My ouma en die Kakie

LAATMIDDAG toe my agter-oumagrootjie die Kakie met ’n styf opgerolde nat laken “doodgeslaan” het, het sy geweet, nou is hier probleme. Sy het gesit en wasgoed was by die leivoor toe die man voor haar staan en haar kru beveel om vir hom kos te gaan maak.

“Ek spoel net gou die laken uit,” het sy gesê. Dié het sy styf opgerol, opgespring en hom hard teen sy slaap gemoker. Hy het soos ’n os neergeval en bly lê – “dood”. Sy het teruggehardloop huis toe. Sy en haar drie kinders het nie van die plaas gevlug toe hulle hoor van die konsentrasiekampe gedurende die Boere-oorlog nie. Sy wou aanhou boer om te sorg vir kos op die tafel. Die aand het sy, die man en vrou wat vir haar gewerk het en die kinders in die kombuis gesit en wag vir die Engelse om terug  te kom.

My ouma-grootjie se suster, Johanna, het toe ek klein was vir my vertel hoe bang hulle dié nag was. My eie ouma-grootjie, Nonnie, is dood op 27 jaar met die geboorte van my ouma (Ellie), en Johanna het my ouma grootgemaak. My ouma het haar (Johanna) dus Kleinma genoem, omdat haar tannie nie haar “regte” ma was nie.

Die volgende oggend is agter-ouma grootjie met die haelgeweer by die deur uit. Sy gaan nou klaarmaak wat sy begin het, as hy nog lewe.

Toe sy by die leivoor kom was die man skoonveld ’n Paar dae later het hy daar aangekom met sy makkers en sy, die drie kinders en twee plaaswerkers is na die konsentrasiekamp op Westonaria.

Die huis is voor hulle oë afgebrand. Kleinma het vir my baie stories van die kamp vertel, maar haar haat was nie so diep soos die van agter-ouma grootjie Susanna Maria Oosthuizen (néé Van Tonder) nie. Sý het later vir Kleinma verhoed om met die liefde van haar lewe te trou, net omdat hy ’n Engelsman was.

Kleinma het oor die 90 jaar geword en was soos ’n klein voëltjie, sy het met groot blou oë vir my van die vreeslikhede van die kampe en die lang swaarkry daarna vertrel.

Al wat agter-ouma grootjie Susanna tussen die rommel in haar huis kon kry was ’n paar yster seeppotte. Haar pa en broers is almal dood in die oorlog. Haar man Pieter het mank van die oorlog teruggekom met ’n koeël nog in sy heup. Hy is by Petershill naby Newcastle gewond.

In 1925 kon Pieter een oggend nie van sy perd afklim nie. Voor hom op die perd het klein Ellie, my ouma, gesit. Hulle is van die perd afgehelp en hy is met die perdekar dokter toe geneem. Hy is geopereer en in die septiese wond is “twee handevol verbande” van die oorlog in hom gevind.

Hy is dae daarna dood, terwyl my ouma, sy oogappel sy hand vashou. Agter-ouma grootjie Susanna, haar jong seun, Kleinma en Ellie het aangehou boer. Kleinma is daardie tyd gesien as ’n ongehude moeder, al was die kind wat sy “aangeneem” het op die sterwensbed van haar suster, nie haar eie nie.

Ouma Ellie se eie pa is intussen weer getroud en het weer sy eie gesin gehad. Sy kind het by die skoonfamilie gebly. Met die Engelsman mag Kleinma nie trou nie en die boerseuns wat wel die oorlog oorleef het, wou nie ’n vrou trou wat reeds ’n kind gehad het nie. Kleinma het haarself as onderwyseres bekwaam om vir hulle te sorg, maar hulle het bitter swaar gekry.

Later jare toe dit beter gaan, het ouma Susanna glo smiddae op die stoep gesit en ’n bottel “milk stout” gedrink. Dan het sy net gesit en getuur oor die veld.

Ek wonder of sy oor die Kakie gedink het as die Son skaduwees trek? Ek het ’n spieël omraam met hout wat van vrou na vrou na my gekom het. Soms wonder ek oor die vroue wat in die spieël gekyk het. Wens ek, ek kon nou met hulle gesels het.

( Hier is hier alles waar en ek het weer daaraan gedink na aaleiding van Feast of the Uninvited)

Advertisements

  1. Uitstekend!

    ‘n Verhaal om te koester en op trots te wees. Moenie dat dit in jou kop doodloop nie.

    Net jammer ouma het nie sommer net daar en dan die haelgeweer geneem en haar joppie klaargemaak nie!

    Jy’s bevoorreg om so ‘n stuk kosbaarheid te he.

    Geniet Feast

  2. Baie dankie dat jy toe kom loer het.

    Mmmm is jammer, maar sy was seker nie die tipe wat die haelgeweer sommer so rondgedra het nie.

    Dit sal nie doodloop nie, want die spieël hang in my kamer.

  3. Dankie vir ‘n baie interessante skrywe! Ek het so pas die eerste episode van Feast gekyk. Ek sien nou in my notas ek het dit ‘n paar maande gelede raakgeGoogle en daarvan vergeet en dit amper nie gekyk nie!

  4. kyker

    Ek het dit geniet om hierdie familieverhaal van jou te lees. Daar is seker nog ‘n paar stories oor Ouma Susanna, die ‘Milk stout’ drinker, wat jy met ons kan deel?

  5. Dit was nou goed.

    Ek was aanvanklik skrikkerig ons gaan net linkerbrein goed hier kry. Lol. Wys jou net.

  6. Dit is ‘n pragtige verhaal. Dankie dat jy dit met ons gedeel het.

  7. Dankie vir al die comments….. en dat julle gelees het.

    Kyker, (daar is nog stories) ek sal hulle mettertyd deel.

  8. Dankie vir jou besoek aan my blog, daardeur het ek op jou blog afgekom met hierdie interessante skrywe! My ma se kleinniggie…of agter-kleinniggie…(nie seker nie) was ook in so ‘n kamp. Ek het ‘n boek gekoop by ‘n museum en sy is in die boek aangehaal deur die skryfster.. die plaashuis waarin ek groot geword het, was afgebrand tot op die grond… ‘n familie-erfplaas. Ek wens net baie keer dat daar meer opgeteken was deur die vrouens wat daar moes bly, vir ons om vandag te kan lees…ek geniet Geskiedenis verskriklik en verslind alles wat draai om oorloe… dus, sien ek uit na jou volgende pos oor die onderwerp!
    O ja, sien jy het ook geskryf oor die “New Scientist”… waarlik die moeite werd om daardie tydskrif te kry en te lees! 🙂

  9. Nonnie
    Ellie
    Kleinma
    Seeppotte
    “…klein voëltjie … met groot blou oë…”

    Aandoenlike mooi name lê in jou herkoms-geskiedenis opgesluit; perfek gekose woordbeskrywings waarmee jy jou verhaal vertel.

    Ek sal telkens weer kom kyk: wil nie ‘n volgende vertelling mis nie!

    Groete
    P

  10. Nikita, ek het gehoor dat van die kampe het naamlyste gehou van die vroue, kinders en bejaarde mans wat daar aangehou is. Maar die lyste is nie elektroniese nie, mens moet in die argief gaan sit en letterlik deur al die lyste gaan tot jy op jou name afkom. So kan mens meer te wete kom van die doene en late van jou mense in die kamp.
    Dit is interessant as jou familie in ‘n boek voorkom want dit beteken iewers in ‘n argief is iets oor hulle opgeteken.

  11. Hallo Pippa,

    Dankie, die name Ellie, Nonnie en Kleima is die werklike name . . .
    Daar kom nog storie, ek belowe, saam met hulle beplan ek foto’s. Want ek het fotos van die oupa’s in die kampe. Ongelukkig nie van die vroue in nie kampe nie, maar wel van hulle elders.

  12. Hi Rosalind… ek wens net ek kan die titel van die boek onthou…al wat ek onthou was die swart op die harde-buiteband-boek…met ‘n foto/skets…die boek is nou meer as 4 jaar weggepak in SA…vies vir myself omdat ek hom nie hier het nie… ek het die boek nog in Ladysmith by die museum gekoop en toevallig haar naam raak gelees…ek was nogal baie opgewonde daaroor…en dit is ‘n boek in Afrikaans! Ek sou wat wou gee om die boek nou op my blog te kon blog…

  13. Jong ek het ‘n idee wie die skryfster kan wees, daar is maar min vroue wat boeke skryf oor die ABO. Een vrou wat baie skryf oor die ABO en ernstige navorsing doen is dr. Elizabeth van Heyningen, sy doen ook ander skitterende navorsing oor genealogie in SA.

  1. 1 Tags en Vrijheid 3 se make-over « Het die Kranse nog Antwoord om te gee?

    […] https://rosalindfranklin.wordpress.com/2008/01/23/my-ouma-en-die-kakie/ […]

  2. 2 Neem uit die verlede « Bloubloed se kletswerf

    […] March 27 at 6:21 pm (Laasjaar se stories) Rosalind se storie oor Ouma en die Kakie laat my wonder: Hoeveel van gister se stories het al verlore gegaan sonder dat dit ooit oorvertel […]




Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s



%d bloggers like this: