Die verbode liefde

Die liefde ken geen grense nie, nie vandag nie en ook nie sowat 85 jaar gelede toe ’n jong Afrikaner vrou en ’n Engelsman op mekaar verlief geraak het nie.

My Girlie, soos hy haar genoem het, en John, se liefde is wreed deur ’n leuen verskeur. ’n Leuen wat aangevuur is deur haat ná die Anglo-Boere Oorlog en ongelukkig sterker was as alles. Sonder dat John geweet het het sy dekades daarna nog getreur oor hom.

Reeds as eerstejaarstudent jare gelede het ek die ingewikkelde legkaart stukkie vir stukkie probeer bou, maar dit was ’n moeilike taak. My Ouma Ellie was toe reeds naby 80, emosioneel en hartseer oor die dae wat verby is.

Dit was die maklik nie. Ouma Ellie was self in die verhaal betrokke, nie was antagonis nie, maar wel as ’n Grootmaak-kind wat baie anders as haar maatjies moes opgroei by Kleinma-haar grootmaak-ma. (Haar eie ma (Nonnie) het gesterf kort na haar geboorte en haar suster, Hannie alias Kleinma, het haar nuwe ma geword – sien vorige posting oor “My Ouma en die Kakie” vir konteks).

 Ouma Ellie het baie keer sommer die albums toegeklap en gesê: ‘‘Ag, dis sommer stupid goed die.”

Maar ek en Ouma Ellie het tog stadig gereis sover as vyf geslagte terug. En een vir een het ek die dele van die stukkende liefdesverhaal van Kleinma en die Engelsman aan mekaar probeer las. 

 Van kleins af was daar iets anders aan Kleinma haar. Sy het goed op skool gevorder, later onderwyser geword, pragtig geskilder, wyd gelees en kon vlot Engels praat, lees en skryf. Dit was destyds ’n doodsonde.

Sy het standard agt gehad ­– en vir ‘n vrou in die jare twintig van ‘n arm Afrikaner-familie was dit groot geleerdheid.

Die jong Afrikanermans wat vir Kleinma kom kuier het, het haar gespot as Ellie vir haar ‘‘ma’’ sê. Kleinma het toe vir Ellie gesê om haar nie ma te noem nie, maar Kleinma. Maar die Afrikanermans was nie lus om ‘n ander man se kind groot te maak nie.

Kleinma het Ouma Ellie soos haar eie grootgemaak en daar was ’n diep en liefdevolle band tussen hulle gewees. Ek onthou die teerheid waarop Ouma Ellie vir Kleinma gesoen en teen haar vasgedruk het toe Kleinma in haar laaste jare bedleênd was. Hoe ek gesit en kyk hoe sy haar was, en haar vrugte voer.

 Die groot liefde van haar (Kleinma) se lewe was John Marais – ’n Engelse Marais.

Hy kon egter Afrikaans praat, maar in die vier briewe aan haar wat behoue gebly het slaan hy oor na Engels wanneer hy intiem raak. Dat hy ’n volbloed Engelsman was is egter ’n seker saak.

Waar en hoe hulle ontmoet het weet ek nie. Die verhouding was in die 1920’s. Hoe dit geëindig het weet ek wel – met ’n leuen weens haat oor die Boere-oorlog. Daar moes baie briewe geskryf gewees het waarvan talle vermoedelik deur haar ma Susanna onderskep is, maar Kleinma het vier van hulle, haar lewe lank bewaar. Ouma Ellie het hulle daarna gehou en nou het ek hulle.

 John se briewe is vol liefde en geselsies. Nogal intiem. En vir daardie dae liberaal as dit kom by briewewisseling tussen twee ongetroudes – veral as een ’n Afrikaner is. Hy noem haar ‘‘My Girlie’’ in al sy briewe en sluit dit met intieme liefdesverklarings in Engels af. Ek wens ek kon van die briewe lees wat sy aan hom geskryf het. 

7 September 1921, Bus 26, Robertson. Die brief begin met: ‘‘My liefste hartlam’’.Hy skryf: ‘‘Dit is jammer ek is niet daar zoo lang als jou Ma weg is, zou ons tyd zeker goed gewardeerd hefd. Maar dit is ook zoo ons was nooit eigenlik bang. Ek verlang al om die lekker lyfie te kom vat een bietjie sweet smiles en kisses te

kry.’’ En hy sluit af met From Your Sweatheart John Marais.

 Hier kom mens al klaar agter Ouma Susanna hou nie van die verhouding nie.

Nog ’n brief van 29 April 1923 sluit hy af met Your Sweat Boy. Die brief kom van Tweefontein in Pietersburg.

Die derde brief van 26 Augustus 1926 uit Robertson sê baie. Daarin lui ek af hy het vroeër probeer om haar ‘ ‘te kom haal’’ maar dat dit nie geslaag het nie. Op die stadium is sy briewe aan haar dalk reeds onderskep.

 John: ‘‘Ik sckryf zoo baaie, en ik hoor niks zoo wonder ik wat is gaande … dit is nou al byna een maand en ik weet nie

wat dit is …’’

 John: ‘‘Als het ek nog zoo baie werk, ek hoop om begin Mei of vroeg in Junie jou te kom haal. Ek hoop nie ons zal weer teliurgesteld word al kom daar ook wat in die weg. Ik het nou weer een maal vast besluit.’’

Hy skryf voort en sê dat sal nie weer gaan soos die vorige keer in Junie 1921 toe hy soveel geloof gehad het dat alles sal uitwerk toe hy haar wou gaan haal nie. Hy sê die€ keer sal dit nie so maklik wees om hom te keer nie.

‘‘… you can perhaps come and meet me in (onleesbare woord). I better close with kind love and kisses. From your naughty John’’.

Ek wens ek het meer geweet oor die brief en wat dit alles beteken, maar ek kan aflei dat hulle teen ’n muur vasgeloop het. Ek vermoed Kleinma het die brief later iewers ontdek ek glo nie sy het dit in 1926 gekry toe dit aan haar gepos is nie.

Ten spyte van Kleinma se eie swaarky in die konsentrasie-kamp en die gevolge en die Boere-oorlog het sy John liefgehad met haar hele hart Engelsman of te nie. Die liefde het nie grense nie, net die grense wat ons of ander self daar stel.

Iewers in die 1920’s het Ouma Susanna besluit sy het genoeg gehad van John Marais. Of sy saam met ander lede van die familie haar plan beraam het, weet niemand meer nie.

 Sy het aan haar dogter gesê sy het tyding ontvang John is getroud en dat sy van hom moet vergeet. Sover ek kon vasstel het sy ook briewe onderskep.

Vir haar sou daar niks erger in die lewe wees as haar kind met ’n Engelsman trou nie.

Kleinma het haar onttrek en alleen getreur. Die geheim is dig bewaar en vir die hele familie weggesteek.

Kleinma jare is jare later toe sy reeds in haar vyftigs was met ‘n vriend getroud.

Hoekom het John nie op sy perd of op die trein geklim en haar kom soek nie? Is hy voorgekeer? Hoekom het hy die stilswye aanvaar? Of was hy moeg gesukkel? Het sy familie dalk dieselfde gevoel en is daar dalk met hulle ooreengekom

om aan hom dieselfde leuen te vertel?

Presies hoe en wanneer Kleinma die waarheid uitgevind het weet ek nie. Dit wou Ouma Ellie nooit sê nie. Ek dink nie omdat sy dit nie met my wou deel nie, maar omdat dit te emosioneel, die wonde te diep was.

Op ’n manier het sy haarself kwalik geneem vir Kleinma se ongelukkigheid. Sy het gevoel Kleinma se lewe sou anders gewees het as sy nie ’n ander se kind moes grootmaak nie. Dan sou sy miskien saam met John kon wegloop. Maar dit was onnodig, want Kleinma was oneindig lief vir haar en ’n goeie ma.

Tussen Kleinma se goedjies het ek op ’n stukkie papier afgekom. Dis iets soos ’n outydse visitekaartjie, maar die datum daarop is baie belangrik. 1946 is met pen daarop geskryf terwyl die res gedruk is. Dit is dus geskryf voor haar latere troue:

 Bo-aan staan: John Marais. En onder: Breeder and Exhibitor of Seeds and Seed Maize. Produce Breeders

Championship Gold Cap of SA: 1935, 1936, 1937, 1938, 1939 and 1944. Mizpah. Bethlehem.

Ek wonder of hulle kontak gehad het en sy daarna toe besluit het om te trou. Om vrede te maak met die verlede.

 Ek weet wel dat sy op een of ander stadium ’n vreeslike dag op ’n die stasie in Johannesburg of Pretoria beleef het voor sy getroud is. Sy was alleen daar en toe sy opkyk staan hy daar, haar geliefde John.

^Hulle het mekaar glo lank met ongeloof en skok en van aangesig tot aangesig gestaan en aankyk. Wat alles gesê weet net sy en hy. Sy het hom op die perron agtergelaat. Dis al wat sy daaroor wou sê.

Omstreeks 1970 het sy op haar plasie in die Magaliesberge waar sy en haar man gewoon het een aand met my ma gepraat. ‘‘Ek wil aan jou die mooiste maar hartseerste liefdesverhaal ooit vertel,’’ het sy gesê.

Hulle hy by kers- en lamplig gesit en tee drink terwyl sy oor John gepraat het. ‘‘Die trane het oor haar wange gestroom.

Sy het gepraat van die liefde van haar lewe,’’ vertel my ma. Sy het gepraat van ‘‘die liefde wat ek nooit weer sal hê nie’’.

Kleima het my ma gevra om niks aan haar man te sê en wou nie hê hy moet ooit daarvan weet nie, want sy wou hom nie seermaak nie.

Sy het gesê John was ’n ‘‘lang man met ’n fyn hart’’.

Advertisements

  1. Die “stuff” waarvan blitsverkopers gemaak word!

  2. Dankie mykopop’nblok, dit is ‘n mooi kompliment.

    Ek onthou Kleinma so goed. Ek was 10 toe sy dood is. Ek het altyd vir haar “mash mêllows” (my kinderwoord) gevat, oor haar tande haar seergemaak het. Haar hare was spierwit en sag – toe het ek niks van haar lewe en pyn geweet nie, ek het dit eers later uitgevind.

  3. luigiblog

    Ai, die lewe ne’.

  4. Het jy ooit ‘State of The Heart’ van Amanda Strydom gesien? Jou storie lees soos die verhaal van Auntie Maxie.

    Ek reken John is dalk met ‘n dreigiment per brief, afgeraai van sy planne. Met ‘n Boer moes jy maar nie neuk nie.

    Oulike storie.

  5. Skoor, Ja ek het daai show van Amanda gesien en seker al haar ander ook. (Ek is mal vir haar). Jy is reg, is nogals so.

  6. rosalindfranklin? Boerenooi met ‘n kakie van! Lekker stories, veral die vorige een van Ouma en die Kakie.

  7. Hi vokof.
    Ek sal vir jou ‘n geheim vertel oor Rosalind Franklin…as jy nou elders lees op die blog sal jy sien. Rosalind Franklin is eintlik in die vyftigs dood. Hulle het haar “the dark lady of DNA” genoem in ‘n boek.
    Dit was eintlik sy wat die struktuur van DNA of DNS in Afrikaans ontdek het, maar kon nie die Nobelprys deel nie, omdat sy dood is aan kanker en die prys word nie aan dooies gegee nie. Haar bekende kristal-skyfie (foto 51) het het deurbraak gegee sodat ons vandag weet dat DNS uit ‘n dubbel heliks bestaan.
    Dankie vir die inloer.

  8. mmm, interessant. Maar wie sit agter jou, Langnaam? Of skryf jy uit die graf?

  9. Wie agter my langnaam sit….is ‘n reuse geheim.

  10. ets

    Mooi storie. het jy nog?

  11. Ja, daar is nog “die pop” en “my ouma en die kakie” op die blog as jy dit nog nie gesien het nie. Die res moet nog geskryf word. En, welkom hier.

  12. Laysma

    Hi Rosalindfranklin, terwyl ek navorsing doen op die Internet, kom ek op jou blog af as ‘n Google resultaat op my soektog van die onderwerp verbode liefde.
    Ek is ‘n skrywer en is al ‘n geruime tyd besig met ‘n nuwe verhoogstuk wat, snaaks genoeg, handel oor presies hierdie onderwerp van ‘n Boeremeisie in die Tweede Vryheidsoorlog wat verlief geraaak het op ‘n gewonde Engelsman wat op hulle plaaswerf aangekom het in smeking na hulp.
    Dit wil blyk ‘n baie sterk onderwerp te wees om verbode liefde in die formaat aan te spreek.
    Dankie vir die blog dit is interessant.




Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s



%d bloggers like this: