Val plat, hulle kom!

Val plat! Die terroriste kom skree die kinders in my klas. Almal gil en skree, banke en stoeltjies val om.

Ons beur en skop mekaar om ‘n plek teen die muur onder die venster te kry. Want die meneer in sy bruin weermag-univorm het gesê dit is waar ons moet gaan lê as die skoolklok drie keer na mekaar lui.

Ek is in st. 1 maar ek word eers aan die einde van die jaar, nadat die skool gesluit het 9. Die meeste kinders is al 9. Dit is 1981.

Die skoolhoof het vir ons ‘n groot ding gewys, daarop was landmyne, handgranate, kleefmyne en ander vreemde goed wat ontplof. As ons so iets by die skool sien mag ons nie daaraan vat nie, maar dadelik vir die juffrou se.

Die terroriste plant die bomme. Die terroriste is swart. Die terroriste is kommuniste. Dit is sonde en verkeerd, net soos dwelms en satanisme. En wilde plate wat agteruitspeel en dan hoor mens boodskappe wat jou die duiwel laat aanbid.

My maatjie se broer is op die grens. Hy skiet die terroriste wat ons wil doodmaak. Ons kan nie meer gaan kamp by die Limpopo-rivier nie, want die karre wat daar ry ontplof in die pad.

Een dag sien ek my oupa lees die koerant. In Pretoria het ‘n bom ontplof en baie mense is dood. Baie ander mense het seergekry. Die foto’s in die koerant is vreeslik.

Dit is 1983. By die skool gaan die alarm weer af en die hoof sê ons moet ontruim. Ons moet netjies in rye uitstap na die rugbyveld, en ons tasse net so los. Ek raak baie bang en piepie bietjie in my broek. Die juffrou se dis okay sy sal my later help.

Die polisie kom met honde wat orals snuffel. Niemand verduidelik vir ons wat aangaan nie.

Later sien ek iemand het in my tas gekrap. Ek voel baie kwaad daaroor. Wie het in my tas gekyk?

Ons oefen baie om plat te val en te ontruim. Ons mag nie lag nie, dis nie ‘n grap nie.

Ons hou vakansie in Durban. Daar werk swart mense op die strand wat stoele uitdeel en roomys verkoop. Hoekom swem hulle nie ook nie, vra ek my pa. “Hulle het hulle eie strande”, sê hy.

Hoekom? “Want dit is hoe dit is,” sê hy.

In 1984 gaan my ma en pa oorsee. My pa sê die mense betoog voor Suid-Afrika se ambassade. Hoekom vra ek? “Daar is sanksies teen die land, hulle hou nie van ons nie, ” antwoord my ma.

Hoekom? vra ek. “Want ons en die Israeliete, is God se uitverkore volke,” dis hoekom.

Die papier wat my pa teruggebring het van London sê: “PW eats black babies for breakfast.”

“Dis nie waar nie,” sê my pa. Hy wys dit vir al sy vriende en hulle lag. Ek verstaan nie wat beteken die papier met die dooie babas wat voor die president se voete lê nie.

Ek hoor baie hoe grootmense sê swart mense wil die land wat God aan ons gegee het van ons wegvat. Ek hoor hulle sê ons veg vir ons land op die grens.

In 1985 moet ek veldskool toe gaan. Al die kinders moet. Daar slaap ons koud en min. Die oefening is baie. Ek huil omtrent die hele tyd.

Die ooms wat die onderwysers is praat die hele tyd van terrorisme, kommunisme, satanisme, die rooi gevaar, die swart gevaar, volkstrots, die afrikaner, die engelse, nasie, die bybel, god, sonde, wat verkeerd is met seks, dwelms, die oorlog op die grens, pw botha en al sulke goed.

Hulle vertel ons hoe die mau-mau nonne met panga’s doodgekap het.

Ek het gedink ons kom veldskool toe om oor die veld te leer.

Ek is bang vir die “lokasie”.

Ek is 12 en bang vir swart mense.

****

(Geskryf uit ‘n kindergemoed van jare gelede)

Advertisements

  1. Ek is 34 en bang vir swart mense. Ek probeer myself elke dag oortuig daar is niks meer om voor bang te wees nie, maar dit werk nie.
    Al wat ek nou kan doen is om te sorg dat my kinders (indien ons sou hê) nie ook eendag bang is vir swartmense nie.

  2. Jaco, ek word vanjaar 36. Die manier hoe ons groot geword het, almal van ons, is so ongesond, so verkeerd. Ek was onlangs met groep studente weg, daar was bruin, wit en swart. Die manier hoe hulle met mekaar is, is net so anders. Dit is ‘n voorreg om van jongs af heeltemal gemeng groot te word. Ek sien dit in my suster se kinders is. Ek wens ek het dit as kind gehad.
    Ek wens ek het so groot geword dat ek van kleins af op gelyke voet met alle rasse gemeng het.

  3. Rosie, dit is so presies soos ek grootgeword het. En dan vra almal hoekom ek so ‘n bang dogtertjie was? Vandag probeer ek my kinders anders grootmaak. Ek sê anders want al verskil dit hemelsbreed is daar vandag nog net soveel gevare indien nie meer nie! Maar ek is versigtiger, kies my woorde beter. Verduidelik anders. Ek probeer hulle bewus maak van gevare sonder dat hulle soos vreesbevange hondjies iewers in hoekies moet wegkruip. Want inhirent is ek nog steeds daai bang dogtertjie van donkiejare terug…

  4. Pikke, ja ek stem. Ons vergeet waar ons vandaan kom en hoekom ons is soos ons is, en hoekom ander mense is soos hulle is.

    Dis dalk hoekom ons nou, in sommige situasies oorreageer?

    Weens die oordrewe, onnodige en verkeerde propaganda wat in ons kele afgedruk is.

  5. Jis maak hierdie inskrywing nou ou spoke wakker. Dit is tragies dat ‘n mens op jou eie die geskiedenis moes loop opswot om agter die kap van die indoktronasie byl te kom….

  6. Hi daar Jasper die Reisiger.
    Ek ek wik en weeg al lank oor die inskrywing, maar ja dit was my ervaring, ek mos later weer self leer en ont-leer. Tot my skok.

  7. Wipneus!

    Rosie, ek is ook so groot gemaak, dieselfde storie met die veldskool ook! Na die bom in kerkstraat was ek altyd te vreesbevange om huis toe te gaan, die bushaltes was almal in kerkstraat, Pretoria. (Wonder of dit nog bestaan) Dit het voor my afgespeel en ek was nog maar ‘n kind. Dit was chaos. Ek het vir maande nagmerries gekry. Studies het daaronder gelei.
    Die probleem is nou net, daardie bang gevoel kry nie kans om te bedaar nie. Want met die nuwe probleme is dit nou net ‘n ander bang gevoel wat jou beetpak. Jy loop altyd en wonder: Sê nou net …………
    Dus vandat jy kleuter is, tot oudag gaan jy altyd bang wees, omdat regerings êrens opfoeter.
    Mens moet uiteindelik net balans probeer hou in jou kop en gevaarlike plekke probeer vermy. 🙂
    (Ek het ook kwaad geraak as hulle in my tas grou, mens grou mos nie in ander mense se goed nie ;))

  8. Roer

    Ons is ewe oud/jonk. 😀 …terug by die onderwerp… Ek sien die voordeel daarvan in my kinders en hulle skoolmaats, want daar is nie ‘issues’ met kleur nie.

  9. Ja, verlekker julle maar lekker in julle jonkheid! Ek is julle nou wel ‘b klompie jare voor maar kan nie regtig se dit was erger toe ek ‘n kind was nie, apartheid was maar net so, amper natuurlik. Ek wil amper se die vyandigheid het eers in julle tyd gekom.
    Wipneus ek was laasjaar in Pretoria, by die DOC skuins oorkant Solly Marx, ek weet nie van die busstoppe nie. Daar was duisende swartmense in die strate, maar snaaks ek was nie bang nie.

  10. Wipneus!

    mykopop, jy is reg apartheid was “net” daar in ons tyd ook, jy moes dit net aanvaar en inval! Maar soos Roer sê dit begin al beter raak met ons kinders. Ek is bly jy was nie bang in Pretoria nie. Ek is nie bang vir swartes nie, ek is bang vir die misdadigers wat jou wil seermaak. Ek vertrou nie so maklik nie. Dis eindelik snaaks, apartheid is nou so te sê iets van die verlede, maar nou sit ons met hierdie misdaad probleem wat totaal hand-uit geruk het. En dit is hoekom ek sê: “jy is nou net weer bang vir ‘n ander ding” – dus val plat – hulle kom nogsteeds!!

  11. Ek onthou ook daardie drilsessies. Ons het destyds nog in SWA gebly, redelik afgesonderd. Ek was baie bang. Maar ek het met kinderlike onskuld geglo alles sal OK wees solank ek die radio kan hoor. Ek het geglo “hulle” sal eerste die radio-mense doodmaak. Dus was ek veilig solank ek hulle nog kon hoor…

  12. Aag ja, maar at least was die polisiemanne ouens wat nie twak gevat het nie, ek kon saans buite speel, op die stoep slaap en alleen kaffee toe stap. TV het nie my lewe oorheers nie, want ons is nie toegesluit agter veiligheidshekke met die wye wereld aan die ander kant van die metaal nie.

    Ja, ek mis tog daai dae, want ek was nie heeltyd bang soos nou nie.

    Hey, lyk my baie van dieselfde ouderdom hang hier rond. Kop, ek reken ons noem jou dan van nou af ‘OOM’? Of is dit net vir sangers gereserveer deesdae? Weg is die respekte ook!

  13. KruidjieRoerMyNie

    Ek wil darem ook net sê ek is by verre banger vir hulle vandag as op skool en dit het niks met drilsessies te doen nie. Dit het met statistieke en persoonlikke ondervinding te doen. Ongelukkig. Dis maar net vir my belangrik om nie almal onder dieselfde kam te skeer nie.

  14. Net nuuskierig, is jou knieg nog orraait Rosie of is jy nou ook al op die vervangingslys???

  15. Dankie vir al julle lekker kommentare en hoe julle dit beleef het, ek het nog altyd gewonder of ander kinders van daardie tyd ook bang was.

    Ek moet sê ek is nie, ek is vandag nie bang nie. Regtig, miskien moet ek later iets daaroor skryf. Een van die redes is dat die meerderheid van vroue wat vermoor word in die land (van alle kleure) vermoor word deur hulle intieme lewensmaats of eks-intieme lewensmaats. Intimate partner violence speel ‘n hengse groot rol. Een van ons grootste probleme is huishoudelike geweld tussen mense wat mekaar ken, dit is ook waar kinders seerkry en verkrag word – mense wat hulle ken.

    Dan is 2/3 van mense wat moord pleeg of dronk of vol dwelms en 40% van slagoffers is oor die toelaatbare vlakke. (ons weet dit van die bloed word gemeet by die hospitale en lykshuise). Dit gebeur baie by dronknes-kuierplekke.

    Met wie jy meng, speel ‘n baie groot rol. Hou jouself weg van bepaalde plekke en mense. (ek sluit kapings, random rooftog en inbrake uit), Maar die meeste mense kry nie hier seer nie.

    Die ander persentasie, is seker maar die lewe. Maar ek dink voorvalle word erg uit verband geruk. En baie daarvan is ekspats wat die land wil sien ondergaan (bly negatiewe briewe skryf ect) of mense met ‘n bepaalde politieke negatiewe agenda.

    Pikke: My knieg is seer, ek moet hospitaal toe gaan vir ‘n fix.

  16. Roer

    Ek moet met jou verskil. Die ander persentasie is beslis nie “seker maar die lewe nie” en ek dink ook nie “baie daarvan is ekspats wat die land wil sien ondergaan” nie of “mense met ‘n bepaalde politieke negatiewe agenda” nie. In ons ondervinding is dit meer mense wat weet waarvan hulle praat as dit kom by misdaad omdat hulle al deurgeloop het daaroonder m.a.w. wat persoonlik geraak is deur ons land se baie onnatuurlike, onaanvaarbare en brutale geweldsmisdaadstatistieke. In ons geval, mense wat elke dag daarmee werk in howe, polisiestasies, lykshuise, tronke ens.

    Sterkte met jou knie.

  17. Roer, miskien voel ek so magteloos oor die misdaad, dat dit vir my “seker maar die lewe geword het”. En dit is sleg. Dit is brutaal, ek was al self baie in hof (darem aan die regte kant van die gereg en by die lykshuise). Daar het ek gesien hoe groot rol alkohol speel, ek wens ons kan die reuse drankmisbruik aanspreek.

    Maar op ‘n vreemde manier is ek nie bang nie, want ek dink ek is bang dat as vrees my oorweldig, gaan ek nie meer ‘n lewe he nie. Daarmee probeer ek nie wat gebeur minag of verminder nie. Is seker my eie manier van cope.

    Dankie vir sterkte.

  18. Slegs een positiewe ding van die “dril” sessies…ons was altyd paraat vir enige iets in ons skole..bomme…wat ook al…hier in Engeland oefen hulle slegs net vir “nood”/brand…watter tipe “nood” is dit… kinders leer nie om plat te val nie…daar sal ook eers iets vreesliks moet gebeur (soos op die treine in 2005) voordat hulle daarvoor sal begin oefen. Ek was seker bevoorreg…op die plaas waar ek groot geword het…”tussen” hulle… moet ek eerlik se…ek was nooit bang nie, ook nie in die stad toe ek gaan swot het nie…eers later jare “versigtig” begin raak…oor plekke waar jy is/gaan en tye van die dag ens.

  19. Roer…wat jy se is baie waar… my suster ken mense met wie dinge so tydjie gelede gebeur het… dit was ‘n NAGMERRIE vir hulle almal..Springbokke het nog daardie dag hul wedstryd gespeel..8 volwasse mans wat aangehou word deur DRIE van “hulle”… en sy is nou doodbang…heelwat banger as voorheen en ek kan dit verstaan…net die aanhoor/lees van sulke dinge maak mens “bang”…maar soos my man altyd vir my se…as jy oor my worry…bid vir my…ek weet nie of mens se geloof partykeer te klein is nie…

  20. In my dorpie waar ek groot geword het (16km van Bloedrivier af…) was dit natuurlik nie anders nie. Ek onthou baie spesifiek hoe ons in standerd 2 teen ‘n ander skool gaan skaak speel het. Oorkant hierdie skool was die Convent. Dit was ‘n vreeslike skool, want hulle was net Engels, plus hulle het swart kinders ook gehad. En toe ons uit die bus klim wat langs die Convent gestop het, was dit hulle pouse. Hulle was besig met sokker. Ek het so lank as moontlik gestaan en staar hoe die wit en swart seuns woes sokker speel, met groot pret. Ek dink ek het daar maar vir die eerste keer begin besef nie alles wat ek vertel word, maak sin nie.

  21. Freddy, dankie vir jou kommentaar. Dis weird as daai eerste besef deurdring! Myne het in st.8 agt gekom toe ons Voorligting gehad het, en die onnie se ons het ‘n demokrasie. En een van die kinders sê: Maar ons het nie, die swart mense kan dan nie stem nie.
    Om ‘n onnie teen te gaan in ‘n Afr. skool was klaar moeilikheid soek en nog oor so iets! Hy het die meisie wat dit gese het omtrent afgejak.
    Toe dring dit tot my deur, daai een vraag.

  22. Ek het aan die Wesrand grootgeword en onthou nog die sirenes wat saans om ses uur (?) geloei het vir almal wat ore het om te hoor. Daarna mag daar geen swart mense op straat gewees het nie, anders is hul in hegtenis geneem. ‘n Swart werker by ‘n skool waar ek werksaam was het ‘n kriminele rekord gehad oor hy in sy jonger dae gevang is met ‘n bottel whiskey of brandewyn – was as white men’s liquor beskou. Dinge was verseker nie regverdig teenoor hulle nie en ek is bly dat dit in daardie opsig verander het.
    Die dril-sessies by die skool het ek sowaar al van vergeet. Ek was in die hoërskool toe ons dit op ‘n baie gereelde basis moes doen. Dankie Rosie, jy het sowaar veroorsaak dat ek ‘n lêer uit die argiewe in my agterkop moes gaan uitgrou en onthou, al was dit nou oor minder aangename dinge! Om in vrees te lewe is nie lekker nie. Ek probeer maar elke dag hanteer soos hy kom.

  23. Von ek wat dit een dag op ‘n slag, nes jy se. Ek is mal oor jou donkies!

  24. Rosalind- jy het vergeet om te noem van die diaboliese gevare van popmusiek.

  25. Blixer: O jinne het ek vergeet van die plate wat ek opgedinges het in ‘n poging om die diaboliese boodskappe te hoor! Dit het wel by die veldskool opgepop onder die tema: satanisme

  1. 1 Val plat… « Woordpes se Weblog

    […] weblog « Valuta vandag… 16 April 2008 Val plat… April 17, 2008 Rosalind Franklin se laaste “platval” verhaal het my laat terugdink aan 1986. Ek was in Ruacana, op die […]




Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s



%d bloggers like this: