My De La Rey? Of op Ceylon?

Ek het al baie na die foto’s van my voorsate in die kiekies (onder) gekyk en gewonder of ek met hulle sal kan sit en gesels, of ons gemeenskaplike grond sal vind. Sal daar iets wees wat hulle van my bestaan sal verstaan en ek van hulle s’n? (as ‘n tydsreis onderneem kon word)

Ek wonder hoe was dit vir hulle in die kampe so ver oor die see?

So tyd gelede toe almal onder leiding van daardie jongeling so lekker saamsing oor De La Rey, toe dink ek so by myself: Ja, so ‘n paar jaar gelede toe die honderdjarige herdenking van die Anglo-Boereoorlog (ABO) gevier is, was die kinders wat so lekker saamsing nerens te sien nie, want of hulle het nog in doeke rondgekruip of dit was totaal en al un-cool om enige iets te doen te he met jou eie herkoms. Hoe ironies.

Die motief agter die liedjie voel vir my so baie eerder na opstand as na ware respek of eerbied vir die ABO. Die lied kla oor ander dinge.

Nou weer is die ABO deur middel van die betrokke lied, na my mening totaal en al verkeerd verpolitiseer om by die huidige politiese diskoers aan te pas. Meer as 100 jaar het verloop.

Die ABO sny diep in my eie familie. Vyf oupa grootjies en agter-oupagrootjies was krysgevangenes gewees op St. Helena en Ceylon. Ouma-grootjies en agter-oumagrootjies was in die konsentrasiekampe waar hulle kinders verloor het. Omtrent almal het alles wat hulle besit het verloor, huise, vee, besittings.

Wat met hulle gebeur het sal ek altyd eer. Ek sal dit nooit vergeet nie. Ek glo dit is belangrik dat dit altyd, saam met die res van die land se geskiedenis, aan alle kinders vertel moet word. Hul lyding is deel van my hart. Die verhale van hul oorlewing, moed en pyn sal ek opteken. Ek sal hul foto’s bewaar.

Vandag sien ek dit as ‘n tragiese historiese gebeurtenis. Een wat die Afrikaner-gemeenskap in ‘n bepaalde rigting ingelei het.

Maar ek kan nie, binne die huidige konteks, die kloutjie by die oor bring om te roep op ‘n bepaalde “De La Rey om my te kom lei nie”. Want die dae is verby, dit was meer as 100 jaar gelede my voorsate se droom. De La Rey is na my mening in die liedjie gebruik vir hedendaagse politiek en ek hou nie so baie daarvan nie.

Ek wonder hoeveel van die wat die CD loop koop het weet werklik iets van die ABO of en of hulle eie voorsate dalk swaargekry het. Hoe hulle was en wat hulle stories was. Die lied het polities geword. ‘n Kleur gekry. Vergeet nie lekker tune…dis meer as dit.

Die leier wat ek vandag begeer en na roep is heeltemal iets anders. Hy of sy is nie paternalisties nie. Het nie ‘n geweer in die hand nie. En is daar vir almal van ons. En dit is nie die man wat na Bok se lied iets anders geword het nie.

copy-of-abo3.jpg

Agter-agter oupa voor links

copy-of-abo2.jpg

Agter-agter oupa derde van regs voor

copy-of-abo1.jpg

Agter oupa regs

Advertisements

  1. Op die vraag in jou eerste paragraaf wil ek net sê: Ek dink so: Tot my oupa in 1981 op die ouderdom van 81 dood is kon ons lekker gesels, al was ek maar nog jonk. Hoekom sou dit anders wees met een geslag voor hom?

    En ek wil half en half met jou saamstem oor die persoon wat my moet lei: hy loop nie heeltyd met ‘n geweer in sy hand nie. Tog voel ek ons het dalk bietjie papbroekig geword – niemand sal vandag meer bereid wees om ‘n bittereinder te wees nie – dis net elkeen vir homself.

  2. Baie oulike foto’s natuurlik, kosbaar! Oor die leier: Ons Afrikaners het huidiglik ‘n sterk leier nodig, ek stem saam, nie met ‘n wapen nie, maar iemand wat kan lei. Die Afrikaners is “dors” vir so ‘n persoon. Ek glo dat ons nog ‘n groot/sterk nasie kan wees, WAAR ons ookal is, versprei oor die hele aarde! maak nie saak nie, ons staan nog steeds saam en ons sal soos een kan bymekaar kom, AS daardie leier na vore kan kom. Afrikaners sal altyd Afrikaners bly, jy sal nooit die trots uit ons kan uithaal nie en vir daardie wat “verspreid” is en hard probeer om “Engels” te wil wees, hulle maak eerder net gekke van hulself. Ja, dis soos “Kop” se, papbroekig… hulle wil nie “erken” hulle is eintlik Afrikaans nie… dis hulle wat ons “swak” maak.

  3. Wipneus!

    Eerstens ek geniet jou blog, interessant! My brein gryp baie dinge hier vas en bewaar dit vir toekomstige gebruik.
    Dan is ek mal oor sulke ou foto’s ek kyk altyd lank en diep… probeer die mens agter die prentjie soek?
    ‘n Leier? Dit sal iemand baie spesiaal moet wees. Daardie persoon moet ook asseblief nou te voorskyn kom, ons land het jou dringend nodig.
    Groete

  4. Ek stem saam dat ons geskiedenis nie vir die kinders verlore mag gaan nie. Dis kosbaar en deel van wie ek en jy is. As ouers is ons eerste in die ry van opvoeders en is dit ons verantwoordelikheid (plig) om ons kinders te leer. Ek bewaar alles denkbaar wat ek van ons geskiedenis kan kry en sal verseker my kinders leer, as dit dan nie meer op skole geleer word nie het ons nie werklik ‘n verskoning nie. Ons voorgeslagte het nie die tegnologie gehad wat ons het nie, en die geskiedenis is dan bewaar, hoekom kan ons dit nie ook doen met alles tot ons beskikking nie.
    Pragtige foto’s.

  5. Die lied self is net ‘n lekker deuntjie, maar die ware De La Rey was werklik ‘n man van formaat. Hy was ‘n leier wat juis NIE die wapen wou opneem nie, maar eerder geskille wou vreedsaam oplos. Dog, toe daar werklik geen ander uitweg meer was nie, het hy nie teruggestaan nie, en sy manskappe gelei na die beste van sy vermoë.

    Ek dink tog wel ons sou vandag kon doen met ‘n man soos De La Rey om ons te lei, en ek dink die feit dat Bok hom gebruik het, meer vir die lekker rym as iets anders, was eintlik heel toevallig, want ek glo nie Bok of die mense wat die liedjie geskryf het, het regtig besef wie en wat De La Rey werklik was en waarvoor hy gestaan het nie.

    Onwetend dalk, het hulle ‘n goeie leier uitgelig uit die ABO se tyd, die tipe leier wat vandag welkom sou wees vir almal, nie net die blanke Afrikaners nie.

  6. Mykopop: My vraag oor of ek met ‘n agter-agter oupa en agter oupa sal sal kon gesels het dalk meer gebrekking op dinge wat vreemd vir hom sal wees, soos gender-sake en kwessies in die wetenskap wat ongekend in hulle tyd was. Ek meen een van hierdie oupas is dood voor vroue stemreg gehad het in SA, so indien ek teruggeneem word in tyd, of hulle vorentoe in tyd sal gesprekke veral tussen geslagte dalk nie so glad wees nie.

    Tog kon ek ook soos jy lekker met my oupa gesels.

    Wipneus en Pikkelik: Dankie. Ek soek ook mense se menswees in fotos en glo mens moet dit bewaar.

    Sonkind: Sonkind ek stem heeltemal met jou saam dat ons nie ‘n leier kan kry wat net sogenaamde Afrikaners of wit mense kan lei nie.

    Nikita: Ek hoor wat jy se. Ek voel sterk oor my taal, maar polities kan ek myself nie isoleer in afsondering nie. Maar dit is my eie gevoel. Ek sal nooit probeer om Engels te wees nie en my wortels bly my wortels, maar glo nie ek kan terugkeer na ‘n plek waar ek “Afrikaners” afsonder van ander nie, want so doen ons dalk net skade aan vertal ons eie taal.

  7. Elsie, hou van die inskrywing en jou regse en linkse twang. Jy het die woord diskoers gebruik, so ek voel gevrylaat om die woorde “normatiewe diskoers” te gebruik.

    Daar is in my die normatiewe wat presies dit wil sê: Ek soek ‘n leier vir alle volke en tale, sonder ‘n gweer. Ek wil hê mense moet mense wees, vir mekaar, eerder as Afrikaners en Soutiers en Xhosas etc. Ek begeer (normatief) dat elkeen sy herkoms moet respekteer, maar dit moet afskud/ontgoei en ander mense met ander herkome moet handvat en met hulle moet saamwerk, eerder as om “‘n leier vir die Afrikanervolk” te moet kry. Ek sê dit hier en ek glo dit vas.

    In my binneste, is daar egter iets waarvan ek nie hou nie. Iets waarmee ek wroeg, en daardie iets wil hê damn de la Rey moet uit die dood opstaan en vir ons kom lei. In my diepste van diepes is daar ‘n instinktiewe gryp na hierdie volksidentiteit, en ‘n vrees/haat vir ander volke. Ek hou nie daarvan nie, ek wens ek kon dit verstaan, maar dit is daar.

  8. O ja, great foto’s !

  9. (Elsie, vir die wat dalk nie weet nie is Rosalind se middelnaam)

    Mieliepap, dankie vir jou interessante en eerlike terugvoer!

    Ek dink my voorgeslagte, was soos ek op- en vergaarders wat ek het baie van “goeters” van hulle. Papiere, gedenkboekes, foto’s, koerante en dinge. En ek is lief om daarna te kyk, te drink, te wonder te droom. Dit lei tot vrae by my..

    So rakende my De-La-Rey-of-Ceylon-vraagstuk en jou normatiewe diskoers-stelling: Ek dink daar is plek in my hart om my herkoms, taal en kulturele gebruike te behou EN ‘n leier te aanvaar wat vir almal staan. Ek hoop dit is duidelik?

    Ek glo, ek hoop nie dit is valslik nie, indien ons nie forseer word om dit te doen nie, kan ek daardie wroeging wat ek ook het, stukkie vir stukkie laat gaan deur juis te vrees af te skud en te konsentreer op dit wat ek om my sien as goed. (Toe ek onlangs in ‘n ongeluk was het die wit mense gestaan en kyk, sommige het net weggestap en 2 swart vroue het my kom help)

    Vrees vir mekaar is van ons grootste vyande en ons besef dit nie eens nie.

    Hoe behou ek my eie identiteit? Kan iemand dit steel? Nee hulle kan dit nie doen nie. Maar wat ek wel kan doen is om mense negatief te stem/draai jeens dit wat ek is, net tot my eie nadeel.

    So die fotos van my oupas is my herkoms, onlosmaakbaar deel van my geskiedenis, maar ek besef dit kan nie my toekoms kan wees nie. Tog is ek ook maar elke dag bang vir die toekoms.

    Soms soek ek ‘n versorger op ‘n wit perd wat vir ewig na my sal kyk, iemand groter as ‘n De la Rey, ek hou ook niks van die idee nie.

  10. ja, miskien was ek te eerlik. ek het ‘n geneigdheid om te oordryf om ‘n punt te maak. Maar daardie vrees wat oorgaan tot haat is iets wat elke Suid-Afrikaner moet aanspreek. Jou wit-perdman is miskien al wat ons het om op te hoop. Die vraag oor identiteit is die een wat my teen die mure uitdryf. Ek wil ‘n identiteit hê wat vry is van my herkoms, sodat ek objektief kan wees. Ek (weereens normatief) glo nie dat mens se identiteit moet lê in enige vorm van groepsidentiteit nie, maar om dit te leef laat jou kaal en broos, want dan idetifiseer jy met jouself, en dan… dan moet jy vir jouself verantwoording doen en op eie interessant genoeg wees en op jou eie ‘n mensie definieer en probeer wegbreek van die stigma van Afrikaner wees. Die wereld is groot en skrikwekkend vir so ‘n id-rebel, veral as 99% van hulle nasionale/geloofs/ras/etniese-identiteite aankleef. Daar gaan ek weer. Te eerlik. Jammer. Dit is te laat in die aand. Ek moet gaan slaap. Ek sal op my eie blog gaan gal braak. Dankie vir die ruimte.

  11. Mieliepap, ek hou van mense wat eerlik is, soos in baie. Ek sien dit ook nie as galbraak nie, baie dankie vir jou deelname.

    Groepsidentiteit sit ook nie baie netjies in my broek nie, want ek voel so dan moet ek dink/doen soos die groep. Dan leef ek maar eerder daardie lewe van die ID-rebel, groot en skrikwekkend, maar op sy eie manier is dit geweldig bevredigend.

    Mens kan sulke stukkie van die groep uithaal vir jou eie legkaart se perspektief.

  12. Ek wil van jou verskil Sonkind – Sean Else wat gehelp het om die songe te skryf, het, in sy eie woorde ‘ ‘n liefde vir ons geskiedenis, en ‘n fassinasie daarmee’ Ja, de la Rey rym lekker met die res van die song.

    Wat hy wel nie besef het nie, is dat die song so ‘n helse kabaal sou uitlok. En soveel kontroversie daarmee sou saamsleep.

    En waar is Bok se hits nou? Volgens skrywes was sy konserte ook maar deur min begewoon by die KKNK. Dis maar sleg as jou eerste hit, ‘n enigste hit raak!

    Wille Rosa, ons, en die res van vandag se kinders het nie ‘n clue hoe dit was nie. Nie eens naastenby nie. Dis ongelukkig die realiteit van die situasie, en wat maak dat soveel jongmense net lamsakkig die skouers kan optrek, en die MP4 harder sal sit. Hulle voel ‘n fok vir wat gebeur het, en hoe mense wat NIKS gehad het, hierdie paaie oopgekap het, sodat hulle nou ‘n nikswerd nageslag kan wees!

    Ons met ons krag (soms) en water en infrastruktuur kan nie eens imagine hoe dit sou wees daarsonder nie. Wat nog te se van die ontberings, hartseer, pyn, vernedering, hulpeloosheid, aag, as ek eers lostrek, dan hi-jack ek jou blog.

    Ek dink ek en jy deel redelik sentiment oor hierdie deel van die geskiedenis – solank ons dit onthou, en af en toe uithaal en afstof, onthou iemand anders dalk om dit vir hulle kinders te vertel.

  13. Songe…. daar maak ek my eie woord!

  14. So waar Skoor, sowaar. Dit is deel van wat ek probeer se het, julle sing die liedjie saam maar julle weet nie van die ABO nie, en die raak die liedjie nog iets totaal anders ook!!

  15. Lewies

    Rosalind die fotos is wonderlik, Ek het self agter groot oupas wat op Ceylon was en die een, ‘n Meyer (my ouma se Pa se kant was Meyer)van wie ek talle van sy aandenkings het wat hulle uit ebbe hout (dink ek) gekerf het servet ringetjies, portret rame, naald houertjies met sy naam Ceylon 1901 uitgekerf. Ek sou wat wou gee vir soortgelyke fotos van hom daar.
    Ek het nou nie al die comments gelees nie sal terugkom oor die de la rey ding en die ABO, maar ek moet se jy verwoord presies hoe ek daaroor voel en ja jy maak nogal n punt waar was almal met die ABO vieringe?

  16. Lewies, ek is so bly om te sien jy is terug! Ek dink die oupas het saamgesit en goeters kerf, want ek het ook ‘n piep-klein houertjie, ‘n borspeld en pyp wat op St. Helena gemaak is.
    Dan het ek ‘n dagboek wat na die tyd geskryf is, maar nie volledig is nie van die blaaie is weg. Maar dit is half-Hollands en bitter moeilik om uit ‘n maak wat daar staan. ‘n Argivaris sal moet help.
    Dankie vir die inloer en die kommentaar.

  17. Dis wonderlik om sulke inligting te hê en selfs foto’s van jou eie familie! Ek is skoon jaloers! 🙂

  18. Wandelpad: Dit is voorwaar ‘n voorreg om die foto’s te he, dit is kosbaar.




Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s



%d bloggers like this: