Die Pop

Heel onder in die boks – daar le sy. My ma het haar saam met ‘n klomp ander kleinode vir my toegedraai in borrelplastiek.

Ek vou haar versigtig oop en kyk in die mooi porselein-gesiggie. Haar handjies en voetjies is ook van porselein en haar lyfie is van gestopte lap. Sy was my ma se ma, my Ouma Hantie, se enigste pop.

Maar dit is nie sommer enige pop nie. Sy het onlangs weer eens ‘n ver reis van my ma se huis in Gauteng met ‘n Stuttaford’s-trok na my huis honderde kilometers ver oorleef. Voorheen het sy saam met my Ouma op ‘n ossewa getrek na Noord-Rhodesie (Zambie) en weer terug.

My agterouma, Bettie en haar man, Theunis is in 1920 met hulle vyf kinders na Noord-Rhodesie om daar te gaan boer. My ouma was toe ses jaar oud en haar pop is saam.

Hulle het na ‘n reis van maande uiteindelik op die nuwe plaas aangekom en ‘n klein huise gebou. Ouma Bettie se mooi meubels is saam.

Oupa Theunis het na maande se werk om die wilde area te ontbos, uiteindelik daarin geslaag om mielies te plant.

Maar die nuwe sukses was van korte duur. Hy is in 1922 aan malaria dood en sy vrou en kinders was aan hulle eie lot oorgelaat. Ouma Bettie was boonop swanger.

Sy het haar man daar gegrawe onder ‘n klomp bome. Vandag is daar net ‘n foto van sy graf.

Haar mening was: “My kinders gaan arm en ongeletterd in die bosse grootword,” het ‘n familielid in 1975 in Die Huisvrou geskryf.

Sy het alles opgepak. Haar kosbare meubels moes sy daar verkwansel. En met die nuwe baba, vyf jong kinders en die bietjie wat sy kon saamneem het hulle agt maande lank, per ossewa, gereis om terug in Suid-Afrika te kom.

Hulle was heeltemal verarm. En moes maar oor begin. Hier gekom was die kinders skoon wild, sonder skoene en almal moes maar weer aanpas in die beskawing. My Ouma is vir die eerste keer skool toe.

Ouma Bettie het egter nie geskrik vir die oor begin nie. Sy het as ‘n tienerjarige die konsentrasiekamp van die Anglo-Boere-oorlog saam met haar ma en sibbe oorleef. Haar ma, Johanna, (my agter-agterouma) het elke sent wat hulle gehad het in vasgewerk in ‘n spesiale band wat sy gemaak het. Die het sy die hele tyd om haar lyf gedra in die kamp.

Later moes hulle van die geld in die kamp gebruik toe kos baie skaars geraak het en sy het daarvan gebruik om blikkieskos te koop by van die soldate sonder rang.

Na die oorlog was daar nog van die geld oor en hulle het darem iets gehad om weer te begin.

Die pop van baie reise, definitief ‘n geliefde pop, het nou ‘n spesiale plek by my. Sy het baie beleef en ek sal onthou om haar en haar mense nie te vergeet nie.

Advertisements

  1. Pragtig… my ma het so n teddie van haar ouma gekry, een van daai waar die arms en bene kon beweeg, ongelukig het die in n brand 2 jaar terug tot as verkeer. Dit is nou nog vir my ma n groot verlies van familie geskiedenis!

  2. En ons dink ons het dinge om oor te kla!

  3. as die pop kon praat, wonder ek watse stories sy sou kon vertel.

  4. boendoe

    Mooi verhaaltjie. Ek dink dis belangrik om haar storie nie te vergeet nie.

  5. TristonJ: Wat ‘n groot jammerte oor die teddie, sulke goed kan mens nie vervang nie.
    Jasper: Ja, as jy maar kon praat…ek sou soveel meer kon leer.
    Dankie vir julle ander se inloer.

  6. Dis ‘n oulike storie, dis vir my tog so lekker as goed ‘n mens se geskiedenis dra, veral ‘n pop wat altyd na aan die draer se hart was.

  7. Dis ‘n mooi storie. My ouma se mense kom ook van Rhodesie af. Ek het weer ‘n regte skaapvelkombersie wat ek geerf het, wat so deur die geslagte aangegee is. Ek kan Suidpool toe gaan net met my bersie, so warm is hy.

  8. Oulike storie. Jy skryf lekker.

  9. Lekker van die kombersie, Sonkind.
    Netjane, ek is gek na sulke ou dinge wat oorgedra word, dit hoef nie waardevol te wees nie, maar dit het storie van die lewe daaraan. Net soos Sonkind se kombersie.
    Wag-‘n-bietjie, dankie. Ek dink my ma het nog ‘n wa-kis ook wat op daai trek was.

  10. Ek het nie kinders van my eie nie. Soms dink ek dis moer sad dat my geskiedenis by my moet doodloop. Ek sou so graag vir ‘n kind wou leer wat ek weet. Wou gee wat ek het. En wou vertel wat ek gaan vergeet.

    Hopelik het jy iemand wat daai pop kan oorneem by jou. Eendag.

  11. Oe aarde Skoor…ek sit moet foto’s drie agter-oupas in die konsentrasiekampie, ‘n dagboek van een wat hy geskryf het op St. Helena, met Lennon’s blikke en ‘n grammofoon. Met soveel goed.
    Ek verstaan presies wat jy bedoel. Nee ek het nie kinders nie en ek sal ook nie hê nie.
    Dis ‘n taai-toffie. Weet nie wat gaan eendag daarvan word nie.

  12. Skoor, soms dink ek ‘n kind is ‘n uitbreiding van jouself.

    Rosalind, ek het twee poppe van my pa geërf, kom al vier geslagte ver, my broer het ongelukkig (gelukkig vir my) geen erg daaraan gehad nie. Ek kon nie help om te wonder watter lekker vertelling jy daarvan sou kon maak nie. Sal eendag ‘n foto daarvan neem.

  13. Wag-‘n-bietjie, jy moet tog ‘n foto neem en vir ons wys asseblief. Ek wil graag sien, vier geslagte is baie oud en spesiaal! Ek moet nog ‘n skandeerder koop sodat ek van die foto’s saam met die stories kan sit.

  14. Zee

    Mooi storie, ek wens ek het so van ons familie se geskiedenis geweet soos jy van joune! Treasure jou pop!

  15. Dankie Zee, mens kan nogal soek na jou voorsate deesdae op databasisse veral as jy name, geboortedatums en sterfdatums het. Mail my as jy belangstel.




Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s



%d bloggers like this: