Hoekom het sommige kinders (of sommige volwassenes) Ritalin nodig?
Die antwoord is eenvoudig: Die brein het dit nodig. Omdat dit in dele van dié komplekse orgaan is waar die chemiese wanbalans lê van mense met aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS) of aandaggebreksindroom (AGS).
Onkunde het ongelukkig onder meer daartoe gelei dat dié middel gebrandmerk is, soos met baie ander chroniese medisyne, tot nadeel van dié wat dit die nodigste het.
Ritalin en die ander handelsname (Ritalin LA en Concerta) wat vir dié toestande voorgeskryf word, se aktiewe bestanddeel is metielfenidaat,wat medies beskryf word as ’n stimulant. En dit is onder meer dié beskrywing wat tot ’n veldtog teen die middel gelei het, veral onder sogenaamde alternatiewes wat dié mediese term dikwels verkeerd verstaan.
Dit kan ook die eetlus demp en sommige mense, veral volwassenes, bekom die middel op een op ander manier sonder dat hulle siek is, om gewig te probeer verloor.
’n Stimulant beteken medies dat ’n middel dopamienvlakke in die brein verhoog, niks meer of minder as dít nie.
As dit vinnig verhoog of baie hoë vlakke word bereik, kan ’n mens ’n sogenaamde high hê, soos met dwelmmiddels. Ritalin verhoog ook dopamien, maar werk heeltemal te stadig as dit per mond ingeneem word om werklik as ’n dwelmmiddel te dien,veral nie in die doserings wat vir AGHS gebruik word nie.
Metielfenidaat verminder die ooreffektiewe opruiming van dopamien in die brein, sodat boodskappe in die brein beter herlei kan word.
Baie mense glo dat indien hul kind AGS/AGHS het, hy net reg hoef te eet/en of omega 3 en 6 aanvullers kan neem, sonder medisyne?
Die onderliggende probleem in sowat 70%vandie gevalle is ’n oorregulering van die opruiming van dopamien in die brein. Dit is dus ’n baie spesifieke patofisiologie en het niks met dieet te make nie.
Die ander 30% het ander oorsake, wat ook nie gesond geëet kan word nie. Almal betrek dopamien en/of norepinefrien, maar dit het nie spesifiek te doen met die opruiming (van dopamien) nie – moontlik eerder dat seinbane in die brein beskadig is of nie ontwikkel het nie.
Daar is omtrent ’n 30%-kans dat sekere voedselsoorte wel hierdie kinders se gedrag kan vererger.
Behandeling met dieet alleen is selde suksesvol op lang termyn, maar kan deel wees van die holistiese benadering. Medikasie moet nie uitgestelword net omdat die dieet eers aangepas moet word nie.
Kenners sê dieet allen is nie die oplossing nie, hoewel slegte eetgewoontes die probleme kan vererger.
Navorsing oor omega 3 en 6 toon dat dit ’n persentasieverskil kan maak, maar dit is aanvullings en moet in die regte verhoudings geneem word. Dit is nie ’n gelyke met medisyne nie. Hoekom ‘n kind laat swaarkry? Want die kinders word ook sosiaal verstoot.
In 80% van gevalle is die oorsaak van dié toestand geneties en die res is te wyte aan premature geboorte, trauma tydens geboorte en moeders wat tydens swangerskap gerook of gedrink het.
Die middel behoort voorgeskryf te word aan alle kinders met simptome van AGS/AGHS en waar dit ’n negatiewe impak op hul skolastiese asook hul sosiale ontwikkeling het.
Daar is nie ’n toets vir AGS/AGHS nie. Wat nodig is, is ’n deeglike geskiedenis oor ’n lang periode van die kind se gedrag, veral in samewerking met die klasonderwyser.
Dit gaan oor hoe die kind se gedrag hom op vele vlakke affekteer. Geheue en konsentrasie is hier onafskeidbaar, want die twee beïnvloed mekaar.
Met Ritalin verbeter ’n mens die kind se geheue, deur die uitskakeling van onnodige stimuli. Jy gee aan hom die vermoë om te fokus. Daardeur kan jy die kind help om baat te vind by die ander terapie wat jy aan hom bied, soos remediëring en sielkundige behandeling.
Indien mense nie behandel word nie, is hulle geneig om later in hulle lewe hulself te medikeer, gewoonlik omdat hulle ’n gevoel van onderprestasie het, ’n lae selfbeeld het en depressief is. Die voordele: verbeterde aandagspan, luistervaardighede, geheue en vermoë om te organiseer.
Dit verminder hiperaktiwiteit, impulsiwiteit en aggressie.
Raadpleeg ‘n pediater of neuroloog.
Wat is die toestand?
Daar word na aandaggebrekhiperaktiwiteitsindroom (AGHS) en aandaggebreksindroom (AGS) gesamentlik verwys as een term, AGS/AGHS, omdat ’n mens aandaggebrek kan hê met of sonder hiperaktiwiteit.
Volgens die diagnostiese kriteria van die Diagnostiese en Statistiese Handleiding vir Psigiatriese Siektes (DSM IV) is daar drie subgroepe of simptome wat kinders toon:
. aandagafleibaar sonder hiperaktiwiteit of impulsiwiteit (AGS);
. aandagafleibaar met hoofsaaklik hiperaktiwiteit en impulsiwiteit (AGHS); en
. ’n kombinasie waarin die kind definitief konsentrasieprobleme het, maar ook impulsief en hiperaktief is.
Talle ander faktore moet eers uitgeskakel word voordat só ’n diagnose gemaak kan word, omdat ander toestande simptome kan veroorsaak wat soos AGS/AGHS kan lyk weens die invloed wat dit op die kind se aktiwiteitsvlakke het:
. Allergieë en asma. (algemeen)
. Diabetes/hipoglisemie
. Gehoor en sigprobleme. Die werk van kinders wat nie goed kan sien of hoor nie, sal nie behoorlik gedoen word nie en hul aandag sal afgelei word.
. ’n Ystertekort kan tot aandag en impulsiwiteitsprobleme lei.
. Loodvergiftiging lei tot hiperaktiwiteit (raar)
. Leerprobleme kan tot hiperaktiwiteit lei.
. Emosionele probleme en mishandeling
-
1
Pingback on May 27th, 2009 at 19:40
[...] Soek gerus Dr. Christopher Green se boek UNDERSTANDING ADHD op. Dit het oulike leesstukke in. [...]
Mei 26, 2009 at 15:24
Baie interessant. Hoewel ek steeds glo dat daar te veel kinders op Ritalin behandeling is sonder die nodige terapie en remediering. Sodat die klasjuffrou kindertjies kan he wat tjoepstil sit vir vier ure.
Ek stem saam dat as dit jou kind so affekteer en hy werklik ‘n diagnose van ADHD het, medikasie nodig is.
Maar waragtag nie op die skaal waarop dit tans gaan nie.
Mei 26, 2009 at 16:21
Het ek nou weer ‘n tamelletjie gerol hier? Rosa ek is geen deskundige op mediese gebied nie. Ek voel dat deesdae daar sommer links en regs medisyne uitgedeel word. Elke dag word meer sindrome ontdek en dan is daar sommer ‘n pil reg vir dit. Ek vermy medisyne soos die pes, veral as dit kom by anti-biotika. Selfs kopseer pille sluk ek maar swaar. “Suffer” maar liewer. Dalk is ek maar net baie skepties. Dit is nou maar net ek.
Mei 26, 2009 at 16:46
Rustig: Nee jy het nie, jy het my ‘n idee gegee, dankie: ) Ritalin is een van die oudste medikasies op die mark, al sedert die 1944’s , en van die mees bestudeerdes!
Hierdie sindroom is ook nie nuut die. die probleem is behandel jy dit nie strem dit die kind se ontwikkeling so, hy kry nie gelees, geskryf en gesosialiseer nie, later in die lewe sit jy dalk met middel-afhanklikheid, ongeletterdheid – ‘n legio van dinge
Carina: Die middel is definitief nie daar om ouers en/of onnies se lewe makliker te maak nie. Dit moet ook nie vir die kind gegee word oor naweke of in skoolvakansies nie. Dit is net vir skoolure sodat die kind kan konsentreer.
Mei 26, 2009 at 18:25
Moet sê het slegte ondervinding. My een dogtertjie was in gr 1 en lees al van sy 4 is. So obviously was die kind verveeld. Toe sal die juffrou die cheek hê om vir my te vra of ek haar nie op Retalin wil sit nie, want sy gee nie aandag in die klas nie! So ek dink SOMMIGE onderwysers gryp na dit vir enige rede.
Mei 26, 2009 at 18:49
Sjoe, Rosie
Ek het ook my ore uitgeleen vir die anti-ritalin brigade. Ek sien nou dat dit sy plek het. Is die gevaar nie eerder die voor skryf sonder ‘n behoorlike diagnose nie. Dink jy dat dit dalk in baie gevalle gebeur en te vinnig na ritalin gegryp word?
Roos, ek sal graag want dit lyk my jy is ‘n onuitput bare bron van kennis en om aan te sluit by my blog die vraag wil vra oor medikasie vir gewigs verlies.
Ek het eers nie gedink so iets bestaan nie, my algemene praktesyn het iets voorgestel. Ek het onmiddelik vasgeskop.
Ek sal uitvind wat die middel is en terug kom na jou.
Mei 26, 2009 at 20:32
Ek is ongelukkig ook een van die wat nie ‘n goeie ondervinding met my een seun gehad het nie. Hy was ook op Ritalin geplaas op die onderwyseres se aanbeveling. Ek wil net noem dat altwee my kinders was hiper-aktiewe kinders. Regtig soos in erg. Maar dit het my nooit gepla nie, ek was gewoond daaraan, ek het nie anders geken nie. Rosie die kind het naderhand soos ‘n Zombie rondgeloop, en op dokters en sielkundige aanbeveling is hy daarvan afgehaal en ons het hom ekstra aktiwiteite en klasse laat loop. En gelukkig was dit ‘n goeie einde.
Maar twee van my vriendinne se kinders is op Ritalin en hulle kyk nie weer terug nie. Die kinders het goeie vordering gemaak.
Interessante inskrywing gewees!!
Mei 27, 2009 at 08:53
Roos…
Ek hoor wat jy hierso skryf maar ek het ‘n slegte stelletjie met die medikasie afgetrap met my seun. Dalk was hy TE veel gegee om te drink maar dit het hom ook soos ‘n Zombie soos Wip hierbo noem gemaak. Hy was by ‘n neuroloog gewees wat epilepsie en AGHS by hom gediagnoseer het. So hy sowat 300mlgram Eplim 3 keer n dag gedrink en was ook op Ritalin. Dalk was die nie so goeie kombinasie nie.
Kan dit wees dat mense wat vatbaar is aan verslawing (Verslawende persoonlikheid) nie hierdie soort medikasie moet drink nie. Ek is maar ‘n leek op hierdie gebied, maar nadat ek gelees het dat dit ‘n kiddie cocaine” is, sal ek as Z dalk eendag om dit gesit moet word verseker nee sê. Dis hoe ek nou daaroor voel –
Jou skrywe – In 80% van gevalle is die oorsaak van dié toestand geneties en die res is te wyte aan premature geboorte, trauma tydens geboorte en moeders wat tydens swangerskap gerook of gedrink het – Z is aan die blootgestel, en dalk is dit ook nog geneties as ek aan sy pa dink.
Ek sê nie nou dat hy wel die medisyne sal moet gebruik nie, want sover toon hy geensins enige simptome nie, maar ek bly maar bang jong.
Maar so Wip ook weer hierbo sê, ken ek ook kinders wat op dit is, en dit gaan baie goed met hulle.
Jis, vandag laat jy weer baie dink, wat is die beste vir ‘n kind, jou slegte ervaring met hierdie tipe medikasie, of trust jou neuroloog en pediater dat hulle nou, 15jaar later, tog meer weet oor hierdie siekte toestand.
Dankie weereens dat jy altyd sulke goeie ingeligte post vir ons leke doen!!
Mei 27, 2009 at 13:19
Ek leef elke dag saam met ‘n volwasse ADD lyer. My seuntjie toon simptome, maar is nou 3.5 en ons gaan beslis nie nou ook op die bandwagon klim met hom nie. Ons hanteer dinge soos dit kom en maak ingeligte besluite. My man neem daagliks 54mg Concerta en wanneer hy swot ‘n addisionele dosis Ritalin. Ek het self al lang bakleie baklei oor mense wat weier om hul kinders te medikeer, dit grens vir my aan kindermishandeling. En ek moet dit duidelik maak dat slegs ‘n pediater en/of ‘n neuroloog wat spesialiseer in ADHD volgens my mening kan besluit of ‘n kind ADHD het al dan nie! Ag ek gaan nou eerder loop. Ek raak te opgewonde! Net vir die wat wonder – volwasse ADHD bestaan.
Mei 27, 2009 at 15:13
Dankie. Dis interessant. Waardeer jou moeite.
Mei 27, 2009 at 15:41
PEDIATERS, moet hierdie middel voorskryf, nie onderwyseresse nie. Daar behoort ook ‘n assesering gedoen te word deur ‘n kenner in remmediering.
Boervrou: wel dit is nie vir die onderwyser om te se nie, dit is soos ke hierbo gese het, regtig iets vir ‘n pediater saam met ‘n remedierende assesering deur ‘n kenner.
Williewragig: Daar is skitterende pediaters in hierdie land, en daar is pediaters wat net konsenteeer op hierdie siekte. In daardie gevalle nee, die betrokke dokters diagnoseer nie verkeerd nie, hulle sal ook nie sommer voorskryf nie.
GP’s het nie kennis van die goed nie.
Ja, daar is medikasie vir oorgewig.
Wippie: ek hoor wat jy se, alle medikasie is nie vir almal nie. Die pil moet die kind kry so 15 minute voor skool en dit behoort “uitgewerk” te wees teen die tyd dat die skooldag om is. Indien hy ‘n zombie was, was die dosis te hoog.
Zee: Mense wat geneig is om verslaaf te wees, of die risiko toon om middelafhanklik te raak moet juis behandel word. Want weet jy, as hulle nie behandel word nie ’self medicate’ hulle later sommer met enige iets en uiteindelik met dwelms en/of drank. Juis van die emosionele pyn ontslae te raak. Hulle moet so stabiel as moontlik gehou word. Sekere mense is meer geneig tot verslawing en dit blyk dat dit geneties is. Al die gene en seinbare is nog nie gevind nie, maar baie werk word gedoen.
Dis nie kidde cocaine nie, lees weer hierbo hoe werk ‘n stimulant. Daar is wel volwassenes wat dit misbruik.
Zee, jy is ‘n stunning ouma vir Zeethan. Drop my ‘n mail as jy wil. Daai rakker lyk vir my 100%.
Mens kan die toestand suksesvol behandel (ADHD). Fetale alkolhol-sindroom is iets wat ook gebeur weens die ma se optrede en dit is eintlik nie regtig so behandelbaar nie, die skade is permanent. Ek ek verseker jou nou, Zeethan het dit nie, want sulke kinders het ongelukkig spesifieke kenmerke aan die skedel. (Om dit te kry moet die ma geweldig drink, en dit kom toenemend voor by haar 2de, 3de en 4de kind. Dus, hoe meer kinders sy het en hoe meer sy drink hoe erger word dit.)
Ogies: Jy is 100% reg in ALLES wat jy hier se, dankie vir jou inloer en insette. dit is ongelooflik waardevol. Net omdat iets geneties is, beteken dit nie die nasate gaan dit kry nie. Dit is ‘n mediese term om te verduidelik dat dit bv nie ‘n virus/bakterie/vector is nie.
soos ek hierbo se net ‘n pediater of neuroloog
Ja volwasse ADHD bestaan.
Moet asb nie ontsteld wees nie, die inskrywing is juis bedoel om mense in te lig
Mnr Muller, dankie vir die inloer.
Mei 27, 2009 at 19:35
Ek stem ten volle saam. Geen opvoeder kan so ‘n middel afdwing of voorskryf nie. Gewoonlik gaan so ‘n besluit gepaard met ‘n waarnemingsperiode of twee waar die opvoeder vraelyste voltooi. Daarna word die inligting aan die pediater of skooldokter oorhandig en dié besluit of daar werklik ‘n probleem is al dan nie. Baie dokters beveel aanvanklik vitamien aanvullings, ‘n beter daaglikse roetine en ‘n aangepaste dieet aan. Daarna word medikasie oorweeg.
.
As ‘n opvoeder medikasie aanbeveel, moet ‘n mens eerder mediese raad inwin. Daar bestaan ook ondersteuningsgroepe vir ouers en opvoeders – waar ‘n mens WONDERLIKE leiding kan kry. Moet egter nie die opvoeder se noodroep ignoreer nie. Hulle tel soms iets op wat ‘n mens nie by die huis raak sien nie. Soms is die woeligheid nie ADD/ADHD nie, maar ‘n teken van oogprobleempies of iets heeltemal anders. ‘n Mens moet maar die oë oop hou vir alle moontlikhede – en die remediërende opvoeders nader trek
Hierdie is ‘n baie oulike inskrywing! Baie dankie.
Mei 28, 2009 at 14:07
Juffer, dankie vir die inloer, jy is reg, oog en gehoorprobleme is inderdaad ook van die dinge wat eers uitgeskakel behoort te word. En ‘n behoorlike assesering is ook nodig. Dankie vir jou bedrae.
Mei 28, 2009 at 15:57
Ek dink daar is te veel kinders op dit. ‘n Maklike uitweg. Maar waar dit wél nodig is, inderdaad ‘n goeie ding. En asseblief, geen onderwyser of enige ander sogenaamde “versorger” met hoeveel kamstige ondervinding kan ‘n diagnose in hierdie verband maak nie. Spesialiste, en nie sommer jou huisdokter nie, soos ‘n kinderpsigiator, moet dit voorskryf. Ek raak sommer woes beduiweld as ek hoor hoe mense sommer lukraak in geselskap opmerk so en so is hiperaktief en moet op Ritalin gesit word. ‘n Magiese kuur vir volwasse frustrasie, as dit nie na behore voorgeskryf word nie.
Mei 28, 2009 at 16:13
Emil, jip is presies wat ek ook se.
Mei 29, 2009 at 13:26
My dogter het my gister uit die bloute gevra om Ritalin te kry, want sy sukkel om te leer (matriek), sy sê sy kan nie konsentreer nie, wat moet ek nou doen
Mei 29, 2009 at 14:52
Is daar dan ‘n verwantskap tussen depressie en AGS?
Ek dink kinders word dalk te maklik op R geplaas maar ek het die groot verskil gesien in meneer H se seun se gedrag met en sonder die medikasie. Dit werk regtig in party gevalle.
Ek aan die ander kant is te lui om aan AGS te lei…..
Junie 1, 2009 at 16:46
Girl: Die spesifieke sindroom maak jou nie noodwendig hiperaktief nie, dit kan jou aandagafleibaarmaak, soos in die tipes wat ek hier beskryf het, sonder hiper-aktiwiteit. dit is hoekom dit soms verkeerd gediagnoseer word. Dit is baie keer die “dromerige kind wat nie kan fokus nie” wat dit ook het.
Sover ek weet is daar nie ‘n verantskap met depressie nie.
O ja, en baie welkom hier.
Koeksister: as jy kind nog onder 18 jaar is, neem haar na ‘n pediater, andersins na ‘n psigiater, dit is nie sommer net vir voorskryf nie. daar kan ander oorsake wees.
Julie 31, 2009 at 13:15
Ja daar is ‘n stigma aan Ritalin – en ek sal nie self my kinders daar op sit nie. Maar daar is ook ander middels soos Concerta en Strattera wat werk. Strattera is ‘n nie-stimulant. ADHD is ‘n mediese toestand en tensy jy ‘n ouer is van ‘n kind met die toestand (nie noodwendig hiperaktiwiteit maar ook aandag-afleidbaarheid), kan jy nie sommer oordeel nie – stap eers ‘n myl in so ‘n ouer se skoene, en leef eers ‘n dag soos die betrokke kind, met die negatiewe kommentaar van ouers en maats oor sy “domgeit” of gedrag …
Augustus 2, 2009 at 10:54
Martie, met resprek, ek dink nie jy lees mooi nie, ek praat dan van:
aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS) of aandaggebreksindroom (AGS).
Laasgenoemde IS “aandagafleibaarheid” se korrekte naam.
Die stigma daaraan is weens mense se onkunde. Niks anders nie.
Oktober 12, 2009 at 12:49
Goeie dag
My 8 jarige dogtertjie is op rittelin en ek het die naweek een van die tablette vir my man gegee. Dit het wonderlik gewerk nou het ek gewonder na watter spesialis of sielkundige moet ‘n mens gaan om as groot mens gediagnoseer te word. Ons is in die groblersdal area maar ons kan pretoria toe gaan het jy miskien kontak besonderhede .
Groete
Franci