Die donker gat in die plakkerskamp

Die reent kom soos gewoonlik in vlae oor die Kaap neer. Dit is 5 uur die oggend en pikdonker.

Om my skarrel die mense soos miere onderweg na die werk in Harare, ‘n plakkerskamp in Khayelitsha.

Ek is vanoggend ook hier. Ek kan nie sien waarheen ek stap nie en my motor staan ver geparkeer. Dit is Julie 2000. Daar is geen straatligte nie.

Skielik pluk ‘n vrou my hardhandig na haar toe. Ons struikel altwee en val saam in die modder neer. Ek staan verstom op. “Why did you do that!” skree ek.

“Look there. You would have hurt yourself”. Sy wys na ‘n reusagtige, diep gat in die sypaadjie, as mens dit ‘n sypaadjie kan noem. Ek sou binne-in die gat geval het en baie seergekry het as sy my nie uit die pad uit geruk het nie.

Dankie! Dankie! sê ek vir haar. Sy glimlag. Ek voel simpel, omdat ek eers vies was, maar besef my reaksie was natuurlik.

‘n Paar maande later is ek weer in een van die plakkerskampe. Die klein plakkershut, of hokkie, soos die mense dit noem is die tuiste van ‘n vrou en haar drie kinders.

Daar is net ‘n bed, tafel en kas. Alles mooi ingerig. Ek sit met die vrou op haar bed en gesels. Voel die sagte kombers onder my hande. Sy maak vir my soet-soet koffie op die primus.

Dié vrou onthou ek baie goed. Sy vertel my oor haar lewe.

Ek kom nie meer in die plakkerskampe nie, maar op ‘n stadium het ek baie. Ek het weer daaraan gedink toe Soldaat op sy blog geskryf het van kind wat sê die mense in die kampe moet sommer net doodgeskiet word.

http://diegestorwesoldaat.wordpress.com/2008/03/05/bly-liewer-weg/#comments

En ek wonder of die kind/persoon al gesien het hoe lyk ‘n plakkerskamp of een van die hutte.

Hoe lyk dit daar nadat ‘n brand alles verwoes het, tot die troeteldiere verbrand. Hoe vinnig hardloop so ‘n brand?

Hoeveel misdaad en moord daar is? Hoe ver hulle moet loop?

Hoe leef ses mense in ‘n klein spasie, sonder ‘n bad, stort of spoeltoilet. Hoe staan die mense tou vir water, die hele dag.

Hoe is dit met net ‘n primus en ‘n kers?

Hoe loei die wind in die winter?

Hoe sê mens werklik: Dankie

Advertisements

  1. Nou die aand iemand hoor se^ “nothing breaks a humans spirit like poverty”. Kan nie onthou waar. Armoede saam met geweld… ondenkbaar.

  2. Toe ek nou jou possie lees, het my gedagtes terug gedwaal na ‘n paar voorvalle in 1993. Ons het eendag ‘n helse operasie gehad waar ons die hele Phola Park afkordon het en elke “huis”, of dan soos ons dit genoem het, shack, deursoek het. Phola Park is maar ‘n paar rugbyvelde groot, maar daar bly derduisende mense op daardie klein lappie aarde. Anyway. Ons was verantwoordelik vir die deursoeking van die shacks. Om dinge te vergemaklik, het ek van dak tot dak bo-op die shacks geloop en gespring om die troepe wat die deursoeking gedoen het min of meer in ‘n lyn te hou. Die shacks is so opmekaar gebou, dat dit heel maklik was om daklangs voet te slaan. Op een punt was die huisies egter bietjie verder uitmekaar uit. Ek het die spulletjie soooo bekyk, en besluit ek sal dit maak met een allermintige sprong. Domjan het egter nie die gewig van sy radios en geweer by die kalkulasies ingereken nie! Einde van die storie haal ek toe die rand van die sinkplaat net-net, die gee mee en ek val soos ‘n ou vrot vel op die naat van my rug daar in ‘n stegie! Tot helse vermaak van die hele Phola Park se bevolking! Bietjie later het ek deur ‘n sinkdak geval en met een been in ‘n kokende pot mieliepap beland! Nie my dag gewees nie! Een van my korporaals het egter die koek gevat. Hy het op ‘n verroeste sinkplaat getrap en tot by sy bors in ‘n uitgediende(en propvol!) toiletput geval! In sy verdediging moet ek sê hy het daardie put weer mooi opgevul – met kots… En hy moes terug steunpunt toe stap – niemand het hom op hulle Buffel toegelaat nie!

  3. Roer: Werklike armoede is vreeslik, vreeslik. Dis is nie net sente omdraai nie, dit is oorlewing. Die aanhaling wat jy hier gebruik is so waar.

    Soldaat: Ja die versteekte wereld van die plakkerskamp is ongelooflik op verskeie maniere.

  4. Sê vir my wat moet ons doen, wat sal help? Lyk nie vir my of die 100de1000de rande belasting wat ons betaal ooit alles sal kan regmaak nie.

  5. Ek wens ek het geweet. Maar wat ek wel al gesien het, is dat een mens in een ander mens se lewe ‘n verskil kan maak. Miskien is dit wat ons moet doen?

  6. Vir een en ‘n half jaar lank het ek soggens en saans my site mense gaan oplaai in die plakkerskampe. Dit was 1995-96. En elke tweede Vrydag het my manne vir my ‘n boerewors roll gekoop by die antie op die hoek van die eerste straat soos jy Lwandle inry. En ek het daai roll geëet, want dit is vir my gegee met ‘n goeie hart, van mense wat soveel minder as ek gehad het.

    Ek mis soms daai dae, en meeste van alles mis ek my manne. Ek het nooit onveilig gevoel nie. Dalk was ek gelukkig, maar meer as enige iets glo ek dat die meeste mense in daardie kampe ook maar net in vrede en veilig wou lewe.

  7. Ek was nog nooit in ‘n plakkerskamp nie. Ek sien dit net as ons daar verby ry. Jy laat my bietjie dink vandag. Ek kan my nie voorstel hoe dit moet wees om so te lewe nie. En ek voel dankbaar vir dit wat ek het.

  8. Dellie: Ek wonder altyd daaroor as dit so hard reen…

  9. Zee

    RF, my werk vat my gereel in die “townships” in. Partykeer is dit baie sad om te sien hoe van die mense lewe. As ‘n mens sien hoe hulle loop om water te gaan haal dan kan ‘n mens nie anders as om dankbaar te wees oor wat jy het nie. Ek kan myself nie indink om in ‘n ry te staan vir water nie…. wat nog van kos…

  10. Zee, weet jy dis so waar. Ek hoeveel krane het ek nie in my huis nie? Met warm en koue water. Ek wil nie preek nie, maar hel soms kla ek oor niks…

  11. rb

    Ek besef net altyd dat hulle ook MENSE is. Hulle het ook kinders, word ook moeg, word ook siek, word ook honger, is ook bekommerd, ens.
    Behandel ander soos jy behandel wil word – dit geld vir ALMAL




Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s



%d bloggers like this: