Na my selfopgelegte ballingskap van meer as ‘n jaar – dit mag langer wees – het ek weer op WordPress kom rondkyk.

Ek verbeel my hier is nou meer verregse mense as ‘n paar jaar gelede wat agter elke klip en bos na volkstate en nasionalisme soek. Dit wil mens laat kots.

Hulle swak geskrewe stukkies snot (hulle ken ook nog steeds nie die taalreël van los- en vasskryf van woorde en begrippe nie) versuur die blogs nog meer.

“Ons sal sterf vir Afrikaans!!” En dan kan hulle nie eens behoorlik spel nie en die woordeskat is so beperk soos die van ‘n padda.Een van die kleintjies.

Om hulle saak te versterk – weef hulle teksversies en klap-vir-jesus-hande smarterige sinne – tussen nog meer snert.

Oi vey.

Nee wat….

Kennis is mag, dudes.

Die vlug

Die jaar was vreemd in baie opsigte, dood en verlies waaroor ek nie sal tob nie. Maar ook sukses, uitdagings.

Ek het eintlik maar weggebly hier en op FB – speel nie meer al die “games” nie. Ek dink die fokus het soveel verskuif met al my verpligtinge.

Ons een hondjie is dood, vyf weke gelede. My hart was so seer en rou – dit was onmoontlik vir my om daaroor te praat. Is steeds. Ure na haar dood moes ek op ‘n vliegtuig klim oorsee. Dit was een van die moeilikste goed wat ek in my hele lewe moes doen – ek kon nie kanselleer nie wat dit was ‘n uitnodiging.

Ek kan steeds nie eintlik oor haar praat nie.

Dit was jare der jare wat ek na die flou-tee popmusiek en ligte musiek probeer luister het, seker 20 jaar.

Seker die enigste groep met ‘n hoofsanger met ‘n goeie stem was Queen en dan miskien Madonna.

Maar niks het werklik my aandag getrek nie – ek is net te kieskeurig wanneer dit by musiek kom.

En toe arriveer Lady Gaga – uitdagend en kreatief soos Madonna destyds mense na hul asems laat snak het omdat sy durf waag het om die woorde “god” en “virgin” te gebruik. Maar daar is twee verskille Lady Gaga se stem is 100 keer beter en sy maak intens belangrike sosiale kommentaar. ‘n Geleentheid wat die meeste sogenaamde celebs laat verby gaan.

Die oppervlakkige kommetaar sou wees “sy trek aandag”. Nee sy het nie nodig om dit te doen nie, haar stem en besonderse looks doen dit klaar. Dis eksistensialisme op sy beste.

Maar nuwe CD: Born this way, spreek boekdele tot soveel aspekte van die samelewing.

Ek dink nie ek ervaar die dood, of die sterfproses van mense, anders as ander mense nie. Die enigste verskil is dat ek nie glo daar is ‘n lewe na die dood nie. As jy dood is, is jy dood.

Die lewe is vir my intens, vir my is dit, ál wat daar is – die hier en die nou. Want nadat die hart ophou klop het, sterf die allerbelangrike brein. En sonder hom is ons niks.

Die afgelope maande het ek nie geblog nie, want ek het niks gehad om te se nie, nie omdat ek ongemaklik was met die dood van ‘n nabye persoon nie, maar omdat woorde net te veel was. Hoe lank ‘n mens se liggaam uithou is seker maar hoe die kaarte vir jou val.

Vandag is dit twee maande na haar dood. In daardie laaste dae was sy verdwaal en deurmekaar, onbewus selfs van die kanker in haar liggaam. Oë strak in haar kop. Ek het daardie dag by haar gesit en verduidelik wat aan die gebeur is.

Ek is nie ongemaklik met die dood nie, selfs nie met sterwendes nie, ook nie met geloof nie.

Sy was Joods en ek was die volgende dag soos gebruiklik by die begrafplaas. Geluister na die Rabbi se singende stem in Hebreeus. Soos altyd is ‘n stukkie van ons klere geskeur by jou kis.

Ek verstaan waarom mense glo, dit maak dit bitter min tyd op aarde wat ons het soveel meer leefbaar en verteerbaar. Iets om na uit te sien – ‘n geloof dat alles nie net eensklaps eindig nie. Dis net, ek kan myself nie oortuig nie, kon nog nooit. Dit sou seker eintlik makliker gewees het.

was ek so moeg vir die alledaagse gesukkel, ek het die blog gesluit, hy is nou eer oop saam met my ander een wat ek intussen oopgemaak het: Rosalind Reloaded.

Niks het verander nie, inteendeel. – Ek voel nog oor baie goed dieselfde.

Nouja ek dink ek het aan die einde van die blog gekom, Februarie was dit twee jaar sedert ek begin het – hoekom en hoe kan ek eintlik nie meer onthou nie.

Dit is nie dat ek die lus vir blog verloor het nie, of niks het om te sê nie, inteendeel. Die tyd en plek is dalk net verkeerd.

Ek dink die laaste was toe ek vandag sien die nr.1-inskrywing is van ‘n klomp verregse mense wat een of ander Afrikanerstaat soek, asook baie van die ander blogs, is toenemend net oor godsdiens. Dit gaan eintlik net oor bybelversies, gebede, godsdiens en ‘n god waarin ek nog nooit geglo het nie. Van kleins af al.

Ek kritiseer dit nie, dit is net nie ‘n zone waarin ek nie leef nie – dit is nie my wereld nie. My wereld is en bly anders. Ek is ook nie teen geloof of gelowiges nie, ek wil net nie op elke tweede blog daaroor lees nie.

Rosalind Franklin gun elkeen sy of haar plek, maar ek gun myself ook my eie plek. Ek wil ook nie krities staan jeens mense nie. Ek is werklik 100% eerlik oor hoe ek voel.

Ek wil met mense begin verskil op hulle eie blogs nie, maar dalk is WP nie die plek vir mense soos ek nie: Die Nie-Gelowiges van die wereld wat anders glo en soms dink.

Toe ek begin blog het op WP was daar soveel bloggers wat oor mense, die hier en nou, die lewe met sy seer en mooi geskryf het, en ek voel dit het grootliks verander. Daar is heerlike interaksie tussen mense. Nou is daar soveel “sondagpreke” en ek vind glad nie aanklank nie.

Dankie vir al die pret en plesier. Daar is baie, baie van julle wat erg spesiaal vir my is.

Groete en loop mooi, dalk “sien” ons mekaar weer

Rosalind Franklin

(Die naam Rosalind Franklin en die FB-profiel gaan ek steeds hou – ek speel lekker saam met julle speletjies en daar is mense wat vir my baie spesiaal is, wat ek so oor ‘n afstand leer ken het. As julle daar vir my wil afgooi, is dit jammer maar ook julle vrye keuse.)

Dit het my ses jaar geneem om by te kom. Al die jare het ek traag ontwikkel – seker maar omdat my ma my nie borsvoed het nie en ek allerhande agterstande gehad het van die begin af.🙂

Drie dae voordat die Wêreldbeker-sokkertoernooi begin het, het ek uit-te-flippen-eindelik ook toe gees gevang. Ag dankie tog, want gees-kry kan ‘n mens nie aanleer nie, of pretend nie. Of jy het dit of nie.

Dit het so week gelede begin broei. Ek is tog so bly want ek verpes dit om dinge te mis.

En gister toe kom die baas by die huis aan met ‘n Makarapa wat ons self kan aanmekaarsit. Dis nou nie presies soos bou jou eie een individueel van niks of met goeters wat jy deur die jare versamel nie, maar darem. Plakkers en dies meer. En ons bou hom

Ek beplan om hom werk toe te dra. En darem by ‘n Fan Park ‘n draai te gaan maak, al is dit net om te bevestig wat ek reeds vermoed.

Die openingseremonie gaan ek beslis kyk op TV – ek wil darem sien wat dis hulle op. Ek is seker dit gaan mooi wees.  Regtig ons is nie agterlik nie. En ja al die stadium is toe gebou, op tyd en dit lyk mooi. Onthou almal wat so negatief was?

En ek gaan beslis Vrydag die game kyk hier by die werk.

Daar is natuurlik geen ander span wat ek ondersteun as Bafana nie, ek meen get flippen real! Ek is ‘n Suid-Afrikaner. Maar as hulle uitval dan gaan ek skree vir enige ander span van Afrika.

Ek is ‘n Afrikaan!  Ek is van Afrika. ‘n Trotse een ook.

Diererig

Ek voel baie diererig, die afgelope tyd. Sedert ek verlede week begin molleer het, begin ander diere ook hulle hare, pelse en pote wys.

Hoewel ek al in my hele bestaan een van daardie mense is wat erken ek is net ‘n soogdier wat ‘n gemeenskaplike voorsaat met die groot primate deel – is die diergevoel al hoe erger vandag.

Ek voel soos ‘n pikkewyn wat my kort bene net laer wil laat sak en op my eier sit.

Soos ‘n meerkat wat diep in die gat wil gaan le onder furrrrr, met ‘n hopie sprinkane waaraan ek nou en dan kan knibbel.

Soos ‘n perd wat op die seesand wil gaan rol.

Soos ‘n free range hamster wat in ‘n kous kan inkruip met ‘n handvol sade.

Soos ‘n hoender wat maak asof syop eiers sit net sodat sy nie hoef te gaan skrop in die tuin nie.

Soos ‘n lekker wollerige dring met kloue en tande wat nie regtig ‘n monster is nie, maar wat kinders eet vir lunch. Njam

Volgende Blad »



Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 47 other followers