Tik-tik…’n binneshuise swembad

Ek het dit gehoor, so paar maande gelede, iets wat so tik-tik as mens in die kombuis staan. Wat maak so? vra ek.

Ek weet nie. Ek ook nie.

Ek kyk en loer by die elektriese bord. Alles reg. Dalk is daar ‘n rot in die kas wat aan iets vreet. Ook nie dit nie. Dalk ‘n kas wat kraak?

Daar is iets met die geyser verkeerd, ons moet daarna laat kyk, dink ek. Die ding gaan weer ontplof. “Ag tog, alles gaan verkeerd, nog uitgawes. Ek gaan nie nou iemand inkry nie,” se Liefie.

Die geyser het in 2004 ontplof en die hele plafon was in sy glory. Daai tik-tik pla my.

Ek sit vandag rustig in ‘n hotel met ‘n slim man en gesels oor: vroue-siektes van alle dinge. Ons eierstokke hier en bepeins hormone daar. My selfoon lui. Ek druk hom vies dood, Liefie weet mos ek en die man konfereeer vandag.

Ek luister na die boodskap: “Die geyser het weer ontplof. Dis net water orals. Dit loop deur die dak. Dis oral, oor jou papiere. Alles.”

Ek bel terug: Dit was daai tik-tik, se ek.

“Dit help nie om nou te praat oor wat was en kon gewees het nie, dit het nou gebeur. Baai.” kom die antwoord.

Iewers diep in my kry ek daardie pyn wat ek in 1986 gekry het toe ek van ‘n perd afgeval en my stuitjie gebreek het. Dit is ‘n pyn wat fisies deur jou stert skiet. ‘n Pyn in die gat.

Ek ry huis toe. Die loodgieter was al hier en hy se daar is ‘n gat in die geyser wat net vier jaar oud is. Toe ek klein was het ons geyser nooit gebars nie, die goed het vir 20 jaar gehou.

“Jy moes sien waar was die water oral. Tot in die Royal Doulton Toby Jugs wat op die tafel gestaan het. Toe ek hier kom was hulle vol water. Dit was baie erger as nou.” se Liefie.

Die honde spring rond, baie opgewonde oor die verhitte, binneshuise swembad wat hulle bygekry het. Ek trek die bokse in die studeerkamer uit waar my “papiere” is. Dis nat. Die honde is nat.

Ons kry dalk more ‘n ander geyser. Die versekering moet eers dit en dat. Die water loop uit die plafon uit. Die huis is omgekeer.

Ek moet more dokter toe gaan! Hoe gaan ek bad en my beenhare skeer? Ek is baie lus om hotel toe te gaan.

Mr. Delivery moet maar vir ons kos bring, want ek het nog daai gevoel in my stert.

Advertisements

  1. Dis nou nie die ideale manier om ‘n week te begin nie! 😯

    Toe ons geyser so ‘n paar jaar gelede gegroet het, (gelukkig saggies) het ons die nuwe ene buite gesit. Nou kan die huis nie omskep word in ‘n onderdak swembad nie!

    Sterkte!

  2. Dis ‘n aaklige storie, ek het sommer op die nat teëls neergeval en hartstogtelik aan die tjank gegaan. Na die skok opgespring, en die houtmeubels begin wegskuif uit die pad van die stroom water, dit het sulke liederlike wit merke gelaat! Hierdie is ‘n vreeslike pyn in die stuitjie Rosie. Ek verstaan my geyser lê nou in ‘n bad en daar is ‘n pyp na buite toe. Ek is verseker so ding gaan my nie weer oorkom nie.(ja ja hoor ons nie hierdie beloftes elke keer nie) Wel wees verseker ek ruk daai mannetjie uit sy skoene uit as my geyser weer pie-pie in my huis!

    Sterkte, “Mr D” is baie vriendelik in tye van nood, hulle sal ten minste sorg dat die magies vol is, die beenhare en bad, jy sal maar bottelwater moet gaan koop en kook op die stoof!!

    Vang, hier is jou tweede drukkie, dinge loop nie lekker daar aan jou kant nie. 😦

  3. Dankie julle! Ek sit nou maar by die rekenaar en wag vir my pizza!

  4. Ken van geyser wat ontplof. Ek was nog klein toe dit met ons sin gebeur het. Ouers was uit vir aand. Mens kan nie glo die ding hou so baie water nie. Ons kon behoorlik “surf” by die deur uit. Moes al wat kas is vervang. Ma was baie bly want sy kry toe sommer nuwe kombuis.

  5. wat ‘n gemors! Sterkte!

  6. My sussie was net-net groot genoeg om op haar eie rond te waggel. Seker so 2 jaar oud gewees, wat beteken ek die oudste kind was 9 / 10. Ons geyser het ook gebars die dag en op die plafon begin lek sonder dat iemand dit agter gekom het. Asus het net verby die punt gewaggel toe daar ‘n gat vol warm water deur die plafon val. My ma was die duiwel in. ‘n Paar sekondes vroeer dan wat Asus in die hospitaal met erenstige brandwonde.

  7. Simpatie, ons sit self vanmore sonder water so ek het nogal begrip van hoe dit voel.

    Ten minste weet ons nou dat tik-tik word gevolg deur kaboom! en die klank van vallende water.

    Sterkte met die opruim aksie.

  8. BB

    Look at the bright side Rosalind…. (oops – ek dink ek het dit virri Wosonki’s ook al gesê) – ehhhhmmmm – nope, sorry, kan nie nou aan iets bright dink nie :mrgreen:
    Vloere?? teëls? skoon!! Matte? not nice!! Houtvloer?? Die hemel behoed!!
    Sterkte! dis nie sommer net van herstel nie – ek hoop die ‘papiere’ kon gered word?!

  9. BB

    Terloops: daai pyn ini g@t ken ek! het toevallig in dieselle jaar my stert gebreek! ek kan steeds nie soos ‘n ordentlike mens op my kantoorstoel sit nie; in die kar altyd so skuins op die linker of regter ‘wang’… ek dink dis hoekom ek ook nie baie graag gaan fliek nie – ek kan wragtig nie 2 ure regop sit nie!!

  10. Ag aarde tog, bad maar sommer in die sitkamer wat! Sterkte… 😦

  11. Rustig: Die ding hou 200 liter, dit is baie!

    Jaco: Ek se vir jou daai tik-tik was ‘n waarskuwing.

    A3: Net die honde was hier en hulle was taamlik verskrik.

    BB: Ons het houtvloere en nou sien ons vanoggend die plafon is in sy dinges in. Die papiere is vol water, ou werk van my, maar die belangrikste is darem droog.

    Pikke: LOL.

  12. boendoe

    LOL@ Wipneus!! Hartstogtelik gehuil!! Whahahaha!

    Maar ernstig, baie simpatie, Rosa. Ek het dit ook nog nooit beleef nie, maar ek dink dit moet ‘n GOOR situasie wees.

  13. My innige simpatie! Dis waar wat jy sê van die ou geysers – ek dink die huis wat ons in Upington gehad het is in 1945 gebou so ek weet nie presies wanneer die elektriese geyser ingesit is nie, maar hy was stokoud toe ons in 1988 daar ingetrek het, hy het sommer bo die wasbak in die kombuis gesit. In 1997 toe ons daar weg is het die tydelike huurder een keer gekla maar ons het iemand gekry om die termostaat of latco-valve bietjie te pamperlang en op die ou end die huis nog met hom verkoop.

  14. Sammi

    Ons het ons geysers buite laat sit, een bo-op die dak met ‘n solar-sisteem wat dan die kleiner een voed wat op 50grade gestel is. Miskien moet julle nou die geleentheid gebruik deur die versekering se hulp.

    Het jy die blynet inisiatief van Solidariteit gesien – uitstekend!

  15. Zee

    RF, sterkte girl, hoop jy kan darem al bad by vannaand vir die dokter besoek more!

  16. Zee, jy praat. Ek het in die wasbak “gebad” vanoggend…en moes net so dokter toe gaan vanoggend.

    Mykop: Ek sien nerens hier in die kaap geyers buite nie, sal dit nie roes van die seelug nie? Ek weet ook nie. Liefie moet dit maar uitsort. Al wat ek weet, ek wil bad vanaand….hotel hier kom ek!

  17. Zee

    O jinne RF, sien nou eers die posting is al gister gedoen, dit is wat gebeur as jy bietjie agter is met leeswerk.

    Hoop alles het darem goed afgeloop by die dok!

  18. Ja alles wel. My iets in my knie nie lekker nie…moet dit laat uithaal.

  19. Sterkte met daai iets in die knie Rosie, toemaar hulle sê dinge kom in drie…… waar trek jy nou?

  20. Ai tog…wat ‘n situasie…gelukkig was ek nog nooit in so een nie, hoop nie dit gebeur ooit nie. Baie sterkte!!

  21. Skuif hom buitentoe. Jy verloor baie hitte, dit kos meer in elektrisiteit, maar as hy ontplof, is die skade soveel minder.

    Ek was een oggend 4am dak-in oor ‘n bleddie gedrup, en pen toe die pyn vas voor hy sy nate uitstoot.

    Toe is dit ‘n bietjie van ‘n schlep, maar nou is daar nie ‘n gevaar van water wat deur die ceiling kom nie. Ek bedinges myself. Nevermind pyn in die gat kry!!!

  22. Ons huis stink so dis asof iets dood is…ek het amper vanoggend ‘n kat geskiet toe ek die studeerkamer se deur oopmaak. Ons het dit aspris toegehou dat die asessor kan ruik hoe ruik dit.
    Hel, dit is soos muf, vrot water.

    Die plafon moet uit. Die asessor het glo die besem regdeur die dak gedruk.
    En ek kry ook nuwe klerekaste.

    Die versekering se nee: Die geyser kom nie buite nie. Die nuwe een is reeds in, binne in die dak.

  23. Gorrel, sterkte vir al die regmaak en herstel en uitpak. Hoop die huis ruik ook gou weer lekker.

  24. Hoe ruik daai matte van jou vandag, Wille Roos?

    Jy moet nou net pasop wie julle kry om die kaste te vervang. Realiteite… more is daar weer ingebreek omdat een of ander handlanger die plek goed deurgekyk het.

    Sorrie om doemprofeet te wees, maar dit gebeur.

  25. Ek het gelukkig nie matte nie, en dit stink ook minder vandag.

    Liefie is by die huis en sal kyk dat niks weggedra word nie, ons ken van mense wat loer en gaps en so aan. Ons sal nie somme enige een kry nie. En dan is daar Anna wat ek stoei toe gevat het, onthou? Sy bewaak alles mooi.

  26. Die gewone man het geen kennis hiervan nie.Jy sal die gevolge moet dra.Hou asseblief op.Waarvoor sien jy my aan.Ek het jou vir iemand anders aangesien.Hy het nooit opgedaag nie.Ek sal my bes doen.Ek wil my geluk beproef van die train kos baie

  27. Hy het uit alle mag so hard as hy kon geprobeer.Dit sal nooit gaan nie.Besef jy hoe gelukkig jy is welgesteld bemiddeld.Dit het my besonder goed gedoen.Sy makeer iets




Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s



%d bloggers like this: