat die Paleontoloë gebruik om die fossiele uit die aarde te haal, hierdie is skatte en moet verseker baie versigtig hanteer word. Ek het al gelees hulle kan selfs die klimaatstoestande van die aarde bepaal in die “T-Rex” tydperk, 😉 dis ongelooflik interessant!

  22. Hi Rosie! Baie dankie vir hierdie baie insiggewende inligtingstuk en die fotos. Ek is ‘n groot leek op diè gebied maar het nog altyd baie belanggestel daarin. So bly ek het op jou blog afgekom – nou kan ek lekker lees oor al hierdie dinge en sommer meer leer terselfdertyd! Jy geniet versekerlik jou werk gate uit.

  23. BB, ek was al daar. My oom het jare terug daar gewoon. Dis ongelooflik.

  24. BB: Nee ek was nog nie daar nie, dit is gefossileerde bome.

    Jy vra ‘n goeie vraag. As mens in die veld stap en net sulke wit bene sien lê: Dit is ou bene, as dit breek sal dit versplinter soos wanneer ‘n mens ‘n been breek.

    Maar om ‘n fossiel te word (te versteen) met die organisme in ‘n bepaalde manier sterf. Die liggaam word kort na die dood ge-cover met modder/sand (sediment). Dit beskerm die dier. Die sagte weefsel vergaan.
    Met tyd (duisende en miljoene jare) om nog lae oor (mens bepaal die tyd deur die lae). Die dier word oortrek deur die sediment. Druk vind plaas en dit word gekompakteer en die bene en tande word bewaar.
    Die been versteen en word eintlik klip (‘n komplekse chemiese proses). Na ‘n tyd weens plaatverskuiwings, vloede ect en verwering, kom die lae weer na bowe.

    ‘n Fossiel is eintlik baie hard, omdat dit ‘n been/boom is wat versteen het. Maar hy verloor nie sy struktuur nie, mens kan nog sien watter been is watter been.
    Hulle kan breek in die proses, maar op ‘n terrein tel mens hulle nie net op nie, jy maak blokke ect. Na alles opgeteken is kan jy dit bymekaar sit. Daarom is paleontoloe ook baie keer eers mediese dokters wat gespesialieer het in anatomie, soos ons eie wereld bekende Philip Tobias.

    Die skedel en tande vertel jou watter dier dit is.

    Chemiese analise van tande kan jou se presies wat die dier geeet het, ook in mense se tande. Die Chemiese afdruk van ons dieet sit in jou tande. En natuurlik ook die tipe tand en die kaakstruktuur.

    Wipneus: Mens kom baie af op fossiele was geboue gebou word met padwerke en in die mynbedryf.
    Klimaat kan bepaal word selfs in oerskulpe wat ‘n mens kry, want die omgewing se afdruk gaan sit daarin. In gefossileerde bome gaan sit klimaat baie definitief.

    Om hom uit te haal is nie so moeilik nie, dit neem net tyd. Is moeiliker om hom te kry. Hy breek nie so maklik nie as wat mens die geheel moet uitkry nie, deur ‘n plaster of paris te gebruik.

    Vulkaniese uitbarstings los ‘n definitiewe aslaag. Mens kan vloede sien. Jy kan ystydperke sien en droogtes in die klip. Wanneer ‘n geltser rol oor klip is hy so swaar hy rol daai klip koelrond! En los hom in die laag waarin hy pas. KyK as jy weer verby ‘n berg ry, daar is lae, elke laag verteenwoordig miljoene jare se afsetsels.

    ONTHOU: Daar is defintiewe tydperiodes: Dit is verdeel in epogs en dan in kleiner periodes. Van die Hadeon tot die Holocene (waarin ons vandag is, maar hulle werk aan ‘n nuwe een vir vandag).

  25. Hallo Vonnie, welkom hier.

  26. Ek sal ook nie ‘n fossiel kan uitken nie, maar ek het nogal ‘n affiniteit vir klippe, op skool het ek ‘n klipvriendjie gehad, regtig!

    Dankie vir hierdie interessante post, Rooskind, dis altyd lekker om hier te kom lees.

  27. Wipneus!

    Rosie kan jy dalk ‘n goeie boek oor hierdie onderwerp aanbeveel asb? Dit help nie ek versamel die goed en is so dom soos ‘n klip nie.

  28. Dankie Sonkind, en sterkte daar by jou.

    Wip: Wil jy ‘n boek oor fossiel lees, of ‘n boek oor die geologie waarin hulle voorkom, hoe dit gevorm het ect en oor die eras en formasies? Watter fossiele versamel jy? Daai ongewerwelde diertjies en skulpies (baie mooi). Hulle is baie, baie oud. Die ongewerwelde diertjies -Trilobiete – kom in die Bokkeveld-formasie (uit die Devoon-era) voor en is so 400 miljoen tot 450 miljoen jaar oud. Die skulpe is selfs ouer, of net so oud.

    ‘n wonderlike, wonderlike boek as beginpunt is: The Story of Earth and Life (Mcarthy and Rubidge)

    Daar na is die Complete Encyplopedia van Fossils ook lekker. Maar se eers van watter fossiele hou jy.

    Onthou net, jy mag fossiele van oorsee af koop. Maar dit is onwettig om in SA ‘n fossiel (een wat hier gesterf het en hier gefossileer het) in die veld op te tel en huis toe te vat (tensy jy aan ‘n unversiteit, navorsinginstansie of museum verbonde is) of plaaslik daarin handel te dryf. Maar soos baie ander goed, steur mense hulle nie eintlik daaraan nie. Maar ek dag ek se jou maar net.

    As jy ‘n helse groot been (veral ‘n skedel met tande) sien iewers, bel liewers die universiteit.

  29. Wipneus!

    Nee my fossiel (etjies) 🙂 is maar klein, dis soos bv klein diertjies, skulpies ‘n tandjie ens – dis regtig nie groot nie, ek koop dit gewoonlik in Hatfield by die oulikste winkeltjie en laas jaar het ek heelwat gekoop by ‘n groot sentrum wat ‘n uitstalling gehou het. Ek sal maar met The Story of Earth and life begin…. begin by die begin is gewoonlik hoe ek ‘n ding doen, anders maak ek myself later so deurmekaar dat ek nooit weer die draad kry nie Dankie

  30. Wipneus, klein beteken glad nie is nie wonderlike fossiele nie! Tande is baie, baie lekker, en die klein dietjies ook. Van die oudste organismes is klein. Hoe kleiner = hoe meer was daar. Hoe groter= hoe minder was daar. Want die aarde kan nie te veel grotes dra nie, nie waar?

    Jy daai boek is heerlik.

  31. boendoe

    Rosa, ek weet absoluut boggerol van die soort goete af, maar ek dink ek het bietjie daarvan te siene gekry hier, en dit boei my vreeslik! Met my klippe-optellery het ek heelparty klippe gekry met versteende skulpe daarin. Kan dit fossiele wees?

  32. Hallo liewe Boedoe, bly om jou te sien!!!

    As jy ‘n klip opgetel het met ‘n skulp daarin (en dit was NIE by die see nie) dan kan dit ‘n gefossileerde skulp wees. Want as dit in die “binneland” voorkom dateer dit uit ou maniere afsetsels van honderde miljoene jare uit, toe hier see was tot diep in die kontinent. Van die afsetsels is so diep as 8km gewees.

    Moet nie die skulp uit die klip probeer haal nie, hy sal breek, los hom net so. Soms is dit net die afdruk van die skulp, weekdietjie wat mens in die klip kry, dit is net so mooi.

    As jy lus is/tyd het kan jy vir my foto’s epos dan kan ek probeer kyk wat dit is.

  33. boendoe

    Dankie, Rosa!
    Ek sal daai een spesifieke klip gaan soek – hy is erens in my rotstuin! Die ander klippe is nie so skouspelagtig nie, maar daai een het ‘n baie duidelike spiraalskulp wat half uitstaan. (En ja, dit is ‘binneland’ hier. So 70 km van die kus af?) Eintlik is dit nie meer ‘n snaaksigheid nie. Ons kry gereeld klippe met skulpe in. In my groentetuin, toe ons destyds omgespit het, het ons ‘n klomp ‘versteende’ skulpe opgetel. Weet nie of dit rerig fossiele is nie, maar dit pryk nou in my ma se sitkamer. 😀

  34. Boendoe. Ek is byna seker dit is ‘n fossiel. Daai spiraal-skulpe is baie oud, meer as 300 miljoen jaar. Dit is nie sommer net klippe nie.

  1. 1 inderdaad

    […] 29, 2008 Rosalind […]




Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s



%d bloggers like this: